My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Men kan niet klappen met één hand

Ek het in die laat sestigerjare daar in Namakwaland gematrikuleer. Destyds het ons nog Afrikaans-Nederlands as ‘n vak gehad, wat beteken het dat ons saam met Afrikaans, ook Nederlandse literatuur bestudeer het. Ons het ‘n wonderlike literatuur-onderwyser gehad wat enige boek kon omskep in realiteit wat voor ons oë afgespeel het. Hy was ‘n onderwyser duisend en een van die rolspelers wat ‘n groot liefde vir lees by my gekweek het. Geen wonder dus dat ek nog steeds elke boek wat ons behandel het so goed onthou nie.

Een van my voorgeskrewe Nederlandse boeke was Morgen bloeien de abrikozen van Bertus Aafjes. Die skrywer het in die vroeë vyftigerjare in Egipte gewerk en gewoon. Morgen bloeien die abrikozen is ‘n versameling van kortverhale wat handel oor die lewenswyse, kultuur en veral die wyse sêgoed van die Arabiese inwoners, waarvan Aafjes meesal by monde van sy lyfwag, ene Hassan, verneem het.

Terwyl Aafjes op ‘n stadium in die hospitaal was, het hy in ‘n koerant gelees van die massabetogings teen vreemdelinge in die land. In sy voorneme om soveel as moontlik van die plaaslike lewe te ervaar, het hy besluit om een van die protesoptogte by te woon, maar Hassan het geweier om as lyfwag op te tree by die geleentheid weens die gevaar van besering of erger. Aafjes het hom egter nie laat afsit nie en met die volgende betoging was hy gereed om dit waar te neem. Gewapen met ‘n koppie koffie wat hy by die Griekse restaurant gekoop het, het hy buite op die sypaadjie gestaan om ‘n goeie uitsig te hê op die straat.

Met die aankoms van die betogers het ‘n klompie Arabiere wat ook op die sypaadjie gestaan het, begin om hande te klap om hulle simpatie met die betogers te betoon. Dis toe Aafjes opgelet het dat die betogers hom in die oog gekry en met skynbare kwade gevoelens in sy rigting gemik het, dat hy besef het hy moet liewer ook hande klap. Dit kon hy egter nie doen nie, want hy het nog steeds met die koppie koffie in sy hand gestaan. In paniek het hy omgedraai om terug te gaan na die restaurant toe, maar hy het opgelet dat die eienaar reeds al sy besittings ingedra het en besig was om toe te sluit. Hy het dringend gewink en beduie dat die skrywer moes inkom deur die roldeure wat nog so ‘n halwe meter oop was en Aafjes het net betyds ingeduik. Nadat die betogers so ‘n paar keer teen die toe deure gestamp het, is hulle weg sonder verdere voorval.

Agterna het die skrywer nog gewonder of hy hom miskien net verbeel het dat Hassan een van die voorlopers onder die betogers was.

Die feit dat “men niet kan klappen met één hand” het vanoggend by my opgekom toe ek gelees het van die betogings en brandstigting wat nou weer oral in die land kop uitsteek. Daar is nie meer gerieflike roldeure wat oopgehou word en waardeur nie-deelnemers kan ontsnap nie. Nou is nie die tyd om met ‘n koppie koffie in die hand rond te staan nie. Ons gaan nou gereed moet staan om met entoesiasme (en albei hande) te klap of bereid wees om te help soek na ‘n oplossing, want dalk, net dalk, is die persoon wat jy ag jou lyfwag en beskermer te wees, die voorloper in die betoging.

Follow Dis Ekke

21 Comments

  1. Lekker lees ek nou aan hierdie stukkie geskiedenis… en ja, jy is reg dit is tyd om deel te word van die oplossing vir ‘n massiewe probleem wat ons (almal) in die oog staar – vol venyn!!

  2. Ai ek weet darem nie… dit voel asof my hande afgekap is.. Skelms word uitgewys maar kom niks oor nie.

    • Comment by post author

      Ek weet wat jy bedoel. Mens voel asof jy met magteloosheid geslaan is, want jy moet voortdurend om verskoning vra net om hier te mag leef. Hierdie land was voorheen al deur swaarkry en het weer opgestaan; daar moet ‘n uitweg wees.

      • Ek kry die massas die jammerste. Hulle lewens is nie maklik en die verbeter nie. Ek sit in my lekker huisie en skel oor die skelm mense maar doen niks om ander se lewens beter te maak nie… sug… en dit maak my nie veel beter as die slegte mense nie.

        • Comment by post author

          Ek het besluit ek het ‘n stem en ek gaan dit gebruik, al is dit net op sosiale media om die boodskap uit te dra, vandaar hierdie blog. Ek is ook skuldig daaraan dat ek maar net stilgebly en aanvaar het, maar dit is nie langer ‘n opsie nie. Ek haat politiek en ek verpes veral sekere mense se rassistiese en kru reaksies op probleme wat uitgelig word in die media, maar ek glo dat daar maniere is waarop elkeen ‘n bydrae kan lewer.

        • Jy is inspirerend

  3. Hester, ek het nie regtig iets om hierop te sê nie. Want jy is reg.

  4. Anuscka

    Hester, wat een baje mooi verhaal! Ek begrijp nie alles, maar genoeg. Mooi geschreven…

  5. “jy moet voortdurend om verskoning vra net om hier te mag leef”: no ways will I apologise! A fascinating article – I studied Afrikaans-Nederlands at university and loved the quirkiness of the Nederlands literature.

    • Comment by post author

      Thank you. Anne. I was just saying to another blogger that we have become a timid nation, afraid of confrontation, and this will be our downfall. Nederlanders ken die kuns van reguit praat en sê presies wat hulle dink op ‘n pittige, maar treffende wyse.

  6. Vuurklip kan klappe uitdeel met een hand!

    Maar die wat hy wil klap is buite bereik …

    • Comment by post author

      Applous Vuurklip! nie moer mekaar nie. Dalk moet ons leer om te maak soos die popsanger fans – hou ‘n bottel bier (of erger) vas in een hand en swaai die ander hand bo jou kop.

  7. in hierdie land kan mensnie polities onbetrokke wees nie.

  8. Lekker gelees … dankie

  9. Mooi skrywe Hester en baie waar.

  10. Ek is mal oor jou manier om so ‘n sterk boodskap oor te dra… Ek voel ook so