Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Waarmee hou ek myself besig?

Siembamba

Ons het uiteindelik kant en klaar ingetrek, wat beteken dat ons kon begin met die verkenning van ons nuwe woongebied. Ja, ja, ons was by die strand en het geswem en ons het super duper fotos geneem, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.

Heel eerste het ons die paar winkels gaan besoek, die wegneem-etes en gebak beproef, die kar laat was, ‘n vinnige draai gemaak by die kwekery en toe die winkel met tweedehandse goedere binnegeval. Net daar tussen die ou boeke, langspeelplate, cd’s en dvd’s het ons vasgehaak en lank gekuier.

Toe ek onverwags afkom op twee pragtig geïllustreerde Siembamba storieboekies, het sestig jaar se leeftyd in ‘n oomblik weggeval en ek was weer vyf jaar oud. Ongeduldig het ek in die sitkamer gestaan en trippel voor die ou Echo radiogram, wagtend dat my ma inskakel op Siembamba Storietyd wat elfuur in die oggend uitgesaai word.

“Kan dit ooit dieselfde stories wees waarna ek destyds geluister het”, het ek vlugtig gewonder; die datum van druk en uitgawe word immers voor in die boekies aangedui as 1985, ‘n skrale dertig jaar gelede. Ek het in elk geval my beursie uitgepluk en R2 per boekie betaal.

Terug by die huis het ek eers deur die boekies geblaai om die prente te bekyk. Daarna het ek die name van die stories gelees en gewèèt dat ek iewers in my lewe al hierdie stories gehoor of gelees het. Ek kan glad nie onthou dat ek die Siembamba reeks vir my kinders voorgelees of uitgeneem het by die biblioteek nie. Is dit wel moontlik dat dit dekades gelede se stories was wat in my kop vasgesteek het?

Die aand met bedtyd het ek so ewe my kindle opsygestoot en die storie van die drie goue granate gelees. Dit was bekend, ja, sò bekend. Ek moes lag oor die feit dat Koning Sugswaar meer as ‘n duisend kilometer te perd deur ‘n donker bos gery het met ‘n stukkie rou vleis om die heks se honger leeu te voer. Hoe sou ‘n stukkie rou vleis gelyk (en geruik) het na al daardie weke in die saal? Dit was natuurlik grootmens-sinisme wat ‘n oomblik lank kop uitgesteek het, maar nie vir lank nie – die ou towerkrag van ‘n kinderstorie was nog daar.

My man sê dis nou alles goed en wel as ek laataand in die bed wil lê en giggel oor sprokies, maar hy sal regtig bekommerd raak as ek volgende keer by die huis kom met die Sub A leesboekie, Sus en Daan.

Follow Dis Ekke

35 Comments

  1. Onthou jy vir Marna se Pronk blog… dink jy dis dieselfde kunstenaar.

  2. Ek wil ook weer van my kleintyd storieboeke raakloop! Dit klink na ń groot lekkerte.

    • Dis eieaanrdig hoe vinnig so ‘n herinnering jou vierkantig kan terugplaas in jou kinderdae. Soveel so dat jy die opwinding voel of ruik, soos met my gebeur het ‘n paar maande gelede toe ek op ‘n gemmerkoekmannetjie afgekom het in die plaaslike Food Lovers Market.

  3. Ag, lees dit sommer vir hom ook! Hy voel bietjie afgeskeep dat net jy dit lees.

  4. Wat een mooie boeken! Lijken mij zo prachtig en vol nostalgie …

  5. Ag lekker om ou stories te lees!

  6. LEKKERLAG EK NOU, jou man verstaan beslis nie daai ding van “memory lane” nie – maar ons sal hom nie kwalik neem nie – hy is ‘n man xx

  7. Ek het so begrip vir die herlees van die stories!

    • Ek het nogal aan jou gedink, want jou Mia en ons Lexi is mos nou albei op die boeke-ouderdom, maar albei is oorwegend Engels. Hulle het darem ‘n heelwat groter keuse as wat ons gehad het.

  8. Lekker om te skrop in die tweedehandse winkels.Hospice se winkel is net om die draai van ons huis af, en daar het ek al baie winskopies en nuttelose strontjies gekoop.

    • Kaggelkakkies, soos Tina dit noem 😀 Ek weet julle het sulke lekker tweedehandse boekwinkels daar. Ek het ‘n boek van Elise Müller (Vrou op die Skuit) daar van Hermanus af gekry. Dit het amper ‘n maand lank per pos gery om hier in die bos te arriveer, maar wat ‘n vreugde was dit om weer te herlees!

      • My grootste baghin daar was ‘n stokou boek van James Thurber vir R4. CD’s R5 stuk. En dan is dit ook ‘n lekker plek om van oortollige goeters ontslae te raak.

        • Die lekkerste transaksie wat ek met ons plaaslike hospice winkel in die Vaal Driehoek gedoen het, was die dag toe ek opgehou het met werk en al my werksklere by hulle afgelaai het. Nou more power dressing 😀 Nou weet jy hoekom leef ek in t-shirts, kortbroeke en jeans.

        • Haha! Selfde aan die kant. Ons werksklere is by Solidariteit se Helpende Hand in Klerksdorp afgelaai.

        • Dan verstaan jy!

  9. Dis mos nou groot lekkerte, saam met die kyk en lees is die lekker herinneringe mos ook daar.
    Lekker!!!!

  10. Dit is lekker as die jare so lekker kan wegval. Dit is juis vandag Liewe Hekise se verjaarsdag. Vir die wat dalk nie weet nie of al vergeet het: Hekse mag hulle eie verjaarsdae kies waarop Liewe Heksie die twee en veertigste dag van April gekies het. Karel Kat het diplomaties voorgestel dat sy dit na 24 April verander.

    • Haha, Liewe Heksie, dis my man se troetelnaampie vir my. Sy het ons baie plesier verskaf op tv en my kinders vir ure lank vermaak op kasset in die motor op die lang pad.

  11. Fijn dat je hier zoveel plezier aan beleefd. Ik moet zeggen dat iets dergelijks bij mij tot teleurstelling heeft geleid. De herinnering was mooier dan de werkelijkheid🙄

    • Dit gebeur ongelukkig ook soms, Eveline. ‘n Mens groei weg van sekere dinge, mense en plekke en dan ondervind jy groot teleurstelling.

  12. ☺Deesdae is die laerskool leesboeke se hoofkarakter ‘n Abrie…

    • Nou toe nou! Ek dink kinders in die grade leer deesdae al heelwat meer gevorderde lesse as in ons tyd. Ek onthou wel goed dat ek in die sub-standerds (grade) redelik verveeld was met patroontjies teken, doppies tel en met klei speel. Daai vetterige vuilgevatte klei het my regtig ‘n gly gegee.

  13. Lekker herhinneringe, kyk uit vir Sus en Daan, dan deel jy dit ook met ons.

Leave a Reply

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: