My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Op hierdie bankie sal ek my gat maak sit

In 2003 het ons ‘n huis gekoop daar in die Vaal Driehoek. Die huis en die tuin was ietwat verwaarloos, maar die huis was baie stewig gebou en daar was ‘n peperboom. Ek het in my ander blog, ‘n Geseënde Leeftyd, geskryf oor die peperboom en die werk wat ons deur die jare onderneem het om huis en tuin op te bou tot ‘n oase vir ons gesin waar ons twaalf jaar lank baie gelukkig gewoon het.

Die vorige eienaars het met hulle vertrek ‘n hele paar juweelstukke aan ons bemaak, onder meer ‘n kliptafel, ‘n voëlbad van klip en die ou tuinbankie. Dis laasgenoemde waaroor ek nou wil skryf.

Ons majestueuse vet kat, Oliver, het sonder omhaal die bankie vir haarself toegeëien, haar spesiale plekkie vanwaar sy die gewerskaf op die werf rondom haar beskou het. Die helder blou verf ten spyt, het ons onmiddellik geweet wat die oorsprong van die bankie was – ons generasie het genoeg van hulle gesien op die treinstasies waar hulle geplaas is vir die gerief van die passassiers wat op die treine se aankoms gewag het.

1 Oliver op die blou bankie

My man het die blou verf van die gegote-ysterraam afgeskuur, dit teen roes behandel en toe swart geverf. Die nuwe planke is vernis en die bankie het ‘n ereplekkie ingeneem onder die skaduwee van die groot stinkhoutboom aan die straatkant van die huis.

2 Tuinbankie

Daar is baie gekuier op en rondom daardie bankie terwyl die res van die huis en tuin nog onder konstruksie was. Dit was altyd my man se rusplek wanneer die tuinwerk hom soms baasgeraak het. Oliver het egter gesorg dat sy haar regmatige lêtyd op die bankie kon inkry.

3 Oliver op die tuinbankie

Toe ons na die kus toe verhuis het, het my man botweg geweier om die bankie agter te laat. Hoewel die meubelvervoermanne swaar moes dra (die ysterraam is nogal gewigtig), het die bankie eers op die balkon van ons woonstel in Elysium gestaan en toe weer in Mtwalume. Nou het dit gearriveer in Southport waar ons ‘n klein patio voor die sonstoepie agter die huis het, met ‘n mooi uitsig op die tuin.

Oliver is al jare nie meer met ons nie, maar ek “sien” haar nog steeds op die bankie as ek daar verbyloop.

4 Die tuinbankie se nuwe rusplek

Ons is nou behoorlik ingeburger in die nuwe plekkie: al die bokse is uitgepak en elke ding het sy plek; die badkamers is uitgeskrop, die stoof en res van die kombuis is onder hande geneem, die mure en vloere is skoon; die vensters blink (is ja, sien die foto hierbo) en die gordyne is in plek.

Nou gaan ek my gat op daardie bankie maak sit en toesig hou terwyl my man die tuin herorganiseer. Meer hieroor later.

Follow Dis Ekke

29 Comments

  1. ‘n Juweel van ‘n bankie …

  2. Yes!!! Jy is nou ingeburger en reg vir jul nuwe wêreld. Ek sien ook vir Oliver op die bankie lê, al is hy lankal weg. Ons onthou ons ‘lief mense, en diere’. Sal altyd ñ stukkie van hulle met ons saamdra.

  3. Welverdiende sit na al die trek, uitpak, wegpak en regpak.

  4. Daai bankie sou baie stories kon vertel!!

  5. Dis ‘n besondere verhaal…ek is mal oor die die bankie wat weerkaats in die skoon vensters!

    • Comment by post author

      Ek is mal oor die skoon vensters! Waar ons voorheen gewoon het, het dit nie juis gehelp om vensters te was nie, want die seesproei pak onmiddellik weer aan. Daar het al twee mense deur die glas probeer loop, gelukkig nie met slegte gevolge nie! Ek soek vir plakkers om daar op te sit.

  6. Ek sou beslis ook nie die bankie gelaat staan het nie, watwou… ‘n bankie met baie sitvlakke se dinke daarop, voorwaar ‘n juweel!!

  7. Aha nou is dit waarlik ‘n erfstuk!

  8. Pragtige storie. Ek sou beslis die bankie saam getrek het. Sulke gherinnering goedjies moet deel bly van ons lewens.
    Daardie dinge vertel stories, soos van Oliver. Anders het ons hom dalk nooit leer ken nie.

    • Comment by post author

      Dis net so. Tussen hakies, Oliver was ‘n wyfiekat, maar ons was te onnosel om die verskil te ken en het haar vernoem na Oliver Tambo voordat die veearts ons anders ingelig het. 😀 😀

  9. Pragtige bankie

  10. Wel, die bankie lyk nog netjies en glad nie uit sy plek nie. jammer Oliver is nie meer.

  11. Toemaar Hester Liewe Heksie het haar hingsperd Griet genoem (nee ek beweer nie jy ry op ‘n besem nie).

    Wat die bankie aanbetref:
    Swaarkry met lekkerkry klaarkry. Geniet jou en Oliver (met ‘n twist) se bankie

  12. Zo.n bankie zou ik ook niet kwijt willen. Vol mooie herinneringen en hij staat fier op zijn nieuwe plek.

  13. Pragtige storie van ‘n pragtige bankie. Ek is mal oor ou goed wat nuwe lewe kry.

  14. Lekker sit! 😉