
Vervet money KwaZulu-Natal
Ek is mos ‘n vreeslike verdraagsame en mededeelsame persoon, maar soms, net soms, raak my moer sommer dik vir diegene wat my besittins vir hulleself toeëien sonder om te vra. Ek praat natuurlik van hierdie bloub@l aap hier bo en sy trawante wat by elke geleentheid regdeur my huis paradeer en vat net wat hulle wil. Daar word nie eens ‘n dankiekaartjie of ‘n “IOU” vir my agtergelaat nie.
Ons is op die oomblik baie besig met reëlings vir ons trek, hospitaalbesoeke, rondhardloop om internet-tyd te “leen” om ons werk te doen, ens., ens. Ons kan nie heeldag sit en huis oppas nie. Soms gaan dit so dol dat ons vergeet om elke liewe venster en gaatjie toe te maak voordat ons uitgaan, wat Saterdagoggend die geval was toe die hele gesin ‘n welverdiende uurtjie op die strand gaan deurbring en ongelukkig vergeet om die kombuisvensters toe te maak. Wanneer sulke geleenthede hulleself voordoen, is die meneer en sy trop soos blits in die woonstel om te kyk wat hulle te vrete kan kry. Hulle steur hulle nie veel aan die bouwerkers wat onder die balkon staan en raas, die bure wat op hulle gil of selfs aan Genis wat ‘n groot lawaai opskop nie.
Hulle is verdomp wetsgeleerd ook; hulle het hulle tyd gevat om die hele kombuis mooi deur te kyk en alles te ondersoek. Nie net het die brood wat ons op die kombuistafel agtergelaat het om te ontvries, voete gekry nie, maar die hele bottel grondboontjiebotter is saam. Die bottel Bovril is van die tafel af gedra tot by die wasbak en toe agtergelaat.
Bo-op die yskas het hulle ‘n pakkie Urbanol (vir die lang slapelose nagte) uit die plastieksakkie gegrawe, die boksie oopgemaak en net so gelos. Ek was nogal verlig dat hulle nie die pille gedrink het nie, want hoe sou ek ‘n trop slapende (of dooie) ape in my kombuis aan Natuurbewaring verduidelik het?
Ek was ook nie te ontsteld oor die vol botteltjie Panado-pille wat hulle geskaai het nie, want die bottel is “child-proof” en “eldery-person-proof” ook. Vra my, ek weet, dis een van daai botteltjies wat ek om die dood nie kan oopkry nie, selfs al spring ek met my volle gewig daarop.
Die ding wat egter my moer mooi laat koer het, was die gevolg van die vreeslike sooibrand wat ek opgedoen het, net om agter te kom die klein boggers is weg met my bottel Eno vrugtesout ook. Soos julle weet woon ons ver van die naaste dorp af en verlore brode, grondbootjiebotter, hoofpynpille en vrugtesout kan nie sommer net vervang word nie.
Nou kyk, ek wil geen aap iets slegs toewens nie, maar ek hoop met my hele hart dat hulle darem in staat was om die Eno-botteltjie oop te kry, want ek sou hulle graag ‘n goeie opelyf wou toewens.
Om die waarheid te sê, ek hoop die tropleier het die hele bottel weggeslaan, met of sonder water, en dat hy nog steeds besig is om homself te bek@k.
Net Ek
😆
Ag ek is jammer ek lag Hester, maar jy skryf dit so oulik! En natuurlik is hulle vir my (wat geen las van hulle het of naby my huis het nie) baie oulik! Maar ek kan dink hulle maak mens stapelgek, ek dink hulle is erger as stout kinders?
HesterLeyNel
Hulle raak so maklik bederf. Ons almal probeer hard om te sorg dat hulle nie hulle hande op “menskos” kry nie, want dan leer hulle nie om in die natuur te gaan kos soek nie. Hier rond is baie vir hulle om te eet, maar dis mos nou maar makliker om te gaps!
Net Ek
En soveel lekkerder!
Wie wil nou blare en vrugte eet as jy kan katjiebotter vreet?!
😆
Hier "blok" Elanè
Hie, hie, hie…’n aap bly nou maar eenmaal ‘n snaakse ding….toemaar julle trek ampertjies…
HesterLeyNel
*sug* ja, maar ons trek net rond in aapwêreld. Ek kan seker maar bly wees dis nie tiere of jagluiperds wat kom besoek aflê nie.
Hier "blok" Elanè
Ek verkies rerig jou srt ape, hier waar ons is kom hulle in menigte vorms voor en beslis minder beskaafd as joune 😊
Tannie Frannie
Hmm, nogal ‘n eklektiese inkopielys wat die ape gehad het. Goeie smaak ook, as hulle die Bovril agterlaat ;0)
HesterLeyNel
Haha, nou wat praat jy nou? Ek vrek oor Bovril; dis my man wat nog steeds suur is oor die grondboontjiebotter – dit was ‘n splinternuwe bottel wat hy daardie oggend oopgemaak het 😀
Tannie Frannie
Kyk, as hulle nou die stroop of die heuning gevat het, was ek waarlik simpatiek.
Eveline Lenderink
Zo brutaal ! Prachtige dieren en reuze slim maar op brood met beentjes zit niemand te wachten.
HesterLeyNel
Nee, dit maak my nogal kwaad 😊
ekmyselff
Lekker lag ek – jy vertel dit so oulik.
Toortsie
😳🤡
Abrie Joubert
Maar Hester dis dan sulke oulike apies :-))
HesterLeyNel
Jy het geen idee hoe oulik hulle werklik is nie. Ons geniet hulle kaperjolle vreeslik, maar ek wens regtig hulle wil nie my privaatheid so versteur nie.
Spokie sny spoor
Agneee … en alles was seker vuil betrap ook. Die oulike goed kan mens omtrent frusteer.
HesterLeyNel
Ja, die spore was oral . Gelukkig is ons gewoonte om vroegoggend strand toe te gaan (voordat die wind begin waai) en die huis skoonmaak word uitgestel tot ons terugkom.
travel460
Jy het al my simpatie, Hester. Hier by ons in Kosmos, is dit bobbejane. Monsters. Hulle tree soos monsters op, en lyk erger. Nee kyk, apies in Bali, en bobbejane by die huis…Ek hou niks van hulle nie. Niks.
HesterLeyNel
Ek is vrek bang vir bobbejane. Hulle lyk sommer wreedaardig. Die apies is net stout en hier rond moet ‘n mens maar jou lewe aanpas om seker te maak dat hulle nie alles verniel nie.
skerpioentrapper
LMGA! 😂
skerpioentrapper
Ek kan die frustrasie net imagine…
HesterLeyNel
Ag toemaar wat, ek vergeef hulle baie vinnig … tot volgende keer. Die tannie by die kafee oorkant die straat is nog steeds kwaad oor die koekies wat hulle van haar rakke af gesteel het 😀
shadowwhisper
hahahaha ek het nou my tabernakel afgelag… ek voel jammer vir die ‘aapstreke’ wat gebeur het, maar mens die manier hoe jy dit oor vertel is so komieklik….
HesterLeyNel
Dankie vir die saamlees!
rondomtaliedraai
Ai toggie mens eers lag maar later nie meer. Wat van Elektriese drade … kan werk vir ape en skelms
HesterLeyNel
Hierdie apies is so klein, hulle klim deur die traliewerk aan die onderkant van die heining. Vir die skelms het ons gelukkig sekuriteitswagte wat heelnag om die gebou beweeg.
rondomtaliedraai
Ooooooo jy moenie praat van veiligheidwagte nie Hier irriteer hulle die witwaks uit my uit
HesterLeyNel
Ons woon in ‘n gebou reg op die strandfront wat nog nie heeltemal klaar is nie – die heinings moet nog opgerig word. Die garages wag nog vir deure en my kar staan op die voorste patio. Ons het CCTV kameras en alarms wat ons in ons eie woonstel kan dophou, maar voel tog veiliger as ons weet die wagte patroleer.
rondomtaliedraai
Ek weet darem nie want die skelms kruip net vir die oomblik weg en gryp dan wat hulle wil hê as hulle verby is? As mens egter nie goed kan toesluit nie maak dit sin dat iemand dit oppas!
trommeltjies
Kattestrofes met die ape en bobbejane lyk dit my. Die paar dae in Hermanys moes ons ook so alles toe maak as ons uit gaan vir die bobbejane. Dis n gedoente van n ander aard. Julle het my simpatie, maar dis nou maar hulle aard om te wil in waar hulle nie moet nie. Raad dink ek nie is daar nie.
Lewies Mymer
In onse wereld is dit bobbejane, gelukkig nie in die gebied waar ons bly nie. En hulle laat IOU’s en visitekaartjies waar hulle gaan. Nou die dag ingekom by ‘n kombuis waar die moeder des huises 18 vrugtekoeke op die kombuistafel uitgestal het as Kersgeskenke. Bobbejaan se kind het behoorlik amok gemaak.
HesterLeyNel
Ag hemel, die arme vrou! Ek sou wragtag net daar tussen die koekkrummels gaan sit en huil het.
perdebytjie
Haha,dis nou seker nie mooi om te lag nie,maar jy is kostelik met jou beskrywing!
HesterLeyNel
Humor is al wat my op die oomblik in staat stel om my varkies op hok te hou.
Kameel
My man sou saam met jou wens dat hulle daardie bottel oopgekry het en dat nog erger dinge met hulle gebeur het as net loopmaag. Sy wrewel kom van ‘n uitstappie, ‘n bord varsgebakte botterbroodjies, arbeikonfyt en room.
Ons is in die middel van die maand weer in julle wëreld vir drie weke…. sien uit daarna.
HesterLeyNel
Dis lekker om weer van jou te hoor. Ons is so pas vanoggend terug op die internet (en hoop ons bly daar!). Ek kan jou man se houding teenoor die ape verstaan 😀 Ek hoop ons warm weer hou oor die Paasnaweek en na die einde van die maand toe. Ons het Woensdag hier ingetrek en het Donderdag en Vrydag in gietende reën probeer huis opslaan. Vandag is dit ‘n heerlike sonskyndag.
Kameel
Ai Hester ek hoop rêgtig julle gaan gelukkig wees daar. Ek haat trek dus voel ek vir julle wat in so ‘n kort tydjie twee keer moes trek. Hoop ook ons sit nie weer in wind en reën vir die drie weke wat ons daar gaan kuier nie.
HesterLeyNel
Ons het die afgelope paar weke weer baie reën gehad, maar daar was darem mooi dae ook tussenin.
aj vosse
Ek dink jy moet Smarties dokter en hulle die hele kombuis los… en dan al die maaitjies weer verwelkom… dan bek@k die hele trop maatjies hulself!! PRET!! 😉
HesterLeyNel
Solank dit net nie op jou kombuisvloer is nie. Dit sal ‘n bek@kkingswaardige probleem wees.
aj vosse
Nee… jy moet ‘time delay’ muti in it! Bewaar die kombuisvloer ten alle koste! (And your sanity!) 😉
dromer777
😂😂😂