Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

My oorle' grootjie was Piet Skopper

Ek het so ‘n rukkie terug begin om ‘n bietjie navorsing oor my familie te doen en in die proses het ek ontdek dat een van my oorle’ grootjies aan my ma se kant die bynaam van Piet Skopper gehad het. Die rede hiervoor, hoor ek, is die feit dat Oorle’ Grootjie so ‘n ratse man was: in die dae toe alle mans nog hoede gedra het, het geen man se hoed langer as ‘n paar sekondes op sy kop gebly nie, maak nie saak hoe die man met die hoed gekeer het nie – Oorle’ Grootjie het dit sommer net so tjoef-tjaf afgeskop of afgeklap, net vir die snaaksigheid, net omdat hy kon (en seker om die meisies te beïndruk ook).

Maar, die storie gaan nie oor Oorle’ Grootjie nie, behalwe vir die feit dat ek hierdie ratse eienskap by hom geërf het. Ek is nie ‘n hoedskopper nie (want ek kan nie my been so hoog oplig nie), maar ek kan gatskop. Ek is ‘n Gatskopper van formaat.

Om nou by die storie uit te kom:

In die ou dae was dit mos nou mode om te rook, of te pruim, of te snuif, of jou kos gaar te maak in tabakblare … oukei, dalk het ek die laaste een nou uit my duim gesuig. Die feit is, daar is gerook, gepruim en gesnuif met oorgawe. Ons is aangemoedig om dit te doen. Onthou julle nog die advertensie waar die manlike mans ‘n Lucky Strike opgesteek het, of ‘n Gunston’tjie, of ‘n Marlboro’tjie: “na die aksie – satisfasksie”, of was dit “na die satisfaksie – kry die aksie”? Ennieway.

Ek kan nie onthou hoe die vrouens oorgehaal is om te rook nie, maar hulle hèt. Gerook en gesnuif … erm, ek is nie so seker van die pruim nie. Die aster wat by ‘n glansryke dans aan haar cocktail-sigaret, in dieselfde kleur as haar rok en aan die punt van ‘n laaang sigarethouer geteug het, was ‘n gerekende vrou.

Toe skielik verander die hele prentjie. Rook, snuif en pruim was uit en gesond leef was in. By die werk is ons eers net verbied om voor kliënte te rook, toe kon ons slegs in “dedicated smoking areas” rook, toe smyt hulle die rokers uit en ons moes buite in die reën en wind staan en rook. Restaurante, winkels en openbare bymekaarkomplekke het heel gou op die “no smoking”-wa gespring en ons rook-wêreldjies het al hoe kleiner begin word.

So saam met die onbeskofte kortknip, uitsmyt en hou-verby beleide wat die regering en gesondheidsdienste in ons kele afgedruk het, het hulle elke nou en dan die belasting op sigarette, snuif en pruimtwak begin verhoog. Stadigaan het ons begin besef hoe sleg rook vir ‘n mens se gesond kan wees, hoe min nie-rokende mense van rokers hou en hoe hard die gewoonte jou sak slaan.

Ek het opgehou met rook nadat ek ‘n glansryke nag of wat in die hoësorgeenheid van die plaaslike hospitaal deurgebring het en met die uitkomslag die prediking van die kardioloog moes aanhoor: “Jy is oorgewig, jy kry nie genoeg oefening nie, die suurstof bereik nie jou brein nie omdat jy rook. Jou hart en ander organe kry swaar en jy hou aan met rook! Jy is besig om selfmoord te pleeg! As jy van my gaan verwag om na jou gesondheid om te sien, sal jy jou lewenststyl in oënskou moet neem. As jy nie daarvoor kans sien nie, moet jy dan nou maar doodgaan” Ek het. Nie doodgegaan nie, nee, ek het begin om gesond te eet, kilometers ver geloop vir oefening en … opgehou met rook. So groot was my skrik dat ek die laaste ou pakkietjie sigarette en goue sigaretaansteker net daar op die eetkamertafel gelos en weggeloop het.

Dit was meer as vyf jaar gelede en dit was MOEILIK. Dit was nog meer moeilik omdat my hele gesin gerook het. Ek het begin deur mooi te vra dat hulle ook ophou rook en plegtige beloftes is gemaak. Al daardie beloftes het soos rook oor die sandvlaktes versprei. In vyf jaar se tyd het ek myself hees gepraat, mooi gevra, spookstories vertel, gedreig, gesoebat en by tye moed opgegee. Ek het die persoon geword wat alle rokers haat: die gewese roker.

Toe beland wederhelf in die hospitaal met ‘n kerkhofhoes, seer longe, hart wat nie wil saamwerk nie en … die kardioloog skel my uit omdat hy rook. Sy skel MY uit, want hy is te siek om te luister. En my geduld knak. Ek vat sy sigarette weg en hy baklei. Ek weier om vir hom ander sigarette te gaan koop en hy baklei. Ek raak so kwaad dat ek hom vir twee dae verlaat en nie in die hospitaal besoek nie. Sy dogter (en mede-roker) praat nog kwalik met my. Op dag drie was hy sò bly om my te sien … en die eerste ding wat hy vra is ‘n sigaret.

Toe. Net toe. Toe verander ek in ‘n gillende feeks (hulle sê ek was nog altyd een). Ennieway, ek gil oor sy gesondheid, oor die moeite wat ek doen om hom gesond te probeer hou, oor die geld wat in die lug ingeblaas word op ‘n begroting wat buitendien nooit gaan klop nie, oor hulle klere wat stink, my motor wat stink, die stink sigaretstompies buite op die stoep, die stink rook wat per ongeluk by die deur intrek wanneer daar skelm gerook word in die middel van die nag – net vir jou inligting, ek kan daai sigaret ruik van oorkant die hoofweg af en moenie, o moenie naby my asemhaal nie, selfs nie as jy die Listerine by die mondevol drink nie. Hulle luister en maak hulle lywe skraal. Hy loop draaie om my. Sy dogter praat kwalik met my vir ‘n hele week. Maar hulle hou op met rook.

Dis nou ‘n maand later. My huis ruik skoon, die Listerine hou nou al die hele maand, die middernagtelike in-en-uit by die voordeur het opgehou, die humeure het bedaar. Daar is nou wel lekkergoedpapiertjies op elke oppervlakte, daar word vuisgeslaan oor die laaste toffie en die vrugtemandjie raak leeg in een dag, maar ek ry met graagte om nog te gaan koop. Dis net ‘n fase wat ook sal verbygaan. Ons praat weer met mekaar; die kwaadgeit is oor. En die aarde het in sy wentelbaan gebly. Dit was toe nie so vreeslik nie.

Ek bly natuurlik op my pos, besnuif die lug rondom my, kyk deur baksteenmure en om die hoeke om te sien of alles nog goed gaan en selfs die werkers op die oord hier langsaan rook op plekke waar ek hulle nie kan sien nie. Hulle staan gevaar om ge”fire” te word as hulle binne sig rook. My grootjie se naam was Piet Skopper en ek skop gat.

Kick Butt


Psst! As jy dalk een van daardie halsstarrige rokers is wat nie ore het nie, of sukkel met een van daai soort, lees gerus hierdie artikels. Daar is hulp beskikbaar. As die roker nie hulp wil aanvaar nie, pos hom vir my.

http://www.cansa.org.za/avoid-tobacco/

http://www.ekickbutt.org.za/ekickbutt.htm

http://www.cansa.org.za/plain-packaging-of-tobacco-products/

 

Follow Dis Ekke

29 Comments

  1. O, ek het nou lekker gelees!

  2. Dis die een sonde waaraan ek onskuldig is, your honour. Ek pes rook met ‘n patologiese afkeer.’ n Regte pyn innie gat moaner.

    • Ek wens ek het dit nooit aangeleer nie. Ek het darem by die drank en die dagga verbygehou 😀

  3. Dit is 32 kilogram sedert my laaste sigaret, en nou is die dokter ongelukkig oor my gebrek aan lengte (die enigste logiese rede waarom my BMI sommetjie nie uitwerk nie).
    Hoe lyk jou PT instructor vaardighede?

    • Uitstekend gekwalifiseer. Ek is ‘n beach bum – loop ure daar onder rond, swem wanneer ek kan, speel met die hond, klim tussen die rotse rond om skulpe te soek en al wat saamgaan is ‘n bottel water. Agtuur in die aand is ek pootuit. Volg ook nie ‘n dieet nie – ek hou gelukkig nie van soetgoed nie en bly weg van ‘n oormaat brood.

  4. Dit was nou ‘n fantastiese stukkie leesstof!!

  5. Ek lees altyd lekker hier en my kop gaan op en af soos ek saamstem

  6. Wat ‘n heerlijk verhaal! Ik begrijp niet alles, maar wel genoeg om af en toe hartelijk te lachen. En: petje af hoor, dat jullie allebei gestopt zijn! Ik weet hoe moeilijk het is… (wij hebben ook gerookt, maar nu ruim een jaar al niet meer – en wat een opluchting is het!) 🙂

    • Dankie en ja, ‘n mens besef eers agterna dat dit ‘n vieslike gewoonte is wat jy nooit moes aangeleer het nie.

  7. Jy’s kwaai! Ek het besluit om nooit te rook nie in standerd ses toe hulle vir ons by die skool ‘n video kom wys het van wat met rokers se liggame gebeur. Ek het my dood gegril. Veral die man wat ‘n gat in sy keel moes kry om asem te haal! Jare later het ons so iemand as vriend gehad, terloops. Om te kan praat, moet hy die gaatjie toedruk met sy vinger! Genadiglik het my man jare gelede ophou rook. Sjoe! Dit is darem net ‘n slegte gewoonte! Ou gatskopper! 🙂

    • In my skooljare het ons ongelukkig nie sulke opvoeding gekry nie. Ja, soms is dit nodig om te screech soos ‘n banshee voordat jy resultate kry.

  8. Menz se naam is Poerdez en menz is ‘n roker.
    Almal saam: “HI Poerdez.” …

    Menz rook omdat menz nie by die werk mag drink nie … menz rook want sommer. Eendag sal menz WEER ophou, maar daai dag is nie vandag nie.

    • Ek kan lang stories vertel oor ander mense drinkgewoontes 😀 maar gelukkig is dit die een ding wat ek nooit aangeleer het nie.

  9. Sjoe ek dink nie ‘n tsunami se intensiteit kan groter wees as hierdie post nie!! Het oorqweg om te bwgin rool maar netnou ruik jy my en dan word ek geskop!

  10. Ek is baie bly jy het resultate gekry by jou huismense!!!!! Tog eienaardig dat ons wat eers gerook het en dan ophou so ‘n aksie teen rook het. Gaan my verstand te bowe dat my fiksheid, en gesonde eet dogter nie die sigarette kan los nie. Rook natuurlik waar pa of ma dit nie kan sien nie…. maar vergeet van daardie reuk wat jy ‘n myl vêr kan ruik.

    • En daai reuk hang jou hele huis vol. Is jy nog nier in KZN? Ons het die laaste week heerlike somersdae gehad (ek het die meeste daarvan in Toti en Mobeni spandeer (werk en tandarts), maar ek het darem so nou en dan tyd afgeknyp vir ‘n drafstappie op die strand. Vandag waaaai die liewe wind weer.

      • Ons is terug by die huis. Het Saterdagoggend gery en in Scottburgh by my man se broer ‘n wonderwerk beleef (familiedinge) Toe was die weer al te lekker en tot warm toe ons hier in Gauteng aankom. Een ding van daardie Suidkus weer…. hy is onvoorspelbaar dis verseker. Maar ons het heerlik gekuier, en ‘n vêr meer sosiale lewe gehad as hier. Ons is links en regs uitgenooi om volgende keer by die of daardie een tuis te gaan. Ek mis die oopte van die see dit moet ek sê!!!

        • Die mense hier is nogal baie vriendelik en sosiaal. Ek vind niks van die kliekerigheid wat ek in Gauteng teëgekom het nie. Maar dan is die meeste mense waarmee ons te doen kry ook kliënte en hulle is gewoonlik makliker om te hanteer.

  11. al sestien jaar rookvry. Nie deur dr gedreig nie. Kan ek my BB na jou stuur?

  12. Jy’s gin gillende veeks nie… jy’s ‘n engel… ‘n lewens engel!!!

    Skop gat… daai grootjie van jou moes verlangs familie van my ook gewees het… el laaaik om gat te skop! (Nou al nege jaar rookvry… en hoor my lied… ek vang nou nog die aapstuipe as ek ‘n stompie binne 300 meter van die huis sien!) 😉

    • Is dit nie vreeslik eienaardig hoe ons persoonlikhede verander wanneer ‘n stoker verander in ‘n nie-roker nie? Dis amper soos ‘n drinker wat al sy vriende verloor wanneer hy sober word en nie meer drank in sy huis aanhou nie.

      • Ek het niks teen rokers nie… behalwe hulle vuil maniere! My grootste probleem? As ek per toeval in ‘n wolk tweedehandse rook in strompel… dan wil ek rook!! Strange but true!! 😛

        • Natuurlik – dis ‘ “trigger” vir die rooklus. Ek het dieselfde probleem – as ek iemand sien wat so droomverlore rook in die lug blaas, wil ek hom sommer aan die strot gryp, sy sigaret afvat en dit self klaar rook. Dis hierdie drang wat ‘n mens moet leer om te onderdruk.

        • Ons en ons drange!! PRET!! 😈

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: