Voordat ek nou begin met ‘n langdradige storie, wil ek darem die bloggers herinner aan hoe die omgewing waarin ons woon, gewoonlik lyk. Let op die kalm vloei van die rivier, die stil water in die lagoon, die skoon strook sand tussen strand en lagoon, en die uitnodiging van stil water in die getypoel. Paradys.
Ongelukkig kan dinge vinnig verander en Maandagaand het ons die storm van alle storms hier beleef. Aan die wind het ons al gewoond geraak en ons ken van lekker swaar reënbuie en donderweer, asook woeste branders wat op die strand klap en ruis, maar Maandagaand het al hierdie elemente gekombineer om ons klomp (gewese) binnelanders groot skrik op die lyf te jaag.
Die wind het het onverwags van die suidekant af begin woed, die reën is neergelaat by die dromvol en die lawaai van die see se kant af het benoude oomblikke besorg. Binne die huis hoog op die koppie het dit nie beter gegaan nie – die wind het die water so van onder af geskep en by die (toe) staaldeur- en vensterrame inforseer. Ons beste pogings om die vloed in die huis te keer, het ons nog steeds met nat voete gelaat en ons moes tydelik na hoër, droër gebiede ontruim.
Dinsdagoggend het dit steeds gereën, maar ons het deur waterpoele en moddergate gestrompel om te kyk wat op die strand aangaan. Hierdie fotos wys hoe die Mtwalumeriver afgekom en die water in die lagoon saamgesleur het, deur die sandstrook waar ons dikwels rondloop of in die son lê, tot in die oseaan wat minder vriendelik was as gewoonlik.
Die eerste foto is van die oord aan die onderkant van die heuwel se “garden pond” wat skielik ontaard het in ‘n rivier. Die ander fotos is op Elysiumstrand geneem (die deel wat toeganklik was)
Woensdag het ons by die hospitaal deurgebring, waar die man van die huis opgeneem is en nog steeds verkeer, dus kon ons eers Donderdag na die Mtwalumestrand gaan kyk.
Die eerste foto wys die getypoel waarin ons liewer nie op die oomblik sal swem nie; jy weet nooit wie het van die see se kant af oor die wal tot in die poel geswem nie!
Die vermoede is dat meeste van die opdrifsels en gemors met die rivier afgevoer is strand toe.
Die orde in die huis op die heuwel is herstel, die water weggedroog en die nat handdoeke, gordyne en matte is droog.
O ja, en laat dit bekend gemaak word: Beide Telkom en ESKOM het sonder onderbreking voortgegaan met gewaardeerde werkverrigting. Dis sowaar ‘n rekord.
rondomtaliedraai
Hoop hy is gou beter en weer tuis!
HesterLeyNel
Hy moet nog eers ‘n CT scan ondergaan en jy weet hulle staan tou daarvoor. Die dokter wil kyk of hy dalk ‘n bloedklont ontwikkel het wat die swelling in die bene veroorsaak. Ons sal maar môre weer die stryd aanpak.
rondomtaliedraai
Hoop dit was goeie nuus.
HesterLeyNel
Ja dankie, ons het hom vanmiddag net na drie-uur gaan optel met ‘n soetkys vol pille. Hulle sê dit was die een of ander infeksie gehad wat nou vinnig sal opklaar. Moet hom stil gedra en onmiddellik ophou rook – hier kom ‘n ding.
rondomtaliedraai
Pak uit die lekker eetgoedjies Sterkte. Ek is bly vir die oplossing
perdebytjie
Sjoe dis omtrent ontwrigtend!Ek is baie bang vir die elemente…dis nou een ding wat die mens nie kan beheer nie.
HesterLeyNel
En dit kan jou so onverhoeds vang!
Tannie Frannie
Dis verstommend hoe gewelddadig ‘n storm kan wees…jou foto’s illustreer dit so goed! Sterkte vir jou en die man vd huis.
HesterLeyNel
Ja ons het nogal geskrik. Dankie vir die goeie wense.
poerdez
Hoop dit gaan gou beter met die man van die huis en bly dat dit darem nou al opgedroog is in die huis.
HesterLeyNel
Dankie, die huis is weer i orde en ons glo die man word ook beter.
Toortsie
As dit so verskriklik droog was, kom die storm mos gewoonlik met meer mag en mening. Ek is so bly julle is okay en hoop die man van die huis is gou weer perdfris.
HesterLeyNel
Dankie Toortsie
hanneliesebredell07
Sjoe mens kan net verstom staan by die krag van die Natuur wette en hoe als in ‘n oogwink in chaos kan ontaard en verander. Dis met sulke tye wat mens besef ons moet respek hê vir Moeder Natuur. Bly julle het nie groot skade of erge beserings ondervind nie Hester.
HesterLeyNel
Dankie, ons is ook bly alles het goed afgeloop hier in ons omgewing en nou het die inwoners vir weke lank iets om oor re praat!
Kameel
Het die storm deurgemaak, maar is bly dat die water uit die huis gebly het. Nee liewe, dit was niks lekker nie.
HesterLeyNel
Ek is regtig jammer dat julle alweer sulke slegte weer ondervind hier in ons omgewing. My kinders arriveer ook vandag – ‘n hele woonstel vol gefrustreerde vissermanne. Die see se kleur wissel so van modderbruin hier aan die voorkant tot ‘n vaalblou aan die agterkant, weet nie of daar visse is nie.
Kameel
Sterkte met die gefrustreerde vissersmanne…. maar ek glo julle gaan ‘n hond uit ‘n bos uit kuier. Geniet!!!
HesterLeyNel
Dankie, ek is bly hier arriveer iemand wat my man se aandag kan aflei van die pyne en kwale. Hy kan nog nie behoorlik loop nie en sal doodgaan van verveeldheid, van niks anders nie.
Kameel
My kop draai al om by te hou met wie sê wat. Was jou man nie in die hospitaal vir ‘n bloedklont in sy lies nie? Indien wel vertrou ek hy is nou beter.
HesterLeyNel
Ja, ons het hom Maandagmiddag gaan haal. Die dokter is tevrede dat hulle behandeling geslaag is en hy voel beter, maar die been is nog vreeslik geswel.
Kameel
Neem aan hy is nou op bloedsverdunning medikasie. Lekker kuier by jou kinders!!!
HesterLeyNel
en piepiepille ja, sukkel op en af toilet toe … dis ‘n geween en gekners van tande haha
shadowwhisper
Mal oor jou fotos, snaaks genoeg veral die van die skoene…inspirerend
HesterLeyNel
Dankie. Ons kon net nie verstaan hoe mense dit regkry om hulle so uit hulle skoene uit te kuier nie.
shadowwhisper
ja lol