Definition of Emoji: a small digital image or icon used to express an idea or emotion in electronic communication
Nou het ek wragtag genoeg gehad.
Daar is sekere mense wat so obsessief is oor seks en alles wat daarmee gepaard gaan, dat ALLES op hierdie aarde gemeet word of gelykgestel word aan hulle (meesal gewaande) awesomazing sekskapades. Hulle praat oor seks, hulle skryf oor seks, hulle droom oor seks, hulle mors met seks en hulle verveel die blêrrie hel uit my.
Jy kan nie ‘n gesprek voer by die bushalte, ‘n koerant of ‘n boek of ‘n internet-applikasie oopmaak of ‘n fliek kyk sonder om te hoor en te sien presies wat in ander mense se (seks)lewe gebeur nie.
Mense word nou voorgestel aan mekaar, nie as Dominees of Doktor of plein Meneer nie – nee, hulle sekstitel, byvoorbeeld heteroseksueel, lesbian, homo, a-sexual, bi-sexual, transgender, drag queen en en … tot vervelens toe, moet bygevoeg word. Dit moet op die daad uitgehaal, afgestof en bewonder word voordat ons nog op voornaambasis verkeer. Al die lede van ‘n sekere seksgroep haat enigiemand wat aan ‘n ander groep behoort.
So verneem ek nou dat sommige emojis (sien definisie hierbo) ook nou ‘n seksuele konnotasie het. “Hulle” (diegene wat weet), beveel aan dat jy baie versigtig moet wees as jy emojis in jou amptelike besigheidskorrespondensie gebruik, want jy weet nooit watter betekenis daaraan gekoppel kan word nie. Wie doen dit in elke geval? Ek stuur nie ‘n emoji met ‘n glimlaggende gesiggie vir die Ontvanger van Al My Inkomste nie.
Wat my nog meer die moer in maak: as ek nou my perske vir jou (per emoji) aanbied, kan jy jou eiervrug vir my tentoonstel. Op sosiale media. Daar buite in die kuberruim. Waar almal dit kan sien. Die probleem is dat ek (in ‘n vorige lewe waar mense beter maniere gehad het of hulle slegte maniere beter weggesteek het), net sou gedink het dat die perske / eiervrug ‘n oulike prentjie is, of dat jy my vir ete genooi het. Is ek naïef? Ja. Ek is ook so die bliksem in dat ek iets wil oorkom, want nou mors hulle met kos. Dit herinner my aan die dae van Die Man met die Goue Piesang wat sy finansiële sake by die Naaste Bottelstoor (NBS) bedryf het. Vervelige ou grappie.
Seks is nie ‘n verbode onderwerp in my teenwoordigheid nie, maar kan ons dit op ‘n volwasse wyse bespreek? Kan ons asseblief ook die fyn detail van jou tegniek en bedrywighede uit die geselskap hou? Ek gee nie om vir ‘n grappie so nou en dan as dit onder die belt is nie, maar kan jy tog asseblief jou broek aanhou? Net omdat ons volwasse, opgevoede persone is … behoort te wees. Ons kan ook baie ander onderwerpe bespreek, want my kennis en belangstelling in seks is op ‘n bevredigende vlak, maar daar is baie ander dinge wat my ook prikkel; ek meen soos musiek, sport, politiek, kuns, ens.
Nou hoor my nou my volk en nasie, hierdie is my staatsseksrede:
- Ek gee nie om aan watter seksgroep jy behoort nie
- Ek voel my nie verplig om jou te laat weet aan watter seksgroep ek behoort nie
- Ek gee nie om wie aan jou perske proe nie
- Ek gee nie om in wie se sop jy jou eiervrug inroer nie
- Ek wil nie hoor watter tegniek jy gebruik om die perske af te skil of die eiervrug op te kook nie
JOU sekslewe bring vir MY geen plesier nie, net soos wat ek niks kan koop met jou salaris nie en nie met jou duur motor kan ry nie en nie in jou groot huis kan bly nie. Hou asseblief op om my te verveel. En as jy vir my ‘n emoji stuur, sorg dat dit NET ‘n glimlaggende gesigie is – een wat AL sy tande wys, want die glimlag met die passion gap doen absoluut niks vir my nie.
Korrelkop Kahuna
My boetie hou van seuntjies en ek hou van meisies…wel één meisie. Ek verstaan die bytjies en die blommetjies maar van eiervrugte en perskes weet ek niks. Ook maar lekker agter die klip ekke, en miskien ook maar beter so. Dis ‘n complicated besigheid daar buite.
HesterLeyNel
Man, kan jy jou verbeel hoe maklik ‘n mens in so ‘n gat kan trap? Al hierdie mooi prentjies is beskikbaar op facebook, twitter, whatsapp en as ek nou een gekies en vir iemand gestuur het wat ‘n bietjie meer clued up as ek is? Ek sal nooit weer my kop kan lig in die openbaar nie. En ek is nie preuts nie, ver daarvandaan, maar dêmmit, ek probeer darem ordentlik wees.
Korrelkop Kahuna
Ek is bes moontlik net te old school, maar dit sal baie help as mense ophou in raaisels praat en ‘n perske ‘n perske noem…instede van simbool van iets anders
HesterLeyNel
Sê jy nou. Ek dink die meeste mense ervaar seks nog as sonde of iets waaroor jy agter jou bakhand praat. Ander gaan weer te ver en is doodgewoon kru. Dalk word ons eendag groot en dan kan ons weer perskes eet sonder om te wonder …
rondomtaliedraai
hehehehe ek verstaan heeltemal waardeur jy gaaan … seks in Afrikaans is in elkgeval nie iets waaraan ek gewoond
kan raak nie
HesterLeyNel
Dit lyk net vir my asof mense oor niks anders meer kan praat nie.
rondomtaliedraai
Met al die moord en doodslag in die media is dit dalk ‘n ontvlugting?
HesterLeyNel
Die probleem is, daar is drie goed wat juis lei tot moord en doodslag – politiek, godsdiens en seks. Is dit dan nou wat ons ‘n vicious circle noem?
poerdez
Seks en speurverhale in Afrikaans is/voel vreemd …
HesterLeyNel
Ek lees nou nie Afrikaanse speurverhale nie, maar ek moet saamstem oor die seks.
poerdez
Dis juis! Ek KAN nie Afrikaanse rillers of speurverhale lees nie, dit werk nie vir my nie.
HesterLeyNel
Haha. Ek het so pas ‘n reeks van 10 speurverhale van Jo Nesbo (Noorweegse skrywer) gelees. Op ‘n skaal van 1 tot 10 is hy so ‘n 7. Probeer hom.
poerdez
Ek sal, dankie.
rondomtaliedraai
Dis waar … dis of Afrikaanse speurders minder vindingryk moet wees.
HesterLeyNel
Dis ‘n interessante stelling. Bedoel jy dat leidrade van die soort misdade wat hulle moet oplos meer voor die hand liggend lyk?
rondomtaliedraai
Ek weet nie Onthou jy in die begin jare van Tv wat hulle die Duitde speurverhale in Afrikaans oorgeklank het … die taal pas net nie by speurwerk nie… hehehe … ek kan darem baie twak praat Dis net ‘n gevoel
HesterLeyNel
Ek moet erken dat ek nie juis Afrikaans lees nie – die taal is òf so ‘n verwronge “slang” òf so stokstyf dat dit my smaak of die skrywer ‘n laaistok in sy g@t het. Moet tog nie oorvertel nie asseblief, haha, iemand sal my skiet. Daar was darem ‘n paar kinderreekse waarvan ek gehou het.
rondomtaliedraai
Neeee ek sal mos nooit so iets oorvertel Mens is grensloos lojaal maar het mos maar jou eie voorkeure
HesterLeyNel
😀
perdebytjie
Sjoe ek is bly jy het my gewaarsku…ek ken ook nie al die konnotasies van die goedjies nie,maar ai tog,wie besluit om ‘n lekker perske in ‘n sekssimbool te verander?
HesterLeyNel
Nee ek weet ook nie, want die oorspronklike maker daarvan sê hy het niks meer as ‘n perske daarvan gemaak nie. Maar blykbaar moet jy ook versigtig wees vir waterdruppels en avalanches – die mensdom raak mal.
perdebytjie
Ag asseblieftog!Ek sal maar bly by die gewone laggende gesiggie.
HesterLeyNel
Ek hoor jou!
Griet
Ditsim. Dis die beste blog wat ek in ‘n lang tyd gelees het, en dit verwoord my sentiment presies. Ek is so gatvol vir onsmaaklike dubbelsinnigheid dat ek kan skree. En vir die perske-en eiervrugbende: Ek sal ‘n perske stuur wanneer ek wil. Julle kan maar daarin lees wat julle wil.
HesterLeyNel
Waag dit net, dan stuur ek vir jou ‘n waterdruppel haha 😀
Kameel
Die seksbehepte wêreld maak my ook sommer suur. Gaan nou kyk of ek sulke icons het…. miskien stuur ek vir jou een sonder enige bedoelings daarby. 😆
Wat gaan aan hier by jull?. Ons daag op in volle sonskyn…. en die volgende dag is dit koud en begin reën. Ons seun sê ek en my man moet na die plekke toe gaan waar daar droogte is…. nie lank nie, of die reën sal uitsak.
HesterLeyNel
Jy sal my nie glo nie; ek sit hier by ‘n gasverwarmer (!), met ‘n sweetpak aan onder ‘n kombersie en eet warm chili con carne. Dit was so droog die afgelope paar maande en nou spoel ons amper weg. Die dak het begin lek en ek het ‘n bekgeveg aan met die body corporate, want die water val reg bo-op my rekenaar en my tv – ek moet tydelik trek. Maar die reën is nog steeds welkom; dankie dat julle dit gebring het. Ons gaan Woensdag blykbaar die eerste keer weer son sien.
Kameel
Sit ook hier toegedraai in ‘n duvet… en het gewonder of ons in die 5 weke weer son gaan sien. Dit reën omtrent hard… maar ek verstaan ook dat ons land dit nodig het. Sterkte met die dak en trekkery!!!
aj vosse
Ag kyk nou net… appelkoos komkommer! Nou weet ek nie waar die bobbejaan die vrugte gesteel het nie!
Totaal deurmekruis is ek nou! Ek sal moet gaan leer by die Groot G want netnou plant ek pampoene in die tamatie ry! 😀 Ek hoop my outjie het genoeg tanne!! 😀
HesterLeyNel
Haha, man wat praat jy, is jy besig om chutney te maak?
aj vosse
Dankie… nou rol ek!! Pawpaw en mango! Nee… ek mag nie mango gebruik nie want hulle vlieg mos! Pawpaw en klappers!! 😀
HesterLeyNel
Spot maar, hoor … 😀 Terloops wat het julle toe besluit in verband met die moontlike verhuising?
aj vosse
Die agent het die plek onder ons sterre uit verhuur! Stoute oukie! Ons hou aan soek maar huur huise is amper so skaars soos gaanstanne! 😉 (Ek het die ander dag vir Dries ‘n nota gelos dat ek oorweeg om ‘n paar poste te doen oor wat in my lewe aangaan… miskien sal ek begin met hoekom ons wil trek kus toe!)
HesterLeyNel
Ja doen dit, hoekom nie? Dinge werk mos nooit uit net soos wat ‘n mens dink dit sal nie en dan staan jy agterna vir jouself en lag. Hierdie kus het ons verlede nag gevang met ‘n storm wat my vyf jaar ouer gemaak het. Glad nie die soort weer waaroor ek gedroom het voordat ons hiernatoe getrek het nie! Ek sal ‘n paar fotos plaas, dan kan jy sien hoekom ons broeke so bietjie gebewe het.
aj vosse
Ja… ek sien al die sneew en reen en vloede daar in die Oos Kaap en julle wereld! My vrou wys my aanhoudend… sy het ‘n pêl in Toti…
HesterLeyNel
Eish, Toti het sleg deurgeloop. Selfs die treinspoor het skade verduur.
aj vosse
Ja… en ek hoor nou net dat storm wind en groot golwe julle vannag gaan besoek! Die internet ding… vrugte van ons tyd?
HesterLeyNel
Ek dink hy is merendeels al uitgewoed, hoewel die bliksemstrale wit blits oor die see. Ons luister na ‘n audioboek, maar die see raas so hard dat ons dit skaars kan hoor.
aj vosse
Neem fotos van al die blitse!! Ek is groen… ek sien hulle amper nooit nie en kry nie fotos nie!
HesterLeyNel
Ek dink nie my kamera kan daai doen nie. Ek het ‘n idiot proof Nikon wat ek net so in die regte rigting mik en druk.