My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Die ou tannietjie kry koud

Vroeër jare was ons klomp binnelanders gewoond aan temperature wat in die minusse gehardloop het en ons was daarop voorbereid, maar nou klappertand ons sodra die kwik onder 20°C daal. Hierdie naweek is dit so koud dat ons soos mummies toegerol is in ons komberse wat ons doer diep onder uit die linnekas moes gaan opgrawe. Daar in die Vrystaat het ons by Naomi geleer om komberse te dra soos wat net ‘n Sotho dit kan doen – met panache.

Dit herinner my toe aan ‘n besondere koue winter daar in die Vaal Driehoek, die soort koue wat jou gebeendere vries ten spyte van al die klere (en komberse) wat jy jouself mee bedek. Ek het destyds nog gerook, maar in ons huis het ons ‘n streng  nie-rook reël nagekom; die enigste genade was om na die motorhuis toe te verkas en daar te gaan rook wanneer die lus jou oorval.

So staan ek een Saterdagmiddag toegevou in my Sotho-kombersie, warm mussie op my kop, skaapvelpantoffels aan my voete en rook, toe daar so ‘n voorbarige ou meisietjie koe-hoeeei! daar van ons hek af. My man, ook nie links nie, maak sommer die hek vir haar oop en sy draf vrypostig na my toe: “Oe, hallo my ou Tannietjie. Dis darem weer koud vandag, nè, maar daai kombers is darem net die regte ding as jy jou siegrêtjie hier buite in die koue staan en rook!”

Ek vang my man se oog en sien hoe hy met sy volle ses voet in die sementvloer probeer wegsink. Hy weet hy het drooggemaak. Daar is ‘n rede waarom daardie hek gesluit is en daar is ‘n rede waarom daar nie ‘n klokkie of ‘n interkom in sig is nie; dit hou die straatverkopers weg van ons deur af. Hy moes nooit daardie hek oopgemaak het nie, veral nie vir ‘n ongenooide, voorbarige ou meisietjie wat met so ‘n klokkiestemmetjie vir my kom “Tannietjie” nie. Tannie is al erg genoeg om my te laat rooi sien, maar die verkleiningsvorm -“tjie” agteraan geheg, laat my bloed kook op die koue wintersdag. Boonop laat ek my nie seg oor my siegrêtjies nie.

“Tannie”, jubelsing sy, “ek wil nou vir julle iets vertel, maar dan moet ons nou daar in julle sitkamer gaan sit sodat ons lekker kan praat.” Sy nooi my uit … nee, sy beveel my om in my eie sitkamer te gaan sit sodat sy met my kan praat?! Ja, vertel sy verder, so met Eskom se tariefverhogings sukkel almal maar om by te bly met die betalings vir krag en sy het nou gekom om ons uit die moeilike situasie te red, “maar my Tannietjie kan nou maar eers haar siegrêtjie klaar rook en dan gaan sit ons nou lekker en gesels daar binne.”

Het hierdie meisietjie agtergekom dat Tannietjie tot dusver nie ‘n oog geknip of ‘n dooie woord gesê het nie en dat die Benson en Hedges siegrêtjie van die filterkant af GEKOU word? My man het dit agtergekom; dis nog net sy laaste krulhaartjies wat onder die rooi vloer van die motorhuis uitsteek. Hy sprak ook geen sprook nie.

Die Tannietjie weet presies waarvan sy praat – daardie apparaatjie wat aan jou warmwatertoestel gekoppel word om dit outomaties af te skakel op sekere tye van die dag. Dit kos toe so ongeveer R7000 as ek reg onthou. Die bure het reeds almal gekla oor die verkoopsmense wat hulle so pla en onder mekaar probeer uitwerk hoeveel maande se krag hulle met R7000 kan betaal.

Toe druk die Tannietjie met mening haar papnat siegrêtjie dood in die asbak, trek haar kombers reg en sê in ‘n afgemete stem: “Moenie worrie oor Tannietjie nie; Tannietjie het reeds so ‘n apparaatjie. ‘n Mens noem dit ‘n vinger. As ek my warmwatertoestel wil afskakel druk ek net sy AF-knoppie en wanneer ek dit weer wil aanhê, druk ek weer sy AAN-knoppie.” En net daar swaai Tannietjie met ‘n swierige gebaar die kombers se punt oor haar skouer en swiep grasieus by die motorhuis se deur uit.

Julle moet almal die week vorentoe geniet en hou maar die kombersies gereed, daar wag nog koue vorentoe.


https://commons.wikimedia.org/

Follow Dis Ekke

40 Comments

  1. Ek sit nou hier in die einste Vaal Driehoek en bibber terwyl ek oor “tannetjie” se storie giggel.. En baie dankie, jy het my nou net herhinner dat ek nie onthou het om weer my geyser met my vingertjie te gaan aansit nie.

  2. Bwahahaaaa – en jy trek toe nie eens vir manlief uit die vloer uit nie!
    Jy beskryf daai gladdebekkind so goed, ek hoor eintlik haar deurdringende, neerbuigende ou stemmetjie…

    • Comment by post author

      Jong, ek sê jou, sulke mense laat my bloeddruk hoorbaar opgaan en dan betaal ek terug in eie munt. Dalk leer ek nog eendag om die ander wang te draai *sug* Dankie vir die inloer.

  3. 20 graden en koud 😀 ja ik begrijp het. Wij zouden blij zijn als het 20 graden wordt..

  4. Nou so lekker gelag,Hester!Ek kry sommer lekker warm.Jy het dit kostelik beskryf.Ek en manlief het elkeen so ‘n goedkoop Pepstores kombersie met luiperdvelpatrone op.Jy moet ons sien as ons so toegedraai sit,met beanies op die kop en elkeen ‘n hond op die skoot…dan wil ons ook nie mense ontvang nie😜😂

  5. En daar skakel jy haar AF.
    Jy sal dit nou seker nie vir een oomblik kan glo nie maar ek het nogal ‘n streep stir in my… sou agter die veiligheid van tralies of ‘n afgrond tussen ons jou tannietjie wou noem 😉

    • Comment by post author

      Ek antwoord op Tannietjie. Ek sal jou hartlik soengroet en Boetietjie noem – vra maar die karwag hier onder by Ifafa! Ek het ‘n blog daaroor geskryf, maar dit het iewers op my desktop tussen al my dokumente gaan wegkruip. Gaan dit nog uithaal en afstof.

      • Hier by die werk is dit vir my ‘n plesier as die Xhosa sprekendes my bhuti noem maar gewoonlik praat hulle die waarheid en noem my tata…

        • Comment by post author

          Snaaks, komende van die Sothos en die Zulus, die nasies waarmee ek bekend is, weet ek diep in my hart dat hulle uit respek vir my Mama of Gogo sê; dis deel van hulle kultuur. Maar hierdie neerhalende Afrikaanse Tannietjie / Tantetjie of Antie – o bloed! Dis net soos die outjies in die ou dae van ons as cherries of chicks gepraat het.

        • 🙂 nou lag ek weer met die chicks en cherries saam! En as so ‘n persoon windmakerig verwys het na sy nuwe tekkies moes jy nie na sy voete kyk nie, jy moes na sy kar se bande kyk!

        • Comment by post author

          Hemel, moenie praat nie – een van ons jeug-aanhangers het na sy tekkies verwys as ones & twos en sy kar was ‘n “wa”. “Wat skop die kriek?” moes jy vertaal as “hoe laat is dit?”.

  6. Dankie, vir die skrywe Antie. Ek gebruik soms, ´n lekker poncho, as dit so koud is.

  7. Ja-nee, sulke gladdebek mense moenie eens ‘n halwe kans gegee word nie! Jy beskryf dit so goed, ek het lekker gelag. Ek hoor dis so koud daar. Oor ‘n paar dae sal ons dit hier voel.

    • Comment by post author

      Hierdie is die rede hoekom ek nooit praat van aardverwarming nie – ek verkies die bewoording klimaatsverandering. Maar nouja, daar is geen plek vir wetenskap in my oorvol kop nie.

  8. Lekker lag ek nou

  9. Ha ha, Sien die prentjie baie duidelik. Ek kannie glo dat mens koud kry as temp 20 en minder is nie. Ha ha, hier is 20 al heel warm omdat die atmosfeer so dun is voel dit baie warmer. Op oomblik gaan ons snags na minus toe. Lekker ryp en yswind wat waai. Die komberse is darem maar wonderlike verwarmers.

    • Comment by post author

      Daar in die Driehoek was dit ook niks ongewoonds om tot -12° te te trotseer in die vroeë oggend nie, maar daar was ons ingerig met verhitte vloere en elektriese komberse, om nie te praat van die dik woljasse nie. Soggens vroeg was die golfbaan spierwit geys, ampersoos ‘n sneeulandskap en daar was ys op die pad. Horribaal sê ek jou.

      • Kan onthou van daardie Hoëveldse ysige wintersoggende. Gelukkig was die dae self heerlik. Hier is dit winterreën en dis nie te ideaal nie. Hier is sulke leker warm baadjies wat met gansdons gevul is. Dis heerlik warm en knus en tog nie tewarm nie.

  10. Tannetjie moes nou nie so lelik met daardie meisietjie gewees het nie…. ons het so ‘n geyser tapparaatjie (skoonseun het dit laat insit) en dit werk sonder dat jy ‘n vinger hoef te lig.

    • Comment by post author

      Ons s’n was een van die ouer huise waar die db-board nog in die gang was – ek moes in elk geval daar verbyloop op pad slaapkamer toe, so dit was nie regtig ‘n vreeslike effort om die knoppies te druk nie, maar afgesien daarvan – haar houding het my net eenvoudig die harnas ingejaag.

  11. Heheheh ek geniet jou skrywes baie Dankie!

  12. Ek laaik dit as Tannietjies hulle se moere strip!

    • Comment by post author

      Sorg maar net dat jy buite spoeg-, gooi- of klapafstand bly, dan sal jy veilig wees. 😀 Dan moet ek nou ook bysê, Omies raak mos almal knorrig so met die jare saam – dalk moet ons daaroor blog!

  13. Hiehiehie lag ek nou my oor ‘n mik. Jy het haar goed gesê. Tussen jou en my, daar is neks wat my meer irreteer as mense wat -tjie agter alles sit nie. EK het al gevoel om die ‘teetjies’ wat my geoffer word in die mense se ‘gorreltjies’ afte druk.

  14. Ons het in die ole hometown al in die laat ’80’s so ‘n apparaatjie aan die geyser gekoppel gehad. Komplimente die munisipaleteit. Gratis en helemal mahala. Vyfuur en agt in die more het die ou dingetjie wat net ‘n grys knoppie op die paneel was, sy intensies duidelik gemaak met ‘n hoorbare klik. Dan weer agtuur en elfuur saans. Ek verpes dit as mense my “My tannie” noem. Dis ‘n onderwerp, nie ‘n vergalsterlike aanspreek vorm nie. Nog erger is wanneer hulle my “Antie” noem. Dis dan dat ek soos ‘n viswyf gil “Antie se moer man!”

    • Comment by post author

      haha @ Antie se moer. Dis nou nie iets wat jy in ‘n Engelssprekende gemeenskap sal raakloop nie – hulle kinders spreek jou aan as Mr/Mrs of sommer net pront op die naam..