Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Vuurwerke en pantoffels

Toeka-Tokkel no 11: Vuurwerk het my aangespoor en hierdie blog te pleeg.

As jong tieners het ons groepie vriendinne altyd Sondagoggende na kerk by mekaar gespog oor ons ‘hot dates’ van die vorige aand. Elke afspraak is in detail ontleed, van die klere wat jy en hy gedra het (of nie gedra het nie) tot die rigting waarin jy jou kop moes draai om behoorlik te soen (dis nou wanneer òf hy òf jy miskien ‘n bril gedra het). Die beste oomblik was egter wanneer een van die vriendinne so geheimsinnig geglimlag het, en bloot net gesê het: “Fireworks!” Dan het jy nie verder uitgevra nie (verbode terrein), maar tog stilletjies gewonder hoeveel emosie en gewaande pret bygelieg is in daardie een woord.

Kyk, ek was van jongs af baie skepties oor die dinge wat mense kwytgeraak het en die entoesiasme waarmee sekere tydverdrywe aangepak is. Dis tog nie moontlik om altyd in die sewende hemel te verkeer elke oomblik van die dag nie? Ek hou ook van vuurwerke, die soort wat jou bloed laat kook van opwinding, sowel as die soort wat letterlik sterre en balle uitskiet met plof- en zieng-geluide, maar op ‘n stadium, iewers in die vertoning, raak my fut uit … my ore slaan toe, my oë begin brand en dan raak my kop seer. Migraine, ja, nie die soort wat deur ‘n Disprin of twee reggestel kan word nie. Dan wil ek my ou pantoffels aantrek en ontspan.

Daarom soek ek ‘n maat wat weet hoe om my soort pantoffels te dra. Jy weet waar van ek praat? Daardie soort pantoffels wat van skaapvel gemaak is, sterk en stewig, wat binne-in met skaapwol uitgevoer is en my voete lekker warm toevou, wat rubbersole het sodat ek die hond vinnig kan uitneem vir sy nagtelike piepsie wiepsie, selfs wanneer dit reën.

Deesdae, lyk dit vir my, dink elke vrou sy moet ‘n Bella-tipe wees, (ja, ek het toe op die ou einde Fifty Shades of Grey boek 1 EN boek 2 gelees, so ek weet waarvan ek praat). Skielik moet ons almal kan opsit met die Christian Greys van die lewe. Liewe hemel! Hoe voos moes sy nie elke oggend van haar lewe gevoel het nie, seer op plekke wat ordentlike mense nie in geselskap wil noem nie, styf in die lyf, met ‘n ruggraat wat nie weet hoe om homself weer reguit te trek nie. Dis nou bo-op die migraine wat sy sou MOES ontwikkel as gevolg van te min slaap en te veel … wel, te veel.

Dis nie die ergste nie. Wat ek graag wil weet, is: hoe het sy oor haarself gevoel? Selfvoldaan, omdat sy soveel plesier kon verskaf en absorbeer (sonder om ‘n Disprin te drink)? Vol vertroue dat sy die wilde, dominante meneer Grey ‘getem’ het? Stront. Ek sou geweier het om in die spieël in my eie oë te kyk … en te erken dat ek gelieg het oor die vreeslike genot, dat ek vernederd voel oor die feit dat ek myself soos ‘n sirkusolifant aan toertjies moes onderwerp om die man van my drome gelukkig te maak, dat my gat aan die brand is waar hy my geslaan het, dat ek lus gehad het om hom aan sy knaters te gryp en te druk totdat sy oë uitpeul.

Voordat iemand my stenig: ja, ek besef dat daar dalk mense mag wees wat hierdie soort speletjies geniet. Nie ek nie. Nie die oorgrote meerderheid van vroue met wie ek al gesels het nie. Daar mag ook vrouens wees wat glo dat hulle ‘n man se liefde kan ‘koop’ deur hom op hierdie manier gelukkig te maak. Ek glo dit nie. Ek weet dit sal nie vir my werk nie, want op een op ander stadium gaan ek daai knaters beetkry. Ek weet, in my binneste, dat so ‘n man weer en weer oor die draad gaan spring, want soms is liefde nie genoeg nie en ek is nie een van diegene wat glo dat alles vergewe kan word nie, veral nie die vernedering wat ek myself sal aandoen in die voortdurende proses van vernederende onderwerping en daaropvolgende vergiffenis nie.

Hoe bedryf ek dan ‘n verhouding? In die eerste plek glo ek nie aan gedwonge liefde nie; ek is nie die soort wat teen alles en almal sal ‘veg’ om ‘n man te behou nie; ek weier om heeldag, elke dag en sonder ophou te ‘werk’ aan ‘n verhouding. My verhouding moet geskoei wees daarop dat ek en my maat mekaar aanvul soos ‘n paar snoesige pantoffels, dat ons mekaar sal warm en veilig hou, dat ons sal deel in tydverdrywe en in ernstige geestelike ervarings waarin albei van ons belangstel, dat ons lekker sal kan speel, bo en onder die lakens, mekaar sal bystaan en regop hou in moeilike tye … en so nou en dan goed die moer in word sonder om mekaar emosioneel te vervodde. Dit is my idee van ‘n suksesvolle verhouding. Dit is my idee van vuurwerke.

Ek besef dat nie almal dieselfde dink nie; jy is welkom om van my te verskil, maar dan kan jy nie een van die pantoffels in my verhouding wees nie. Dan moet jy maar die pad vat in jou stylvolle cowboy boots en jou ‘fireworks’ gaan koop by die Chinese winkeltjie om die hoek. Pasop net dat jy nie jou vingers verbrand of die vuurpyl per ongeluk as ‘n butt plug gebruik nie.

Follow Dis Ekke

30 Comments

  1. Wens jy kon nou hier neffens my sit en my hoor lag het, so heerlik kop agteroor soort van lag. Ag ja, Ek kan nou nie saampraat oor die skakerings van grys leesstof nie, ek het nie gelees nie. nietemin starlight sterretjies is ook vir my vuurwerke, Die grootte en hoeveelheid ontploffings nie altyd ter sake. Jou blog bitterlik geniet. Dankie.

    • Dankie. Ek was te nuuskierig om NIE die boek te lees nie, maar ek lees mos maar so knit one slip one as ek vinnig wil klaarkry.

  2. Dis briljant. Die beste blog wat ek nog gelees het. Totaal en al waar, en terstond gereed vir publikasie – sodat alle Letta’s wat voorgee dat hulle Sadomasochistiese sirkustoertjies geniet, kan ontspan en ophou voorgee. Ek gaan hierdie share

  3. Fantasties geskryf!Ek stem heeltemal saam met jou.As ‘n man al daardie mishandeling van ‘n vrou eis,kan hy maar gaan sizzle in die see!

  4. Hehehehe… hier kikker jy my dag op! Welgedaan!

  5. Jy mag maar skryf Hester. Ek het nou omtrent lekker gesit en giggel en tot die ou dikderm van my wat so seer is, moes saamlag. Ek stem saam met jou. Daardie ‘warm liefde’ hou nie lank as dit so gedwonge moet wees nie. Noem my maar boring, maar ek hou ook van daardie sagte, warm pantoffels. 😀 ♥

    • Dankie vir die inloer en die kompliment. Ek is bly ek is nie die enigste een wat so oor die saak voel nie.

      • Jy is baie welkom Hester en jy is beslis nie die enigste een nie. 😀 ♥

  6. Ooo dit het nou heerlike vuurwerke in my gedagtes gegee. My man was die “jagter” ek moes hom eintlik n paar goeie vuurwerke laat sien het terwyl ek die kans gehad het. Ek is ook maar n rustige pantoffeldraer as dit daarop aankom. Dankie vir jou heerlike stuk skryfwerk. Heerlik om te lees.

  7. Baie goed geskryf! Ek hou so baie van jou blog want jy draai nie doekies om nie. Ek stem saam, ‘n verhouding moenie gebaseer word op voorgee op enige vlak nie. Ons is wie ons is. Ek moet bieg ek het nie die Fifty Shades of Grey boeke gelees nie. Een of twee vriendinne het dit gelees en gebaseer op wat hulle vertel het (baie soortgelyk aan wat jy sê) het ek besluit dis nie die moeite werd vir my nie. Dit laat my tog wonder oor die wêreld van ons wat so op hol geraak het oor die boeke – hou hulle daarvan of is dit net slim bemarking en hulle dink hulle is veronderstel om daarvan te hou?

    • Dankie. Weet jy, ek dink dis sosiale kondisionering wat veroorsaak dat vrouens veral, so ‘n totale wanbegrip van hulle eie waarde het. Aan die ander kant voel ek ook soms jammer vir die arme mans wat altyd die sterk figuur moet wees en moet “regeer” – mans het ook maar soms ‘n swak mondering en ‘n behoefte aan bystand en begrip, eerder as ‘n prikkelpop.

  8. Ek het dit nie gelees nie, lyk ook asof ek die enigste man hier is, maar ek stem heeltemal saam met jou en lekker gelees.

    • Ag jy mis absoluut niks; dis net ‘n oordrewe Mills & Boone hygroman 😀 Dankie vir die inloer.

  9. Ek hou veral van hoe jy ‘n verhouding beskryf.
    ‘Werk aan verhouding’ sien ek dat ons mekaar nie as vanselfsprekend aanvaar nie, dat ons dinge doen waarvan ons hou om die verhouding gesond te hou. Dat ons goed is vir mekaar. Net soos jy ook noem.
    Baie geniet dankie

  10. Na hierdie vuurwerkvertoning het ek migraine en gaan nou slaap!!! 😆
    Lekker gelees Hester.

  11. Awesome geskryf! Ek het ‘n paar keer gegiggel – natuurlik oor Mr Grey se shenanigans. Ek is so bly om te lees dat daar iemand is wat “‘n verhouding is harde werk”, challenge. Natuurlik moet mens moeite doen en probleme uitstryk en oor dinge praat, maar genade, dit kan mos nie heeltyd net harde werk wees nie? En ek is bereid om geld daarop te wed dat die Mr Grey’s van die lewe teen die ouderdom van 40 lankal nie meer met stywe boudjies kaalgat staan en pannekoeke bak nie….

    • Weet jy, ek het my lewe lank ‘n houding jeens sommige vrouens wat dink hulle verwagtinge moet ondergeskik wees aan dié van hulle mans. Hulle dink alles wat verkeerd gaan in die verhouding is hulle skuld en die man kan maar maak soos wat hy wil. Vrouens is nie tweedeklas burgers is die Huweliksrepubliek nie – hier regeer ons demokraties.

      • Ek stem 100% saam – my skoonma is so ‘n vrou – ondergeskik aan haar man, loop stert tussen haar bene geduldig agter hom aan. Dit het haar alles gekos. Selfs nou haar verhouding met haar drie kleinkinders. Ek het self, na elke teleurstelling die fout by myself gesoek, en toe eendag besef ek dis nie wat fout was met my nie, maar wat fout was met daardie persoon.

  12. Moer… nou het ek lekker gelag… en ‘n bietjie gedink waar ek as man inpas in die groot skema van die lewe.
    My knaaters is nog waar hulle behoort en ek voel soos ‘n skaapvel pantoffel so miskien doen ek nie te sleg nie… en ek wardeer en respekteer my ander pantoffel… ons pas goed bymekaar! (Al is ek blou en sy pienk!) 😉

    • Daar is nog verhoudings wat werk en ek glo dit is omdat daar ‘n balans gehandhaaf word. Ek raak vreeslik vies vir die idee dat jy heeldag jou identiteit moet opoffer om ‘n verhouding te laat slaag. Ons is in die eerste plek in die verhouding om dit te geniet – albei van ons.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: