Hier in ons deel van die wêreld is die lekkerste deel van die vakansie natuurlik wanneer die amptelike vakansie-tydperk oor is. Dis nou wanneer die vakansiegangers en jolytmakers huis toe is en die plaaslike munisipale werkers dae lank geloop en gemors optel het op die strande en ‘n salige stilte heers.
Niks verkeersknope in die dorpe nie, geen samedromming in die winkels nie, geen sirenes wat skreeu of motorfietse wat brul op die hoofweg nie, geen klappers wat ontplof nie, geen plastieksakke / babadoeke / gebreekte bottels op die strand of onnoembare items wat in die getypoel ronddryf nie, geen oorverdowende musiek nie en die vakansiepryse vir gebruiksartikels daal met ongeveer 50% – dis Paradys.
Dis nou nie te sê dat vakansiegangers nie welkom is nie (ons ekonomie baat daarby; so 50% meer as gewoonlik), maar dis op hierdie punt wat die inwoners begin vakansie hou.
Dan vat jy jou visstokkie, sit jou hoed op, maak seker dat jou fotograaf jou sak met ekstra klere, skoene en waterbottel op die rug het … en dan loop jy myle langs die strand af sonder om ‘n vreemdeling in die oë te kyk. Miskien loop jy darem so hier en daar ‘n inwonende visserman of ander geesdriftige skulpversamelaar raak en knoop ‘n geselsie aan.
Dalk koop jy vir R40 by die Chinese winkeltjie vir jou ‘n paar krokkedille wat in die vakansietydperk R80 gekos het en gaan klouter op die rotse rond. Ons “krok op” sê ons, want hierdie skoeisel klou vas aan die rotse. Die skurwe skulpies en plantegroei op die rotse maak kaalvoetloop onmoontlik. As jy per ongeluk sand in jou krokke kry, swaai jy jou voet rond in ‘n rotspoeletjie om daarvan ontslae te raak.
Op ‘n baie warm dag bly sit jy sommer daar in die rotspoel – wees net op die uitkyk vir krappe wat onder die rotse wegkruip en moenie, nee moenie jou rug op die see draai nie; daar kan miskien net ‘n onbeskofte brander oor jou kop breek.
So teen die aand se kant wanneer dit begin koeler word, gaan lê jy eers ‘n bietjie op die sand en laat rus die moeë bene. As jy gelukkig is, mag daar dalk net ‘n trein verbykom wat vir jou fluit. Dit gebeur gewoonlik wanneer die fotograaf reeds die kamera uitmekaar gehaal en gebêre het; die trein het nie ‘n vaste rooster nie, loop net wanneer hy wil.
Laataand sit jy op jou balkon, smeer lyfroom aan die rooigebrande vel en beplan jou staproete vir die volgende dag. Dis hoe ons vakansie hou hier by die see.
Net Ek
Jis jy het my nou behoorlik groen van jaloesie hoor!
Ek wil nog my hele lewe lank by die see woon. (so tussen my en jou, ek is eintlik ‘n undercover meermin…)
HesterLeyNel
Ek is sommer net ‘n eend. Kan jy glo ek het in die barre Namakwaland grootgeword? Ek sal in 2 duim water swem as dit moet.
Net Ek
Hehehehe, lekker smaail ek nou vir jou eend! (Ek verbeel my ook ERG lekker met die meermin-storie hoor. Dink meer ek lyk soos ‘n pokkeltjie rob of iets! Lol!)
😉
Ahdad
Klink en lyk te lekker…maar wat van so ‘n glasie rooie as die skemer oor die water begin loer?
HesterLeyNel
Ja wat jy kan maar ‘n glasie klink. Ek is ‘n geheelonthouer (*koes* soos Tina altyd sê 😀 ) – alkohol maak my so siek soos ‘n hond.
Ahdad
My vrou hou ook nie van die voggies nie…
rondomtaliedraai
A nee a dis darem te onregverdig om so te spog! Klink heerlik
HesterLeyNel
Haha, ek spog nie, ek verwonder my elke dag aan die lekkerkry. Al daai jare in groot stede, in hoë geboue en tussen hordes mense – jy kan net dink hoe salig die stilte is.
rondomtaliedraai
Ek gun jou dit!
shadowwhisper
Pragtige fotografie en jou mooi woorde skets maak my nou verlang na ‘n lekker strandloop vakansie
Olga
Ek beny jou die myle se stap. Hier by ons wens ons ook maar later die vakansie (tyd) om. As die vakansiegangers huis toe gaan, kry die straatsmouse weer maniere.
HesterLeyNel
Ja hier by ons verrys daar oornag sypaadjie-afsetpunte (en motorwagte / motorwassers), maar hulle verdwyn ook net so vinnig weer na die vakansie.
scrapydo2.wordpress.com
Ek kan my indink dat jul kan vakansie hou as die vakansiegangers weg is. Salig en rustig. Stem saam met daardie krokke skoene! Dankie vir jou deelname. Waardeer dit baie.
Tannie Frannie
Ag hoe salig – sonder die “mal Transvalers”!
Kameel
My vriendin vertel my toe hoe lank dit hulle in vakansietyd vat om kerk toe te ry. Ek het my verstom. Jou lewe klink soos wat sy my van hulle s’n vertel het. Sy en haar man vang baie vis.
HesterLeyNel
Ons gaan baie hengel – daar kom nie baie visse huis toe nie, maar darem genoeg om so nou en dan ‘n vissie te braai oor ‘n naweek.
ekmyselff
Ooh DIT lyk nou na die lewe om te he!
HesterLeyNel
Jaaaa … mits die weer saamspeel!
Sonel
Ja, ek weet wat jy bedoel met die toeriste en ons mag seker nie kla nie Hester. 😀
Pragtige foto’s en ek kan sien jy is dankbaar vir die stil tye. Ek sal ook wees. Is daar enige plek langs die kus wat nie toeriste trek nie? Ek sou so plek verkies het. Dalk sommer net my eie eiland koop en dit omring met haaie. 😆
HesterLeyNel
Goeie plan, maar ek weet nou nie so lekker van die haaie nie lol 😀 … ek swem baie graag
Sonel
Nee wat, dit sal vriendelike haaie wees vir my vriende. Ek sal kleintjies kry en hulle self train en as jy kom kuier sal ek jou voorstel aan hulle en dan sal hulle jou nie wil eet nie. 😆
HesterLeyNel
haha, dis nou optimisme met die lewe!