Tussen ons huis en die snelweg, is daar ‘n diep vallei. As ons op die agterste balkon staan, sien ons net die boomtoppe en die teerpad aan die anderkant. Dis natuurlik onvermydelik dat ons die een of ander tyd die Groot Trek deur die bos sou onderneem om ondersoek in te stel – nuuskierigheid loop dik in die bloed. Toe ons die geesdrif nie langer kan demp nie, vaar ons die vallei binne, goed gepantser met twee lae klere, heavy duty gumboots en hoed op die kop. Baie gou was die boomtoppe, wat ons gewoonlik net van bo af sien, ver bo ons koppe.
Ons weet dat daar lewe is in die digte bos: ons sien elke nou en dan apies, bosbokke, bosvarke en natuurlik is ons ook alte bewus van die slange en spinnekoppe. En muskiete. Moenie vergeet van muskiete nie. Dus is ons geestelik voorbereid. Aan die begin gaan dit goed, maar toe word die bos al hoe digter en ons besluit om die stroompie te volg na die groot rivier se kant toe.
My dogter loop voor en ek trap mooi in haar voetspore. Die gedagte kom by my op dat ons rolle nou omgedraai is; toe sy jonger was het sy van my verwag om die leiding te neem – deesdae laat ek die leisels (en die motor se sleutels) baie gemaklik en met groot vertroue in haar hande.
Die lyf is al so ‘n bietjie ouer en die litte strammer, dus moet sy so nou en dan help dat ek onderdeur- of bo-oor ‘n tak kan kom. So ‘n slag of wat sit ek vas in wat ek sweer is ‘n wag-‘n-bietjie-bos en sy moet my kom loswikkel. Sy dink natuurlik niks daarvan om my so ‘n oomblik in die lug te laat hang bo die waterstroompie sodat sy gou ‘n foto kan neem nie.
Op ‘n stadium het die plantegroei regtig so welig geraak dat ons benoud gewonder het of die son onder gegaan het. Dit was egter sprokiesmooi en ek dink as ek ‘n feetjie was, sou ek net soos daardie pienk-pers blommetjie tussen die mosbedekte takke wou woon.
Ons het op ‘n stadium begin wonder of ons moes omdraai, maar die pad terug was lank en moelik en ons kon die verkeer bo-op die snelweg duidelik hoor, selfs al kon ons niks sien nie, dus was ons nie verdwaald nie. Voorwaarts dus! En wat ‘n lieflike beloning het nie op ons gewag nie: skielik het die donker bos oopgebreek en hierdie fantasie-wêreld vir ons oopgemaak.
Ons het lank hier vertoef, tè lank, want ons het geweet Pa sal angstig word omdat ons so lank wegbly. Ons kon nou ietwat vinniger vorder en ‘n entjie verder het ons die grondpad se brug oor die rivierlopie gesien, met die water van die strandmeer aan die anderkant. Dit was ‘n welkome gesig.
Ons het behoorlik tone geklap al met die grondpad langs die groot rivier af, om die hotelgronde en bult-op tot by die huis. My arme tong het op die grond gesleep, maar my hart was lig. Dit was ‘n heerlike dag.
Wonder waarheen gaan ons volgende?
Stories Uit My Wereld
Baie mooi. Waar’s dit?
HesterLeyNel
Ons woon op die Suidkus KZN langs die Mtwalume rivier (tussen Scottburgh en Hibberdene).
shadowwhisper
Pragtige area, sjoe… maak my terug verlang na my vakansie in Mpumalanga vroeer die maand… Hoekommoet mens huis toe gaan en werk…. lol
HesterLeyNel
Sodat jy kan aftree by die see 😀
shadowwhisper
Gee my eerder Mpumalanga 🙂
HesterLeyNel
Ek was al daar op ‘n bustoer en dit is baie mooi. Ek wil egter by die see wees – het naby die Weskus grootgeword.
shadowwhisper
Die see is bekoorlik, en ek kan verstaan as die see mens terugroep. 🙂
Lewies Mymer
Sprokiesmooi inderdaad!
rondomtaliedraai
Sjoe dis baie mooi!
HesterLeyNel
Is dit nie? Mens kan nie glo dat daar so ‘n versteekte wêreld is waar niemand ooit kom nie.
Olga
Dis inderdaad baie mooi. Nou dat ek jou foto’s gesien het, kan ek nie glo ek het na ‘n dekade my huisie in die bos verruil vir die dorp, kinders se gejil by die skool, karre wat heen en weer ry en werkers wie met groot geraas werk toe en huis toe gaan nie.
Kameel
Mooi 🙂 My seun hulle het al die jare op Munster gebly. Dit is so dig daar… en soos jy sê ‘n mens sien bokke, tot likkewane, grote spinnekoppe ens daar. Die slange het hy in sy erf gevang, en in die “veld” gaan terugsit. Dit het my partykeer benoud laat voel om tussen al daardie plantegroei te lewe.
HesterLeyNel
Dit was nogal grillerig aan die begin, maar nou is ons mal oor die “bos”, veral op koue of winderige dae wanneer die strand nie ‘n opsie is nie. Dis so rustig daar onder in die vallei.
Kameel
Geniet dit…. min dinge wat ‘n mens meer verniet kry. Ek verwonder my altyd aan die Suidkus se digte plantegroei. Hou net nie van die somers daar nie.
Toortsie
Geesvernuwende dag.
coetzee2014
So ‘n dag in die natuur, verrig wondere vir die gemoed. Baie mooi nog daar.
HesterLeyNel
Ons het ‘n groot hoeveelheid reën gekry die afgelope 3 dae, vertel my man vir my. Ek en my dogter was weg Gauteng toe vir vier dae. Met die terugkomslag sien ons die heuwels wat feitlik oornag weer grasgroen geword het, die vleie waar die watervlakke sigbaar is en die riviere wat tot oorlopens toe vol is. Paradys!
coetzee2014
Die natuur is wonderlik na die reën.