Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke, Genis

Om te hond of nie te hond nie

Ons het ‘n klein, bedorwe hondjie wat soos ‘n stertjie al agter sy pa aandraf. Ons gaan bitter weinig iewers heen sonder die kleine brakkie, dus moet ons altyd seker maak dat hy welkom is op die strand, op die winkelstoep, of by ‘n opelug-restaurant, sodat ons kan beplan waarheen ons gaan vir ontspanning. Natuurlik, as Genis nie welkom is nie, hou ons ook verby en gaan soek na ‘n plekkie waar hy kan saamkuier. By die huis bly is nie ‘n opsie nie.

Genis is geleer om doodstil onder die tafel te sit terwyl sy huismense eet; hy eet nou darem nie uit ons borde of drink bier uit ons glase nie. Hy blaf of knor nie en hardloop nie rond nie. Hy bad ook elke dag, omdat hy elke dag in soutwater swem, sy inentings is op datum en sy tande word geborsel en nie hy of sy mense ly aan ergerlike oordraagbare siektes nie. Ek dink darem ons maak voldoende versekering dat mense veilig kan voel in sy geselskap.

Toe ons nou die naweek besluit om stil te hou by ‘n strandrestaurant waar heerlike pizzas bedien word, het ons eers gaan seker maak dat Genis toegelaat sal word. Ons is hartlik verwelkom buite op die stoep waar ‘n paar katte ook rondgesluip het.

genisondiet

Alles het goed gegaan totdat daar ‘n groterige dame in ‘n kleinerige rokkie opgedaag het, so ene wat selfs met ‘n hewige gerem en getrek nie die babagesiggies op die knietjies wou verbloem nie.

Ek kon nie help om op te let dat sy en Genis gelyk het asof hulle familie kon wees nie – albei se dra-velletjies het sulke kolletjies op en sit taamlik styf en albei het so ‘n moderne weergawe van ‘n Rod Stewart haarstyl, net nie so sexy nie. Die enigste verskil was dat Genis se wenkbroue baie ruig is (hy IS immers na die beswaarde Genis met die woeste wenbroue in Koöperasiestories vernoem), terwyl die dame sulke dun strepies bo haar oë laat tatoëer het.

Nog skaars het sy haar sit gekry, toe begin die dame luidkeels haar misnoeë uitspreek oor die wyn wat suur is (dis nou nadat sy die hele glas uitgedrink het), die teenwoordigheid van mossels in haar seekossop (?!), die musiek wat te hard / nie hard genoeg was nie en natuurlik oor die onhigiëniese gebruik om katte en honde in ‘n restaurant toe te laat.

Ons maak altyd ‘n punt daarvan, wanneer ons agterkom dat iemand ongemaklik is met diere in ‘n openbare plek, om pad te gee uit die geselskap. Ons het dus onmiddellik ‘n braksakkie (sies! wat ‘n onhigiëniese benaming) bestel, ons rekening betaal en gewaai.

Nou dink ek toe agterna eers daaraan, ek moes darem net ‘n oomblik by die dame se tafel stilgestaan het, nie net om verskoning te vra vir my hond se teenwoordigheid nie, maar ook om haar bewus te maak van die volgende:

My hond pas mooi in sy vel. Jy bars uit jou rokkie uit.

My hond is geskeer en sy haartjies is blinksag. Jou hare lyk soos ‘n muisnes.

My hond is mooi van nature. Jou grimering is aangeplak met ‘n troffel.

My hond ruik na babasjampoe. Jy stink na sigaretrook en dassiepis-parfuum.

My hond het goeie maniere. Jy het nie.

My hond kan nie met ‘n mes en vurk eet nie. Jy ook nie.

Follow Dis Ekke

21 Comments

  1. Heheheheh… you go Genis

  2. Ja ne? Sommige mense kan jy ook nerens vat nie! Waar bly julle Hester? As dit in die Kaap rond is kan ek dalk ‘n paar diere vriendelike plekke aanbeveel :). (Genis is pragtig)

    • HesterLeyNel

      Dankie, hy is. Ons is in Durban op die Suidkus. Leer ook nou maar eers die omgewing ken.

  3. Sommige mense is so onngelukkig, maar dink dis d wereld wat verkeerd is , nie hulle nie. En dan kla hulle oor ALLES! Ek kry van hulle in my akkommodasieplekke ook.

    • HesterLeyNel

      Jong, ek dink hulle moet altyd probeer wys dat hulle “beter” gewoond is.

  4. Gelukkige hond, daai Genis!

  5. Ai, toggie party mense het ook nie opvoeding gehad nie! Hier by ons in die Kaap is daar baie plekke waar diere welkom is!

    • HesterLeyNel

      Ja, ons het al die mannetjie Kaap en Port Elizabeth toe gevat vir vakansies en selfs by die gastehuise is hy welkom (gewoonlik nie in die hoofgebou nie, maar wel in die cottages). Maar dan, daar is ongelukkig ook mense wat nie die reëls volg en skoonmaak agter hulle honde nie.

  6. Dis ook weer waar!

  7. Vatso Katvis!

  8. Haar reaksie sou waarskynlik priceless gewees het.

    • HesterLeyNel

      Nou dat ek daaraan dink, ja – miskien moes ek haar die geleentheid gegee het om kommentaar te lewer!

  9. Een van die inkopiessentrums naby my het verskeie buite restaurante. Baie mense vat hulle honde saam as hulle daar eet. Ons vind dit gewoonlik vermaaklik. Die honde sit gewoonlik nie stil nie en poog altyd om almal te gaan groet. 😉 Hulle draf egter gou terug met die regte fluit of hande klap.

    Ek sien geen probleem met ‘n hond in ‘n restaurant (of winkel) nie. Veral as die hond soos Genis doodstil onder sy / haar eienaar se stoel sit.

    • HesterLeyNel

      Snaaks genoeg, katte is skynbaar oral aanvaarbaar (nie dat ek kla nie, my Ponsie is my hart se punt) – ons het ‘n katte hier in twee apteke, een groot vet mannetjie in die slaghuis en ‘n mamma met ‘n paar kleintjies in Postnet.

      • Die slaghuiskat het seker n koninklike lewe

        • HesterLeyNel

          Hy is blinkvet en die pa van baie kleintjies in die dorp.

  10. Wat een mooie vergelijkingen!

    Ik ben gek op welopgevoede honden.

    Vrolijke groet uit Amsterdam-ZuidOost, Nederland,

  11. Honde wat hul gedra, pla my nie, maar soms kan honde, nes kinders, swak gedrag toon… maar mense se gedrag kan soms die swakste van als wees… soos daardie dame wie duidelik onseker van haarself was.

  12. Dis altyd so lekker om blogs of mense raak te loop wat voel oor hul dierekinders soos ons. Hier by ons gaan dit ook so maar ek is nie baie sosiaal nie, maar as ons iewers heen gaan, gaan ons ou man, Simba ook saam. As die wiele draai, wil hy daar wees. 😀

    Ek het omtrent lekker gelag vir jou. Ja, jy sou haar goed vertel het. Sy behoort haar te skaam. Duidelik het Genis baie beter maniere en hy is defnitief baie mooier ook.

    Gee hom ‘n drukkie van my kant af asseblief. 😀 ♥

    • Dankie, ek het Genis sommer ‘n paar dukkies gegee. Ons was weg vir 4 dae en hy het ons amper opgeëet van pure blydskap oor die weersiens (of was dit dalk oor die biltong wat saamgekom het?). Ons was skemeroggend al op die strand om ons daaglikse lopie in te kry.

      • Plesier en dankie. 😀

        Ek sal dit glo en ek dink dit was blydskap en wie sal nou nee sê vir lekker biltong. My Simba is ook net so lief vir sy biltong. 😀

        Dit klink tog te lekker. 😀

Leave a Reply

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: