As jy die woord OPERASIE sien of hoor, waaraan dink jy? vra Scrapydo.
“Operasie” het vir my net èèn begrip en dan ook nog een waarvan ek niks hou nie: hospitaal, dokter, binne-aarse voeding, inspuitings, bloed trek, pille, pyn, siek wees. “Operasie” is iets wat ek so ver as moontlik probeer vermy, maar soms is dit natuurlik net nie moontlik nie.
So bietjie meer as ‘n dekade gelede het ek genoeg ondervinding gehad van “operasies” (ja, meervoud) – soveel so dat ek vandag nog kwalik my dokter of my apteker op straat groet. Nie dat hulle enigiets verkeerd gedoen het nie, maar hulle is deel van die mediese beroep en daar is ‘n sekere konnotasie met operasies.
Maar ek wil vandag by die operasie verby beweeg na ‘n storie wat verband hou met die nagevolge van die operasies. Dis nou ‘n storie oor hartsake.
Sien, ek het mos die hart (van my voorvadere oorgeërf) wat net wil weghardloop. Nie figuurlik nie; letterlik. As enigiets die hart ontstel soos te veel suiker, te min oefening, te veel vet, verkeerde pille, nie genoeg pille nie of dan soos in die geval van die operasies, sommer net die narkose, dan hol die hart weg. Ek weet nie wat word hierdie siektetoestand genoem nie, want ek weier om met my dokter daaroor te praat. Ek weier om oor enige siektes en operasies te gesels.
My polsslag word in bedwang gehou met chroniese gebruik van beta blokkeerders en gewoonlik hardloop die hart taamlik egalig. Gewoonlik. Nie altyd nie. Hierdie storie begin waar die narkose (weer eens) die appelkar laat omval het. Ek beland ‘n volle week na die operasie toe weer in die hospitaal, in die middel van die nag, want ek het dit skynbaar nie in my samestelling om in die dag siek te word nie. Nee, dit moet die middel van die nag wees.
Ek beland in Aai Sie Joe. Natuurlik, dis my tweede huis. Ek word gekoppel aan die masjiene wat hartklop / polsslag (is dit dieselfde ding? newwermaaind, ek wil nie regtig weet nie), ritmes en ander goete meet. Ek word vol chemiese stowwe gepomp. Ek word, nog steeds met al die drade, masjiene en goete in plek, aangesê om te slaap. Die masjiene piep en toet elke keer as my hart klop, dan stadig, dan hopeloos te vinnig, dan glad nie (in welke geval daar ‘n sirene afgaan en alle personeel op my afstorm met skokstokke). Tussen al die geraas deur en die ligte wat op my skyn moet ek nou slaap? Ek dink nie so nie.
So, nou lê ek daar en luister na die masjiene, hou die monitors dop om te sien of ek nog leef en sing saggies vir myself “Jingle Bells” op die maat van die gepiep en getoet, want dit is so rondom krismis. Langs my in die bed lê ‘n ouerige tannietjie en haar hartmasjiene skop net so ‘n lawaai op; sy kan ook nie slaap nie, dus sing sy maar saam met my en borsel haar hare met ‘n borsel wat vibreer en haar kopvel masseer (wederregtelik, want sulke toestelle word nie toegelaat in Aai Sie Joe nie). Daar in die hoek staan nog ‘n bed, in relatiewe donkerte en stilte, maar skielik klink daar ‘n ou, bewerige stemmetjie op uit daai rigting: “Please switch off that radio and for God’s sake, tell that woman not to use her dildo in here”.
Toe skater ek en my medelyer. Die saalsuster het amper ‘n oorval gekry en nog slaapmiddels uitgedeel. Iewers in die nag het my hart tot bedaring gekom en ek het ook ingesluimer. Sesuur die volgende oggend daag die hartspesialiste op vir saalbesoek en ek kry die een met die mooi krulhare en potblou oë wat amper veroorsaak dat my hartklop heeltemal verdwaal op die monitor.
Daar in die hoekbed sit die eienaar van die ou bewerige stemmetjie skielik penorent in die bed en die masjiene daar langs haar gaan af met ‘n groot geskal. Ek skat haar digby die honderd jaar oud, die koppie bewe en die stemmetjie slaan deur, maar sy spoeg met groot drif in my rigting: “Not only do you get to have FUN in the middle of the night, but you get the only looker among that lot as well”.
Searching For Ironman
Ai nou het ek lekker gelag! Dankie, dit was nou lekker lees. Humor in moeilike omstandighede help ook altyd.
HesterLeyNel
Dit doen nè? Ek is soms verbaas oor hoe baie die mensekind kan verdra as jy net die humor in ‘n situasie kan sien. Dis seker soos die ou wat in die donker loop en fluit om die spoke weg te hou 😀
Searching For Ironman
Absoluut! En vir jouself lag is net so goed, al los dit nie enige probleme op nie. Ten minste voel alles dan ‘n bietjie “ligter” en dan kry mens weer nuwe perspektief.
nowathome
Dit was kostelik! Hoe lekker lag ek nou! Ek kan myself net indink hoe dit daar in die Aai Sie Joe gegaan het!
Xena Phoenix
Wil jy nie daardie dokter sommer vir my pos nie?
Suur susters sal my ook ‘n hartaanval gee. Ek het gelukkig min ondervinding van hulle.
HesterLeyNel
Nee, gaats, ek hou hom met graagte. Sien hom deesdae net eenkeer per jaar, maar dit bly ‘n plesier!
ddupl3ss1s
Dit mens nou uit jou ellende moet vreugde put ! ..darem met die lees daarvan.
HesterLeyNel
Nee wat, kyk, dis darem nie regtig so sleg soos wat dit klink nie. Die meeste probleme is darem al uitgesorteer en solank ek myself gedra, voel ek baie goed vir my ouderdom.
ddupl3ss1s
“Dat” is die regte spelling.. nie dit . Wonder is dit my vingers of is dit my brein wat die verkeerde volgorde deursein
HesterLeyNel
My seun het vir my ‘n sleutelbord met groot knoppies gekoop en ‘n tweede groot skerm wat ek aan my skootrekenaar koppel sodat ek op twee skerms gelyktydig kan werk. Nou kan ek beide sien en voel wat ek doen – groot plesierigheid. Die sleutelbord is sommer een wat waterdig is ook, vir die koffie en water wat ek geneig is om oor my lessenaar om te keer 😀 Wonderlik die dinge waaraan kinders kan dink.
rondomtaliedraai
Het nou lekker gelag.
HesterLeyNel
Dankie en dankie vir die inloer.
perdebytjie
Ag,dit was nou lekkerlees!
HesterLeyNel
Dankie vir die kompliment en die kuier
scrapydotwo
Dankie vir die heerlike vertel van jou Operasie-omstandighede.Kan ook nogal saamgesels as dit by hospitaal kom maar joune vat die koek. So n kloppende hart is sekerlik maar n ongemaklike ding veral as die dr nog aantreklik is ook. Jou afrikaans vir “I see you” is te pragtig. tien uit tien daarvoor. Bly om te weet dat die hart darem onder beheer is as jy kalm en rustig bly.
HesterLeyNel
Dankie vir die kuier en die kompliment
Spokie sny spoor
Jinne, baie goed geskryf! Ek sou jou storie as ‘n wenner sien as daar rerig ‘n prysuitdeling was. Die humor was ook oulik wat die spanning en erns van die saak breek. STerkte.
HesterLeyNel
Ag dankie hoor, dis ‘n riem onder die hart (pun intended :D). Wat is ‘n “pun” in Afrikaans? – ek moet nou eers Google gaan raadpleeg. Dankie vir die inloer.
Anonymous
Jammer dit is nou jou hart, maar dit maak ‘n lekker storie.
Anonymous
Hierdie anonym is Kameel. Het nuwe program en niks wil meer reg werk nie.
HesterLeyNel
My rekenaar het vanoggend viervoet vasgesteek soos ‘n donkie en ek moes dringend ‘n dokument proeflees. Dit maak my naar! Gelukkig was my dogter hier om hand by te sit.
HesterLeyNel
Hehe 😀 Die hart sal hou (tenminste tot ek doodgaan) solank ek my gedra. Dankie vir die inloer.
Olga
Whoop whoop vir daardie tannietjie. Niemand sal skoene onder bed inskop nie, maar klink nie of sy dit nodig het nie. Die tannie ken van! 😆
HesterLeyNel
Wel, iemand sê die ander dag vir my ‘n vrou bereik raak sexual peak op 64 jaar. Ek kan nie wag nie! :sedige gesiggie: