My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Vat vir Mammie Wimpy toe

Die frustrasies wat senior burgers ondervind wanneer die gemeenskap aanvaar dat hulle te oud is om besluite vir hulleself te neem.

Ek het meer as sestig somers agter die rug, my hare is grys en my gesig vol plooie. Dus is dit net logies dat ek nie meer in staat daartoe is om vir myself te dink en te handel nie. Reg? Verkeerd!

Mense dink wel so. Veral wanneer ek saam met my dogter die strate invaar, word ek onmiddellik onsigbaar, doof en blind. Van die dokter tot die winkelassistente praat net met my dogter (oor my en my behoeftes) en vind dit verskriklik eienaardig wanneer ek so vermetel is om self vrae te beantwoord of te verduidelik wat ek wil hê. Die ‘Tannie’ is veronderstel om te weet dat sy te oud is om namens haarself te praat.

Ek bel op ‘n dag die verskaffer van ‘n mediese prostese in Krugersdorp en verduidelik vir hulle presies wat ek benodig. Die produk word ingevoer van Australië af en dit is belangrik dat die bestelling een honderd persent reg uitgevoer word, want dit kos my mediese fonds ‘n hele paar duisend rand. Ek stuur vir haar die mediese fonds se voorskrif en bevestiging van betaling per e-pos en maak ‘n afspraak vir die volgende Vrydag.

Ek verduidelik ook vir haar dat dat my skedule vir die einste Vrydag volgepak is; ek moet presies om eenuur die middag van Vereeniging af ry om in Krugersdorp te kom, my aankope af te haal en dan deur te jaag na Johannesburg se middestad toe om ‘n belangrike werksvergadering by te woon. Die bestelling moet dus asseblief gereed wees om twee-uur, sodat ek betyds kan wees vir my volgende afspraak.

Op die afgespreekte dag en tyd kom ek en my dogter Krugersdorp binne gejaag en stop reg by die ingang van die verskaffer. Let wel, ek is agter die stuur van die motor. Motorsleutels in die hand en handsak onder die arm hardloop (ja, hardloop) ek die winkeltrappies op, verduidelik wie ek is en wat ek kom haal. Natuurlik is die bestelling nie gereed nie, wat de hel het ek dan nou verwag?

Eers is daar ‘n redekaweling oor my bestelling, want nou (NOU EERS!) moet hulle seker maak dat ek die spesikasies reg oorgedra het. Gelukkig het ek die mediese fonds se papierwerk in my handsak. Dit uitgesorteer, moet hulle nou eers gou die bestelling by die stoor in die volgende straatblok gaan haal en dit sal binne vyf minute daar wees. Vyf minute word tien minute, en toe twintig minute, en ek word warm onder die boordjie. Ek herinner die assistente daaraan dat ek in die stad moet kom voor drie-uur.

Sy kyk so wragtag bo-oor my kop en sê vir my dogter: “Dit sal nie meer lank wees nie. Hoekom vat jy nie solank vir Mammie hier na die Wimpy toe nie?”. My dogter ken haar ma, word so effens bleek en sê niks. ‘Mammie’ het daai assistente se gatvelle met een kyk afgetrek, in riempies opgesny en ‘n mat daarvan geweef. Die vloerbestuurder wat die konsternasie waargeneem het, het inderhaas ingetree en reëlings getref dat die nodige per koerier afgelaai word by my huis, op hulle koste.

Dit was nie die eerste keer of die laaste keer wat ek hierdie soort optrede waargeneem het nie. Ek bedoel, dis mos net logies dat ‘n persoon, grys van ouderdom en met plooie, wat so ‘n haarfyn bestelling kan plaas, nog vergaderings bywoon, haar eie motor bestuur, met trappies ophardloop en ‘n gesprek met jou kan voer, te stjoepit moet wees om self Wimpy toe te gaan as sy dit nodig ag. Nee, Mammie moet Wimpy toe geneem word.

Net so tussen hakies, ek hou nogal van Wimpy se kos en eet gereeld daar. Alleen. Of, by geleentheid, saam met my dogter.

Follow Dis Ekke

1 Comment

  1. klip

    Ek sal jou dan liewer nie Spur toe neem as ons saam vakansie hou nie. Ek sal vra: KOM JY SAAM??! 😀