Liewe Pa, dis Genis wat hier praat.
Waar is Pa? Hoekom kom Pa nie huis toe nie? Ek loop en besnuffel heeldag lank die hele huis en die erf en ek kan Pa nêrens kry nie. Ek wag noual baie lank en Pa, ek kan nie huishou met hierdie twee vroumense nie. Hulle vertel my niks en ek kan nie verstaan wat aangaan nie.
Pa weet, hulle sit my elke dag in die kamer saam met die verdomde ongeskikte kat en dan verdwyn hulle vir twee tot drie ure. Wanneer hulle terugkom kan ek vir Pa ruik aan hulle hande, maar hulle hou nie daarvan as ek hulle besnuif nie. Ek mag ook nie hulle hande lek nie; die Ouvrou sê sy is nie ‘n toffie nie.
Die verdomde ongeskikte kat het my geklap. Sy sit mos elke middag op die tuintafel en wag dat Pa haar moet kom krap. Nou kan sy ook nie verstaan wat aangaan nie en sit daar en miaau. Ek wou net vir haar vertel Pa is weg en toe klap sy my sommer. Toe ek vir die Ouvrou daar op die wit troon in die badkamer gaan vertel wat gebeur het, het ek sommer begin huil en weet Pa, toe lag die Ouvrou vir my. Sy sê ek is ‘n boe-hoe bybietjie.
Pa, en hulle gee vir my net hondekos en skoon water elke dag. Ek het so lus vir ‘n broodjie met polony en kaas, maar die twee vroumense eet mos nie sulke goed nie. Ek is honger, Pa. Pa moet nou huis toe kom. Ek hou nie van hierdie hondelewe nie.
Ek slaap in die nag onder Pa se bed en maak die Ouvrou vroeg in die oggend wakker om te gaan kyk of Pa al terug is. Sy dink ek wil gaan wiepsie, maar dan hardloop ek na die groot hek toe en sy hol agterna in haar pajamas. Dan raas sy met my. Pa, dis vreeslik, die Ouvrou lyk baie onbehoorlik in haar pajamas en wat moet die bure dink?
Ek was vanoggend so bly toe hulle my in die kar laai, want ek het gedink ek gaan saam na Pa toe, maar toe laai hulle my by die poodle parlour af. Haai Pa, dis darem nie reg nie. Kyk hoe is my hare nou weer verwoes. Ek kan nie eens sien watter soort hond ek is nie.
Pa, kom gou huis toe asseblief. Dis nie lekker wanneer Pa nie hier is nie. Ek ly ‘n regte hondelewe.
Liefde, Genis xoxo
Genis se pa is in die hospitaal van oujaarsaand af, nie omdat die oujaarspaartie so lekker was nie, maar omdat hy ‘n infeksie in sy longe opgedoen het en te koppig was om dokter toe te gaan. Na drie dae het die Ouvrou hom in ‘n ambulans geprop en hospitaal toe gestuur waar die dokters hom behandel het vir wat hulle gemeen het ‘n ligte hartaanval was. Hy gaan seker nog ‘n paar dae daar bly vir verdere toetse, maar voel darem al heelwat beter. Intussen is Genis se wêreld onderstebo en hy is diep, diep beswaard.
Rob Alberts
Beterschap voor Pa.
En voor jou en je familie veel voorspoed, geluk en gezondheid in 2018!
Goede Nieuw Jaar groeten,
HesterLeyNel
Baie dankie Rob. Voorspoedige Nuwe Jaar vir jou ook.
dromer777
Ag moederliefde arme Genis. Dis so oulik geskryf
HesterLeyNel
Genis is ‘n slim hond! Soms. 😄 Dankie vir die lees.
Storieklong
My innige meegevoel met arme Genis. Wat dink die vrouens? Dat hy ‘n hond is?
Ek hoop Genis se daddy voel sommer gou beter
HesterLeyNel
Dankie, ons hoop hy sal Vrydag reeds tuis wees, dan kan die twee “vroumense” weer geïgnoreer word deur Die Hond.
Tannie Frannie
Al werk jy so “hardhandig” met Genis, verstaan jy sy liewe hondesiel. Beterskap daarso!
HesterLeyNel
Dankie Frannie 😄
vuurklip
Ja, nee. vuurklip wéét van huishou met twee vroumense saam. Ma is nommer Een, die Great White Hunter is nommer Twee en vuurklip is nommer Vyf. (Posisies 3 & 4 is vakant)
HesterLeyNel
Haha, ek is seker vuurklip is ‘n gewaardeerde lid van die familie.
rondomtaliedraai
Ag baie sterkte Ek hoop vir jou en Genis dat hy gou sal huis toe kom.
HesterLeyNel
Dankie 😄
Toortsie
Baie sterkte vir Genis wat nie verstaan wat aangaan nie, maar veral vir Genis se pa, dat hy spoedig sal herstel. Sterkte ook aan die res van die gesin, wat sekerlik nou spanning verduur.
HesterLeyNel
Dankie Toortsie
Anne
I hope all will turn out well and that your family will be back to normal soon.
HesterLeyNel
Thank you, Anne
scrapydo2.wordpress.com
Sjoe, ek sal Trompie n geleentheid gee om sy mening te gee oor Genis se hondelewe met julle twee vroumense. Hy verstaan presies hoe Genis voel. Dis darem nie lekker as sy Oubaas nie daar is nie en dan die blêddie kat ook nog wat sy kans vat. Ek hoop dat Pa weer gou op en aan die gang gaan wees. Hul is ook maar hardkoppig as dit by die push kom. Ek is bly jy het die ambulans gekry om hom hospitaal toe te vat. Sterkte maar daar vir julle met jul bekommernis en Genis saam.
HesterLeyNel
Dankie jong, ons het gister gehoor hy sal teen Vrydag op die laatste ontslaan word. Ek is seker Trompie sal verstaan hoe deurmekaar ‘n hond se lewe kan raak 😄 Arme Genis is al skoon verwese en kyk ons baie verwytend aan as hy so soek na sy pa.
scrapydo2.wordpress.com
Ja, die diere moet party dae net nog kan praat. Hul lyftaal vetel egter die hele verhaal.
HesterLeyNel
Dis waar. Omdat sy pa nie hier is nie, lê Genis nou by ons in die kantoor wanneer ons werk. Die kat sit buite en gluur vir hom, want hy het nou haar domein binnegedring. Jy kan nie wen nie!
scrapydo2.wordpress.com
Hul weet hoe om jou te verower sonder om n oog te knip. Kan goed glo die kat is nie gelukkig nie.
poerdez
Baie sterkte en liefde aan Genis, Genis se Pa en Genis se (Stief)ma!!! 😀
HesterLeyNel
Dankie Menz 😄
poerdez
Gee tog maar vir Genis ‘n polony en kaas broodjie ….
HesterLeyNel
Nou moet ek eers gaan shopping doen?! Die dokter het gesê sy pa kan môre huis toe kom, dan kan hulle weer eet. Genis is ‘n gewigtige hondjie wat kan doen met ‘n dieet.
poerdez
Maar comfort food is ‘n groot troos in tyd van hartseer… Dis hoekom menz nou so sukkel om af te spek…
HesterLeyNel
Genis het die afgelope paar dae begin komkommer, tamatie en wortels eet saam met my dogter. Whahaha, talk about a change in lifestyle.
Net Ek
Ai ou Genis, ek voel sommer saam jou hartseer.
Beterskap vir Genis se Pa Hester, ek hoop hy is sommer gou weer by die huis. Ag en gee die ou brakkie maar ‘n stukkie polony. En ‘n soen. 😆
HesterLeyNel
Dankie, ek dink Pa kan môre al huis toe kom, dan kan hy maar weer kom voer. 😄 Shame, Genis het gesien dat ons Pa se matras ge”steam-clean” en sy bed opgemaak het; hy is nou weer vol verwagting.
Net Ek
Dis eintlik so dierbaar Hester!
HesterLeyNel
😄 Ja, jy kan nie glo dat mens en hond so ‘n diep band kan smee nie. My man se eerste vraag wanneer ons by die hospitaal instap is altyd “Wat maak Genis?” Ons moet hom in ‘n binnekamer toesluit as ons uitgaan, vir sy eie veiligheid en om te keer dat hy die alarms laat afgaan. My man weet hy haat dit.
ekmyselff
Foitog, arme Genis, ek hoop sy pa is sommer gou weer beter!
HesterLeyNel
Ja dankie, ons dink dat Pa môre ontslaan sal word met sy nuwe hartmedisynes en nebuliser om sy longe aan die gang te hou.
Kameel
Dat jy nou so waar met jou pajamas buitekant rondhardloop Hester!!!! Het jy geen skaamte nie? 😁😁😁😁😁 Vertrou jou man is piekfyn wanneer hy môre huistoe kom…. en Genis, wel Genis gaan in sy sewende hemel wees, dié weet ons.
HesterLeyNel
Ag jy weet, as ‘n mens oud is, kom jy met baie dinge weg 😄 Eerder my pajamas as ‘n hondjie wat platgetrap lê op die inrypad wanneer sy pa huis toe kom.
Kameel
Beslis!!! Wanneer dit by tuinnatmaak dag kom doen ek dit in my pajamas voordat die son my uitbraai. Dink die mense in die dubbelverdiepinghuis hier agter skud hulle koppe vir die tannie in haar pienk pajamas. Mooi dag vir jou!!!
HesterLeyNel
😄
Birgit | Groove Is In The Heart
Arme Genis! Baie oulik geskryf. 😀 Ek hou duimvas dat Pa sommer gou weer beter is. Beste wense vir 2018!
HesterLeyNel
Dankie vir die kompliment en die goeie wense. Pa behoort môre by die huis te wees en ons hoop dat almal gelukkig en gesond bly vir ‘n lang tyd. Beste wense ook vir jou vir die nuwe jaar wat voorlê.
Birgit | Groove Is In The Heart
Ah, dis baie goeie nuus! Genis kan uitsien na ‘n heerlike naweek 😊
noodle4president
It’s good to see you Genis but I’m sorry to hear about your dad. We hope he feels better soon! ear licks Noodle
HesterLeyNel
Thank you Noodle, long time no see. I trust you are keeping well. Thanks for dropping by.
travel460
En hier kom ek ook nou by. Manlief is seker teen hierdie tyd weer by die huis, en Genis ontspanne? Mag julle nuwejaar gevul wees met vrede en gesondheid, Hester.
HesterLeyNel
Ons het so pas by die huis aangekom, dankie tog. Hierdie besoeke en wag in toue het my klaar gehad. Ek neem aan jy is lekker ontspanne na die vakansie en hoe voel Bertus se voet nou?
travel460
Loer op my post van vandag as jy kans kry. Is jou man darem beter?
HesterLeyNel
Ja, hy hoes en proes nog en is baie moeg. Hulle reken hy het ‘n ligte hartaanval gehad – ‘n uitvloeisel van die griep wat hy opgedoen het. Ek sal jou post gaan lees sodra ek my leë maag gelukkig gemaak het 😄
woestynkind
Jy het my sommer in trane in geskryf. Arme Genis. Hulle verstaan nie…. Hoop dit gaan al beter met “pa”
HesterLeyNel
Pa is by die huis, maar hy voel nog moeg en swak. Die dokters reken hy het ‘n ligte hartaanval gehad en dit sal ‘n rukkie vat om sy kragte te herwin. Genis is nou baie kalm en verkeer ook in die “rus” posisie voor die TV.
woestynkind
Mens kry hulle so jammer. Ek is bly die 2 is nou rustig.
Array
Ek hoop Genis se pa is al ttuis en dat die tieker en longe en al die ander goete piekfyn is.
HesterLeyNel
Tuis ja, maar ver van piekfyn af. Hy is moeg en krapperig en nie vreeslik lus vir die lewe op hierdie stadium nie. Dit gaan tyd vat om weer sy kragte op te bou.
Lewies Mymer
Wat my gehelp het na my prostatektomie was groot dosisse gebufferde Vit C saam met Spectrum, en natuurlik TLC! Die kaniene kameraderie van ons twee werfhonde het ook ‘n beduidende bydrae gehad, die rustigheid van weer tuis wees. Sterkte.
HesterLeyNel
Ek dink ek sal môre ‘n draai gaan maak by die apteek en vir hom ‘n vitamine-aanvulling kry. Die TLC raak soms dun geskaaf, want siekte en humeurigheid gaan nie noodwendig hand aan hand nie.
Hier "blok" Ek!
Auwh Hester ek hoop Genis se pa is al terug en aan die gang – ek bid vir spoedige herstel aan Genis se pa. Sterkte daar, siektes wat ons huise tref is nooit lekker nie en dan gebeur dit die eenjaar uit die volgende in. Sterkte xxx
HesterLeyNel
Hy is by die huis Elanè, net baie moeg en dit gaan ‘n rukkie vat om te herstel. Dankie vir die goeie wense.
Hier "blok" Ek!
💐💐 bly om te hoor, ek neem aan Genis is darem weer homself dan na dese.
HesterLeyNel
Hy is beslis minder beswaard en meer bedaard! 😄
Abrie Joubert
Ek is nou nie so vrymoedig om jou te noem wat Genis jou noem nie, want ek weet jy is ‘n taai toffie!
HesterLeyNel
😄