My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Ek is deur die blare

My balkontuin floreer

Vandag vier ons Vars Spinasiedag (Fresh Spinach Day), verseker Dr Google my. Dit lyk my die wêreld is altyd op soek na iets om te vier, maar ek is heeltemal bereid om in te val by hierdie fees. Blare is my kos.

My balkontuin floreer

My balkontuin floreer

Ek het in ‘n vorige blog al gesels oor my balkontuin wat genoodsaak is deur die skaarsste van winkels rondom ons en intussen het die tuin al uitgebrei na ‘n blomakker (gedoop die bokstuin) by die ingang. Die arme, verwaarloosde bokstuin het net een pieperige ou palmboompie in gehad en hy was ook so tussen lewe en dood. So stil-stil het ek begin om ‘n paar tamatie-, soetpeper-, peppadew- en knoffeluiplantjies daar in te druk. Daar eenkant staan ‘n pynappelplant wat nie lyk asof hy ‘n pynappel wil word nie hoewel hy floreer, en dan is daar sommer so ‘n blomplantjie of wat.

Die bokstuin

Die bokstuin

Die blou plastieksakkies (Genis se poop bags – leeg nè!) in die tamatiebos, word oor die tamaties gespan om aap se kind weg te hou. Die stoutgatte ontsien geen moeite om my uitgeswelde tamaties by te kom nie. My man storm kort-kort hier uit met sy kettie en my dogter se versameling strandklippies om die diewe te verwilder. Hy is ‘n dodelike skut, maar is verbied om die ape te tref; nie net is dit teen die wet nie, maar hier woon ook ‘n paar bleeding hearts hier in ons huis.

Vanmiddag sit ek hier voor my rekenaar en sukkel met ‘n dokument wat net nie verstaanbaar wil word nie, toe die reuk van vars kruie my skielik tref. Jy kan dhanya en basiliekruid mos myle ver oor die vlaktes ruik. Dokument net daar gelos en ek is kombuis toe om te gaan kyk. Ja, sy het geoes en is besig om pesto voor te berei.

Pesto

Ek het “gehelp” deur die helfte van die oes sommer net so op te eet en my dogter het geduldig gebly tot ek my vingers in haar pesto gedruk het om te proe. Toe word ek weggejaag. My dokument is nie meer op die skerm nie (ek is seker dit het nou iewers in die kuberruim verdwyn) en nou sit en dink ek sommer net. Aan kruie en blare.

My pa het jare gelede in die droë sanderige Namakwaland ook altyd ‘n groentetuintjie aangelê. Soms het die plantjies wasdom bereik, maar merendeels het hulle maar die gees gegee onder die warm son en die brakwater. Daar was darem altyd beet en rape; hierdie bolplante het gedy en ons het lekker daaraan geëet. My ma het selfs die beetblare gekook en glo my, dit smaak nes spinasie.

Naomi, ons geliefde kinderoppasser, het in die Vrystaatse velde wilde marog geoes en vir ons gaargemaak saam met krummelpap. Dit was heerlik en glo my, smaak ook maar net soos spinasie.

Deesdae kry jy baie soorte spinasie en elke soort het sy eie aanhangers. Maar glo my, spinasie is ook maar net blare – blare wat ek met groot vreugde sal gedenk en vier – en ek is seker Popeye het ook nie ‘n voorkeur vir ‘n spesifieke soort spinasie gehad nie.

3124-cartoon-popeye-pictures-page-15_1920x1080

 Viva la blare!!!

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

19 Comments

  1. Spina(eeek)sie(s) – ook bekend as “glippie”. Vir vuurklip slegs eetbaar indien verdun met mash.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Jy moet spinasie by lekker geurige geregte voeg, soos ‘n spinasie en fetakaastert, of in hoender enchiladas saam met ‘n lekker brandrissie. Ek hou ook nie van hom so opgekook en slap nie, maar dit komplimenteer sekere geure baie goed.

      • Nee, O! Gotta. Spinasie en feta in een dis! Jy moet weet ek abhor ook Cordon Bleeerggh!

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          haha@bleeerggh 😀 So van watter soort groente hou jy?

        • vuurklip is nog saam met sy voorgangers in die vrugtebome – ons het nog nie na groente evolueer nie. Hy eet wel groente maar kan dit nie regtig “lekker” vind nie.

  2. Anonymous

    Ek is n kool- verslaafde
    Blare, blomkool,suurkool,kerriekool,
    ..net nie Brusselse spruite nie

  3. Mooie fotos! Zo, bent je nu zo sterk als Popeye?

  4. Vandat ek in die oord woon begin ek ook ‘n mening oor groente kry

  5. Ek vrek oor spinasie, soms is dit lekker om van dit te braai in ‘n pan met kersie tamaties, of natuurlik die Spanasie, aartappels en uie wat so eie boers is.

    Orr beet het ek ‘n halleluja eendag gehad. Ek het uitgeeet in Parys (Vrystaat) en daar die lekkerste blatjang geeet, gemaak van Beet!!!! Ek wens ek kan beet blatjang weer proe… ai nou is ek nostalgies

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek het so ‘n paar weke gelede soetsuur beet met ‘n knypie kerrie ingelê. My kombuis lyk altyd soos ‘n slagveld as ek met beet deurmekaar was, maar dis die moeite werd. Ek lê nou enige ding in net om groente in die huis te hê.

  6. Ek verhuis binnekort en kan nie wag om my eie tuintjie te begin nie!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Pasop, as daai gogga eers byt maak jy ‘n klomp werk vir jouself. Aan die ander kant, dis so lekker om uit jou eie tuin te eet!

  7. Jy het voorwaar ‘n groen hand. Dit sou lekker gewees het om hier is Stilbaai te he vir ons begin tuin.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek het ‘n “voorman” wat elke stukkie handewerk beskou, kommentaar lewer (ongevraagd) en advies gee (wat ek merendeels volg om die vrede te behou). Stilbaai? Pragtige wêreld. Geniet julle verblyf daar.