My vreugdes en frustrasies

Blommetoer-2023

Tot by Port Nolloth op die voetspore van my jeug

Laat net jou voetspore agter en vat net jou herinneringe saam

Om my kinders in my voetspore van dekades gelede te sien stap en om tyd saam met familie te spandeer was die twee hoogtepunte van hierdie toer. Die wilde veldblomme was ’n bonus waaraan my kinders hulself vergaap het.

Ek dink nie hulle het voor hierdie vakansie altyd my stories oor die mooi omgewing van my kinderjare so lekker verteer nie. “Ma, ek dink daar groei net klippe, en wanneer dit reën kom daar nog baie klein klippies op,” was Oudste se skeptiese mening. Die prag en praal van die veldblomme het daardie teorie ’n nekslag toegedien en hulle was verras met die einste klippe wat so ‘aanteel’ in hulle natuurlike omgewing.

Nog ’n bonus was om uiteindelik hulle oom, my jongste broer, en sy gesin te leer ken, iets wat tyd en afstand voorheen verhoed het. Ons het op ons voorlaaste dag Port Nolloth toe gery om by hulle te kuier en waar hulle ook kennis kon maak met daardie deel van die Weskus waar ek en my sibbe in ons kinderdae menige vakansies deurgebring het.

Ek het my kinders voorheen vertel hoe ons kreef gevang het in die bakkies, die klein vissersbootjies, met nette wat ons in die water gegooi het. Ek het altyd in die bakkie saam met my oudste broer gery, want hy moes na die laatlam-sussie omsien. Die ander twee boeties, so kort op mekaar gebore dat almal gedink het hulle is ’n tweeling, het die ander bakkie beman. Ek dink my kinders was hieroor ook ’n bietjie ongelowig, maar moes die stories glo toe my broer dit bevestig en vertel het van die bokkoms wat ons so onder my pa se Bedford lorrie uit gegaps het. Tsk, julle ma praat gewoonlik die waarheid! Onthou hierdie les vir die toekoms.

Eienaardig nè, hoe vinnig die jare wegval en jy weer kan terugloop op die voetspore wat jy ’n leeftyd tevore agtergelaat het. My broer het ons in sy bakkie gelaai en ons gaan wys hoe lyk die Weskus daar by McDougallsbaai en Port Nolloth omgewing nou. Dit was alles nog so bekend: die fyn, wit sand van die duine waarteen ons as kinders afgerol het, die helder blou van die water, seevoëls op die rotse in die vlak waters, seebamboes op die sand, en die reuk, daardie lieflike soutreuk van die see wat jy net by die Weskus kry. Ek het dit nog nooit vergeet nie.

Port Nolloth was eens op ’n tyd ’n vooruitstrewende hawe vanwaar die kopererts, wat per trein van die kopermyne in Okiep en Nababeep vervoer is, verskeep is. Ons het op pad hierheen nog bewyse gesien van die spoorlyn wat daar was tot in 1945. In 1926 is spoeldiamante in die omgewing gevind en daar is nog mynbedrywighede in hierdie area. Daar was voorheen ook ’n kreefinlegfabriek wat in 2001 toegemaak is. Kreefvangste word nou per pad vervoer na Paternoster waar dit verwerk word. Deesdae is Port Nolloth stil en werksgeleenthede skaars.

Ons het toe nooit op hierdie toer kreef geëet nie. Was dit ooit kreefseisoen? Ek weet nie eens nie, maar ons het vir oulaas by ’n eetplek digby die strand die heerlikste vars vis en tjips geëet. Ek moes hierdie vakansie die vis-en-tjips-toer gedoop het. Daar is niks lekkerder as om vars vis so by die strand te sit en eet nie.

Ongelukkig het die tyd ons ingehaal, want ons wou nog gou ’n draai maak by Vioolsdrif – nog ’n uithangplek van my jongdae, voordat ons die volgende dag weer Kaap toe sou vertrek.

O ja, die blomme. Ja, daar was blomme langs die pad daar tussen die Anenouspas en Port Nolloth en ons het ’n paar keer stilgehou om foto’s te neem.

Daar was ook hartseer tonele van eens vrugbare grond wat nou ’n woestynlandskap is, te wyte aan onbedagte boerderymetodes van ’n vooruitstrewende boer wat ’n wildplaas wou vestig in hierdie gebied. Die rooi grond lyk nogal mooi wanneer jy daarna staan en kyk, totdat jy besef dat die natuur op hierdie lappie aarde heelwaarskynlik nooit weer sal herstel tot wat dit voorheen was nie. Die mens het nou maar eenmaal die manier om die natuur te vernietig ter wille van – wat? “vooruitgang”? geldgierigheid?

Take only pictures, leave only footprints, kill only time

John Muir
Laat net jou voetspore agter en vat net jou herinneringe saam

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

17 Comments

  1. Sjoe wat ‘n wonderbare Reis. En so Groot voorreg om saam met jou te beleef. Stukke “drade” optel en Bande verstewig so saam met die mooi van die veld en blomme. Eendag kom ek ook daar…
    Ek sit dit op my wenslys….

  2. Amanda

    As ek n emmerskoplysie gehad het, was hierdie bo-aan!

  3. Ai dis so lekker om jou stories te lees. Jou foto’s is pragtig! Dankie Hester.

  4. Daar maak dut weer so. Jou blog is mooi mooi. Jou onthoue en konneksie met voortye en familie roer my seer hart. Daai blomme en daai voetspoor in die sand soos salf. Mwah.

  5. Anonymous

    Wat ‘n jammerte dat julle reis tot ‘n einde gekom het. Ek hoop die herinneringe hiervan nog lank by julle almal sal bly.

  6. woordnoot

    Jô (weer n keer!) Daai rooi sand! Ag jimmel, nou is hierdie plek sommer heelbo aan my “as-ek-die-lotto-wen” lysie…..wat ek nooit speel nie????????????