My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Om in die tuin te werk is nie vir sissies nie

My ego is geknak en kan doen met ’n bietjie pamperlang. En ek dink nie my knieë gaan dit hou nie. Die rug ook nie. Die nek voel ook so ’n bietjie styf en draai net met groot moeite. Vingernaels is lankal daarmee heen en toonnaels het ook ’n paar stampe en krake weg.

Maar die tuin begin rigting kry 😊

Siyabonga kom gee so nou en dan hand. Hy is jonk en sterk en die spiere bult wanneer hy potte optel en ronddra. Sy kennis van plante is veel beter as myne. En gelukkig kry ek ook raad by aanlynvriende. En natuurlik is daar altyd mev. Google wat bereid is om uit te help wanneer ek vasval in die Dorsland.

Sukkel, die sukkel ons ook maar soms. Selfs Karen het moed opgegee met daai bos Afrika Lelies (Agapanthus Africanus) wat so op ’n  hoop gegroei en mekaar verstrengel het. Sy het die splinternuwe tuinvurk se tande so gebuig dat jy nou mooi moet mik om die regte graspol raak te steek. Siya het ’n graaf gebruik om die pol lelies van mekaar te skei en selfs hy het geswéét. Toe het hy die oortollige wortels afgemaak en vier-en-twintig geskeide afrikalelies, en een varkoor🤔 in drie netjiese rye langs die huis geplant, net duskant die paadjie wat ons gemaak het vir toegang tot die brandweerkrane.

My bydrae was om heen en weer kwekery toe te ry vir kompos en ander voeding vir die lelies. En agterna het ek natgegooi, mooigepraat (ja, ek praat met my plante) en vingers gekruis gehou. Vir twee weke lank. Gisteroggend is ek beloon met die gesig van nuwe blaartjies wat oornag begin vorm het aan elkeen van daardie vyf-en-twintig lelies. Ek het hulle een vir een bedank en as my knieë nie reeds so verniel was nie, sou ek ’n kniebuiging vir elkeen gedoen het. Ja, ek gaan hulle almal hou.

My ander bydraes was nie altyd so suksesvol nie. Agter op die patio het Jac twee jaar lank ’n bloedrooi litroos suksesvol versorg en daai blom het geblóm vir hom. Ek het dit binne een maand reggekry om die plant te vermoor. Amper. Gelukkig is buurman ’n gesoute tuinier en kon die litroos red. Ek het die plant Lazarus gedoop en gaan elke nou en dan vir hom kuier, maar vir sy eie veiligheid moet hy maar liewer by buurman woon.

Ek doen beter met droogteplante. Ek het immers grootgeword op die droë Namakwalandse vlaktes. My vetplante, wat ek ook oor ’n lang tydperk by buurman weggedra het, groei en gedy nou in potte. Jac het net so voor sy dood vir my ’n paar stiggies gemaak om saam te bring na die nuwe huis toe en ek het sommer ’n paar groot plante gaan terugdeps uit ons ou tuin waar die huis in elk geval leeg staan. Hulle woon lekker hier saam met ons.

Ook net gister het ek besluit om die waterbak van klip wat die vorige inwoner hier gelos het, en wat geen water langer as ’n dag hou nie, beter te benut. By die kwekery het ek ’n pakkie vygiesaad gekoop en het so ’n lepel vol daarvan in die bak gesaai. Vir hierdie doel het ek nét die beste grond (uitgeskei deur Karen se wurmboerdery), kompos, potplantgrond en plantvoedsel gebruik. Toe het ek die bak bedek met skadunet (sodat die katte moet weet dis nie ’n litterbox nie) en die grond versigtig nat gemaak. Baie tevrede met my dag se werk, het ek die saadpakkie deur my vergrootglas beskou (die oë sukkel mos ook maar) om te sien hoe lank ek sal moet wag vir die ryk kleurespel wat ek verwag ná al my moeite. En dis hoe ek kennis geneem het van die feit dat vygies nie hou van bewerkte grond en plantvoedsel nie !?

Het ek genoem dat ek in die barre Namakwaland groot geword het? Daar waar net kokerbome, gousblomme en … ja, vygies … kan oorleef. Vygies hou van arm grond. Hoe kon ek dit vergeet het? Hulle groei in sand en op klipplate, nie in goed voorbereide tuinbakke nie. Met ’n dik bek het ek ’n klomp vygiesaad daar in die onbewerkte grond onder die halfmens uitgestrooi en hulle nat gemaak met die gieter. “Drink hierdie water, want dis die laaste keer wat ek julle natmaak, en probeer dan nou maar groei in die ARM grond,” snou ek die saadjies toe. Ek dink ek het dit reggekry om ’n klomp vygiesade te vermoor en ek behoort myself te skaam.

Nou lees ek boonop by mev Google dat die afrikalelies waarskynlik nie in die volgende blomseisoen gaan blom nie, want hulle moet nou eers tuis raak in hulle nuwe omgewing ?!

Wel. Die halfmens groei en blom darem sonder my hulp. Dalk moet ek my rug, knieë en ego so ’n bietjie spaar en die tuin aan eie genade oorlaat. Jy weet nooit watter verrassings daar kan uitspring nie. Die natuur sorg baie goed vir homself. Kyk net na hierdie pragtige blommespel waarop ek en Karen afgekom het toe ons onlangs met die treinspoor langs strand toe geloop het:

Follow Dis Ekke

18 Comments

  1. Afrika Lelies (Agapanthus Africanus) zijn hier erg gewenst. Maar groeien matig. En sterven vaak af.

    Dat wat op de ene plek welig groeit is juist op de andere plek zeer gewild.

    Ouder wordend probeer ik vooral te genieten van dat wat leeft, groeit en bloeit. Dat scheelt heel veel lichamelijk ongemak.

    Dat geeft mij ook meer tijd om iets van jou te lezen en daarop te reageren.

    Vrolijke voorjaarsgroet,

  2. Ek probeer ook hard om iets te maak van ons tuin: daar is min water en my knieë hou nie meer van al die bukkery en swaar dra van potte ens.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek sou glad nie hierdie taak kon aanpak sonder Siya se hulp nie. Ons het verskriklik baie reën gehad hierdie somer – alles was ‘n nat pappery. Wens ek kon vir jou van die water stuur.

  3. O, ek vereenselwig my met jou tuinworstelinge, veral met die potplantmoord 😄 Gelukkig is my dogter ‘n goeie tuinier, net soos my ma, nou kan ek haar mooi tuin geniet.

  4. Ek was nog nooit ‘n plante van nie. Goed groei darem altyd omdat ek dit probeer versorg sover ek kan. Tuinmaak is nou vir my ook te veel. Kannie meer bedinkies omdolwe nie so dan doen ek dit nie meer nie. Baie bly om te hoor dat jy darem so bietjie aandag aflei met plant. Agapantis en varkore is hier soort van verklaarde onkruid omdat mense dit aanplant en dan neem dit alles oor, veral in die natuur self hier.

  5. Tuinmaak is baie goeie oefening sowaar maar ek vind dit regtig lonend ook. Ek hou maar by inheemse plante om dinge so maklik moontlik te hou want ek het ‘n baie groot erf.

  6. Ek hoop jou tuin word baie mooi. Ek self sukkel ook maar met darie lelies.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Seegogga. Hulle is veronderstel om so elke 3 of 4 jaar opgebreek en herplant te word, maar ek is seker dis nog nooit voorheen hier gedoen nie. Gelukkig is ons tuinier jonk en sterk genoeg om die harde werk te doen.

  7. Ek wil nie eers dink aan tuin nie. Ruil die paradys vir ‘n woeste afgeskeepte spul. Ek glo jou vygies gaan mooi maak. Ons moet nog ons gepotte groete trek. Gelukkig is daar’n lang naweek daarvoor op sy gesit.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      My vygies het sowaar ontkiem, beide dié in die bak en onder die halfmens in die “arm” grond. Ag, as jy eers al jou goete op die werf het, sal die tuinmaakgogga weer byt.

      • Die Redding Internasionaal tuinman was vanmiddag hier. Hy reken my behoeftes is doenbaar. Nou is dit tussen die bankbalans en die kwotasie. Ps. Hier is twee vygiebosse. Pienk en oranje. Hester en Karen is hulle summier gedoop. 💝👋

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ons voel geëerd. Dankie dat ons in jou tuin mag groei. Mag jou nuwe tuin groei en bloei om vir jou plesier te bring.

  8. oeh, groot empatie! Ek is glad g’n tuinmens nie, maar klink asof julle darem indruk maak

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Die lekkerte is dat al die bure ook inspring met plantjies en raad. Almal is nou besig om hulle tuintjies op te jazz vir die winter.