My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Die lewe voor die dood en die lewe daarna

Hier in die nuwe jaar het die lewe ’n gedaantewisseling ondergaan. Ons moet leer om te lewe volgens nuwe reëls en  aan te pas by nuwe omstandighede. Dis nogal moeilik, want die nuwe lewenstyl bring natuurlik herinneringe van wat voorheen was. Probleme en uitdagings ook.

Ons het ingetrek in ’n ander eenheid in dieselfde kompleks, aangrensend tot die eenheid waar ons voorheen gebly het. Dit beteken dat ons elke dag vaskyk in ons vorige woning waar die man wat 20 jaar in ons huis gewoon het, en om wie se wel en wee ons bestaan geweef was, se lewe tot sy einde gekom het.

Wanneer ons die agterdeur oopmaak kyk ons vas in die kombuisvenster van die vorige woning en word herinner aan sy obsessie om die skottelgoed te was selfs wanneer daar net een koppie of teelepel in die wasbak  was. 

My kamervenster is regoor dit wat voorheen sy kamervenster was, en ons het opgelet dat sy handafdruk en die vetkol waar hy sy voorkop teen die venster gedruk het om te sien wat die bure alles aanvang, steeds sigbaar is teen die ruit. Die skoonmaakdienste het ook maar halwe werk gedoen.

Waar daar voorheen altyd ’n stem was wat deurlopend kommentaar gelewer het op alles en nog wat, is nou net stilte. 

Nog ’n deel van ons nuwe lewe is die feit dat ons eetpatroon heeltemal verander het, want nie ek of Karen eet juis rooivleis nie. Ons eet nou merendeels hoender en vis met ’n stukkie varkvleis so nou en dan. En vars groente. Die porsies wat in die yskas en vrieskas gebêre word, maak voorsiening net vir twee mense, en nie meer vir drie soos in die verlede nie. Soms wanneer ek doenig raak in die kombuis, is dit asof my rekeningkunde my in die steek laat, want ek kan nie die hoeveelheid kruie, speserye en ander bestanddele aanpas by die leemte in ons lewe nie. Ons koop net bruinbrood – witbrood is iets van die verlede.

Die lewe is moeiliker onder sekere omstandighede,  soos byvoorbeeld toe ons ’n nuwe tweeplaat-gasstofie gekoop het, en nie geweet het hoe om die reguleerderpyp te koppel nie.Ons moes die hele kontrepsie plus die gasbottel in die kar laai en af ry na die hardewarewinkel toe om raad en bystand te kry. Gelukkig is mense geduldig en altyd bereid om te help.

Ek het gisteraand vir die eerste keer ’n fliek gekyk waar ek in volle beheer van die afstandbeheerder was en al die dialoog kon volg, omdat daar geen stem was wat my gedagtegang onderbreek het nie. Niemand wat my probeer lekkergoed voer het voor die TV nie. Ons koop nie meer lekkergoed nie.

Ek sal ook nie ontken dat die lewe in baie opsigte nou makliker is nie. Daar is sekere besluite wat ons self moet neem en ons vind dit makliker wanneer daar nie iemand is wat voortdurend in ag geneem moet word nie. Ons het byvoorbeeld die plante en die potte in die tuin heelwat verminder en herrangskik sonder om oor die vingers getik te word. Daar was ’n paar meubelstukke en gereedskap waarvan ons ontslae kon raak sonder om ’n oorlog te ontketen.

Niemand raas ons vroeg in die oggend wakker met skottelgoed wat “die hele wêreld vol” staan nie. Dis nou daardie gewraakte vuil koffiebeker en teelepel. Ons kan die skottelgoed in die wasgoed laat staan en eers ’n middagslapie gaan geniet.

Ons hoef nie meer op te spring om in die middel van die nag te gaan seker maak dat die hoes of die snaakse geluide nie dalk dui op ’n probleem nie.

Ons kan die voordeur sluit en strand toe gaan of met vakansie gaan, sonder kommer. Maar natuurlik is daar nou niemand tuis om die koerierpakkies in te wag of op datum te bly met die skindernuus in die kompleks nie.

Ons nuwe lewe word nog steeds gekenmerk deur die “onthou jy nog?“ oomblikke wat gewoonlik gepaard gaan met ’n gegiggel. Daar is sekere grappies wat ons mis en sekere herhalende aanmerkings wat ons nogal bly is om nie weer te hoor nie.

Voel ’n mens skuldig oor hierdie lewenshouding? Ja, tog wel, tot jy besef dit is alles deel van die proses om jou lewe weer aan te pas by dit by wat die nuwe normaal gaan wees. Daar is vele goeie herinneringe wat ons as ’n familie kan deel, en soms hartlik oor kan lag. Daar is ook die oomblikke wat ons baie graag ‘n grappie of ’n gedagte sou wou oordra en deel, net omdat dit is wat ons in die vorige lewe gedoen het. Maar nou is dit nie meer moontlik nie. 

Baie mense glo daarin dat daar ’n roudiens gehou moet word na ’n sterfte, om afsluiting te vind en vrede te maak met die leemte, of dan om die afgestorwene se lewe te “vier”. Ons het besluit om die proses van aanpassing en afsluiting in privaatheid aan te pak. Dit is wat hy sou verkies het. Dit is wat die beste pas by ons persoonlike voorkeure ook. Sommige verwysings en familiegrappies is in elk geval vir ander mense onbegryplik en mense mag ons dalk kwalik neem wanneer een van ons afhaak en sê: “Daar’s ‘n gratis nuwe app beskikbaar. Laai dit asseblief af. Sy naam is ‘Sin vir humor’”.

Dit beteken nie dat sy mense nie oor hom rou nie. Onthou! Lag en huil is baie naby aan mekaar.

Die lewe gaan voort.

Die foto: Oudste het die tuinbankie waarop hy elke dag gesit het om sosiaal te verkeer, afgeskuur en vernis. Ons sit tans op die trappe voor die voordeur reg langs die bankie om ons oggendtee te drink. Ons sal mettertyd oorskuif en weer op die bankie begin saamkuier.

Follow Dis Ekke

25 Comments

  1. Wat ‘n pragtige blog, ek is jammer oor julle verlies. Hoe lekker dat julle goeie herinneringe het, en dat selfs die minder goeies julle kan laat giggel x

  2. Liefste Hester, ek verstaan hierdie blog 100%. Dieselfde het met my gebeur na my ex se afsterwe. Ek is net bly jy en jou dogter kan dit deel. Ek moes dit in stilte alleen doen. Almal se rou proses is Anders en ek dink julle doen goed🤗🤗🤗

  3. My liewe mater. Ek lees en lees weer. Ek wil by jou op die trap langs die bank tee drink en ook saam eendag op die bank kan sit. Jou onthou, gemis en leef staan ons almal tot voorbeeld. Die privaat onthou en rou het my stem. Sterkte in die aanpastyd. Ek bid dat elke dag vir jou en jou kroos ‘n nuwe en mooi een sal wees. Dit wat julle saam reggekry het is bewonderenswaardig. Baie liefgroete.💝🌻

  4. Ai Hester, sterkte. Meer as dit kan ek nie sê nie, daar is net nie woorde nie

  5. So n mooi skrywe oor n pynlike onderwerp

  6. Ek het hierdie skrywe so stuk stuk gelees. Ek voel en hoor als wat jy sê. Die mooi neem op die einde die hartseer oor. Baie tyd om te oordink. Baie bly dat jy en Karen mekaar kan ondersteun. Stywe druk vir julle twee en weet jul is in my gedagtes.

  7. Pragtig geskryf, Hester! Ek voel die leemte saam met jou.

  8. Wat fijn dat Karen en jij samen kunnen rouwen, vieren, herdenken, lachen en huilen om het gemis. Ja, wat je zegt: Lag en huil is baie naby aan mekaar. Doe het allemaal! En een mooi bankje is het (geworden) – dat jullie daar nog maar veel samen op mogen zitten, mettertijd. Mooi geschreven ❣️

  9. woordnoot

    Dis so mooi skrywe….mag julle verder vorentoe op daai bankie sit totdat jul reg is om te skuif….as julle wil.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ons sal maar sien wat bring die toekoms. Ek het ‘n kontrak geteken vir hierdie jaar, so ons sal nog ‘n bietjie hier rondhang. Is jy terug by die huis? Ek moet ‘n bietjie opvang met leeswerk, maar op die oomblik is ons nog so besig. En Eskom 🙄

      • woordnoot

        Ek is terug, dankie. Het ook vandag probeer opvang. My kop is nog nie terug nie so dit gaan maar stadig met skryf en lees. Sterkte.

  10. Pragtig geskrywe Hester. Baie sterkte vir jou en Karen met die aanpassing van ‘n nuwe huis en een van die lewe sonder hom. Stywe druk! <3