My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Quiz: hoe goed gedra ek my in my daaglikse lewe?

silhouette photography of biker on top of hill

Photo by Jahangeer Bm on Pexels.com

Hierdie blog is geskryf na aanleiding van Levenjutters se skrywe oor goeie gedrag in Denemarke.

Anuscka, ek was baie beïndruk met jou lys van goeie Deense maniere en wou graag daarop antwoord, maar ek dink nie ek het baie goed gevaar nie. In Afrika leef ons ’n ander soort lewe.

Ons ry nie juis fiets hier op straat nie. Dit kan gevaarlik wees om in die verkeer rond te ry met ’n fiets, of jou fiets kan onder jou sitvlak uit gesteel word as jy iewers stilhou. Die winkels en ander geriewe is gewoonlik ook redelik ver van die huis af en ons ry maar almal met motors of taxi’s. Ek het egter my bes probeer om die quizz te voltooi.

  • Taxi’s ry sommer verby rooi verkeersligte as hulle haastig is. Die motors stop gewoonlik – nie altyd nie. Ek ry maar versigtig en kyk altyd wat die ander bestuurders doen om ’n ongeluk te vermy. Hier moet jy oë weerskante en agter jou kop hê.
  • Die cycling signals is kostelik. Die disapproval signal word beskou as baie onbeskof, maar word tog dikwels hier gebruik. Die mense gebruik ook graag hulle toeters om mekaar uit te skel.
  • Om laat te wees, is die norm by driekwart van die bevolking. Ons noem dit Afrika-tyd. Ek probeer altyd om betyds te wees of te bel as ek laat is.
  • Ons eet broodgeregte met die hand. Altyd. Oral.
  • Ons “gargle” ook die r’e of anders rol ons dit op die tong rond. Beide is korrek en niemand dink dis vreemd nie. Roggebrood kan dus klink soos goggebgood of rroggebrrood.
  • Ons loop verkieslik nie oor die straat by verkeersligte nie, want die kruisings is gevaarlik om oor te steek. Ons is gemaklik met “jay walking”.
  • Ons neem gewoonlik ’n presentjie saam net as die vriend verjaar of in ’n nuwe huis ingetrek het. Soms reël ons vooraf om vleis of ander kos en ons eie drank saam te neem na goeie vriende toe, veral vir ’n vleisbraai (barbecue), want vleis en drank is baie duur. Ons noem so ’n byeenkoms ’n bring-en-braai.
  • Ons hou ons skoene aan. Dis ’n vreemde beginsel om skoene uit te trek in die huis. Nou moet ek byvoeg, ons kry nie soveel reën nie (dit sneeu ook nie sommer hier nie) en ons skoene is dus nie met modder besmeer nie. Ons dra pantoffels net saam met ons slaapklere of as dit baie koud is in die winter (minder as 15°C is baie koud). Ons het byna deurgaans teëlvloere in die huise, wat maklik en vinnig skoonmaak.
  • Ons wag vir die gasvrou om te begin eet, of as dit ’n informele ete is, sal die gasvrou die gaste vra om te begin eet terwyl sy nog besig is om die kos op te skep en uit te deel. Ons eet dikwels buite in die tuin en almal sit nie altyd by dieselfde tafel nie.
  • Ons bedank en gee komplimente uit terwyl ons eet en soms stuur ons agterna ’n boodskap of ’n kaartjie om dankie te sê vir die heerlike kuier. In ons huis bedank ons ook die persoon wat gekook het na die ete.
  • Nee wat, Maandagoggend groet ons vrolik en gesels oor werk, nie oor gister se ete nie.

TAK vir die goeie lesse – ons sal dit onthou wanneer ons dalk in Denemarke gaan kuier 😁

Follow Dis Ekke

11 Comments

  1. Boeremaniere.

  2. Mijn Thaise vrienden hebben moeite met de Nederlandse g en de r.
    Jouw opmerking: Ons “gargle” ook die r’e of anders rol ons dit op die tong rond. Beide is korrek en niemand dink dis vreemd nie. Roggebrood kan dus klink soos goggebgood of rroggebrrood.

    Vind ik dan ook grappig.

    Lands eer, lands wijs was ooit een begrip.

    Nu nemen mensen hun gewoontes mee naar nieuwe woonplekken.

    Zo merk ik dat ik gewoontes uit mijn dorp heb meegenomen naar de stad.

    Nostalgische groet,

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Gewoontes verskil ook maar baie in die verskillende streke in ons land. Soveel diversiteit word in min lande aangetref en dis lekker om mekaar se kultuur te leer ken.

  3. Boeremaniere, net jammer driekwart vd bevolking het dit nooit geleer nie. Definitief nie meer veilig om by ‘n verkeerslig oor te stap nie. Lekker gelees,dankie

  4. Goeie antwoorde, Hester.

  5. Ek het hierdie pos baie geniet. My oudste kleindogters wat nou in Noorwee woon vertel my dit voel snaaks om hier hulle skoene binne die huis te dra want hulle is nou gewoond om hulle uit te trek.

  6. woordnoot

    Ek het nooit die skoene uittrek verstaan nie, tot ek in Skotland was. Die huise het meesal matte en daar is nie genoeg son dat mense kort kort kan matte was nie. Om dit skoon te hou trek jy maar jou skoene uit….en dan is die huise ook verwarm, mens kom nie eers agter jy is eintlik kaalvoet nie. Suid Afrika se warm son bederf ons….

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, ek is maar bly die matte-modegier het heengegaan in Suid-Afrika. Dis so onhigiënies, veral vir ons wat honde, katte, skilpaaie en ander ongediertes aangehou het. Ons het in 2003 ‘n ouerige huis in Gauteng gekoop wat oral matte gehad het en ek het die restourasie begin deur heel eerste alle matte te laat uitruk. Ons het verhitting onder die teëls laat insit en toe bitter weinig gebruik a.g.v. die prys van elektrisiteit wat so skielik die hoogte ingeskiet het.