My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Natuurkragte span saam om die landskap te verander

Ons see-landskap het weer baie veranderinge ondergaan net voor, gedurende en nadat die reënvloede KwaZulu-Natal hierdie jaar getref het. Ek verwonder my altyd aan die strand-landskap wat so bykans oornag kan verander, maar dis wat gebeur wanneer natuurkragte saamspan om ’n nuwe skildery te maak.

Die dag-en-nag-ewening (die oomblik wat die son die hemelewenaar kruis – ’n denkbeeldige lyn in die lug bokant die aarde se ewenaar – van suid na noord), het hierdie jaar plaasgevind op 20 Maart. Ons het die hele week al geluister na die branders wat meer geraas gemaak het as gewoonlik en op die oggend van 21 Maart, ’n lieflike sonskyndag, het ons strand toe gegaan. Ons was in absolute vervoering oor die veranderde landskap – dit het gelyk soos ’n buitengewone lae gety en ons het rotse waarvan ons voorheen nie eens bewus was nie gesien wat blootgelê is in die son (sien foto hier bo). Ons kon sien dat die branders baie hoog op uitgewas het gedurende die nag. Groot hoeveelhede sand is deur die see meegevoer en van die gewoonlik breë sandstrook het net ’n smal strokie oorgebly wat bo die nuwe sandwal sigbaar is.

Sommige van die klipbanke wat nou bo die water uitgesteek het, was oortrek met grasgroen seewiere wat ons aandag geboei het.

Net ’n maand daarna het ’n geweldige hoë reënvalsyfer vloede in ons provinsie veroorsaak en weereens het die landskap verander. Vergelyk die foto hier onder met die foto heelbo (gebruik die palmboom op die heuwel as baken) en jy sal sien dat die smal sandstrook wat oorgebly het, nou weggespoel is deur water wat teen die heuwel afgestroom het. Dit lyk amper soos ’n klein riviertjie wat daar gevorm het.

Die uitgang van die bospaadjie waarmee ons gewoonlik afgestap het strand toe tussen die bome en bosse deur (sien foto’s in ’n vorige blog), hang nou hoog en droog in die lug. Ook maar goed ons het met die motor gery en strandlangs gestap, anders het ons dalkies by ’n afgrond afgetuimel.

Ek en Karen moes toe natuurlik teen die hoë sandduin opkruip om te gaan kyk hoe lyk die landskap daar van bo af. Karen moes my teen die duin optrek en het solank die strandplakkies daar van onder af op gegooi om haar hande vry te hê. Soos mens kon verwag, het een plakkie bo-oor die kruin getrek en onder op die rand van die nuwe riviertjie beland.

Sien! – net drie plakkies waar daar vier moes wees. En doer onder op die wal van die waterstroompie lê die vierde een.

Die volgende oomblik het die stroompie die plakkie geskep en afgevoer see toe. Karen moes haastig weer teen die duin afgly om haar plakkie te red, terwyl ek ewe belangstellend van die kruin van die duin af die saak beskou het.

Daar gaat hy! Op pad in die see in.

Gelukkig was Karen betyds daar om die voetgoed te red. Terug op vaster aarde het ons die yslike groot boomstomp wat nie voorheen in daardie geweste tuis was nie van nader beskou. Ons het heel gou besef dat ’n mens dit kan gebruik vir ’n wipplank.

Dit lyk asof ons kort somerseisoen, wat sweerlik nie langer as drie weke was nie, nou skielik stomp tot ’n einde gekom het. Ons het inderhaas wintersklere en komberse uitgepak en sit nou weer rond in sweetpakke. Vergete is die heerlike dae van swem in louwarm water. Ek bly maar hoopvol dat daar nog ’n paar lekker dae sal uitspring.

Aan die ander kant is daar darem die walvis- en sardynseisoen om na uit te sien 😍

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

21 Comments

  1. lekker speel op die strand. Ek love die see.

  2. Wow Hester, dis amasing. Ek is so lief vir die see en wens so ek kan biki see toe gaan. Die fotos is pragtig en jy lyk baie gemaklik ten spyte van die onstabiele grond….

  3. Wonderlik hoe die natuur veranderlik is. Jy het dit so mooi beskryf en jou foto’s is pragtig! Ek is bly die plakkie kon gered word.🤪😎

  4. Dit is goed om weer van jou te hoor en om jou mooi fotos te sien, Hester.

  5. woordnoot

    Sjoe Hester….dis asof dit 2 verskillende plekke is wat jy hier wys. Ongelooflik hoe kragtig moeder natuur is.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis scary, hoor? Ons hier aan die Laer Suidkus het baie lig daarvan afgekom tydens hierdie vloede, maar verder noord het die water menselewens permanent verander.

      • woordnoot

        Mens lees dit….dit klink so onwerklik. Ons in SA het tot dusver min natuurrampe gehad. Dis vreesaanjaend.

  6. Mooi vasgevang met jou skrywe en uitgebeeld met jou fotos daarby. Dis ongelooflik hoe die vasteland besig is om te verander. Hier is hul nou ernstig besig om iets te wil doen aan die omstandighede. Omdat NZ op twee tektoniese plate lê beweeg die eiland omtrent 3-4mm af en see beweeg oor dele wat reeds bewoon word asook die waterafloop wat verouderd is. https://www.1news.co.nz/2022/05/02/sea-levels-rising-twice-as-fast-as-thought-in-some-parts-of-nz/ In jou geval bewys dit ook dat daar groot veranderinge plaasvind.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Sjoe Ineke, julle is gelukkig om soveel inligting te kan bekom, maar dit maak ‘n mens bang vir wat voorlê. Die mensdom kan binnekort sleg ontwrig word in die laerliggende dele daar. Hier weet ons nie eens wat die uitkoms sal wees nie.

      • Hul beplan nou om die laagliggende dele se waterafvoer te verbeter. Hier is natuurlik baie mense en huise wat teen die see gebou is. Daardie mense word nou aangeraai om hoër op woonplek te bekom wat natuurlik al moeiliker en moeiliker word met die uitbreiding en vermeerdering van mense.

  7. Heerlijke foto’s! En leuk jou nou ook eens ‘bewegend’ in beeld te zien! Maar de krachten van de natuur zijn niet iets om te onderschatten. Dan zijn wij maar mieren… zo nietig

  8. Uiteindelik maak ek tyd om hier te kom lees en ai, het ek nou heerlik saamgespeel en wipplank gery 😘

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Frannie. Ons bure het onverwags ook daar opgedaag en die hele klomp van ons oues van dae (en hulle honde) het ook wipplank gery. So ‘n bietjie stuitigheid helder altyd die dag op.