Jou inspirasievonk vir vandag is “spookasem”.
Hierdie bloguitdaging handel oor die nuutskepping van woorde, idiome en gesegdes in Afrikaans wat ‘n kultuurverandering kan voortbring of sommer net die leser / aanhoorder irriteer. Die reëls verskyn onderaan die blog.

Afrikaners is mos van toeka se tyd af vreeslik opgedis met spoke. Spookstories was kleintyd ons beste vermaak en het my menige slapelose nagte besorg. Daar bestaan al heelwat nuutskeppings met die voorvoegsel “spook” daarin. Voorbeelde:
- Gaan lees gou daar by my vorige blog van ‘n spookpampoen. Lekker nuutskepping.
- ***Spookstront (ek verkies om dit spook-akkies te noem) verwys na daardie harde klontjies uitgedroogde traanvog wat in jou ooghoeke versamel wanneer jy slaap. Dis seker waar die spreekwoord “om die slaap uit jou oë te vee” vandaan kom. Jy sukkel veral om daai goed uit jou oë te was wanneer jy wakker word na ‘n goeie kuier die vorige aand.
- ***Spookpis (pookpiepie in minder kras taal). Jy ken mos daai olie wat jy in ‘n spuitkannetjie koop en wat jy aan krakende deurskarniere spuit. Dis spookpiepie sê hulle.
- ***Spookgerook. Die Ingels is “mad”. Dit kan blykbaar verwys na effe mallerig of donners kwaad. Dalk mal van woede.
Al drie voorbeelde hierbo gemerk met ‘n spooksterretjie (***) kom uit die Roekelose Woordeboek, so ek neem nie krediet hiervoor nie. Ek het nie so ‘n moerse verbeelding nie.
Spookasem is ‘n baie ou benaming vir die snoepery van suiker wat ons as kinders leer ken het, maar uitlanders verwonder hulle nog altyd aan die direkte vertaling: “ghost’s breath”. Gelukkig ruik of proe hierdie taai soetigheid darem nie na ou afgestorwe asem nie. Wie ken nie daardie soet suikerdrade wat in verskillende kleure en geure by elke basaar verkoop het, en wat so vasgekleef het aan jou vingers en lippe nie. Wanneer jy dit uiteindelik in jou mond gekry het, het dit net eenvoudig weggesmelt soos … spookasem.
Volgens die Woordeboek vir die Afrikaanse taal (WAT) is sinonieme van spookasem ook suikerdons, suikerwol, garingsuiker, ghoemahare. Ek ken nie van ghoema nie – dis ‘n woord wat ek nog moet ondersoek. Anderdag.
Wat my op die oomblik meer interesseer is nog ‘n verklaring wat die WAT aanbied vir die woord spookasem: “(Geselstaal) Wit bakkersbrood, veral dié wat besonder lig van tekstuur is omdat dit met hopsuurdeeg gemaak word: Die spookasem wat ‘n mens deesdae te koop kry, het geen voedingskrag nie.” Nou hiermee kan ek saamleef. Die definisie, nie die brood nie. Die brood is toetentaal ‘n anderste storie.
Ek verkies natuurlik die smaaklike brood wat my dogter in die outomatiese broodbakker bak, of bruinbrood wat ek by ‘n ander kettingwinkel koop wat dit op hulle perseel bak. Hierdie brood het karakter en smaak, en ek kan daarmee saamleef, veral wanneer dit met regte, egte botter geëet word. Enniehoe, hierdie storie gaan nou nie eintlik oor regte brood nie.
Ek het vanmiddag spookasembrood gekoop by ‘n sekere kettingwinkel. Dis nou daai klaar gesnyde witbrode wat elke dag landswyd met groot trokke afgelaai word by winkels en kafees. Dis die enigste soort brood wat die man in hierdie huis eet. Ek is jammer om te moet erken dat hy slegte smaak het – in die soort bier wat hy graag drink, in vrouens, in die keuse van flieks wat hy wil kyk … hierdie lys kan lank word. Hy het ook slegte smaak wat brood aanbetref. Jy durf nie eens hierdie sogenaamde brood rooster nie, want dit verbrand onmiddellik pikswart. Verbasend genoeg smelt dit nie in die broodrooster of in jou mond nie. Op sy beste klou dit net vas aan jou verhemelte en jy kry dit nie afgewurg sonder ‘n groot sluk tee nie.
Daai witbrood is nou die soort wat jy van korsie tot korsie kan verorber sonder om enigiets te proe en sonder om versadig te raak, maar hel!, jy sit met ‘n sooibrand wat geen Rennie kan genees nie. Ek weet, want ek was baie honger toe ek lank ná middagete-tyd van die winkels af teruggekom het. Jy weet, daardie soort honger wat die Engelse “hangry” noem wanneer “hungry” nie die gevoel behoorlik kan omskryf nie. Kwaad van hongerte: hungry + angry = hangry. Dis hoe ek gevoel het. En sommer daai spookasembrood geëet het voordat ek heeltemal sou afsterf en begin spook van verhongering. Ek kon natuurlik net so goed wind geëet het. Windbrood sou ook ‘n goeie benaming gewees het, maar ek hou van die spook-assosiasie.
En nou sit ek met daardie sooibrand. Spooksooibrand? Nee, regte sooibrand, maar hy spook dat dit bars.
By die kettingwinkel waar ek die brood gekoop het, het ek toe sommer ses broodrolletjies ook gekoop wat hulle op hulle perseel bak. Broodrolletjies is baie lekker vir hamburgers of boereworsrolletjies of sommer net saam met kaas, koue vleis en tamatie. Op hulle beste smaak dit nie te sleg nie en dit hou ten minste die vulsel bymekaar. Behálwe wanneer die deeg ook spookgehalte is. Dan het jy spookdrolletjies – rolletjies bedoel ek, nie drolletjies nie. Tsk, kyk nou hoe degenereer my taal.
Enniehoe, ek het nou maar die broodrolletjies gevries vir latere gebruik, ingeval ek dalk weer hangry word. Ek sal maar ‘n ekstra pak Rennies gaan koop.
Kan jy ‘n lekker nuutskepping met “spook” bedink? Vertel ons daarvan.
Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.
Hoe dit werk:
Die aanbieders sal om die beurt elke Donderdag voor twaalfuur ‘n inspirasievonk in die vorm van ʼn spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.
Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.
Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ‘n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.
Oopbek en loshande is die enigste reël.
- Publiseer jou bydrae voor of op die Sondag wat volg op die datum van die uitnodiging.
- Plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ‘n terugskakeling (“pingback”) na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
- Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
- Plaas gerus ‘n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
- Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans
Laat waai en geniet dit.
Anne
Spookasem op ‘n stokkie … dit was altyd vir my so lekker as ‘n kind. Deesdae verkoop hulle spookasem in ‘n plastiese sakkie … dit is net nie dieselfde nie. Ek het daarvan gehou om in die spookasem masjien te kyk terwyl die stokkie vol spookasem geword het: dit was deel van die ervaring!
HesterLeyNel
Ek onthou daai groot alimunium balie wat so al in die rondte gedraai het terwyl die suikerwol om die stokkie gedraai word. Ons het nie deesdae so baie pret daarmee nie.
Lekkervurigeaffêre
Anne vertel van die spookasem masjien, ons het weer na aanleiding daarvan gepraat van spinsuiker. Ai, daai soet om die mond…lekker onthou by die Laeveldskou en skoolbyeenkomste.
Anne
Die Laeveldskou in Nelspruit? Dit is waar ek so lekker spookasem ervaar het – en toffie-appels!
Lekkervurigeaffêre
Ons het dan omtes in gemeen. Het in Swaziland gewoon, op Barrberton gekoshuis en Nelspruit was ons hoofdorp vir inkope, vermaak en medies.
Anne
Ek het ook in Barberton gekoshuis 🙂
Lekkervurigeaffêre
My aarde Anne. Watter jare..
HesterLeyNel
Ek was mál oor toffie-appels en kon nooit kies tussen die rooies en die groenes nie en my pa moes altyd albei vir my koop.
HesterLeyNel
Die skoue ja en die kerkbasaars. Daai masjiene was teenwoordig by elke geleentheid en soos Anne sê, die spookasem was heerlik vars, nie so op ‘n knop gedruk in ‘n plastiesakkie nie.
perdebytjie
Jinne, ek het nou lekker gelees! Ek kry so lag vir jou beskrywings van die brood. Ja, daardie sooibrand spook regtig amper 24 uur by ‘n mens. Nie eers ‘n Rennie kan die wirbroodspookasemvuur blus nie.😜
HesterLeyNel
Ek is vreeslik lief vir brood en sal tuisgebakte witbrood eet, maar hierdie ander windbrood wat Jac eet, is net ‘n euwel in my oë.
Kameel
Ons kinders mis groot uit… tot met spookasem. Jy vat my weer vêr terug na lekker ou dae. Sommer so “baai” the way… Jac se keuses in vroue kon nie te spookasem vroue gewees het nie. Hy het jou getrou.
HesterLeyNel
Juis. Hy kon iemand uitgesoek het met meer geduld en ‘n baie beter humeur.
Bondelsgedagtes
Oeweeeeeee spookasem en toffie appels. Maar definitief die rooies. Jy het my weer lekker laat giggel met al jou spook woorde
HesterLeyNel
Dankie Bondels. Ek verwonder my altyd daaraan dat een woord, of ‘n gedeelte daarvan, so baie verskillende betekkenisse kan hê in die spreektaal.
Bondelsgedagtes
Dit maak my soms deurmekaar. Ek dink altyd ek het die kat aan sy agterent beet. En natuurlik my spelling kan julle ander na drank dryf…
HesterLeyNel
Nee, wanneer ons ondermekaar gesels, let jy nie op na taal nie – die bedoeling van die woorde is belangriker.
Lekkervurigeaffêre
https://lekkervurigeaffere.blog/2021/11/12/woordwarrel-11november-2021nuwe-spookwoorde/
HesterLeyNel
Dis ‘n lekker magsvertoon van woorde hierdie, vriende – moenie dit misloop nie.
Lekkervurigeaffêre
Magsvertoon…groot woord vir ‘n #woordwarrel.😉
HesterLeyNel
Jy weet mos – woorde is magtiger as ‘n swaard.
Lekkervurigeaffêre
Gaan luister jou stories….jy veroorsaak nuwe warrels.🤣🤣🤣
scrapydo2.wordpress.com
My die Spook kom weer. https://kreuk-els.com/2021/11/15/woordwarrel-nog-meer-spoke/