My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Wanneer die bekende landskap verander

Dis met verwondering dat ek waarneem hoe die strand-landskap dag na dag en van seisoen tot seisoen verander. Hierdie tyd van die jaar spoeg die see baie sand uit op ons strande, soveel so dat die munisipaliteit verplig is om die getypoele met stootskrapers skoon te skraap en die sand op die strande plat te stoot. Die foto’s hierbo is Saterdag geneem by Umzumbestrand. Die gety het die vorige nag die sand uitgestoot tot daar hoog by die bosse wat langs die treinspoor groei. Die plat rotse wat gewoonlik oop is, was alles bedek met ‘n laag sand. ‘n Nuwe landskap is geskep. Ons het ‘n lang breë strook sand, lank genoeg en breed genoeg om ‘n vliegtuig op te land, vir onsself gehad. Geen ander mense nie, net drie seevoëls wat ons geselskap gehou het. Kyk maar mooi – daar is nie voetspore op die sand nie.

Ons het halfpad na Pumulustrand toe geloop en toe sommer op die nat sand gaan lê om die branders dop te hou. Kyk net die pragtige kleur van die water en goudbruin kleur van die growwe seesand. Dis nog ‘n ding – die verskil van die water se kleur in die winter en die somer. Ons was naby genoeg aan die water om die sand in die golwe te sien wanneer hulle gebreek het. Selfs die water-landskap was anders.

Ons het nie regtig sandduine hier nie – nie soos wat ek dit geken het aan die Weskus nie, maar die sandstrook raak hoër en breër in die winter. Dan, wanneer dit begin reën en die riviermonding spoel oop, vorm dit ‘n sandwal (‘n duin, kan jy maar sê) wat mettertyd weer wegsak of teruggetrek word in die see wanneer dit hoogwater is. Dan kom die rotsbanke wat verborge gelê het onder die sand ook weer te voorskyn. Die foto hieronder, by Sea Park geneem in April 2019, is ‘n goeie voorbeeld van die sandbank waardeur die rivier moes worstel om sy waters in die see uit te spoeg.

Verandering en ‘n verskuiwing van die strand-landskap word gewoonlik entoesiaties begroet, want dit bied nuwe geleenthede vir foto’s (natuurlik). Nuwe visvangplekke duik op en nuwe rotspoeletjies word gevorm waar ons in die water kan sit of lê. Daar is selfs verskillende soorte skulpe en plante wat uitspoel op die strand. So nou en dan spoel die see ‘n ander stuk dryfhout uit (meesal sommer ‘n hele groot boom) en los dit op die mees onverwagse plekke. Die foto hieronder is geneem in Junie 2017 by Anerleystrand.

Driftwood wedged in the sand at Anerley

In die natuur bly niks ooit heeltemal dieselfde nie. Soms sukkel ‘n mens om te aanvaar dat jou geliefde landskap verander het, dat die tekstuur van die sand self verander het of dat jou gunsteling visvangrots onsigbaar is – bedek onder sand. Maar gelukkig het ons foto’s, blogs en herinneringe van vorige seisoene en gou word dit ‘n plesier om die nuwe landskap te verken.

Vir Toortsie.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

44 Comments

  1. Dis pragtig, Hester!

  2. Ja ek kan my ook verstom aan hoe die natuur altyd deur verander. Net vanoggend kyk ek na ‘n boom wat laas week heeltemal kaal was en vanoggend oortrek met vars nuwe groen blare wat begin uitloop. Ek het my verkneukel aan die nuwe grasgroen blare. Mal oor daai boom wat homself daar loop staan maak het.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dit was die mooiste deel van die lente in Gauteng vir my – al die kaal bome wat net skielik een lente-oggend oortrek staan met bloeisels of met nuwe jong blare. Hier in Natal kom ons mos nie eintlik agter as dit lente of herfs is nie – ons plantegroei is altyd groen. Ons sien die verandering in seisoene op die strand.

      • Ek het my matriek in Durban gedoen, ek onthou die altyd groen. Love dit. Maar hier in die “vaal ” wintertyd het dit nou mooi begin word

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek het nooit regtig baie van Natal gehou voordat ons hierheen getrek het nie. Onthou, ek het in ‘n halfwoestyn grootgeword waar jy myle ver in jou eie toekoms in kan sien. Hier was dit te groen, te toegegroei, te alles. Maar dit was die see – natuurlik die see – wat my op die ou einde gevang het.

        • Ooo ek het ‘n diep verlange na die see. Eendag is eendag stop ek voor jou deur😋

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Bring jou swemcozzie en lilo.

  3. “Soms sukkel ‘n mens om te aanvaar dat jou geliefde landskap verander het, dat die tekstuur van die sand self verander het of dat jou gunsteling visvangrots onsigbaar is – bedek onder sand. Maar gelukkig het ons foto’s, blogs en herinneringe van vorige seisoene en gou word dit ‘n plesier om die nuwe landskap te verken.” Sela

  4. Ek lief ook daardie groot boom wat homself so netjies staangemaak het tussen die rotse. Net bly ek was nie in die see toe hy uitgespoel het nie!!! Hierdie skrywe van jou laat ‘n mens werklik verlang na die see.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Heel dikwels kom daardie groot bome saam met die waters in die riviere afgespoel see toe. Jy sal verbaas wees wat alles op die strande uitspoel.

  5. Jou fotos en vertelling is pragtig

  6. Hierdie beskrywing maak my lus om ‘n strand te besoek – en om die mooi veld blomme te sien – en om wilde diere te sien. Dit is ‘n lekker lees.

  7. Pragtig. Verandering bring vernuwing.

  8. Very funny seagulls, dear Hester! 🙂 They seem perplexed due to absence of humans. 🙂

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      😁 I think they were a bit wary of us. It was obviously the young one’s first public outing to the beach – the parents were still a bit over protective.

      • Oh, first defilé on the beach. 🙂 I see! He was lucky. No humans yet…:-)

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          That stretch of beach is usually very quiet, even during the holiday season. It is mostly visited by fishermen and sometimes surfers. The holidaymakers prefer the “blue flag” beaches where there is more entertainment.

  9. Wonderlike foto’s wat my heerlik laat saamstap het.

  10. Het hierdie veranderende landskap nou geniet Hester en die fotos is pragtig. Jou spporlose opmerking:
    Ek het onlangs (verlede Woensdag) die voorreg gehad om teen ‘n bergpiek uit te sukkel in’ n ‘n halfmeter sneeu. Daar was geen voetspore voor my nid

  11. Die eerste wat my ook opgeval het was die spoorlose strand in die foto. Dankie vir jou mooi beskrywing van die veranderinge by die see. Daardie uitgespoelde boom lyk my soos n vos/jakkals wat hardloop of oorspring. Hier verander die rivier gedurig sy loop as dit so baie reën, dis natuurlik omdat die mens sy loop oopkrap waar hy nie wil loop nie. n Rivier wil loop waar hy wil. Daar kom met tye ook moewiese bome en boomstamm ook verby. Alles word na monding gespoel.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      My eerste gedagte toe ek die stomp gesien het, was ook dat dit lyk soos ‘n hond 🐕 😄 Dis nogal ‘n lekker verrassing wanneer die rivier reg by die monding skielik in ‘n ander rigting swaai en die strandlandskap op ‘n ander manier blootlê. Ons het dit dikwels gesien met die Mtwalumerivier toe ons nog ‘n bietjie hoër op teen die kus gewoon het.

      • Daardie water is so kragtig. Niks kan staande bly nie. Met die laaste oorstromings het die afval stompe en takke van die geoesde plantasies afgespoel na die strand toe. Die mense het n hengse stryd omdat dit op plase afgelaat word ook. Die bosbouers is veronderstel om die plantasies op te ruim as hul klaar is. Wat hul vir jare nie gedoen het nie.Hier kan jy mos n grondjie met n plantasie koop as belegging tot dit geoes/gekap kan word.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Jare gelede het hulle ook hier sulke grond verkoop – ek dink die bome is dan gekap deur die papiervervaardigers. Ek onthou my skoonpa het dit oorweeg.

        • Hier is dit die regering wat bome plant en dan groei dit op jou stukkie grond vir 25 jaar voordat dit afgekap word. Dis kontrakwerkers wat dit nie opruim nie. Hul is ook gedurig besig om boomstompe aan te ry na Wellington hawe toe waar dit verskeep word. Dis hoofsaaklik dennehout. My seun het nogal gekyk na so stuk met bome op maar dis vir n kleinboer nie die moeite werd nie want daars nie plek vir iets meer as net die bome nie. Dis ook die heuwels wat onbegaanbaar vir normale voertuie is.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Janee, deesdae moet jy groot geld uitlê om enige wins te maak en dan kry jy die opbrengs eers na ‘n baie lang tydperk.

  12. woordnoot

    Jou blog laat my SEE toe verlang…eintlik is smag die regte woord. En daai onaangeraakte strand lyk soos n special effects prentjie!!

  13. Die see bly maar mooi. Pragtige fotos.