My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Snowflake. Sneeuvlokkie. Of sommer net klatergoud.

Snowflake is die slêngwoord vir die tipe persoon wat die oorsaak is daarvan dat die res van ons deesdae op eiers moet loop. Ons moet só versigtig wees wat ons sê, hoe ons frons, en hoe ons lyftaal dalk vertolk kan word. Die probleem is dat snowflakes so vinnig val en vermeerder, hulle is oral, op die mees onverwagte plekke, amper soos Covid-19.

Snowflake. Want elkeen van hierdie persone dink hulle is so uniek dat die wêreld nie weer só ‘n grootsheid sal bekyk nie. ‘n Snowflake vergeet dat hulle net so uniek is soos enige ander persoon. Direk vertaal kan ‘n mens ‘n snowflake dalk ‘n sneeuvlokkie noem, maar ek verwys sommer na hulle as klatergoud. Laasgenoemde is net ‘n metaal wat blink soos goud, maar wat net ‘n goedkoop versiersel is wat voorgee om meer te wees. 

Voorgewers. Fariseërs, dis wat die meeste van hulle is. En hulle kom daarmee weg vir ‘n lang tyd, omdat niemand die moeite doen om met ‘n vergrootglas rond te sit nie, maar klatergoud het die manier om homself weg te gee. Gee net tyd.

Die probleem is dat ‘n snowflake nie net voorgee om te wees wat hulle nié is nie – hulle gló hulle eie leuens. Hulle is so hoogmoedig, so bewus van hulle eiebelang en eiewaarde, dat alle ander mense as ver benede hulle stand beskou word. Hulle sien nie eens ander mense raak nie, want hulle eie ego’s is so opgeblase dat hulle nie daarby verby kan kyk nie.

Om nie te praat van hulle sin van geregtigheid nie – die soort “reg” wat hulle die reg gee om alles vir hulleself toe te eien – die reg om seergemaak te voel (ander mense kan nie vóél soos ‘n snowflake nie), die reg om verskoning te eis vir elke gewaande oortreding (dis nou oortreding teen die gevoelens van ‘n snowflake), die reg om geaffronteer te voel oor elke woord (bedoeld en onbedoeld) wat dalk kan dui op ‘n belediging van ‘n snowflake se menswees. Ander mense se menswees is van minder belang.

Daar is sekerlik mense wat emosioneel meer gevoelig is as ander, wat gouer aanstoot neem en dit nie maklik kan hanteer as jy nie met hulle oortuigings saamstem nie. Almal voel soms so. Maar almal is nie snowflakes nie. En hoe herken jy die verskil?  Die ware gevoelsmense het al geleer om nie hulle gevoelens bo ander mense s’n te stel nie. Hulle sal, sover as moontlik, probeer om te onthou dat ander mense ook gevoelens het, ook hartseer en kwaad word en uitgesluit voel. Jy leer om die verskil aan te voel. Met ‘n stok. Mits jy ook een van die persone is wat werklik omgee vir ander mense.

Nie ‘n snowflake nie. Rasegte snowflakes sit en tob oor hulle gevoelens en lieg vir hulleself oor presies hoeveel hulle te na gekom is. En dan begin hulle vure aanblaas onder hulle mede-snowflakes totdat die geruis van die vlamme alle logika uitblus. Op hierdie punt is hulle so opgesweep dat hulle hulle eie leuens begin glo. En hulle oortuig ander om saam met hulle te glo. Dis wat ‘n snowflake so gevaarlik maak. Hulle kan ‘n avalanche veroorsaak.

Die ding is net dat hierdie selfgemaakte vuur ook die oorsaak is daarvan dat die sneeuvlokkie begin smelt. Die snowflake se brandende emosies word te veel vir hulle eie gemoed en op die ou einde bly daar net ‘n paar druppels water op die grond oor. Geen substansie nie. Maar tot dan moet jy maar liewer uit hulle pad bly.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

24 Comments

  1. Sois Covid 19, die tendens is oral. Al die politiese korrektheid het ook ‘n snowflake virus…wat is die term..’wokeness’. Ek reken Dr Spock moet ‘n klap kry oor hy so laat 1950s mos aanbeveel het dat pak slae verkeerd is. Te veel regte lei eiegeregtigheid en daai lei weer mens op paaie wat onlekker raak, wat aksies en reaksies ontketen en daar is die mensdom gekaap.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dr Spock het baie om voor te antwoord. Maar aan die ander kant, elkeen van ons is ook ‘n vryheid van keuse gegee en hopelik die regte keuse te doen. Maar die spoegboom moet hard werk hierdie jaar.

  2. Dis ook waar, maar wat ek oral waarneem is meeloop agter geraas aan. Kyk Vuisbork, twitter. Mense raak maklik meegesleur. Iewers het ‘n Ingelsman geskrywe ‘Beware of the verbose few’, die tipe kry nogal aandag en dan is snowflake indoktrinasie maklik. Vrees, emosie, groepdruk en sulke dinge motiveer jou om dan jouself te verloën ter wille van inpas.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek glo aan goeie maniere en sal nie maklik iemand anders se siening afskiet nie, maar hierdie square peg gaan nooit in die round hole inpas nie.

  3. Ek het die skrywe nou ‘n paar keer gelees… en myself onder die vergrootglas gesit. Niemand is volmaak nie… maar ek wil nie ‘n snowflake wees nie. Daardie laaste sin klink soos ek in my jongdae 🤔

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ons was almal jonk en “entitled” – op jeugdige ouderdom dink almal die lewe skuld hulle iets. Ons kom tot ander insigte wanneer volwassenheid inskop.

      • Dankie tog daarvoor. Dus met grysheid kom wysheid is nie net wensdenkery nie.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Nee, dis die waarheid. Maar ek sê ook nie dat ons niks by die jeugdiges kan leer nie – soms het hulle goeie insig van ‘n vars hoek af. Dit moet net getemper word met ‘n bietjie common sense.

  4. woordnoot

    Ek probeer om nie ‘n snowflake te wees nie. Wil so graag eerder die motief agter als raaksien, maar soms dink ek ‘n mens raak tog iewers vir ‘n oomblik daai snowflake.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Gelukkig is niemand perfek nie. Perfek kan partykeer vrek vervelig wees. Maar ons moet streef om beter te doen, en om opreg te wees – opregtheid is vir my baie belangrik.

      • woordnoot

        Perfek kan dood maak….en ja, ons streef daarna.

  5. Baie goed geskryf Hester💐

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Bondels. Ek is nie juis polities (of dan sosiaal) korrek nie, maar ek is bevrees dat die samelewing my tot raserny dryf met oordadige fynbesnaardheid waar dit gaan om eie gewin.

      • Hester, ek stem met jou saam. Ek het in die huidige “sneeuvlokkie” klimaat eerstehands beleef hoe dit werk en my wereld probeer beinvloed. Ek kon dankbaar eenkant staan en sê ek gaan nie toelaat dat dit my wereld omgooi nie!

  6. Woon in ‘n klein universiteitsdorp en voel hoe moeilik is dit om te praat en self asemhaal omdat daar so baie snowflakes is – self in die skole deesdae. Ek wag graag vir “op die ou einde bly daar net ‘n paar druppels water op die grond oor.” Waar het die ouers van hierdie snowflakes verkeerd geloop?

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Lekkervurig sê dit was Dr Spock se invloed! 😂🤣 Anne, ek kry partykeer die indruk dat ouers deesdae bang is vir hulle kinders. Die kinders regeer en die ouers spring. Maar alle snowflakes is nie jongmense nie (en die jonges raak ook volwasse en verander van mening), maar dis die ouer snowflakes wat my bangmaak. Sommige van hulle het regtig ‘n kwaadwillige streep en hulle is selde eerlik met ander.

  7. Klatergoud is n pragtige woord om in hierdie geval te gebruik. Sneeuvlokkie werk egter beter omdat dit op die einde in die niet verdwyn of wegsypel. Eienaardig dat sneeuvlokkies nooit verkeerd is of eintlik die oorsaak is nie, volgens hulle in elke geval.

  8. Ek dink dat elke persoon ‘n stukkie sneeuflokkie in hom het, en ook goud. Egte goud. Ons probeer ons bes om nie ‘n sneeuflokkie te wees nie. Ons werk daaraan om meer goud te wees. Ongelukkig, of ons dit bedoel of nie, kom die stukkie sneeuflokkie na vore. Soms met voorbedagte rade, soms heel onskuldig. Soms probeer ons selfs té hard om die sneeuflokkie in ons te beveg en dis juis dán wanneer ons selfs makliker in die slaggat trap. Ek glo elkeen van ons wil eerder suiwer goud wees.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis waar Toortsie, maar hierdie blog het natuurlik nie gehandel oor goud nie – dit het gehandel oor diegene wat voorgee om goud te wees en ook diegene wat sommer sneeuvlokkies is sonder om voor te gee. En die wyse waarop sneeuvlokkies tans die samelewing op elke manier kniehalter. Dis moeilik om die goud raak te sien wanneer jy voortdurend op jou hoede moet wees, rondsluip en suutjies praat om asseblief tog niemand aanstoot te gee nie. Humor bestaan nie meer nie. ‘n Glips word nie oor die hoof gesien nie. Persoonlike regte het so oorheersend geword dat die gemeenskap agter slot en grendel moet bly, verkieslik met hulle rug teen die muur om lang dolke te vermy. Sneeuvlokkies moet dalk die les leer ons wat ons privaatreg-professore jare gelede al onder ons aandag gebring het: “Jy het die reg om jou arms te swaai, maar jou reg eindig reg voor my neus”. Daar is te veel mense wat deesdae in ander se neuse wil rondkrap. Dit alles, terwyl hulle voorgee om filantropies en empaties te wees. Ek kom beter oor die weg met rof, onbeskof en boweal EERLIK – what you see is what you get.