My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Sopnat van kroon tot toon, van strand tot strand

Voetplaatpark gedurende laagwater

My hengellisensie verval vandag en ek wonder of ek dit weer moet hernu, want ek kry nie eintlik vis nie, ek kry net so nou en dan sopnat branders oor my kop. Maar as ek nie ‘n lisensie het nie, mag ek eintlik nie op die strand wees nie. Nie dat enige amptenaar my al ooit kom vra het vir my lisensie nie, maar ek lieg en steel nie so goed nie. My ma het my volgens verkeerde waardes grootgemaak – dis hoekom ek nog steeds arm is.

Ek en Karen het hierdie week van strand tot strand gery hier naby ons woonplek om ons geluk te beproef, en ons kry wel sulke klein vissies, maar meesal gaan ek net huis toe met sopnat klere. Daar is op die oomblik elwe wat hier en daar uit die water spring, maar juis dáár staan die manne skouer-aan-skouer, social distancing be damned, en ons vang liewer vis in die vlakker water waar daar nie so baie mense is nie. Dit gaan in elk geval meer oor die oefening en vars lug, dus gee ek nie regtig om waar my lyn nat word nie. Maar kom ek wys julle hoe vang ons vis.

Hierdie foto’s is geneem by Umtentweni, waar ek en Karen mekaar gevang het. Die ding is, my ingooi is so nou en dan van die merk af en dan loop dinge skeef. Ons het op die strand gestaan daar waar ons buite grendeltyd gewoonlik swem, en gevoel hoe die klein vissies knibbel, maar niemand wou regtig byt nie. Ek het later kniediep in die branders gestaan, sopnat ja, maar sonder beloning. Ek het vermoed my aas is gesteel en ek het die lyn ingetrek, terwyl Karen ewe opgewonde gedink sy het nou ‘n grote aan die hoek en ook inkatrol het, net om te sien dat ons mekaar “gevang” het. En nee! dis nie ‘n visvangliegstorie wat ge”pose” is vir die kamera nie.

By Southport het ons beter gevaar en terwyl die manne daar op die rotse nie veel vermag het nie, het ek en Karen nogal ‘n hele paar kolsterte uitgetrek. Op hierdie foto is ek nog redelik droog. Die sopnat episode het eers later gebeur toe ek moeg geword het van rondstaan en op ‘n rots gaan sit het. Die tweede foto is spesiaal vir Coetzee geneem na aanleiding van die goeie raad wat hy my gegee het om die vis ‘n bietjie groter te laat lyk op ons foto’s. Sien jy hoe die monster amper my arm afgekou het Coetzee? Ek het jou gesê ons is nie goeie leuenaars nie.

By Voetplaatpark (Sunwich Port) het ek ontdek dat dit baie gerieflik is om op die getypoel se muur te sit en vis te vang in die sloepie langsaan – net moontlik wanneer dit laagwater is natuurlik. Met hoogwater raak jy nie net sopnat nie – jy sal gelukkig wees om met jou lewe daarvan af te kom. Die visse laat ons sommer vry in die getypoel agter ons. Hier het ek gister die kroon gespan op my eie onnoselheid toe ek ná my suksesvolle vangste, doodeenvoudig van die muur af in die poel gespring het – en sopnat tot by my middellyf daar uitgestrompel het. Die idee is om op die muur langs te loop tot by die vlak kant waar jy oor die rotse kan uitstap. Ja, wel.

Vandag waai hier ‘n ysige wind en ek sit in die huis met ‘n ligte hoesie. Nat klere in die winter is dalk nie so ‘n goeie idee nie. Net om julle te wys hoe mooi is dit daar buite op sonnige dae: hier is ‘n foto wat ons by Umtentweni geneem het. Die aalwyne staan vol in die blom.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

50 Comments

  1. Dankie vir die lekker seestorie! Hoop die verkouerigheid is gou beter

  2. Koop daai liksens, drink nies moetie en dankie vir die sondskyn, see en die mooie allewee se oranje.

  3. ‘n Lekker lees – en daardie aalwyne lyk so mooi!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Hulle is pragtig hierdie, Anne. Verlede jaar was daar amper niks blomme nie – ons het te veel reën gehad en hulle hou nie van so baie water nie. Dis ‘n plesier om weer die helder kleure te sien.

  4. Ag hoe lekker!!! Verlang erg na die see hoor, sou wat wou gee om daar te wees. Ek kon nog nooit by die see vis vang nie, wel uit varswater dam. Hoop jy voel gou weer perdfris

  5. Ek sal die vissies moet waarsku!

  6. Oooo jy laat my na die see verlang. Goed om te sien julle geniet dit so. Jou hare lyk rêgtig mooi!!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Kameel. Ons geniet dit gate uit. My hare kort weer ‘n sny. Ek het so te midde Alert level 4 ‘n vriendin gevra om dit korter te sny, maar die groeihormone werk nog goed. Ek wag dat die ergste storm by die haarkappers bedaar sodat ek kan gaan vir ‘n behoorlike sny.

  7. My congratulations, dear Hester! Wonderful fishing…though it should be uncomfortable wearing the mask. 🙂

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Yes Maria, the mask is very uncomfortable, but when we are a fair distance from other beachgoers, we pull the masks down. It just gets too hot and difficult to breathe. Still, it is a pleasure to be permitted on the beach again. Winter is upon us – the air is nippy early mornings and late afternoons, so we make the most of every minute when the sun is shining.

  8. Dis nou n ware visserman storie. As mens sand en see moet voel en proe moet mens seker maar die natword ook aanvaar. Ai, ek is so bly jy kan darem jou voete in die sand kry sonder om bang te wees dat jy gevang word. Hernu maar daardie lisensie dis tog die moeite werd. Versigtig ook maar met daardie niesie sal nie wil hê jy moet sieker word nie.

  9. Ai waar’s my dae ek met die leervis saam leer visvang het. Lekker man lekker. In die kol todt by storie se stert. Elf uit tien

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Abrie. Jy laat my nou dink aan die eerste keer toe ek saam met Jac huis toe is om sy ouers te ontmoet daar in PE. Hy is (was) ‘n geesdriftige visserman en en in those early days het ek maar besluit om saam te speel. Ons was by Swartkops riviermond en hy wou spotted grunters vang met ‘n hengse lang visstok. Ek het met ‘n handlyn op die kant gestaan en twee gevang – hy niks. Tsk. Hy kry nou nog so ‘n suur uitdrukking wanneer hy die storie oorvertel.

  10. Ek het nou mooi oor die saak gedink. Ek voel jy moet jou visvangpermit hernu. Ek is doodseker dat jy en Karin vir almal om julle groot vermaak bring. Ook vir ons. En daarom moet julle aanhou waarmee julle besig is. Hoekom het julle in die eerste plek die permitte gekry? Om op die strand te kom natuurlik! 😁

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, ons sal maar by die poskantoor aandoen vanoggend. Ek moet my nuwe stokperdjie darem ‘n kans gee. My seun daar in Gauteng geniet sy ma se pogings meer as ek – gewoonlik vang hy en sy suster vis en ek lewer die kommentaar, maar nou is die storie mos omgedraai.

  11. Una

    Julle fotos is pragtig. Neekyk, hierdie binnelander sou wat wou gee om daar langs jou te kan staan en visvang. Hernu daai liksens, Hester!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Vandag nog Una, hoewel daar vir die volgende paar dae nie visgevang sal word nie. Die see is rof en onbeskof en nou waai hier ‘n merske wind – daar van die sneeuberge se kant af. Yskoud.

      • Jy en jou meerse winde wat waai… julle winter is ALTYD warmer as ons somer – loop gaan visvang… die visse laaik rowwe waters – nes ek en jy!! 🤣🤣🤣

  12. Ek het die storie sommer baie geniet. Word gou gesond.

  13. Ja, dankie dat jy vir my nou touwys gemaak het hoekom ek ook nog arm is!
    Ja… hernu daai permit… daar is ‘n bielie wat wag vir jou!! Ons het net die ander dag hier gesels oor die lekkerste vis wat ‘n mens ooit kan eet… dis elf, vars gevan, gegut en op die kole net daar en dan – skoon gewas met seewater – ek wonder, hoekom lek ek al weer aan my vingers!
    Daai laaste foto… laat my wonder, het ek nie onlangs sulke fotos gesien nie?? 🤣😁😀
    NS – Op die val… nie in die sloot nie!! Een van daai lesse wat jou ma ook dalk nie met jou gedeel het nie??

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Back to Top
%d bloggers like this: