My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke, My pa

My pa se Zephyr met die SieBieJoe registrasienommer

Ek was veertien jaar oud en in standerd 7 daardie jaar toe my pa vir hom ‘n splinternuwe Zephyr V6 in die Kaap gaan koop het – “uit die boks uit”. Die 1966 model was die eerste in sy soort daar in ons omgewing (Springbok, Namakwaland) en al die bure in die omtrek het ‘n draai by ons huis gemaak om te kom kyk. Hierdie was manne wat hulle motors ernstig opgeneem en beter behandel het as hulle vrouens. Ek sien nou nog die blinkskoon motors wat elke Sondagoggend ná kerk buite in die oprit gestaan het – daai soort met die lang stertvinne wat so oor die pad gewieg het. My pa se V6 met sy kenmerkende kort agterent en lang enjinkap het beslis uitgestaan. Die Zephyr se binnespasie het genoeg ruimte verskaf vir drie volwassenes op die voorste sitplek (‘n aaneenlopende bank) sonder om die bestuurder se ruimte binne te dring. My pa kon met gemak die groot stuurwiel en die handrathefboom hanteer sonder om sy passasiers in die ribbes te pomp. Die bagasiebak was eintlik verbasend groot en my ma kon inpak na hartelus. Die agterste sitplek was ‘n koninklike slaapplek vir myself en ‘n maatjie toe ons kort voor lank die langpad Suid-Wes (Namibië) toe aangepak het in my pa se nuwe trots.

Chris, ‘n ou skoolmaat van my, het my voorgestel aan die facebookgroepie Geskiedkundige en Nostalgiese reis deur Namakwaland. Die foto’s en geselsery oor die omgewing was genoeg om my gedagtes  te laat terugreis na my ver, verre verlede. Maar dis veral die kaart met al die ou motor-registrasienommers wat een van die lede geplaas het, wat die herinneringe laat bokspring het.

Elke dorp of distrik se registrasie was destyds uniek en ons het presies geweet vanaf watter omgewing ‘n motor afkomstig was, deur net te let op die registrasienommer. Springbok se nommers is destyds voorafgegaan deur die letters CBU (SieBieJoe het ons dit uitgespreek, nooit SeeBeeÛûû nie). Ons het baie rondgery daardie jare. Brandstof was volop en goedkoop, en Namakwalanders was gewoond aan ver paaie. Niemand het gedink aan die 2,5 liter (6-silinder) enjin se kapasiteit om brandstof op te slurp nie. Die CBU registrasienommer was dus landwyd welbekend en Springbok was toe reeds ‘n vooraanstaande dorp. Mense van heinde en verre het geweet van ons uitstekende hoërskool, en ook ons boerdery- en mynboubedrywighede in die omgewing. 

Die SieBieJoe-nommers het vir ons kinders heelwat pret besorg, veral wanneer my pa in Kaapstad se besige strate rondgery en alle verkeersreëls veronagsaam het. Of teen 70 kpu in Windhoek se Kaiserstrasse gejaag het om betyds te wees vir ‘n afspraak. Die ander padgebruikers het met een kyk na die nommerplate geweet vanwaar ons oorsprong was en het die nodige toegewings gedoen.  

Nou moet ek erken dat my pa, ‘n man wat ‘n goeie motor kon herken en bewonder, nooit ‘n wafferse bestuurder was nie. Die V6 is juis aangeskaf nadat hy die vorige Zephyr afgeskryf het deur op ‘n verkeerde oomblik verby te steek – op ‘n brug voor ‘n blinde hoogte, daar in Malmesbury se wêreld. My ma was die beste bekdrywer wat ek nog ooit teëgekom het en sy het nie net voortdurend vir Bokkie (haar troetelnaam vir hom) verbaal voorgeskryf hoe om te ry nie – sy het pal styf aan sy sy gesit daar op die voorste sitplek met haar hand op sy bobeen en so elke nou en dan het sy hom ‘n geniepsige knyp toegedien. Arme Bokkie het elke vakansie gespog met ‘n binneboud wat bont en blou geknyp was.

Maar daardie dag toe ons tussen die Kaap en Stellenbosch aan die verkeerde kant van die snelweg gery het – stroomop teen die aankomende verkeer in – is die een wat die duidelikste uitstaan in my geheue. Ek weet nie hoe op aarde Bokkie dit reggekry het nie, seker maar óp gedraai teen ‘n afrit of so iets, maar in die namiddagverkeer het ek daar van die agterste sitplek af waargeneem hoe ‘n hele streep motors van vooraf aankom met skellende toeters; elke enkele bestuurder het by die venster uitgehang en met ‘n lang voorvinger vir Bokkie beduie dat hy besig is om droog te maak, maar almal het dit met ‘n breë glimlag gedoen. My mond het oopgeval toe daar ‘n paneelwaentjie verbygekom het met ‘n afleweringsbode wat by die agterste deur uitgehang het. Ook hy het die vinger gewys, maar daarmee saam het hy in ‘n melodieuse stem gesing: “SieeeeBieeeeJoeeee!!!!” Natuurlik. Die Kapenaars was besig om hulle asse af te lag vir die plattelanders wat só erg op ‘n hoofweg verdwaal het. Ons het op die een of ander wyse die regte pad gevind (my ma het seker vir Bokkie op die regte manier geknyp) en ons het sonder skrapie of ongeluk by ons bestemming aangeland. My pa? Hy het net gelag, en hoog en laag gesweer dat al die ander bestuurders in die verkeerde baan was. In die 1960’s was daar wonderlike vergewensgesinde bestuurders op ons paaie.

Dieselfde jaar het ons klompie Vootrekkers van die Hoërskool Namakwaland die ver pad Pretoria toe gery vir die 5-jarige Republiekfeesviering. Oom Eddie het ons ligblou skoolbus duidelik gemerk met ons skool se naam, op beide sye, om aan te dui wie ons is, maar eintlik was dit nie nodig nie, want die bus se registrasienommer was genoeg. “SieBieJoe,” het die Pretorianers vir mekaar geskree deur hulle oop ruite, en dan het hulle plek gemaak vir ons blou bus in die besige verkeer. Bygevoeg, Oom Eddie wat ook elke dag ons skoolbus bestuur het, was ‘n beter bestuurder as my pa en niemand het vir hom met die vinger beduie nie.

Dis eers in later jare wat die trotse identiteit van unieke registrasienommers ons ontneem en alle nommerplate die provinsies se identifikasie begin vertoon het. Hier in die Zulu Kingdom het elke distrik steeds sy eie identifikasienommers, maar dit sal seker ook nie meer lank wees nie. As ek nou ‘n ander motor koop, sal ek my NPS-nommer moet afstaan, want die aantal motors op die paaie het so toegeneem dat daar nie meer nommers in hierdie reeks beskikbaar is nie. Ek wens, ek wens ek kon dit vervang met ‘n SieBieJoe-nommer. Ek sou wat wou gee om die horlosie terug te draai en my SieBieJoe dae weer te beleef.  


Die Zephyr in die foto hierbo het nie aan my pa behoort nie – ek het die foto geleen van die internet af. Sy foto’s is alles geberg op skyfies en dis ongelukkig nie meer in my besit nie.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

24 Comments

  1. Anonymous

    Als klink so bekend Hester. Jy laat my nou verlang na ons kinderdae.❤❤

  2. Het jy nie so ‘n ietsie van jou ma geërf nie…. of verbeel ek my net? Jy vat ons lekker terug na die goeie ou dae toe karre nog gemaak was om te hou… en mense tyd gehad het vir mekaar. Ek moet darem byvoeg “arme bokkie!!”

  3. Petra van Tonder

    Ag hoe het ek dit nie geniet nie. Dit was wonderlike dae en ‘n heerlike terugdink aan die ‘goeie ou dae’! Dankie Hester! x

  4. Lekker vertelling, ek kan so identifiseer daarmee. Lyk my onse Kapenaars sal ook binnekort ons unieke nommers moet prysgee. Hermanus se nommer is CEM, die jongmense in die dorp sê dit staan vir cemetery, want die plek is gevrek!

  5. Daar’s ook die storie van ouens wat oor die treinspoor gery het en te vroeg links gedraai het – en toe al op die spoorlyn langs Kaapstad toe, hier van Muizenberg se kant af. Weet nie hoe die storie ge-eindig het nie …

  6. Wonderlike herinneringe hier! Jy laat my terugdink aan ons kinderjare in die laeveld. Dankie Hester, ek is bly om so iets te lees.

  7. Ek het dit nou sommer baie geniet. Bredasdorp se nommers is CS, maar dit was voorheen CAK. Iewers het iemand gelukkig die wyse besluit geneem om dit te verander, lank voor my geboorte.

  8. Dankie vir die lekker rit saam met Bokkie en Ma. Daardie teen die verkeer in ry moes maar bietjie skrikwekkend gewees het. Hoeveel rybane was daar? Was daar plek om verby te kom?
    Ek kan nie Porgietresrus se reg.no onthou nie maar as ek in Pretoria gery het het ek altyd maar vir ouens beduie ek kom af die plaas so verskoon maar as ek verkeerd of te stadig ry. Ek sal ook sommer maklik voor iemand inry om van baan te wissel!

  9. Ag, ek het nou heerlik gelees. 💕
    My Pa het groot geword in Clanwilliam omgewing, so ek stel baie belang in die geskiedenis van Namakwaland.
    Dankie, ek het aansoek gedoen om aan te sluit by die Facebook groep.
    Die skakel het nie vir my gewerk nie, maar ek het regekom 😉

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Back to Top
%d bloggers like this: