Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

COVID-19

COVID-19 … en anger management in SA

Ek wens ek kan daar agter inspring en net aanhou swem

24 Maart 2020: Dit blyk dat lockdown en verdraagsaamheid twee begrippe is wat nie op dieselfde tydstip op hierdie planeet kan bestaan nie. Nie wanneer daar ‘n Coronavirus in die omtrek is nie. Drie dae voor lockdown is die hele wêreld gereed om vuis te slaan by die geringste provokasie.

Die dag begin op omgekrapte noot, sommer vroegoggend, by my eie huis. Net terug van die strand af (waar ons genoeg foto’s geneem het om ‘n hele maand lank na te kyk om ons gemoedere te kalmeer), kry ons berig van die apteek in die Southcoast Mall dat die griepinspuitings nou beskikbaar is. Ons bel en vra of die pneumococcal vaksine ook beskikbaar is, maar moet dit by ‘n ander apteek kry. Ek skraap my huismense bymekaar en waarsku terselfdertyd dat hande gewas moet word asseblief – my kar is ontsmet aan die binnekant. Sakdoeke of snesies asseblief vir ingeval julle gaan hoes of nies. En net daar vererg die man hom vir my – gat in ‘n krul gewip. En ek het nie ‘n vreeslike goeie humeur nie. En ons size mekaar so ‘n bietjie op.

By die eerste stilhouplek staan die ry al kniediep tot by die apteek. Net twee persone op ‘n slag word toegelaat. En die man kla. Sy rug is seer, dis warm, hy kan nie so lank sit nie en kan die apteek nie beter planne maak nie? … en ek kners op my tande. Nie omdat dit my skuld is dat sy rug seer is en sy longe nie wil asemhaal nie en sy knie pyn nie, maar omdat ons nou in die publiek is. Skielik sien hy ‘n vriendin verbyloop en hop sonder pyn of ongemak uit die kar om te gaan groet. Ek waarsku hom om sy voorgeskrewe sosiale distansie te hou en hy knor vir my. En ek strip my moer. Hy kan elke dag van elke jaar elke vrou langs pad om die hals gaan val met my seënwense, maar NIE as dit beteken dat hy hierdie besondere virus gaan aandra huis toe nie. Bly weg! Ek heb gesegd!

Ons sit in die kar terwyl Karen in die ry staan namens almal van ons en een ou vrou (beslis heelwat ouer as ons) wil ewe ongeskik by Karen weet hoekom sy haar arme ou ouers uitsleep winkel toe in hierdie onsekere omstandighede. Ek giggel, want ek weet wat kom. Die blienkieng ou vrou kan duidelik sien dat ek die bestuurder van die motor is, so wie het nou vir wie uitgesleep? – sy is net lus om haar slegte humeur op iemand uit te haal. Karen snoer haar mond deur ietwat onhoflik te verduidelik dat haar ouers by hulle regte verstand is en hulle eie besluite kan neem. Dankie.

Net so neffens die blienkieng ou vrou staan ‘n gryskopdame met ‘n swaar verkoue en sy hoes aanmekaar. Die jonger dame agter haar wil oorvalle kry oor die hoesery. Sy trek haar kort toppie op om haar neus en mond te bedek, en onder die rand van die toppie hang haar maag in ‘n paar vetlae oor haar kortbroekie. Ons dames hier by die kus moet regtig leer om beter aan te trek. Veral sommiges onder ons. Die hoesende dame vra om verskoning, maar die blienkieng ou vrou wil niks weet nie en sê sommer reguit sy dink die vrou het reeds die C-Virus onder lede. Paniek in daai ry. Die kort toppie is nou heeltemal opgepluk oor die oë ook. Karen praat mooi en probeer die opgewende eienares van die toppie kalmeer. My kind is ‘n engel wat op verkeerde grond neergelaat is.

Na ‘n uur is die eerste spuitsessie afgehandel. Ek ry met die N2 Southcoast Mall toe om tyd te spaar, want nou soek die man ‘n toilet. Haal darem die Mall betyds. Die apteek waar ons nou moet wees, is binne-in Checkers geleë en ons moet bo-oor kopers en hulle winkeltrollies val om daar te kom. Dis die enigste apteek waar die inspuitings nou beskikbaar is en die res klink nie te seker of hulle voorrade gaan kry voor lockdown nie. Die man loop met krukke en ek probeer vir hom ‘n pad oopmaak tussen swaaiende elmboë en kwaai oë deur. Terselfdertyd hou ek ‘n oog uit vir die kruk wat so driftig geswaai word, want dalk kan my eie kop in die slag bly. By die apteek is nog ‘n ry waarin Karen val. Ek stuur die man in die rigting van die enigste twee stoele wat oop is. Hy wil nie sit nie. Hy wil ook nie staan nie. Hy het nie lus om te wag nie. Ek gee hom ‘n doodkyk kyk, glimlag vir die ander mense in die ry en plak my agterkant op die stoel neer. Jy kan nou maar sit of staan en aanhou met brom nes jy wil – ek is uit-getune.

En ons wag. Dit word later etenstyd. Ek hoef nie na my selfoon te kyk om te sien hoe laat dit is nie – my maag raak paniekerig. Net toe die man begin kla oor die feit dat hy weer moet toilet toe gaan, word ons ingeroep. En nou wag ons vir die enigste apteker aan diens. Karen gaan soek hulp, verduidelik dat ons inspuitings en ‘n toilet dringend benodig. Ons kry albei onmiddellik. Die moeë apteker vra om verskoning vir die wag en vir die feit dat hulle nie beskermende handskoene en maskers dra nie – paniekaankope deur die publiek het veroorsaak dat daar geen handskoene of maskers in hierdie deel van die Suidkus beskikbaar is nie. Ons ontsmet so goed as wat ons kan en vat ons griepinspuitings met ‘n smaail.

Middagete is nou prioriteit nommer twee. Karen soek al die hele week na Savlon, wat nou glad nie meer hier rond beskikbaar is nie. Ek en die man skuif aan na die Wimpy toe – die enigste eetplek waar jy buite op die stoep kan sit. Daar is nie veel mense nie en ons word eers weer behoorlik gesanitize en die tafel skoongewas. Karen kom ‘n paar minute later daar aan van ‘n groter apteek af – ‘n twee liter Savlonbottel triomfantelik in die lug. Ek sal meer as een lockdown hiermee kan trotseer. Hulle was net besig om nuwe voorrade wat ontvang is, uit te pak en sy het sommer die eerste bottel uit die boks gegryp en gehardloop na die betaalpunt toe. Hier moet jy vandag vlug van voet wees, want die skares sal arms en bene afruk om by die skaars voorrade uit te kom. Dis toe dat ons oplet dat die ouerige paartjie by die tafel langs ons baie verlangend na ons Savlon staar. Hulle het ook orals probeer, maar kon niks kry nie en nou wil hulle nie weer die apteek aandurf nie. Maak ‘n plan. Ons bestel ‘n bottel water, drink dit uit en doen ‘n oortapping vir hulle uit ons Savlonbottel. Hulle is baie dankbaar en die personeel in die Wimpy glimlag breed vir hulle gaste se eienaardige gedrag.

Huis toe, weer terug op die N2, want die man begin kla oor pyn en hy het nie pynpille by hom nie. Ek sluip teen die trappe op vir ‘n middagslapie. Ek gaan hierdie lockdown omslaap.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

20 Comments

  1. Sterkte… ek kla nie weer oor my klein irritasies nie!

    • HesterLeyNel

      Ag nee wat, ek kla sommer namens ons almal – spaar jou die irritasie! 🤣🤣

  2. vuurklip het die laaang queue by Dischem bekyk en besluit om om draai. Dis gevaarliker om ‘n uur lank tussen die hoesende siekes te staan as om mooi by die huis te bly.

    • HesterLeyNel

      Dis waar. Ons het gou vanoggend ons watervoorrade gaan oplaai, in stormsterkte wind en ons moes buite staan om ons beurt af te wag. Dis meer aanvaarbaar. My kar is nou geparkeer vir 21 dae.

  3. Ons beleef moeilike tye – die best en die ergste van mense gaan uitkom, maar ek hoop die beste sal wen.

    • HesterLeyNel

      Ek dink wanneer mense die erns van die situasie besef, sal hulle vergeet van petty irritasietjies.

  4. Oeeee

  5. Presies soos die mensdom is. Jy’t mooi prentjie hier voorgestel. Baie dankie ook namens my as ouer mens dat julle die savlon gereel het. Daar gaan nog baie water in die see loop voordat dit weer normaler gaan wees. Mooi bly uit n stil NZ

  6. Ek giggel lekker tussen die lees deur. Geniet al jou skrywes

  7. Ai, vandag bly ek uit die winkels uit. Die mense wat so gelukkig was om betaal te word, is nou in groot getalle besig om die laaste paar goedjies te koop. Ek verstaan nie heeltemal die hele “laat net 5 in op ‘n keer” beginsel nie, terwyl 500 naby mekaar in die ry staan buite? Hoe werk dit?

  8. Oe Hester, het ek nou lekkerngelag. Skuus, ek wou nie, kry jou baie, baie jammer. Ek ken daai.

    • HesterLeyNel

      As ek gereïnkarneer word, wil ek op ‘n planeet woon waar daar geen mans is nie.

      • Hmmm, ek gaan manlief mis, dus moet hy daar wees. Dalk net rolle ruil, maar nie lywe nie. Ek wil nie ‘n man wees nie.

        • HesterLeyNel

          Ek weet wat jy meen. Ek is vreeslik mal oor mans, maar ek hou van die soort waarvoor ek nie verantwoordelik voel nie.

        • Ek weet wat jy daarmee bedoel – as mens die helke tyd moet kyk vir hulle gesondheid …

        • HesterLeyNel

          Presies. En dan is hulle nog so veeleisend ook.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: