My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Oor vryetydsbesteding, beeldsendings, paradys en Saffer Radio.

Kunswerk uitgespoel op Elysiumstrand

Vryetydsbesteding is deesdae vir my ‘n probleem. Ek vind dit skielik verskriklik moeilik om myself besig te hou. Niks hou my aandag baie lank nie. Op straat rondlê (soos my ma dit genoem het), tee drink en kuier is nie vir my nie. Inkopies doen is werk. My kindle gaan verroes voordat ek al die boeke wat ek Januarie gekry het, klaar gelees het. Die see is nog hier, ja. Ons gaan sommer twee keer ‘n dag strand toe – mits die weer dit toelaat. Maar jy kan ook net só lank in die water rondlê voordat jou vel begin verpruim. En my sonbrand raak nou ‘n bietjie diep van kleur. Nog vakansie hou is duidelik nie die antwoord nie. Stokperdjies? Nee wat, hierdie Perd en ‘n Stok pas nie by mekaar nie.

Ek was nog nooit regtig lief vir tv kyk nie, maar dit vul darem so nou ‘n paar ledige uurtjies. Deur die jare het ons ‘n klompie flieks en reekse aangeskaf wat ek oor en oor sal kyk, maar selfs daarvoor is ek nou moeg. Netflix en Showmax het aan die beurt gekom. Oudste het ‘n MeBox verskaf, wat onmiddellik MyBoksie geword het en ek bestuur die afstandbeheerder soos ‘n pro.

Maar wat om te kyk? Ek kan nie met soveel keuses gekonfronteer word nie – halfpad deur die menu is ek moeg gesoek na iets om te kyk en luister liewer na musiek op You Tube. Nadat ek al die beskikbare episodes van die Outlander op Netflix gekyk het, op Ria se aanbeveling, het my kyklus sommer opgedroog. Wat is daar wat nou gaan vergelyk met die man met die rooi hare en die glimlag wat jou hart vermurwe?

Dus, oor na Showmax en ek kom af op die Egoli-reeks wat daar doer in die vroeë 90’s vervaardig is. Die klankbaan is ‘n riller, die beeld nie waffers nie en die temaliedjie vibreer op my beseerde breinselle, maar dis interessant om weer al die ou karakters te kan sien. Almal lyk nog so jonk en sprankelend en ek vergeet sommer al die jare wat serdertdien verloop het. Toe begin die liefdesdans tussen tussen Johan Vorster en Lynette Strydom. Hulle wil … dalk sal hulle … of miskien wag hulle nog ‘n bietjie. En dit sukkel aan totdat my knieë ook lam is – van moegheid. Hét hulle darem toe? Kan iemand onthou? Laat weet asseblief. Ek was nie van plan om langer aan te bly om uit te vind nie.

Ná ‘n hengse rondvallery het ek begin om Die Byl te kyk, op Christa se aanbeveling. Ek was net mooi vasgevang in al die intriges, toe is die eerste seisoen klaar gekyk. En die tweede seisoen het skielik voete gekry – dis nie meer beskikbaar op Showmax nie. Of was dit Netflix? Enniehoe, nou sit en krap ek rond, skud MyBoksie en praat lelik met die afstandbeheerder, maar kan nie iets kry waarvan ek hou nie. Ek wag vir aanbevelings.

To add insult to injury, soos die Ingelsman sê, wag ek nou al amper ‘n maand lank om na die fliek Poppie Nongena te gaan kyk. In KZN gebeur alles mos stadiger as in ander dele van die land en ek weet dat ons soms moet wag vir flieks om hier vrygestel te word, maar met Poppie gaan dit blykbaar glad nie hier gebeur nie. Ek kan sommer vuur spoeg van pure moerigheid. Dit lyk my as ek daai fliek wil sien, sal ek moet wag tot ek in Gauteng arriveer (ons hoop dat dit nog wys wanneer ek daar kom) of ek sal die pad Bloemfontein toe moet aandurf – dit wys in Mimosa Mall.

Nie dat Bloemfontein ‘n slegte keuse is vir ‘n paar dae se ontvlugting en kop-skoonmaak is nie. Ek kan daar in die dieretuin gaan sit en kyk na die seekoeie se manewales. Hulle het mos die manier om hulle stertjies so ekstra hard te swaai wanneer hulle tjorts, en dan spat die groen mis die wêreld vol. Jy moet koes of jy word getref. Boeresports, noem ons dit. Kan ‘n mens nog fiets ry op Naval Hill? 🤔 Kan ‘n mens hoegenaamd nog fiets ry of sal sy haarself moertoe val? My Bloemfonteindae is 20+ jaar terug se geskiedenis.

So wat doen jy wanneer jy regtig verveeld is? In my geval vertrek jy na ‘n aardse Paradys toe vir ‘n dag. Elysium, waar ons voorheen gewoon het en waar my voetspore op elke vierkante duim van die strand afgedruk is. Ons het gaan ontbyt eet saam met Jac se vriendin, Sheila. Die vrou wat my dogter met alle geweld wil aanneem. Die eienares van die Sugar Beach Resort wat nog steeds soos ‘n tweede huis voel. Dit was ‘n ware tuiskomslag. So lekker om almal weer te sien: die familie wat die oord besit en die werkers, wat deur die jare ook ons familie geword het.

Wat doen jy in Paradys? Niks. Jy verkyk jou aan die Mtwalumerivier wat leegloop in die see. Vergaap jou aan die pragtige omgewing. Loop op die uitgestrekte, afgeleë strand tussen Ifafa en Mtwalume. Vind rustige vrede in die oorverdowende stilte. Niks, met ander woorde. Jy doen niks. Maar jy het ook niks nodig om jou mee te vermaak nie. Hoe ironies dat dit die enigste plek is waar ek nooit verveeld raak nie.

Sien die foto hierbo. Soms spoel daar wonderlike fotomateriaal uit op die strand – lyk hierdie nie na die perfekte kunswerk nie. Gevind op Elysiumstrand.

Nog ‘n plek waar ek lekker kuier, veral wanneer die verveeldheid of die melankolie my klap, is saam met ons Saffer daar in Ierland. AJ, blogger van faam, se Saffer Radio is die lekkerste plek vir ‘n aanlyn kuberkuier. Die radiostasie het ‘n faceboekblad en is ook op twitter. Maak gerus ‘n draai en luister na goeie musiek (gewoonlik weeksaande so van halfagt in die aand – SA tyd) en gesels in Afrikaans of Engels met Vossie, soos hy homself daar dentifiseer. Dis kwaliteitkuier gewaarborg. Daar is ook ‘n maandelikse nuustydskrif waar Suid-Afrikaners se bydraes geplaas word. Bloggers in ons kring – gaan kyk asseblief: AJ het die storie van Nellie Visagie opgediep en gaan sy weergawe van die vervolgverhaal hier publiseer. Die eerste hoofstuk waarmee ons afgespring het, is hierdie maand geplaas. Jy kan die tydskrif aanlyn lees of aflaai, deur op Magazine te klik in die menu van die Saffer Radio webtuiste wat ek hierbo geskakel het.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

24 Comments

  1. Ek sal daardie strand moet gaan opsoek wanneer ons weer Suidkus toe gaan. Hopenlik doen jou Johannesburgkuier jou so goed dat jy weer vuur en vlam terugkeer huistoe.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dit sal lekker wees om ‘n hele week alleen saam met my seun te kuier. Ek is nie so seker van die stad waar hy woon nie 🤣 maar ek is seker hy sal interessante uitstappies uitgrawe vir sy ma.

  2. Jy maak dat ek ook lus voel om net die stilte en mooi om my te wil beleef. Gelukkig kan ek daagliks met Trompie loop en alles beleef

  3. iemand zijn haar verloren 🙂 ?

  4. Gelukkig is sulke rusteloosheid net tydelik. As die vonk jou tref kan jy nie ophou nie.

  5. Jy het dit gevind, die aardse plek van vrede en vreugde. Geniet.

  6. Hester, as jy outlander geniet het, kan jy gerus die boeke lees. Hulle is verder as die reeks (wat ek nie kyk nie). Ja…..die rooikopman…… Geniet die see. Ek wens ek was so verveeld soos jy. Genadiglik het ‘n genoeg om te lees. Ek raak baie opgewerk as ek nie kan lees nie, want ek kyk nie regtig tv nie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie, ek sal uitkyk vir die boeke. Ek verkies gewoonlik ook die boeke bo tv, maar soms is ek lui en soek die maklike uitweg.

  7. Bloemfontein se dieretuin, is ‘n skande.

  8. woordnoot

    Ek het die hele reeks..omnibus. Maar ek was lanklaas met Outlander besig….dit voel amper of ek nou self n Outlander word hier in my eie lewe

  9. Jy is meer as welkom om op die “lifestyle farm” jou hele lewe te kom wegwerk saam met my. ek is seker jy sal nooit verveeld wees nie

  10. Dankie Hester!! Ja, kom help weer vannand as ek krap aan my heuk!! (Vrydag aande… dink net, binne kort as ons hoorloosies agteruit dan sal ek ‘n uur vroeër begin… vet pret!)
    Terwyl ek lees kom ‘n ding by my op… ek is nou doodseker Nellie het haar taalgebruiks kundighede by jou geleer of geërf!! Ek sien waar sy by die vlokkies van vlokkiesfontein aan ge vlok kom… so sukkel-sukkel met die Taal!
    En net so by the way… jy en stok en pard pas goed bymekaar… veral as jy die stok oor die see-paard se groen stert stukkend moer!! Wha ha HAAA!
    Pasop vir die groen mis!!🤣🤣🤣🤣

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja die tale tog, nè? Maar hhor hier tjom, ek is so bly om jou te sien. Ek was nou-nou daar op Saffer Radio en vir die tweede keer hierdie week kan ek nie die klank aankry nie. Het vir jou ‘n boodskap gelos daar ook. Ek het op al my devices getoets en Karen ook op hare – zilch. Nou hoe kan ek jou jeuk help krap as ek niks kan hoor nie? Wat eienaardig is, is dat ons geen radiostasie in die UK kan opvang nie – het nounet by Forestgold ook probeer. Het ‘n server IP nader aan jou ook probeer, maar niks werk nie. Wat sê die ander Saffers hieroor, indien enigiets?