My vreugdes en frustrasies

My eiers

Vir ons nuwe intrekkers op Rebusfontein

Lê-Jou-Eier Ons gesels saam oor alles en nog wat in Afrikaans

Onbeskaamd Afrikaans

Christa, Una het gevra dat ons onsself moet voorstel aan jou. Hierdie inligting is sommer vir alle nuwe intrekkers wat dalk by ons in Rebusfontein wil kom woon.

Rebusfontein is die dorp waarheen ‘n groep bloggers, wat hulleself die Towerinne noem, vlug wanneer die regte lewe begin druk. Rebusfontein is ook Rusfontein, die plek waar ons almal rus en vrede vind. Daar is stilte, en vriendskap, en ondersteuning. Daar is ook nsoms lawaai en pret. Dis ‘n fantasiedorp, ‘n betowerde plek waar jy al jou sorge afgooi en rustig verkeer saam met goeie vriende. Soms gaan dit ook baie onrustig daar, maar dis die soort onrus waaroor ons giggel en jubel.

In Rebusfontein woon ek in huisie no. 1, en in my stoepkamer woon Lorenzo, ons busbestuurder, tuinier, kok en algemene nutsman. Lorenzo is ‘n Italianer, 6’ 4″ in die ou taal, baie aantreklik en … maar wag, hierdie storie gaan nie nou oor hom nie. Behalwe om te sê dat hy een van die min mans is wat toegelaat word in Rebusfontein.

By my huisie is daar die groente- en kruietuin wat Lorenzo onderhou en almal in die dorp kom pluk daar wat hulle nodig het. Rebusfontein het die soetste waterput in die wêreld ‘n bonus vir my wat geen ander soort vloeistof as net water drink nie. Daar rondom die put is ons kuierplek en ons langtafel waar ons eet en dans en gesels en soms ook onthaal. Dis net daar verby die Bali-kiosk en die giggelgroen bus wat onder die pergola staan, aan die onderpunt van die hoofstraat. Met hierdie groen bus het die Towerinne deur die hele land getoer en baie avonture gehad voordat ons besluit het om onsself tuis te maak in Rebusfontein.

Net daar agter my huisie, op die Rebusrivier, lê my vlot wat VirgoC vir gestuur het daar van die land met die baie sand af. Wanneer my siel regtig lafenis soek, gaan lê ek daar op my vlot en dryf rond op die water, terwyl die son my heerlik warm bak. 

Ek en Lorenzo het nie troeteldiere saamgebring Rebusfontein toe nie, want in my ander lewe het ek ‘n befoeterde klein katjie wat nêrens heen wil reis nie. Sy weet nie wat sy mis nie. Maar dit maak nie saak nie, want daar is baie ander diere wat die Towerinne saamgebring het – hulle sal self vertel. As ek ‘n koppie wil krap, leen ek sommer ‘n diertjie. Lorenzo het nie ooghare vir diere nie, maar hy slaap elke aand met my Bali-eendjie in sy bed. Dié is mos darem van hout gemaak en laat dus nie hare agter op sy beddegoed nie.

In my ander lewe deel ek my huis by die Natalse Suidkus met my man en dogter (en met daai befoeterde klein katjie). Ek vermaak myself deur soveel tyd as moontlik in die son, louwarm water en op die goue sand deur te bring. En roomys te eet. Ons het twee seuns, ouer boeties vir Karen, en een van hulle het ‘n pragtige vrou, die mammie van ons enigste kleindogter. My gesin verstaan volkome as ek so elke nou en dan my tassie vat en verdwyn na Rebusfontein; dan hou hulle die fort tot ek weer terugkom.


Om die ander bloggers se bydraes te lees, gaan loer in by hierdie skakel op InLinkz: https://fresh.inlinkz.com/party/4d37c70b99244affaf04d8ea985b9271

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

22 Comments

  1. Mooi! Rebusfontein, o, Rebusfontein. Ek stel myself môre-oggend voor.

  2. Jy is darem net die beste, Hester! Kyk hoe mooi som jy ons dorpie op!!!

  3. Pragtig man ek lief die plek waar alles gaan soos dit gaan. En ons is mal en doen alles wat in ons gedagtes kom. Sal bietjie moet sit om terug tedink aan hoe ons daar in Rebusfontein beland het! Lekker geleentheid.

  4. Ek wens Rebusfontein was werklik! Mooi geskryf, Hester.

  5. Ek sal moet my intrek kom neem, ek soek ń siel-lafenis plekkie

  6. O liewe Hester ek het nou kliphard gelag. Ons praat nie nou oor Lorenzo nie 😂😂😂😂 en hy het sowaar nog jou eendjie 😂😂😂 Nee kyk, Rebusfontein doen my goed. Mooi geskryf…en my sommer weer op hoogte gebring.

  7. So oulike vertel Hester en dit klink als so prettig daar. Ek weet as ma daar gaan kuier sal dit beslis nie sonder my wees nie. 😊😘

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Jy kan gerus saamkom Rambo. Ringo (ons towerhond) en Trompie sal jou verwelkom.

      • Ek sal bietjie met ma gesels, dankie Hester. Sy sê sy is nie so pittig soos al die towerinne nie. 😜

  8. Sonel

    Jy vertel dit tog so pragtig en ek hoop Lorenzo gaan nog baie lekker kos maak. Ek het maar toe probeer maar weet nog nie so lekker nie. Ek is nie een vir kuier nie jong. 😅

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek sal gaan inloer. Ek is nou eers weer so ‘n dagh of wat agterstallig met leeswerk.

      • Sonel

        As dit nog daar is teen die tyd wat jy daar uitkom. 😂😅 Ek is maar net ‘n prentjie en foto mens en kan nie lekker stories uitdink soos julle. LOL!

        Die leeswerk is baie hier op die blogs. Ek kan ook nie byhou nie. 😀