My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke, Dagboek

Liewe Dagboek: Dag 31 – die laaste inskrywing

Ek het aan die einde van April besluit om ‘n inskrywing in my dagboek te doen vir elke dag van Mei. Ek was nie altyd suksesvol nie en het sommige dae gekombineer, want Mei 2019 was ‘n rowwe maand in my lewe. Maar ek het darem enduit volgehou en ek het my verlore skryflus teruggevind. Hierdie is die laaste inskrywing in my dagboekreeks.

Ons het vandag maar voor ons lessenaars deurgebring, ore gespits vir die telefoon en nuus omtrent Pandosie wat vandag gediens word. Die Fiathandelaar bel gewoonlik deur die dag soos wat hulle ondersoeke vorder, om verslag te lewer van wat verkeerd is en wat die koste van reparasie of vervanging gaan wees. Dis nou ‘n tipiese dag waarop jy maar bid vir jou kredietkaart, maar Thomson’s Motors lewer uitstekende diens en hou die uitgawes laag. Die uiteindelike bedrag van die diens was toe heelwat laer as wat verwag is. 

Uiteindelik het die oproep gekom dat hulle klaar was. Ek en Karen het buurman-by-die-hek se motor geleen en is weg om ons s’n te gaan haal. Ons woon tussen wonderlike mense – verbeel jou, om sommer jou motor uit te leen in tyd van nood. Wonderlik. Ons pas hulle huis en diere op vir ‘n paar weke en hoop dat ons hulle op sò ‘n manier terugbetaal vir die groot guns.

Die koppelaar is gesond verklaar, die voorste remskoene/skywe (“brake pads”) is vervang, asook olies en ander vloeistowwe, en Pandosie staan toe daar buite – blink gepolitoer en gebuff. Tog te mooi. Die dametjie by Thomson Motors verstaan die predikament van ou tannies en klein karretjies, en het aangebied dat ek die Panda gereeld moet inbring wanneer ek gaan inkopies doen, sodat hulle self die vloeistofvlakke kan nagaan en kyk dat Pandosie gelukkig is. Dis ‘n fantastiese aanbod waarvan ek gebruik gaan maak.

Karen het hom huis toe bestuur terwyl ek met buurman se motor teruggery het en sy sê die ratte werk seepglad, die ekstra nare geluide is weg, die remme werk soos ‘n droom; dit is weer ‘n plesier om met Pandosie te ry. Sy is natuurlik ‘n baie bedaarde bestuurder, anders as haar ma 😂 en ek sal hom self oor die naweek uitvat vir ‘n lekker vinnige spin.

Nou kan ek hopelik meer aandag gee aan ander sake.

Liewe Dagboek, onthou jy nog my “to do” lys wat sommer vroeg in die maand gesneuwel het? Ek wil gou daaroor gesels.

  • Gee aandag aan skryfkursus. Ek het verlede jaar ingeskryf vir ‘n Afrikaanse skryfkursus wat bestaan uit agt modules. Die mikpunt is om een module per maand te voltooi en dan ‘n afgehandelde werkstuk aan die kursusleier te stuur vir nasiening – ek sukkel soms om by te hou. Die hoofdoel was om my verwaarloosde Afrikaans op te knap en ook om my te leer om meer samehangend te skryf, terwyl ek goeie taalgebruik besig. Dis die rede waarom ek deesdae woordeboeke lees vir ontspanning. Ek wil graag meer aandag bestee aan die kursus oor die volgende drie maande (ek is nou besig met module ses en my inskrywing moes al klaar gewees het vir nasiening). Ek het al geweldig baie geleer en gaan later meer hiervan vertel.
  • Begin met daardie skryfprojek. Ek het ‘n idee in my kop van ‘n versameling samehangende essays wat ek wil skryf, waarin ek my vaardighede wat ek gedurende my skryfkursus geleer het, kan toepas. Vir die finale module van my skryfkursus, moet ek ‘n werkstuk voorlê (tydskrifverhaal, kortverhaal, roman, romanza – jy kan self kies) en ek dink ek wil hierdie versameling indien as my finale inskrywing. Dalk publiseer ek dit in blogvorm om te sien wat die reaksie daarop is.
  • Skryf daardie storie oor die Platjan-kroeg klaar. Ek kan nie ‘n halwe storie so in die lug laat hang nie.
  • Gee aandag aan Zulu-kursus. Ek het begin met ‘n aanlynkursus in basiese Zulu, want ek hou daarvan om te verstaan wat mense rondom my praat en met hulle te gesels in hulle eie taal. Ek het baie goed gedoen vir omtrent drie maande, en toe kom staan die regte lewe in my pad. Dis tyd om verder te studeer. Ongeveer 15 minute per dag is al wat nodig is. Ek gebruik die https://decks.memrise.com/ program.
  • ‘n Nuwe byvoeging: die werk begin skielik invloei en ons gaan redelik besig wees vir ‘n rukkie. Dis eintlik goeie nuus (bykomend tot die ekonomiese voordeel), want die winter lê voor en om besig te wees, is een manier om winterdepressie te besweer. Ek moet leer om ‘n nuwe web design visual builder te gebruik wat Karen aangekoop het.

Ek hoop my grysstof brand nie uit nie 🤔

Lekker slaap Liewe Dagboek, dalk loer ek weer hier in, so elke nou en dan.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

36 Comments

  1. Anonymous

    Ek is so bly Pandosie is weer up and about!!!
    Ek het ook by n skryfslypskool ingeskryf en het hierdie maand module 4 gekry….ek het dit oopgemaak en toegemaak….. my skryflus is baie laag. Dis die dat ek wens ek het regtig n plek soos Rebusfontein gehad waar ek net weer kon recharge…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek dink ons kan almal doen met ‘n vakansie op Rebusfontein. Hierdie comment het deurgekom as Anonymous – ek het probleme met die tema op my blog en alles hardloop deurmekaar. Sê gou vir my met wie gesels ek?

  2. Geluk dat jy deurgedruk het met jou dagboek – het dit geniet om so oor julle dae te lees! Bly Pandosie is fiks.

  3. Ek is baie bly Pandosie is weer gesond en op die pad. Dis wonderlik dat die mense so hulpvaardig is. Ek is seker dis omdat jy so dierbare mensie is. 🙂

    Het jy ‘n ander tema vir jou blog gekies? Ek sien ook nie die ‘like’ knoppie nie. Ma sê sy dink ons raak oud. 😀

    Klink my jy gaan jouself goed besig hou. Moet ons net nie vergeet nie hoor. Dis so lekker om hier te kom en jou lekker skrywes te lees. xxx

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Rambo, ek het nog nooit aan myself gedink as “dierbaar” nie 🤣 allesbehalwe. Nee, ek het nog dieselfde tema. Ek het opgelet dat my blogs nie meer in die WordPress.com reader beland nie en die ander mense dus nie daarvan weet nie. Ná ‘n klomp toetse het ons uitgevind dis die tema wat nou skielik probleme veroorsaak. Ek moes dit toe heeltemall uninstall en weer install – en toe verander ek sommer die kleurpalet. Ek het die “like” knoppie nou weer teruggesit, dankie dat jy my gesê het. As een ding verkeerd loop, is alles mos onderstebo.

      • Ma sê dis gewoonlik mense wat so sê wat eintlik dierbaar is, al dink hulle nie self so nie, so moenie worry nie. Ons dink jy is. 😀

        Ai tog ja, dit gebeur maar partykeer sê Ma. Party mense se hande jeuk so nou en dan. Die kleure lyk baie mooi en ek is bly die ‘like’ knoppie is terug. Ja, ma sê dit werk maar so. haha 😀

  4. Ek stem saam met Rambo! Geen like knoppie! Baie geluk met jou aanhou en uithou. Dit vat baie om daagliks te sit en net n bietjie in die dagboek te skryf. Eks bly jy het uitgehou en aangehou en ook dat daardie brein sappe n bietjie geprikkel is. Ek het gidter skoon onttrekkingssimtome gehad. Konnie verstaan hoekom ek so half angstig voel nie. Toe ek my volgende skrywe beegin doe kom ek toe agter dis daardie mis van die dagboek. Ek het gister ook sommer begin beplan om dit in n “boek” te skryf.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie, ja dit is nie maklik om elke dag op jou blaker te sit en skryf nie. Maar ek het ook vanoggend met ons strandlopie gedink ek gaan dit in die dagboek skryf en toe besef die dagboekdae is nou eers verby 🤣 Ek wil dit so ‘n rukkie los en dan weer gaan lees om te sien waarmee ek myself nou eintlik so besig gehou het. Om dit in ‘n boek te sit, klink na ‘n goeie idee, maar ek sal liewer hierdie Meimaand wil laat verby hou.

  5. Ek het Zoeloe 1 op Tuks gedoen, kan so hier en daar nog verstaan. Gebruik jy die VivaApp? Ek lief hom. Dalk is dit vir jou lekkerder as om deur woordeboek te werk. Sodra jy ‘n woord begin tik, wys hy al opsies. As jy op hulle klik, sien jy soortgelyke woorde, meervoud en so aan.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, ek is op die VivaApp, en ek los dit die hele dag aan op my tweede skerm solank ek skryf. Ek behoort ook aan die Facebookgroepie Argaïse Afrikaanse Uitdrukkings is cool, waar ‘n klompie taalghoeroes interessante taalvrae beantwoord. Ek lees ook nou heelwat meer Afrikaans as voorheen (verkieslik aanlynkoerante, nie boeke nie). Ek dwaal partydae so rond met die taal dat ek geen woord neerskryf nie 😁

  6. Dit klink darem of julle die maand goed afskop. Vertel ons meer oor die skryfkursus asb….dink nie ek sal daarvan hou om in te skryf nie…klink na skool en huiswerk. 😊 Geen wille draaie met Padonsie nie!!!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Padonsie, uhm, Pandosie – staan in die garage en oud word. Jy ken my, ek loop liewer waar ek wil wees. Jy gaan darem seker nie vra dat ek ophou loop nie 😳 Wat die skryfkursus aanbetref – hier is die skakel waar jy kan lees daaroor https://www.skryfgeheime.com/skryfkursus/algemene-kreatiewe/. Die kursusleier is self ‘n gepubliseerde skrywer en sy sien alles na wat jy doen – opbouende kritiek, maar sy draai nie doekies om nie.

      • Dankie vir die skakel. Wel dan gaan Padonsie nog lank hou as jy hom so min gebruik. Laat my aan die Morris dink wat Ken by sy oujongnoi tante geërf het. Die dag toe hy daardie karretjie uit Krugersdorp ry was dit die eerste keer wat die Morris Krugersdorp verlaat het.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Aweh! Nee Pandosie het darem so oor die 100,000 kilos op, maar hy is al tien jaar oud. Ek het meesal met hom werk toe en terug gery, maar ook nie elke dag nie.

  7. Ek wil ook van die kursus leer.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek copy sommer vir jou die skakel en inligting wat ek vir Kameel ook gegee het. Kyk ‘n bietjie deur die webtuiste; jy sal sien dat hulle heelwat gelukkige kursusgangers het. Hier is die skakel waar jy kan lees spesifiek oor die kursus waarmee ek besig is, maar daar is heelwat meer kursusse wat aangebied word: https://www.skryfgeheime.com/skryfkursus/algemene-kreatiewe/. Die kursusleier is self ‘n gepubliseerde skrywer en sy sien alles na wat jy doen – opbouende kritiek, maar sy draai nie doekies om nie.

      • Dit klink heerlik, maar ek wil eintlik saam met jou kuier.

      • Dankie vir die raad, ek is lus om in te skryf. Hoeveel kos dit? My geld is so bietjie beperk.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Geld is altyd ‘n probleem. Ek moet binnekort die Lotto wen. Ek het so ‘n klompie oor die R6000 betaal toe ek verlede jaar begin het. Ek is nie seker hoeveel dit nou is nie. Jy kan dit maandeliks afbetaal (agt betalings). Daar is ‘n vormpie op hulle webtuiste wat jy kan invul, dan stuur hulle al die besonderhede.

        • Hoe ver is jy?

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek is besig met module 6. Ek het probeer om een keer ‘n maand een module te doen, maar het Meimaand lelik vasgedraai. Dit maak nie saak nie, want jy kan so lank neem as wat jy wil tussen modules, so ek gaan maar hierdie maand “oortyd” gebruik.

        • Ek stem, dink aan jou!

  8. Ek gaan jou geselsies mis

  9. weaverworx

    🙂

  10. Winter depressie – GA! Wat is dit??
    Ek lees al jou skryf planne van toe… dit gee my moed! Ek moet binnekort weer begin om Nellie van my kop to op ‘n dokument te verskuif… en dan na jou te stuur vir “redaksie”! Ja, my Afrikaans is so power dat ek my skaam… maar, gelukkig kan ek darem nog swets en oulike dinge kwyt raak deur middel van Die Taal!
    Dis nou al lank na die pos geplaas is… hoop daai mini-Ferrari van jou looi nog die paaie plat! 😉😁😂

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Pandosie huppel nog oor die paaie, dankie. Stuur maar vir Nellie aan – ek sal haar make-up aansit en haar hare doen. Ek sien uit na die opvolg.