My vreugdes en frustrasies

Dagboek, Dis Ekke

Liewe Dagboek: Dag 28 – Pandosie is baie gesond

Mechanic working on car - cartoon

Liewe Dagboek, ek het vandag uitgevind dat Pandosie gesond is – geen kwale en geite nie. Hy was net ‘n bietjie dors.

Die dametjie van die Fiathandelaar het my vanoggend vroeg ingelig dat die werktuigkundiges die outjie vir ‘n toetsrit uitgeneem het en … wag hiervoor … die koppelaar werk perfek. Die ratte skakel seepglad oor. Daar is geen fout nie. Daai karretjie is blakend gesond.

Ek was verslae. Wat was dan die oorsaak van die bokspringery en ratte wat wat nie wou oorskakel nie? Die dametjie sê die werktuigkundige het genoem dat die vloeistof vir die koppelaar op ‘n baie lae vlak was en dat hulle dit moes aanvul. Blykbaar kan so ‘n lae vlak veroorsaak dat ‘n lugborrel in die stelsel ontstaan. Die lugborrel kon dalk self uitgewerk het toe die karretjie op die trok gehys is en so ‘n bietjie rondgeskommel het op pad na die werkswinkel toe. Dis die enigste verklaring vir die skielike herstel van die pasiënt.

Op hierdie punt het ek begin hond ruik, maar eers het ek ‘n afspraak gemaak vir Pandosie om ‘n volledige diens te ondergaan, om seker te seker maak dat hy gesond bly. Ek het gevra of hy sommer in die werkswinkel kan oorslaap tot Vrydag, hulle kwotasie aanvaar en die foon saggies neergesit.

Toe het ek die man des huises gaan opsoek. “Onthou jy dat G (ons buurman-by-die-hek) opgelet het dat die koppelaar se vloeistof baie min was toe hy kom kyk het na Pandosie?” 

“Ja, ek het toe mos bygegooi en die houertjie was eintlik ‘n bietjie te vol. Hoekom?”

 Ek vertel hom wat die werktuigkundige gesê het. “Dit beteken dat daar amper geen vloeistof in was nie, want nadat die lugborrel uitgekom het, moes hulle weer die houertjie volmaak. Dit moes dolleeg gewees het. Dis jou skuld dat Pandosie in die garage staan. Jy het hom laat dors ly!”

“Wag ‘n bietjie.” Die man is verontwaardig. “Moenie na my kant toe begin kyk nie. Elke keer as jy gaan petrol ingooi, vra ek jou of jy alles nagegaan het. En elke keer verseker jy my daar is genoeg water en olie … en so aan … in die kar.”

“Nou waar kom die ‘en so aan’ nou vandaan? Jy vra my elke keer uit oor die olie en water, en dis wat ek laat nagaan, nie ‘en so aan’ ook nie. Onthou jy dat ek jou verlede week gevra het om te gaan kyk of alles reg is, want daar was nie genoeg water en seep in die houer waar die ruitveërs se water uitkom nie. Die pompjoggie het gesê ons moet ‘n bietjie seep ingooi en dan opvul met water. Onthou jy dat ek jou baie spesifiek gevra het om vir my al die gate te wys waar goeters ingegooi moet word om Pandosie gesond te hou. Onthou jy? Jy het my nie gewys dat daar ‘n gat is vir ‘en so aan’ nie. Die probleem is dat jy altyd alles self doen en my niks wys nie.”

“So nou is alles my skuld?”

“Ja, want jy het voorheen altyd alles self nagegaan. Nou doen jy dit nie meer nie en jy leer my nie van al die gate nie. Daai gate is jou verantwoordelikheid. Elke gat in hierdie kar en elke ander gat onder hierdie dak is jou verantwoordelikheid. Tot ek geleer word om dit self te doen.”

Dit kon dalk ‘n vreeslike argument geword het as die man nie op hierdie punt besluit het om liewer die aftog te blaas nie. 

So, die blye tyding is dus dat ek verwag om Vrydag ‘n gesonde swart motortjie terug te verwelkom. En ‘n ietwat platter bankrekening. Maar te danke aan die bloggers wat my aangemoedig het en veral Woordnoot wat my verseker het dat ek nog baie nut uit my Panda sal kry, sal ek hierdie terugslag met ‘n smaail verwerk.

Ns. Ek wonder steeds of die bure dalk dink dis die sheriff wat my kar kom haal het, hie-hie-hie.


Image credit: http://clipart-library.com/clipart/224197.htm

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

13 Comments

  1. Ons is baie bly om te hoor Pandosie is weer gesond. 😀

  2. Kan dink jy is verlig daar is nie groot fout met Pandonsie… en so aan nie. Sy vragmotoravontuur moes sekerlik jou beursie ‘n knou gegee het.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Nee, hy het gelukkig buite die motorhek in die pad gaan staan en ek kwalifiseer vir roadside assistance op my assuransie. Klein genadetjies.

  3. Bly jou karretjie ry weer. Dis n gedoente as mens so sonder moet wees. Jou vertelling klink so bekend, veral die “so aan” wat saam daarmee gaan. Voel vir my so al asof die manne nie veel van ons vaardighede verstaan nie. As daar duidelik gewys is waar kan dit gedoen word maar ai daardie haastige verduideliking sonder demonstrasie maak my wiele party regtig lam.
    Lekker ry met n gesonde Pandosie!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Scrapy, ek sal vreeslik bly wees om hom môre terug te kry. Ja, die manne … my man se probleem is dat hy graag dinge vir my doen en dan soms kwaad word as ek kla omdat hy alles uit my hande vat. Ek hoop hierdie episode het dit nou by hom tuisgebring hoe belangrik dit is dat ek myself kan help met hierdie soort ding.

  4. Ek kon nie help om te lag oor julle gesprek nie, dit klink bekend. Solank jou karretjie net reg is, is ek ook bly.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek kan nogal bloedig kwaad word vir die man. Alles waarmee ek sukkel, sal hy so ewe uit my hande vat: “Gee hier, laat ek dit doen.” Ek is seker hy bedoel dit goed, maar dit frustreer my eindeloos.