My vreugdes en frustrasies

Dagboek, Dis Ekke

Liewe Dagboek: Dag 15, 16 & 17 weerhou ek my van moord

Beach at Southport, KZN

Maar ek weerhou myself van moord slegs met ysere wilsbeheer. Die sage van die lekkende dak kry net nie einde nie. Woensdag het die dakwerkers weer nie opgedaag nie. Want hulle is weer eens nie betyds betaal nie. Ek het dit mos verwag en het myself die hele dag konstruktief besig gehou – met niks. Net om my aandag weg te lei van moord af.

Donderdagoggend het ek voor dagbreek met ‘n skok wakker geword, oortuig daarvan dat my man vermoor word of dalk besig is om ‘n hartaanval te kry. Of iets. Tot my verbasing was die “of iets” die werkers wat by die deur staan en lawaai.

Ek het gaan stort en hare drooggeblaas met manne wat baie nonchalant in en uit loop by my slaapkamer. Hulle het glad nie notisie gevat van die ouvrou in die pienk kamerjas wat voor die spieël staan met ‘n haardroër nie. Ek het ook maar gemaak asof ek hulle nie sien nie.

Hulle het inderdaad die sement klaar ingesit en ons het nou ‘n heel dak. Maar daar lê nog hout, draad en los gras rond op die dak. Teen drieuur het hulle opgepak en stilletjies weggegaan. So stil dat ek dit gemis het. Ek het buite gaan staan en gekyk na die stilte, toe navraag gedoen by die hoofman, net om te hoor dat hulle vandag sal terugkom vir die finishing touches.

Vanoggend het ons teen halfagt ‘n sms gekry om te sê hulle moet wag vir die sement om te “cure”, want dit moet nog swart geverf word. Hulle sal Maandag terugkom. Dit beteken dat die werk vir drie dae gaan stilstaan.

My man het my kom roep en my gaan wys hoeveel rommel nog buite op die erf rondlê – die klomp boumateriaal wat hulle in buurman-langsaan se sleepwaentjie gelos het, die patioblokke wat vervang is en nog steeds langs buurvrou-agter se huis lê, en die ergste van alles, by die huis wat in aanbou is agter ons en waar hulle die sement aangemaak het, het alles net so bly lê: ongebruikte sement, leë sakke. Hulle het nie eens die moeite gedoen om die sementblad waar hulle gewerk het, skoon te maak nie.

Ek het fotos hierbo vir die hoofman asook die huisbaas gestuur met ‘n dringende boodskap dat die gemors opgeruim moet word. Die hoofman het laat weet dat hulle dit later vandag of môre sal kom opruim. Die huisbaas het nie eens die moeite gedoen om te antwoord nie. Die eienaarbouer van die halfvoltooide huis was vanaand hier om te kom hoor wat aangaan – haar man gaan woedend wees as hy die gemors op sy bouerf sien. En wat is ons veronderstel om te doen – die gemors te gaan opskep met ‘n paplepel? (Ek dink ek het paplepels op my brein).

So, ja, moord is nogal ‘n gedagte wat elke nou en dan by my opkom.


Die foto heelbo is geneem by Southportstrand vandag. Ons het darem so in die middel van die dag weggeloop en op ‘n bankie by die strand gaan sit waar ons vis en skyfies geëet het vir middagete.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

26 Comments

  1. Ek begin wonder oor Bertus en die huis wat hy vir ons wil koop…want daardie grasdak moet oorgedek word. En dan het hy vreeslike aanbou drome. Gaan ek dit oorleef, dink jy?

  2. Your patience and endurance is remarkable.

  3. O nee genade! Ma sê sy sou lankal moord gepleeg het. Die foto van Southportstrand is pragtig. Heerlike naweek vir julle. Ek en ma is lui vandag. xxx

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie. Ons is vanoggend vinnig deur Margate (op pad Blue Lagoon toe) en het aan julle gedink. Ek sien hulle brand nou die dryfhout daar op die strand.

      • Ja, hul skraap dit op klein hopies en brand dit maar. Julle moet geniet. Ek en ma is nog al die pad lui. 😀

  4. Dis omtrent genoeg om moord voor te pleeg. Wat verstaan die bouers nie? En dit nog sommer op n ander ou se erf ook. Eks net bly jy kon bietjie rustig op n bankie gaan sit om tot verhaal te kom.

  5. Dis vreeslik dat ‘n grasdak soveel chaos kan veroorsaak, en erger nog dat mense nie op hulle werk trots is nie. Meer as paplepels is nodig. Sterkte. Hoop die vis en skyfies was heerlik.

  6. Dink net hoe “boring” gaan jou dae wees as hierdie sage verby is. Los die paplepel ek grap net. Kan maar net weer sê sterkte op sterkte!!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Jy is nogal reg in ‘n mate, want ek kan so fikseer op een aspek van my lewe dat die res skoon by my verbygaan. Dis asof die probleem my lewe oorvat en ek kan net nie fokus op enigiets anders nie.

      • Hester so ‘n gemors in jou huis en tuin is nie ‘n grap nie. My haarkapster hulle het ‘n vertrek laat aanbou en bietjie restoureer werk aan hulle huis laat doen. Sy het gesê nooit weer nie, sy weet nie hoe enige mens getroud bly na so ‘n gemors nie. Jy en jou man is naderhand so frustreerd dat julle mekaar wil vermoor.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Dis waar. Ons het jare gelede ons huis in Gauteng self gerestoureer en aangebou. Dit was sielstergend, maar toe was ons darem heelwat jonger en meer energiek. Wat my vies maak is die feit dat hierdie werk gedoen moes gewees het voordat ons ingetrek het en die verhouding met die huisbaas het reeds so versuur dat ons heelwaarskynlik nie veel langer hier gaan aanbly nie. Ek het nie meer lus vir ander mense se strooi nie.

  7. Jou mooi foto van Southport smokkel behoorlik met my kop – dit lyk kompleet asof die golwe beweeg!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dit lyk nogal so, nè! Ek het ook nou eers gou weer gaan kyk. Ek het dit sommer met my selfoon daar van die bankie af bo-oor die sandduin geneem.

  8. Pragtige foto!
    Ek sal nie omgee om op daaride bankie te sit en “Fish & Chips” te eet nie, hier kry mens mos net “Fries” en self die “Chips” is soms Fries 😉
    Sterkte ♥

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Amper smokkel jy nou met my kop, haha. Ons praat van aartappelskyfies in olie gaargemaak as (slap)tjips. Ek dink dis wat julle “fries” noem. Maar ons praat ook van tjips in ‘n pakkie (wat julle crisps noem). Tjip en dip – druk jou crisp in ‘n sous.

  9. Nounet gou bietjie kom inloer!Ai,dis omtrent ‘n sage en ek sou lankal meer as paplepels as moordwapens oorweeg het!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ai Bytjie. En wat amper hartseer is, is dat dit die norm dienslewering is waarmee ‘n mens hier te doen kry. Dalk is ek net vol strooi omdat ek nog te veel Gautengbloed in my are het. Maar ek wens dis verby.