My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke, Dagboek

Liewe Dagboek: op dag 10 is ek só MOEG

Past Tense by Lee Child

Liewe Dagboek, ek was vanoggend MOEG met die wakkerwordslag. Dis nie net die gewone moeg nie. Dis ‘n akroniem vir Moerse Ongeïnteresseerd en Gatvol. Dateer daar doer uit my werksdae. Sommige mense sou sê hulle het met die verkeerde voet uit die bed geklim.

Dis besig om winter te word en dit help nie om daarteen te stry nie. Vanoggend het daar ‘n koue windjie gewaai en ek was nie lus om my neus by die deur uit te steek nie. My man het buite gesit om elke liewe plantjie wat nog ‘n blaartjie oor het in die voorste tuintjie, tot op die grond af te knip. Hulle is sodanig verniel deur die rotse (oukei, die klippe) wat bo van die dak af op hulle neergestort het, dat hulle regtig toiïnggat gelyk het. Ek weet, dis nie die einde van die wêreld nie. Die meesal common bolle en knolle wat weer gaan uitgroei en hier rond groei plante teen ‘n verbysterende spoed. Nogtans.

Ek het ook daar gaan sit en begin om die los klippe tussen die plantoorblyfsels te verwyder en ek het die tuinpaadjie ‘n bietjie skoongevee. Wat ‘n gemors. Soos wat ek voorspel het, het die man met die bakkie nie opgedaag om die rommel (wat nou drie groot hope rondom die huis gevorm het) weg te ry nie. Die Beheerraad gaan nou maar hulle stem moet dik maak.

Ek het ‘n yslike bord pasta verorber en my voor die tv gaan parkeer. Ek en my man het ‘n hele paar episodes van Doc Martin ge-binge watch. Nee ek weet nie wat dit in Afrikaans is nie. Dis die eerste keer wat ons die reeks kyk en moes ‘n bietjie ons denkwyse aanpas by die Britse humor. Maar ek was nie lus om die hele Netflix deur te krap vir ‘n goeie fliek nie. Ons het soos twee ou porseleinpoppies daar gesit tot ná sesuur.

Terug in my kamer ek ‘n audioboek aangesit en Candy Crush gespeel tot agtuur. Toe het ek gaan bad en my kindle uitgepluk om ‘n bietjie te lees. Ná ‘n halfuur het ek besef ek het dieselfde paragraaf al ses keer gelees en my lig afgesit. My oë was net mooi halfmas gesak, toe voel ek druppels op my spat.

“Ek kan die water hoor drup op jou ma se vloer,” kom my man se stem aangesweef daar van onder af. Hy praat met Karen.

Waddehel? Daar was sterre aan die hemelruim toe ek gaan slaap het. Ek kon dit deur my dak sien. Déúr my dak, let wel. Die gras is klaar gedek, maar die nok moet nog teruggesit word. Dit gaan eers môre gebeur. Hopelik. Enniehoe, dit was ‘n taamlike harde reënbui wat reg op my bed afgestort het.

‘n Halfuur later was daar (weer) handdoeke op die vloer, my bed droog en weggeskuif, ek heelwat kalmer as gevolg van die mediese wondermiddel wat hulle ‘n Urbanolpilletjie noem en ek het my oorfone aangesit om musiek te luister. Ek het probéér om musiek te luister. Karen het die telefoon en wifi router afgesit, omdat dit natgereën het. My musiekprogram werk nie sonder wfi nie.

Gelukkig is daar ‘n oudioboek op my foon: Past Tense van Lee Child. Vannag gaan ek slaap met Jack Reacher wat besig is om die boewe links en regs te dônner vir alles wat hulle verkeerd gedoen het of nog gáán verkeerd doen. Wolfie, jy moet hierdie een onthou vir jou #LeesMetGees uitdaging. As jy van ‘n paar frustrasies ontslae wil raak, is Jack Reacher jou man.

Ek hoop om minder MOEG te voel wanneer ek môre wakker word.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

32 Comments

  1. Maat, ek hoor vandag met ontsteltenis dat my bors/ stemaandoening ‘n virus is wat oor ongeveer 100 dae uitwoed. Ek verstaan jou moeg. Lief Jack Reacher, wens hy het virusse aangevat,

    • Ek het ook gehoor van daardie 100 dae hoes! Hy sweef ook hier rond.

      • Comment by post author

        HesterLeyNel

        Ag, laat dit tog hier verbyhou asseblief. My man het drie jaar gelede so ‘n gehoes aan die gang gehad dat hy ‘n breuk opgedoen het. Niemand in ons huis kon slaap nie vir maande aaneen.

        • Dis erg. Ek hou duime vas vir julle en ook vir myself hierdie kant. Jy weet as mens met kinders werk vlieg daar gevaarlike virusse in die lug rond.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek het verlede jaar vir jou ‘n skakel gestuur in verband met ‘n immuniteits-inenting (Pneumococcal) vir longsiektes, meningitis, asma, ens. Het jy toe ooit navraag gedoen daaroor in NZ?

        • Mmmm, nou vra jy n ding. Sal dit bietjie opvolg. Dankie daarvoor.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      100 dae en by dag hoeveel is jy nou? Dis darem niks lekker nie. Sterkte jong. Ja, ek kan doen met ‘n Jack Reacher in my lewe.

  2. Dis nou omstandighede wat enige mens se wiele pap kan maak. Ek hou ook van Lee Child, hy het n gemaklike gewelddadige manier van skryf.

  3. Hester dit was omtrent ‘n frustrerende dag. Hoop werklik vandag gaan dit beter.
    Daardie 100 dae virus ding is nou slegte nuus. Ek het eergistraand amper uit stort geval van nie op my voete te kan bly van moegheid nie. En die hoes is volspoed terug.

  4. Jou dag het gesuck! Nee goeiste, daardie dak moet nou klaarkry, tot ek is al moeg vir jou gesukkel.🤗

  5. Ek worry nou al dae oor die dekselse dak… nee man!
    Ek mis niks van Doc Martin nie

  6. Ek hoop alles kom sommer gou reg met alles. My ma raak ook baie gou omgekrap as dinge nie reg wil werk nie en dan bly almal uit haar pad, behalwe ek natuurlik. Ek laat haar altyd beter voel.

    Die reën wat ons gehad het was omtrent baie. Hier by ons in Margate het daar ook baie plekke oorspoel en ek was net bly ek was veilig in die huis. Sulke tye wonder ek en my ma baie oor ander hondekinders wat dalk nie so gelukkig is nie.

    Ek en my ma is lief vir die winter en ek kan glad nie kla oor die weer hier nie. As dit warm is, bly ek in die huis by ma en as dit koud is wil ek natuurlik net heeldag slaap, maar dan sê ma dis nonsens. Ons moet oefening kry.

    Sterkte met als en ek hoop als gaan baie gou beter daar. 🙂

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Hallo Rambo, ek het jou oulike gesiggie dadelik herken. Het jy nou ‘n blog aan die gang? Ek het gehoor Margate het ook sleg deurgeloop. Ek sien jou ma se pragtige strandfotos en jou pa wat visvang, maak nie saak wat die temperatuur sê nie. Ek kan nou regtig nie sê ek is ‘n winterpersoon nie – oumense raak gevoelig vir koue en wind, haha. Dankie vir jou goeie wense en laat dit goed gaan.

      • Ek hou altyd daarvan as mooi mensies my ‘oulik’ noem. Dankie. 🙂

        Ja, ek het besluit ek moet al my avonture deel met almal. Dalk hou hul daarvan. 🙂

        Ma sê baie dankie vir die mooi woorde en ja, pa geniet sy oefening en so nou en dan vang hy ‘n vis, maar ma hou nie daarvan nie, want sy kry die vissies jammer. Nou sê pa hy gaan red hul maar van verdrinking.

        Ma sê dis weer ‘n dag vir sandblasting en my nuwe hairdo. Ek het geen idee wat sy bedoel maar dis vir my lekker as ek op die strand lê en die wind waai deur my hare. Dis net sleg as die sand in my ogies kom maar dan vee ma dit uit.

        Tussen ons twee moet ek ook sê dat ek sien ma is partykeer ook gevoelig vir die koue, want dan sit sy met haar japon aan en ‘n warmwaterbottel. Ek kry gelukkig gou warm en dan blaas ek soos ma as sy die trappe oploop. Sy skeer my kaal as sy hoor hoe ons skinder. 😛

        Laat dit goed gaan daar ook. xxx

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          O nee, Rambo, ons moet saggies skinder, want ons kan nie ‘n geskeerdery toelaat nie. Ek weet hoe trots jy op jou haredos is. Jou pa verrig heldedade – red van visse van verdrinking, haha!

        • Ek dink ook daai ding en ek dink nie ma sal ooit so iets doen nie. Sy is heeltemal te lief vir my en my sagte hare. Sy borsel my partykeer so baie, dis ‘n wonder ek het nog hare. haha

          Ja, hy vertel vir ma dis wat hy doen, want ek dink hy wil nie hê sy moet dink hy wil hul vang nie. Hy mag hul egter nie huis toe bring nie, want ma hou nie van visse nie. Sy sê hul hoort in die see of in die riviere. Hy is egter baie beslis my held. 🙂

  7. woordnoot

    Ai HEster…ek hoop van harte jou dak kom nou klaar. Ek love Jack Reacher….sal daai een nog moet gaan soek!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Hulle het nog nie vanoggend opgedaag nie. Ek het nounet met die landlord gepraat – hulle is op pad 🙄 Ja, soms wens ek dat ek Jack Reacher in lewende lywe kan ontmoet.

  8. ♥ Jack Reacher!

  9. Ek sal hop op kyk Hester, belowe. En ek belowe ek gaan julle binne ‘n dag of twee laat opvang met my #LeesMetGees. My werk is rof en ek het weer ‘n deadline want ek het ‘n ekstra werksopdrag gekry wat my tyd opeet soos ‘n piranha. hehehe Om ‘n internet joernalis te wees is mal, maar lekker.