My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke, Dagboek

Liewe Dagboek: Dag 1 het begin met ‘n lawaai

30 April. Liewe Dagboek, ek het vir ‘n verandering deur die nag geslaap, maar is vanoggend vroeg wakker lawaai deur ‘n klomp hadedas. Ek wou my eers vererg, maar toe begin ek en Oudste op WhatsApp gesels. Ons het vir meer as ‘n uur geklets en ek moes met groot spoed uit die bed vlieg om my agtuur afspraak by die haarkapper na te kom. Dit was ‘n heerlike manier om my dag te begin (die gesels, nie die haarsny nie).

Ek en Karen het albei laat hare sny. Sy is baie tevrede. Ek lyk soos ‘n budgie waarvan die vlerke pas geknip is. Die gewone, met ander woorde. Ek het ‘n vreeslike oulike haarkapper. Ongelukkig het hy ‘n moeilike kliënt. Haresny is van toeka se tyd af nie my gunsteling tydverdryf nie.

Terug by die huis het ek my klerekas uitgepak en alles aangepas. Ek het die afgelope paar weke ‘n oortollige 4 kilogram verloor en is bly om te rapporteer dat ek nie meer uit my klere peul nie. Nog 1 kilogram moet waai om my by my verlangde gewig te bring. Ek het ‘n sak vol klere uitgesit vir Annie, onder meer die grootste gedeelte van die “kantoor”klere wat ek nog besit het. My dae van kantoorwerk is beslis verby. Ek het net genoeg formele klere behou vir die enkele kere wat ons wel kliënte van aangesig tot aangesig sien. Ons was eergister by die klerewinkels langs en ek dink ek is gereed vir die winter. Ek is tevrede met hierdie halfdag se werk, maar die strykwerk is nou heel bo-aan die “to do” lys. Blegh.

Oefenprogram: Ons het na middagete eers uit die huis gekom. Sea Parkstrand toe geloop. Daar is baie riete en dryfhout ná die vloede en die sand is vuil. Ek gaan vir ‘n lang tyd nie skoon toonnaels hê nie. Iemand het vuur gemaak met die dryfhout en die vuur net so gelos. Karen het dit toegeskop met sand. WADDEHEL MENSE? Kyk hoe swart gebrand is die klippe nou (foto heel bo). Verder was die strand verlate en ons het die stappie geniet – soos gewoonlik.

Daar was ‘n geraamde prentjie van Michelangelo se Pietà (Jesus op Moeder Maria se skoot ná die kruisiging) aan ‘n boom gehang by die strandparkeerplek. Seker iemand wat die Paasfees hier gevier het.

Werk / pligte: Dokument vir Karen se webtuiste geproeflees, Skype call met kliënt bygewoon, versekeringsdokument deurgewerk. Selle ou selle.

Frustrasies: Die huis se dak moet oorgedek word en die gras / biesies lê van Vrydag af hier langs die huis. Navraag gedoen en hulle kom glo môre-oggend agtuur. Stiptelik. Karen kan nie haar slaapkamer gebruik na die vloede nie.

Sosiaal: Ek en buurman langsaan het plantjies geruil. Ons vetplantjies gedy. Jac het buurvrou agter se orgideë versorg en ek het rondgehardloop om bakkies en gereedskap aan te dra. Sy is nog by haar kinders in Gauteng en ons sien om na die huis en die tuin. Buurman skuins oorkant se hond (en haar baas op haar hakke) het saam met ons kom kuier op die tuinbankie voor die huis. Dit word nou ‘n ernstige kuierplek.

Vreugde: Whatsapp fotos van ons kleinkind met haar sjokolade paashaas. Dierbaar!

Ontspanning: Ek het nie vandag Candy Crush gespeel nie en weggebly van die internet af. Gaan nou-nou in die bed klim met The No. 1 Ladies’ Detective Agency van Alexander McCall Smith (Perdebytjie se aanbeveling). Ek lees gewoonlik ‘n halfuur of wat voordat ek my lig afsit.

Ek hoop die hadedas laat my môre ‘n bietjie later slaap. Moet hulle nou juis op mý huis se dak sit en bek-lawaai? Die kolganse en ooievaars is ook terug ná hulle oorsese reise. Nog meer lawaai – die ganse, nie die ooievaars nie. Ek hoop hulle gaan my dakgras in dik lae pak om die klank te demp.

My “to do” lys

  • Stryk! Dêmmit.
  • Gee aandag aan skryfkursus (meer besonderhede later)
  • Gee aandag aan Zulu-kursus (meer besonderhede later)
  • Begin met daardie skryfprojek (meer besonderhede later)
  • Skryf daardie storie oor die Platjan-kroeg klaar

Beoordeling van hierdie dag

Ek het my tyd goed bestee. Miskien nie veel gedoen vir wêreldvrede nie, maar ek is heel gelukkig met my dag.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

37 Comments

  1. Hester, maar jy is bedrywig. Ek lê net en hoes nog steeds. Groete.

  2. A very satisfying day by all accounts.

  3. Jy kan baie tevrede met jouself voel, hierdie was ń lang lys dinge wat gedoen is! Ek het lekker gelees. Soms dink ons ons skrywes MOET vreeslik slim wees, maar ouens soos ek verkies die allerdaagse lewensreise.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek dink dis die gedagte aan ‘n dagboek wat my voortgedryf het om iets gedoen te kry. Dink net hoe simpel sou ek gevoel het as ek niks gehad het om vir my dagboek te vertel nie 🙄

  4. Sejoe maar jy is oulik. Gewig verloor lag vir my as ek probeer en ek moet baie meer as 5 verloor! En dan nog al die ander goete, nee wat hestertjie, jy hoef nie bang te wees nie. Jy gaan ons nie verveel nie al wou jy

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, die liewe gewig. Ek is gewoonlik baie versigtig om nie gewig op te tel nie, want die kardioloog sal my bless, maar soms raak ek ook nalatig. Nee, ek moet nou maar suffer. Gelukkig het ek nie werklik ‘n soet tand nie en ek hou van oefening, so ek sukkel darem nie te veel nie.

      • Jy sien…. ek haat oefen, behalwe stap en swem. Liewer vir sout as soetgoed en peusel maklik..ek moet seker harder probeer

  5. Janee, stem saam – jou dag was allesbehalwe vervelig!

  6. Ek lê ook in bed en hoes. Jou dag klink bedrywig….onthou die strykwerk wag!!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, hou net aan om my skuldig te laat voel! Dit bekommer my, al hierdie gehoes en geproes. Ons bure in die hoek se drie dogtertjies (ouderdomme so tussen 5 en 12) is al drie al dae lank in die hospitaal met brochitis, omgekrapte mae en ek weet nie wat nog nie. Die arme ouers is al histeries. Slegte tyd van die jaar om verkoues en griep op te doen.

      • Vir Una gesê ek weet noe of ek Vrydag die saamkuiery gaan maak nie. Voel elke dag slegter. Verlede naweek begin met naar en verskriklike pyn op my maag…toe keelseer, en nou my bors. Dat jy jou eie strykwerk doen moet jy tien goue sterretjies voor kry….dis een huishoudelike taak wat ek vinnig hulp voor ingekry het.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Dit klink nie goed nie. Rus is dalk beter vir jou op hierdie stadium. Ek het nie genoeg huiswerk / strykwerk om hulp te kry nie, ons is immers twee vrouens in die huis, maar dis wat gebeur wanneer jy aanhou met uitstel – daar val ‘n berg wasgoed op jou.

        • Ek voel skoon skuldig as ek sien hoe besig jy is. Lekker gelees hier by jou.Die hadedas…sugggg! Hulle tjorts my tuin vol.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Dis ‘n aaklige ou voëltjie, veral vroeg in die oggend.

        • My honde raak beserk as hulle so op die dak sit en skreeu…dan het ek nog hulle gekeffery ook in my ore…dubbele marteling!

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Haha, ek kan my net indink.

  7. Besisge dag! Ek voel skuldig.Regte leegleher.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis nou die ding. Ek is ‘n leeglêer wat kan meeding met die beste, maar hoekom voel ek die hele tyd skuldig daaroor? Ek moet my kop laat lees.

  8. Ek is skoon uitasem so besig is jy! Sterkte!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis die ding, jy sien, ek is altyd besig en my gô is uit wanneer dit donker word, maar is ek besig met iets wat waarde toevoeg aan my en ander se lewens? Of moet ek nou leer om terug te sit en lui te wees sonder om skuldig te voel? Dis nou waar my stryd lê.

      • Ek verstaan … maar soms is die feit dat mens rustig is ‘n ander manier waarop on waarde toevoeg aan ander se lewens ,,, net om rustig te luister is ook nodig… grinnik… eish slaan die onderwyser deur.

  9. Dit was nou ‘n goeie dag. Glad nie vervelig nie. Ek het altyd gestryk met die musiek kliphard en ‘n glas wyn. Baie lekker gewees. En ek sal liewer deur ‘n hadida of kolgans of tarentaal wakker geraas word as my buurman se aaklige slymhoes in die oggend. (die vreugde van woonstelbewoner). Ek wag in spanning vir die “meer besonderhede later”

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Og, daardie slymhoes het ek beleef in ‘n voorstad met groot erwe. Ek sidder om te dink hoe klink dit in ‘n woonstel. Ja, ek moet by daardie “latere besonderhede” uitkom en iets daaromtrent doen, maar ek is die meester van uitstel.

  10. Mensig, jy het omtrent gewikkel. Dis baie moeilik om ontslae te raak van die skuldgevoel dat jy “niks” doen. Na amper twintig jaar met pensioen voel ek steeds ongemaklik as iemand vra wat ek gedoen het vandag. Hul maak asof mens niks doen nie in tussentyd het jy bv hier bewys dat jy nie niks gedoen het nie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Presies. Dit moet iets te doen hê met die feit dat ek nie elke dag douvoordag opstaan en regmaak om kantoor toe te gaan nie. Veertig jaar se gewoontes en roetines is diep ingewortel.