Ek het so entoesiasties kommentaar gelewer op die ander bloggers se poste van hierdie bloguitdaging dat almal by hierdie tyd seker al weet watter soort eetgoed ek in my yskas aanhou. Volgens my man is dit nie juis veel nie – hy neem natuurlik nie die yslike groot vrugtebak wat hy twee keer ‘n week leeg eet in ag nie. Ook nie die kaas en kouevleise bo in die yskas wat net so fluks verdwyn nie. Ek probeer hom speen van sy suikergewoontes en ja, ek weet vrugte bevat ook baie suiker, maar vrugtesuiker is tenminste natuurlik.
Al wat hy raaksien is blare, blare, blare – volgens hom. Ek en Karen is baie lief vir slaai en eet dit saam met enige soort gekookte kos of sommer net so as ‘n ligte maaltyd. Dan is daar ook groente, insluitende die “alewige wortels” waaraan hy ‘n hekel het, maar wat ons as ‘n prima knibbeldingetjie beskou. En geen kerrie of bredie kan lekker wees sonder gesnyde of gerasperde wortels nie.
Ná die vorige winter (wat ‘n ewigheid geduur het) en toe Kersfees en Nuwe Jaar, opgevolg deur Oudste se jaarlikse vakansie by die huis, het almal van ons se gewig ietwat swaar begin trek en die afgelope drie maande hou ons slegs eetgoed aan wat nie onnodige kilojoules bevat nie. Dis waaroor Pa nou so mor, want daardie rakkie waar die ou soetgoedjies behoort te wees, bly meedoënloos leeg. En die heerlike vetvleisgeregte waarna hy smag, is glo nog net ‘n vae herinnering.
Dan is daar die “ou spul botteltjies en bakkies”. Die meeste daarvan is natuurlik Karen se rissiesouse (ek loop ook ‘n draai verby hulle), die kruie-pestos en kerriemengsels wat bietjie geur en smaak verskaf, en dan natuurlik my gesondheidsvoedsel. Yohurt, kefirmelk en sauerkraut (eintlik alle gefermenteerde groente – “pickles”) bevat probiotika: lewende bakterieë wat die voordelige bakterieë wat normaalweg in die spyverteringskanaal voorkom, aanvul. Dit help glo met die werking van die dermfunksie, diarree, hardlywigheid en flatulensie. Dalk. Ek hou in elk geval van hierdie tipe eetgoed, so as dit vir niks help nie, geniet ek dit darem. So, nou weet julle, ek hou ook hierdie boereraat-middels in my yskas aan. Ek het al voorheen belowe om te wys hoe maak ons sauerkraut en ek sal sommer die resep hier onder gee.
Ek is darem bly om te rapporteer dat ons klere nou weer pas. Wel, die meeste daarvan. Die winter lê voor en ek gaan sielsongelukkig wees as ek nie in my jeans en sweetpakke inpas nie.
Sauerkraut
Die bestanddele is baie eenvoudig: een kopkool en ‘n eetlepel vol ongejodeerde sout. Jodium verhoed die vorming van probiotika. Ek gebruik Himalayan kristalsout. Jy het ‘n skerp messie nodig en ‘n bottel wat groot genoeg is om die fyngesnyde kool in te stop. Hierdie bottel werk met ‘n airlock wat deur ‘n grommet in die deksel gedruk word. Daar word ‘n bietjie water in die airlock gegooi, want die gasse wat gedurende die fermentasieproses gevorm word, gaan deur die airlock ontsnap, terwyl die water daarin verhoed dat lug van buite af in die bottel opgeneem word.
Gaan was nou eers jou hande, nè. Toe, toe, toe! waarvoor wag jy? Jy hoef nie die bottel te steriliseer nie, want botulisme (voedselvergiftiging) vind nie plaas in pekelwater nie. Was die bottel sommer saam met jou hande in seepwater en laat staan om droog te word. As jy dit nou wil steriliseer, sorg net dat die bottel koud is voordat die kool daarin beland. Sny nou die kool op. Ek hou van myne baie fyn gesny, maar dis ‘n persoonlike keuse. Gooi dit nou in in ‘n skoon bak en kry jou skoon hande daar in. Druk die kool stukkend (crush dit) en voeg dan die sout by. Sorg dat die sout goed versprei is. Hierdie proses trek die water uit die kool. Ek gooi nie nog water by die kool nie, maar indien nodig kan die water wat die kool vrylaat, aangevul word met gedistileerde soutwater. Bedek nou die kool met ‘n gaasdoek en laat staan vir ‘n paar uur. Ek woel dit so elke dan en wan weer deurmekaar.
Laai nou die kool oor in die bottel (met skoon handjies, nè) en druk dit goed vas onder in die bottel. Kyk na die hoeveelheid water wat die kool vrygelaat het! Ek gooi so ‘n paar stukkies knoffel ook in die bottel, maar dis opsioneel. So ook swart peperkorrels of dalk ander kruiesade. Hierdie kool gaan nou lekker uitswel tot omtrent twee keer die hoeveelheid, so as jy besluit om die bottel te vul, laat genoeg spasie oop bo, anders gaan jy elke dag bo moet uitskep en solank begin eet. Fussy kokke sal voorskryf dat jy ‘n gewiggie bo-op die kool moet sit om te sorg dat dit onder die water bly, byvoorbeeld ‘n plastiesakkie gevul met gedistilleerde water. Ek bodder nie en my kool bly klam.
Maak nou die bottel toe en onthou om water in die airlock te gooi. Hierdie bottel het ‘n swartbord waarop jy die datum en ander notas met bordkryt kan skryf – dis belangrik vir my, want ek vergeet hoe lank die kool al in die bottel is. Die bottel sal so elke nou en dan winde opbreek. Ek laat myne die eerste twee nagte in die wasbak staan, ingeval dit ‘n bietjie oorkook. Die kool word vir ongeveer 5 dae in ‘n warm plek laat staan (hier by my beteken dit sommer die kombuistoonbank) en dan kan jy die sauerkraut in kleiner bottels in die yskas bêre vir 6 – 12 weke.
Ek eet graag sauerkraut saam met soet en suur varkvleisgeregte, maar ek skep sommer so elke nou en dan ‘n klompie uit en eet dit net so – dis ‘n heerlike versnapering. Ek moet egter let op my sodiuminname en ek spoel eers die kool onder die kraan af, sommer in my teesiffie. In die proses gaan daar dalk ‘n bietjie probiotika verlore, maar daar behoort genoeg oor te bly om my maag gelukkig te hou. Probiotika gaan egter verlore wanneer die voedsel aan hitte blootgestel word, dus kan die kool of ander gefermenteerde voedsel, nie gekook word nie.
Ek wou nog vertel het van my kefirkulture, maar hierdie blogpos is reeds te lank. ‘n Ander keer dus.
Lees ander bloggers se bydrae tot hierdie bloguitdaging by die volgende skakel:
https://fresh.inlinkz.com/p/f651aca5342f4bb9afec003e5aab6321
Bloggers wat nog nie voorheen deelgeneem het aan ons Lê-Jou-Eier bloguitdagings nie: Om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings.
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Ek ruil jou peppadews vir Sauerkraut!
HesterLeyNel
Akkoord. Ek lief daai ook – ons groei hulle en paprika hier agter in ons tuin vir slaai.
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Ek stuur vit jou lekkerste piekel sous.
HesterLeyNel
🤗
perdebytjie
Dit klink nogal na baie werk, Hester. Ek is bitterlik lui as dit by kosgoed kom.😳😄
HesterLeyNel
Nee, dit is nogal nie. Dink jy ek gaan kos maak wat baie moeite verg? Ek loop liewer sulke wilde draaie om die kombuis. *fluister – ek het darem ‘n dogter wat uithelp met die opsny en so aan …
Kameel
Wat is kefirmelk? Volgens spesialis moet ek elke dag probiotika kapsules drink…maar al die maandelikse aanvullings kos net te veel. Ek eet ‘maandeliks n houer of twee volroom ongegeurde yogurt….waarby ek natuurlik suiker gooi…en hoop dit doen die ding.
HesterLeyNel
Kefir is ‘n kultuur wat jy kweek. Dit lyk amper soos ‘n miniblomkoolplantjie. Ek sal vir jou fotos plaas. Hulle groei en vermeerder in volroommelk en maak terselfdertyd die melk suur en dik. Gooi die melk deur ‘n sif en gebruik weer die kultuur vir ‘n volgende bottel melk. Jy kan die melk net so drink of gebruik in smoothies – ons verkies om dit in kos te gooi, byvoorbeeld as ‘n sous oor groente. Die ding is net, jy kan dit nie blootstel aan te veel hitte nie – as jy dit kook, gaan die probiotika dood. Jy kan die aanvanklike kultuur koop, maar vra liewer rond onder vriende en kry ‘n stukkie verniet, want dis nogal duur om te koop. As dit eers aan die gang is, betaal jy net vir jou melk.
Kameel
Ooooo ek en my vriendin het dit op ‘n stadium gedoen….die “plantjie” by haar gekry. Dit het net later so slymerig geword toe gooi ek dit weg 🤔
HesterLeyNel
Jy moet jou plantjie oppas en liefhê! Myne is al amper ‘n jaar oud. Spoel hom af in water na elke gebruik en gee vir hom ‘n bietjie skoon melk om in te rus as hy nie werk nie. Ons s’n “rus” soms in die yskas wanneer ons te lui is om vars volroom melk te gaan koop – hy gee nie om vir volroom boksiemelk nie.
Kameel
Ek doen nie goed met potplante nie….nie eers hierdie plantjie wou floreer nie. Hy het darem ‘n hele paar maande gehou. Dankie vir al die raad 😊
Positief
Help dit vir flatulensie of help dit flatulensie aan?
Dankie vir die resep
HesterLeyNel
Dis veronderstel om te help, maar ek weet wat jy bedoel – kool …
dromer777
My aarde ek het altyd gedink dit kry asyn in
Rob Alberts
Ik vind zuurkool ook erg lekker.
Vrolijke voorjaarsgroet,
HesterLeyNel
😊 Dankie vir die inloer Rob
rondomtaliedraai
Neeee dit klink heeltemal te gesond… die stomme man.
HesterLeyNel
Hierdie stomme man is baie bedorwe. Iemand moet halt roep en na sy gesondheid kyk.
rondomtaliedraai
Sug… net nie te kwaai nie
HesterLeyNel
Ek sal jou simpatie aan hom oordra 😊
rondomtaliedraai
🙂
Kameel
Ah Tina jy laat my lag. Ek sê ook arme man….maar nnet omdat dit nie myne is nie. 😂😂😂
rondomtaliedraai
Ek stem
scrapydo2.wordpress.com
My loseerder het suurkool gemaak, ek het nie te veel van sy eerstes se smaak gehou nie. Kannie onthou wat hy ekstra daarin gesit het nie, ek weet wel dit was iets vreemds. Kefir ken ek ook en het n lang ruk dit gemaak en gebruik. Ek moes n vriendin s’n oppas of versorg terwyl sy vakansie gehou het sodoende het ek vir my my eie “geteel”. My yskas het nie jis iets spesiaals in nie. Altyd yogurt dis al.
HesterLeyNel
Ons eet ook graag yogurt, maar dan net die Bulgaarse yogurt. Ek koop nie die fat free of low fat soort met vrugte in nie. En dis ‘n probleem, want jy kry regtig weinig lekker yogurt op die winkelrakke. PnP double cream verskyn so nou en dan of anders moet ons by Woolies gaan koop daar in Shelly Beach.
scrapydo2.wordpress.com
Ons het hier ook n meer natuurlike yogurt wat geen suiker of ekstra ander goed by het nie. Ek gebruik dit meeste van die tyd want ek eet elke oggend n weet-bix met so 3-4 lekker groot lepels yogert en n bietjie kaneel daaroor.
HesterLeyNel
Met kaneel. Dis nou slim – ek het nog nooit daaraan gedink nie. Ek het juis vanoggend gesit en lees oor kaneel (die verskil tussen Ceylon Cinnamon en Cassia Cinamon). Ons gebruik kaneelstokkies in die kerrie en het gister in die winkel gestaan en stry watter een die beste is. Interessante artikel https://blog.paleohacks.com/ceylon-cinnamon/#
scrapydo2.wordpress.com
Die kaneel verdun glo die bloed dan hoef jy nie asperien(waarvoor ek allergies is) te gebruik nie. Nie geweet daars nog twee verskillendes nie.
HesterLeyNel
Ek loop versigtig om bloedverdunners, want ek bloei sommer maklik. Ons het verlede week ‘n stir fry gemaak en tamarind ingegooi. Dis ‘n Indiese geurmiddel, effe soet en smaak heerlik. Nooit geweet dis ‘n bloedverdunner nie en in die middel van die nag het my neus begin bloei. Nou lees ek eers weer al die etikette.
scrapydo2.wordpress.com
A, goed ek het vir jou vertel. Dis interessant van die bloeiery!
Bondelsgedagtes
Oe ek love sauerkraut veral tuisgemaak. Myne het nie so lekker uitgekom soos ek al geproe het nie maar gaan beslis weer probeer..
HesterLeyNel
Het jy ook Duitse of Hollanse bloed in jou are? Ek het albei. Die Hollanders noem dit zuurkool en ek sien die Afrikaanse vertaling is suurkool. Heerlik by ‘n soet vleisgereg.
Bondelsgedagtes
Baie lekker, dalk is ons nog familie
aj vosse
En toe dink ek daai boonste foto se bottel maak bier! Ai… gee tog vir daai man sy vetvleis… dis tien keer meer gesond as die suiker in vrugte! 😉 Ja… dis die ryne waarheid… vra gerus vir Prof Tim Noakes!! 🙂
HesterLeyNel
Ja, ek hoor wat die banters vertel. Ek kook wel soms vir hom beesstert en skaapribbetjie, maar ek soek nie daai vet in my dieet nie. Dit werk nie lekker met my gestel nie.
aj vosse
Laai hy sy eie vleis loop braai as hy dan vleis soek!! Yum, yum… LEKKER!! 😉
Olga
Ek lief ook sauerkraut. Maak soms ‘n bietjie kimchi en eet dit alleen op. Ek soek ‘n kefir plantjie waar kan ‘n mens dit koop. ‘n Dame by die boeremark het my een belowe, maar o, aarde, sy vergeet altyd. Dis nie asof ek dit gratis wil he nie, sou by haar gekoop het.
HesterLeyNel
My seun het vir my ‘n whatsapp demonstrasie gedoen van sy kimchi-resep. Nou water my mond weer. Ek het sommer op een van ons menigte KZN-facebookgroepies gevra vir kefir en dit verniet gekry. Ons s’n het al so aangeteel dat ons dit onder die bure begin uitdeel het.