Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

My eiers

Woordsnoere 2: Hierdie storie gaan reg deur die see

Ons is vroegoggend by die see. Dit het gister en verlede nag gereën. Vanoggend is dit nog bewolk, maar die wind is stil. Die oppervlakte van die getypoel is spieëlglad en die water vou soos ’n koel kombers om my.

Die strand is stil so vroeg in die oggend. Ons is die enigste mense in die omtrek. Ek dryf op die water rond en hoor vaagweg die branders saggies ruis agter die lae muur.  Die ervaring is esoteries: die stilte in die poel, die amper beweginglose water, die gevoel van gewigloosheid – ek voel soos ’n nimf in die water. Ek wens ek kon dig, ’n lofrede skryf om hierdie perfekte oomblik te beskryf.

Later sit ons stil op die muur, met ons voete in die helder water. Ons hou die seediertjies dop wat in die vlakker poel woon.  Daar lê ’n skelet van ’n krappie op die goue seesand wat inspoel met hooggety en kompak bly onder die drukking van die water. ’n Swetterjoel klein kolvissies swem al om ons voete en verskaf ’n gratis pedikuur. Daar is een seepampoentjie wat al teen die muur langs kruiploop agter kossies aan. Karen vryf ’n klein mollusk met ’n pragtige spiraalvormige skulp van die muur af om die seepampoentjie te voer. Ons raak verlore in die oomblik en sien nie onmiddellik die vreemdeling in ons midde nie.

Dis ’n jong seun. Mooi van aansien. Sy bruingebrande bolyf die soort waaraan ek ’n ode kan wy.’n Triton wat uit die water gestap het? Die bekende soet reuk hang egter aan sy asem en lyf. Die lyf wat bedek is deur tatoeërmerke. Sien, die pupil binne die iris so blou soos die see, is die grootte van ’n speldekop. ’n Moegoe wat ons kan gaffel met sy blote teenwoordigheid?

Hy groet vriendelik. Ek en Karen koukus onderlangs en groet net so vriendelik terug. Ons het niks by ons nie, behalwe die sleutel van die klein karretjie. Nie ’n skedonk nie en daarom word die sleutel, wat ook kan dien as handige wapen, altyd versteek onder die strandhanddoek. Ons staan op, klim uit die water en beweeg effens weg van mekaar af. Selfverdediging vanuit twee rigtings.

Hy sê hy het ’n geskenkie vir ons. Hy maak besondere klippies bymekaar en wil graag vir ons ’n spesiale een as geskenk gee. Ons glimlag bemoedigend. Palielie is ook ’n effektiewe manier van verdediging. Hy gaan sit op die muur en begin ’n klein bondeltjie papier ooprol. Ek beweeg agterom hom en kyk oor sy skouer. Karen bly voor hom staan. In die Diereriem val ons onderskeidelik onder die teken van die Leeu en die Maagd, rolle wat ons nou bewustelik vertolk, want nie een van ons is meer ’n idealis nie.

Hy skil die stukkies papier een vir een af om ’n klippie te ontbloot. Begin dan om die volgende bondeltjie oop te rol. Hulle is versigtig gepak, soos kleinnode. Hy oorhandig drie klippies aan Karen. “Wag,” sê hy, “ek wil vir julle ’n baie spesiale klippie gee.” Hy grawe in sy broeksakke rond, haal nog ’n bondeltjie uit en gee vir Karen nog twee klippies. “Ek het dit by ’n meisie gekry op die strand langsaan en dit begrawe, maar nou het ek dit uit die sand gehaal en voel daarom vir julle te gee.” Sy hele gesig straal.

Begrawe. Soos wat ’n brak ’n been begrawe. Iets wat hy later weer kan opgrawe en geniet.

Ons bekyk die klippies om die beurt. Straal terug en bedank hom baie hartlik. Maak dan verskoning dat pa op ons wag en loop stadig weg. Kyk kort-kort om en waai weer vriendelik. Agter die naaste groot rots staan ons ’n oomblik stil om weer na die klippies te kyk. Klippie is nie eintlik die regte woord nie. Elke klippe lyk meer soos ’n snipper van die sement in die muur van die getypoel. Maar dit was sy kleinnode wat hy gevoel het om vir ons te skenk.

Ons kyk weer terug, maar sy aandag is nou by die poel – hy het vergeet van ons.

Ek is jammer dat ek so teen jou ageer het, Boeta. Miskien is ek heeltemal verkeerd oor jou omstandighede. Dan moet jy asseblief nie aanstoot neem nie. Vooroordeel is ’n lelike ding. Miskien is ek reg en sal jy ons teen môre nie eens meer onthou nie. Ek weet ek sal jou onthou.

Maar jy het my herinner aan ’n ander jongeling wat my, jare gelede, een aand na werk net buite my parkeerplek genader het om R20 te bedel. Ek het geweier, effens kortaf, want ek het presies geweet waarvoor hy die R20 wou gebruik en ek keur dit nie goed nie. Maar ek is ’n ma en sy bruin oë het geswem in die trane, daarom het ek later na hom gaan soek. Ek het om en om die straatblok gery, maar ek het hom nie weer gesien nie.

Ek het hom ook nooit vergeet nie.

Eina! Die gedagtes wat ek so lankal opkrop, maak my keel seer. Vannag gaan ek nie goed slaap nie, al ruis die branders so saggies buite die muur. Ek het ’n huisie by die see en ek sê vir myself:

[Hier] binne is dit veilig, warm en dig.
Kom nag, kom weer en wind, kom oseaan
dit is ‘n rots waarop my huisie staan.

Lirieke: Ek het ‘n huisie by die see – Laurika Rauch

Maar daar buite is daar mense wat in die koue staan.

Hierdie storie gaan reg deur die see – glo maar elke woord daarvan.


Wil jy saam woordsnoer? So maak mens :

Jy kan ‘n enkele woord as inspirasievonk gebruik of al die woorde – nes jy lus het.

Skryf dan jou blog. Maak seker om die woord(e) in vetdruk (bold) aan te dui in jou skrywe.

Onthou om die prentjie hierbo en ook die skakel hieronder in jou bydrae in te sluit. En moenie vergeet om jou bydrae op Inlinkz te gaan aanhaak nie!

https://fresh.inlinkz.com/p/fc81e88db2e742a4bc7e4b37c8f99154

Speel en dink en verbeel en skryf met ons mooiste taal.

Lekker snoer.

Follow Dis Ekke

16 Comments

  1. Reg deur die see, tot in my hart. Ek voel jou woorde.

  2. Pragtig geskryf Hester. En ja mens voel die seer.

  3. Eina…

  4. Skrynend hartseer…en sulke ontmoetings is nog erger as mens ‘n ouma is!

  5. Pragtig geskryf, Hester. Gevoelvol.

  6. Sjoe Hester, dis aandoenlik geskryf! Dis tog so jammer dat ons ons medemense nie kan vertrou nie en altyd die ergste verwag. Ook tragies dat ‘n jongman in so ‘n toestand is…wat ‘n vermorsing. Soos jy sê, dit gebeur oral.

    • HesterLeyNel

      Dankie Bytjie. Ja, hier sien ons dit nie so gereeld nie – nog nie. Ek onthou toe ek destyds in Johannesburg gewerk het – ons het weinig kere gewaag om ons kampus te verlaat juis as gevolg van hierdie probleem.

  7. woordnoot

    Woordloos…pragtig geskryf en met soveel empatie…

  8. Dit is jammer dat ons altyd voel dat ‘n mens nie ‘n ander kan vertrou nie.

    • HesterLeyNel

      Dit is Xena, maar ongelukkig was daar al ‘n hele paar voorvalle van mense wat op die strande aangerand word. Ons is uitermate versigtig, veral omdat ons soms by afgeleë plekke rondkuier. Ons hou van die stiller strande waar die siel rustig raak.

      • Ek verstaan ten volle. Mens kan nie te versigtig wees nie. Ek het een aand na my kar in ‘n parkeerarea geloop. Ek het skielik gehoor hoe iemand begin hardloop en by voorbaat my handsak vasgeknyp en voorberei vir ‘n groot bakleiery. Die man hardloop toe verby my. In die hardloop vra hy groot om verskoning – hy moet hardloop vir sy vervoer. Hy wou nie my handsak steel nie. Ek was natuurlik die eier, maar mens weet nooit.

        • HesterLeyNel

          Dit is ‘n jammerlike toedrag van sake.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: