My vreugdes en frustrasies

My eiers

Ag, en hy wou toe nooit my kêreltjie wees nie

Na 60+ jaar moet ek nou die feit in die oë kyk dat die kêreltjie wat ek so graag wou gehad het op my tere ouderdom van sewe jaar, ‘n skarminkel was.

Hierdie week se bloguitdaging handel oor daardie Valentyn of Valentynsdag wat jou nog steeds laat bloos van verleentheid. Om ander bloggers se inskrywings te lees, volg hierdie InLinkz skakel: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=816460


Ek het my oog op hierdie outjie gehad vandat ek die eerste dag in my Sub A-klassie ingeloop het. Ja, daardie was nog die dae van substanderds. Van grade het ons eers baie later eers verneem. Van Valentynsdag en Valentynsgeskenke het ons nog minder geweet. Ons het wel geweet dat dit BAIE BELANGRIK was om ‘n kêreltjie te hê wat pouses sy toebroodjies met jou deel en vir jou briefies in die klas aanstuur.

Soos gewoonlik, was my visier weer te hoog gestel en ek het my nie aan klasmaatjies gesteur nie. Nee, ek het net belanggestel in daardie Standerd 1 outjie met die blonde hare en blou oë wat ‘n bars kan kyk. Ons paadjies het heel dikwels gekruis buite skooltyd, want ons pa’s was vriende. Hy het dikwels oor naweke by ons huis opgedaag, om aandagtig langs die groot kombuistafel te luister na my ouer broers se gesprekke. Hy het soms met my ‘n woordjie gewissel oor skoolwerk en onderwysers, selfs by die biblioteek aangesluit waar my ouer suster ons voorgestel het aan meer gevorderde leesboeke. Sy maniere was onberispelik.

Natuurlik het ek aangeneem dat hy my maatjie was en by my kom kuier het. Ons was immers (amper) dieselfde ouderdom en die groter kinders het hulle skaars aan ons gesteur. Ek was ‘n laatlam, gebore uit my pa se tweede huwelik. My drie broers was so tussen vyf en nege jaar ouer as ek, dus nie te erg nie, maar my (half)suster moes op daardie stadium agtien of negentien gewees het.

Groot was my vreugde toe beide ek en die kêreltjie uitgenooi is vir die verjaardagviering van die burgemeester se jongste spruit. By die partytjie het die ouer meisies, waarvan my suster een was, toesig gehou oor die speletjies. Alles het goed gegaan totdat dogtertjies en seuntjies geskei is vir ‘n volksdans. My (gewaande) metgesel het botweg geweier om my hand vas te hou. “Sy’s te lelik,” het hy kliphard vir my suster gesê. “Hoekom kan ek nie liewer met jóú dans nie? Jy is so mooi!”

Die ergste van alles is, ek moes saam met hom stem, my suster was onteenseglik die aantrekliker opsie. Geen meisie is ooit weer so mooi soos op agtienjarige leeftyd nie. Bowendiendien het sy my pa se raafswart hare geërf, wat saam met die sagste paar blou oë haar hartvormige gesiggie beeldskoon gemaak het. Ek het háár nooit kwalik geneem vir hierdie uiters publieke vernedering nie, maar daardie blonde klein bliksem het my vir die res van my lewe afgeskrik van mans met blonde hare en blou oë. En ek het uit my hart uit lekker gekry toe my suster op ‘n jong ouderdom met haar aantreklike man getroud is en ‘n klein nege-jarige hartjie aan skerwe laat spat het.

Laat gáán, Hester, laat gáán.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

27 Comments

  1. woordnoot

    EK het ook nogal n hekel aan blonde mans met blou oë……dalk omdat ek ook deurgeloop het onder daai look!

  2. Vertrou dat jy nou alles weggeskrywe en laat gaan het…

  3. Hierdie is vir ousus geskryf:
    “Had je niet die mooie blauwe ogen,
    Had je niet dat raafw swarte haar!
    https://www.youtube.com/watch?v=lOrrg8KeIVw

  4. Ag Hester, dis die oulikste storie, man!!! Maar moenie vergewe en vergeet nie, hy verdien dit steeds nie…😘

  5. Dit kon nie lekker gewees het nie.

  6. Mislike vent! 🙁 Hoe kwaad is ek nou!

  7. Dit was lekker lees. Miskien het ons almal so storie in die kas, ek wil nie myne graag opdiep nie, maar wat ek wel kan sê is ek darem getroud met die beste man, donkerkop en bruin oë… Jip, ek het ook al die blonde, blou oë ding ervaar. Miskien sou ek nie my man so baie waardeer het as dit nie was vir die ander skarminkels nie.

  8. Wees verseker, hy is vandag bles, met ‘n boep!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Haha, dankie Bytjie, jy laat my beter voel, hoewel … sy pa was darem ‘n vreeslike aantreklike man, noudat ek daaraan dink.

  9. Ha ha, die ouens wat kommentaar lewer het geen genade vir die “arme blikskottel” nie! ek is weer n ou wat eintlik gladnie van bruin oe hou nie. Daar is iets wat my afsit daarvan. Ek kannie onthou of daar dalk n storie agter die bruin oe is nie. Ek het darem nou sommer lekker gekry vir die manier waarop die outjie dalk sy moses tee gekom het! Soos Bytjie se: kaal kop en yl haartjies met n boepie!

  10. Hester ek het nie jou storie gesien nie….net die uitdaging. Dog nogal so ewe Hester laat ons ons harte oopmaak…maar self sê sy niks. Ek het hierdie nou so geniet….nie jou verleentheid nie…maar die storie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Kameel – ek was so ‘n bietjie laat met die inskrywing. Soms het tyd net die manier om met my weg te hol.