My vreugdes en frustrasies

My eiers

Die groen bus dwaal rond in die berge – Dag 4

Die Towerinne se giggelgroen bus

Hierdie blogpos is deel van die fiktiewe Kuier-Safari toer wat deur 14 bloggers onderneem word en is ‘n vervolg op Die groen bus ry tot in Springbok – Dag 3. Alle fotos gebruik is private eiendom, behalwe waar spesifiek anders aangedui.

Lees vorige bydraes deur die verskillende skrywers by hierdie InLinkz skakel  http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928.


Die groen bus verlaat vandag Namakawaland en die Noord-Kaap, maar eers gaan ons in die berge ronddwaal voordat ons in Kaapstad aanland.

Clanwilliam

Ons vertrek douvoordag vanaf Vredendal. Heel gou babbel almal opgewonde oor die pragtige omgewing van Clanwilliam waar ons van die bus af sitrusboorde kan sien, asook die Clanwilliamdam. Twee van die dam se sluise is oop en dit maak ‘n pragtige prentjie.

Pakhuispas

Ongeveer 20 km wes van Clanwilliam bring ons ‘n vinnige besoek aan die Pakhuispas waar ons die graf van C. Louis Leipoldt besoek. Leipoldt het geen bekendstelling nodig onder Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners nie. Hy was een van die bekendste Afrikaanse digters ooit en was ook bekend as dramaturg, mediese dokter, joernalis en koskenner. Hy was die kleinseun van die sendeling Johann Gottlieb Leipoldt, wat die Wupperthal sendingstasie in die Sederberg gestig het. Sy asse is begrawe aan die voet van ‘n grotopening in die Pakhuispas. Ons het ons verwonder aan die pragtige rotsformasies. En ek het saggies aangehaal uit ‘n gedig van Leipoldt:


‘n Handvol gruis uit die Hantam –
My liewe, lekker Hantam-wyk!
‘n Handvol gruis en gedroogde blare,
Waboom-blare, ghnarrabos-blare!
Arm was ek gister, en nou is ek ryk.

C. Louis Leipoldt

Piekenierskloofpas

Terug op die N7-hoofweg op pad na Kaapstad ry ons feitlik parallel met die vloei van die Olifantsrivier, verby Citrusdal en oor die Olifantsrivierberge. Op die foto wat verkry is vanaf Google Maps, kan duidelik gesien word waarom hierdie berge vernoem is na olifante – die klipreekse lyk soos die vel van ‘n olifant.

Die Olifantsberge – foto verkry vanaf Google Maps

Die rit neem ons deur die Piekenierskloofpas waar ons stop vir middagete by die Kardoesie. Die borde kos wat voor ons neergesit word laat ons sondig teen ons liggame: bobotie, geelrys met rosyne, gestoofde vrugte, pampoen en groenboontjies. Na die middagete het ons elkeen ‘n sakkie ontvang waarmee ons in die nartjieboorde ingevaar het om vir onsself vars poeding van die bome af te pluk. Saligheid!

Die Swartland

Anderkant die pas, amper in die Kaap, het ons verby Piketberg, Moorreesburg en Malmesbury gery en ons vir oulaas verwonder aan die mooi van die Swartland. Hierdie streek is veral bekend vir die verbouing van koring, maar ons het ook die pragtige geel Canola-velde waardeer. Die landskap was kleurvol en sag op die oog.

Terug in die Kaap

Ons het gewikkel om by die Kaapse lughawe te kom, want dit is waar Lekkervurig weer die leisels oorneem. Wat sou sy vir ons beplan het? – ek kan nie wag om te sien nie.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

23 Comments

  1. Mmmm, daardie middagete by Kardoesie was al my gunstelingkosse bymekaar! Dis nie sonde nie, Hester, dis net groot lekkerte 🙂

  2. O, Hester. Onse land en daai terugry Kaap toe deur jou oge…dis mooi en nou het ek alweer ‘n oorwurm, ‘n Leipoldt-ene! Ek kan nie besluit of Elvis Blue of Gert Vlok Nel se liedjie-weergawe op herhaal moet speel nie! Lekker, lekker towerin-toerin ek tog nou weer as ek wil/moet werk. Ag die berge, die geel canola, die bloue lug…..

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek kan jou nie help met daai keuse nie. Persoonlik sou ek ‘n dieper stem verkies het (een met meer gruis in) – wonder of Refentse dit sal kan lewer soos wat ek daarvan hou – passievol!

  3. Dankie ek het lekker gelees

  4. So ‘n lekkerte…ek was verlede jaar in September presies op daardie roete, dus kon ek dit nou weer heerlik saam met die Towerinne beleef, dankie Hester!

  5. Nou is ek net honger.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Moenie praat nie, en ek het die laaste 3 kilos van die vakansievergrype waarmee ek nog moet plan sien.

      • Haha! Darem net 3. Ek het 5! 🤦🏼‍♀️😅

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek het 5 gehad en amper die piep gekry, maar sommige daarvan dateer al van die winter af. Noudat die weer verbeter het, kry ek heelwat meer oefening en my kakebene werk minder. My gewig en die weer is baie nou verbonde, maar as jy eers ‘n kilo opgetel het, moet jy hard werk om weer van hom ontslae te raak.

        • Dit is so! Ek het my 5 oor ‘n jaar opgetel, maar dit is soos jy sê. As die eerste een eers op is volg die res vinnig. 😅

  6. Ek lief lief lief Kardoesie. Ons het verlede jaar by Citrusdal gekamp op ń plaas. Die kampterrein is tussen die rivier en die lemoenboorde, groot lekkerte. Daar was nogals ń hangbrug ook, Towerinne. Clanwilliam het sy eie bekoring. Sal bietjie daai pas moet gaan ry en die graf bexoek. My gedagtes dwaal juis so rondom C. Louis Leipold vadat daardie pragtige plek afgebrand het by Wupperthal. Dankie Hester dit was nou ń groot lekkerte.
    Die nartjie pluk het my weer terug geneem Groot Marico en my kinderdae toe.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      So, jy het in oom Schalk Lourens se wêreld grootgeword! Ek ken die Groot Marico net deur Bosman se pen. Ja man, daardie ongelooflike skade in Wupperthal – dit breek ‘n mens se hart.

  7. Ek begin voel asof ek hierdie dele van die land van voor af ‘sien en beleef’ op ons bustoer!

  8. Dit was n heerlike reis so deur die mooiste mooiste Kaap. Daardie etery het my ook nogal laat dink aan die gewig wat weer moet afkom op die einde. Ons het nie veel tyd vir oefeninge so met die ryery nie. Is daar nie een van ons Towerinne wat n goeie programmetjie kan uitwerk wat ons so saam-saam elke oggend voor die volgende rit kan dooen nie? Ek vra maar!

  9. Dankie Hester, ek ken daai wêreld glad nie en deur jou skryses en fotos het ek besluit dat ek die moet gaan sien vir myself
    NS – Towerin kos maak nie vet nie

  10. Ek het net vinnig kans gehad om oor die groen bus toer te lees. Ai, dis my gunsteling wêreld wat jul besoek het. Jy moet gaan kyk, ek het ook die pragtige Wuperthal en daardie mooie wêreld gaan besing. Blykbaar kan mens nie anders nie. Dit klink na ‘n absolute heerlike toer. Wanneer ek bietjie stil sit sal ek graag meer wil lees. Dis lekker om jou te ontmoet het.
    Dankie vir die re-blog.