My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Middelkind en sy ma by die supertube in Maselspoort

Ek wonder tog of Maselspoort daar in die Vrystaat, op die wal van die Modderrivier, nog steeds ‘n supertube het. Ek was eergister saam met Oudste en Karen by die Ushaka Marine World en natuurlik het ons ‘n draai gaan maak by die waterglybane en swembaddens ook. Dit was ‘n aangename ondervinding, nie te spanningsvol nie, want Middelkind was nie daar om sy ma se siel uit te torring nie.

Maselspoort

Middelkind is ‘n waaghals, hy ontsien geen geleentheid om sy ma se senuwees op hol te jaag nie en hy het die energie van twee jong leeuwelpies. Hy woon daar doer in Kaapstad en ons sien maar min van mekaar, maar eergister het ek die hele dag aan hom gedink. En aan Maselspoort.

Jare gelede (±1993), toe ek nog baie jonger was en my telgies onderskeidelik 14, 13 en 8 jaar oud, het ons ‘n hele dag by Maselspoort deurgebring. Dit was destyds ‘n gewilde ontspanningsoord met ‘n swembad, trapbootjies op die dam en ‘n supertube.

Ek het vir my ‘n handdoek oopgegooi op die grasperk en begin werk aan ‘n egalige sonbrand terwyl die telgies supertube gery het. Maar die vrede was van korte duur. Middelkind het begin neul dat sy ma moet kom saamry. Oor my dooie liggaam. Daai tube was ‘n toegemaakte plastiektonnel – geen uitsig nie – en hoër as my hoogtevrees, nouer as my engtevrees. Nee!

Maar Middelkind het doodeenvoudig heel bo in die supertube gaan staan en vir almal uitbasuin: “My ma is ‘n chicken! My ma is ‘n chicken!” Oor en oor, totdat al die ou omies in Maselspoort met hulle families opgedaag het om te kom kyk waaroor die lawaai gaan. En toe het ma die supertube bestyg.

Eers moes ek teen daardie verkriklike hoogte uitklim met staaltrappies. Teen die tyd wat ek bo gekom het, was my asem weg saam met my waagmoed. Toe het die opsigter my aangepraat oor die ontoelaatbare halssnoer om my nek – ‘n geskenk van my man met einste Middelkind se geboorte. Siende dat daar geen ander bêreplek was nie, het ek doodeenvoudig die diamantjie en ketting in my mond geprop en vasgebyt. Daarna moes ek op so ‘n klein blou matjie gaan sit en wag op so ‘n pisstraaltjie water om my weg te voer, al vinniger en vinniger. En ek kon nie eens my angs uitskreeu nie, want my mond was beslaan met goud en diamante. Al wat ek kon doen is om aan die blou matjie te klou en met toe oë te bid. Jip, nood leer bid.

Uiteindelik is ek by die mond van die pyp uitgespoeg in ‘n swembad sonder bodem. Definitief sonder bodem, want ek kon nie by die oppervlakte uitkom om my kop bo water te kry nie. “Hier gaan ek vandag versuip” was al gedagte wat in my kop rondgedwaal het.

Die volgende oomblik het ek ‘n ontsettende pyn oor my hele kop gevoel, maar … my kop was bo water en ek kon asem haal. Die pyn, het ek uitgevind, was te wyte aan Oudste wat besig was om my aan my bos gepermde hare uit die water te sleep, kant toe. Het ek gegil van die pyn? Nee, want wonder bo wonder het ek nog steeds my mondvol juweliersware veilig vasgebyt tussen my tande.

Ushaka Marine World

Nou hoe het ek my hierdie keer laat oorreed om weer die supertube aan te durf? Wel, hierdie een was ‘n oop pyp – met ‘n uitsig! – en is beskryf as ‘n baie “tame ride”. Dus het ek vol vertroue in die water geklim (geen matjie hierdie keer nie en niks behalwe winkeltande in my mond nie) en tot onder gegly met net so ‘n effense benoudheid om my hart.

Maar so waar as wragtag, sal jy glo – toe beland ek weer in dieselfde bodemlose swembad. En ek ondervind weer dieselfde onbeskryflike pyn in my kop. Hierdie keer het Oudste my toe darem nie nie aan my hare uitgesleep nie; hy het my mooi netjies uitgelig, maar ons het almal vergeet van die verpestelike seer oor met die grommet en nou, NOU, na al daardie pyn is ek finaal klaar met supertubes.

Hoor jy my daar onder in die Kaap? Jou ma is ‘n chicken. Onthou dit wanneer jy Juliemaand kom kuier.

Andersins was die Ushaka Marine World regtig die moeite werd om te besoek. Hieronder is ‘n paar fotos wat ons in die akwarium, dolfyne-stadium en waterpark geneem het.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

41 Comments

  1. I think you are brave.

  2. woordnoot

    Jy is wragtag nie n chicken nie…enige een bo 30 wat daai tubes aandurf is als behalwe….jy is een dapper vrou!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Die snaakse ding, Woordnoot, is dat ‘n mens se kinders nie raaksien as jy ouer word nie. Hulle maak wel toegewings as jy daarvoor vra, maar andersins verwag hulle van jou om by te hou. My arme voetsole is deesdae so sag dat ek soos ‘n padda rondgehop het op die warm sement, tot hulle verbasing, en eers toe ek verduidelik het hoe my OU voetsole brand, het hulle plan gemaak om my te help.

      • woordnoot

        Jy is so reg….

      • Ek ondervind dieselfde met my kinders wat skoon onder my uitloop as ons net n entjie gaan stap. My bene is net nie meer so soepel soos hulle-sn nie.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek het ook nie meer lus om laataand wakker te bly vir wat hulle bestempel as ‘n “goeie fliek” nie – hulle is beslis besig om my agter te laat.
          Scrapy, ons het ‘n facebookgroepie gestig vir die Towerinne en ons mis jou geselskap daar. Gaan jy weer jou facebook profiel oopmaak?

        • He he! nou lei jy my weer in die versoeking! Ek het gelukkig net tydelik opgeskort so dit sal nie te erg wees om weer te begin nie. Ek soek net nie die steel van my naam en inligting nie! Sal vanaand daaroor dink. Tina wil ook hê ek moet terugkom maar ai, dis vir my n pyn en nie n plesier nie. Sal graag die Towerinne se vriendskap aanvaar want ons is al soos familie.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek sien jy is nou terug. Jy behoort ‘n “invitation” van die groep te hê op jou faceboek wat jy moet aanvaar. Dis lekker pret en ons wil jou graag daar hê.

        • Het myself ingepos daar by die towerinne se spasie!

  3. ek het nou baie lekker gelag. Jammer daarvoor, ek moes liewer simpatie gehad het, maar jy skryf supersnaaks!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Wel, nou agterna lag ek natuurlik ook oor die moedermishandeling, maar nou weet jy hoekom wil ek ‘n nuwe speelmaatjie vir my kinders huur.

  4. Wonderlik Hester, good job, soos die engelse sê. Na ons my skoonpa na vele oorreding oorgehaal het om by so ń supertube af te gly, het hy uit gespuug gekom met absolute piering oë. Ons lag nou nog daaroor, dit was sy swanesang, nooit weer nie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Eienaardig dat ons bang is vir die nuwerwetse speelgoed, want in ons jongdae het ons veel gevaarliker tydverdrywe beoefen.

  5. My grootste vrees was dat jy daai waardevolle juweliersware insluk! 😳

  6. Ek het nogal graag supertube gery, verkieslik in die toe een en nie die rofste een nie. Hartenbis s supertube was heel skaflik.
    Omdat ek nie regtig kan swem nie, was dit vir my ‘n manier om water te kan geniet en selfs vorentoe te beweeg. Nou is ek regtig te oud!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      O nee Toortsie, ek ly in erge mate aan engtevrees. Sulke toe plekke druk my longe plat. Ek swem ook nie deesdae veel nie – ek raak moeg! – maar dryf op die water soos ‘n balonnetjie. Ek sal dit heeldag lank doen as iemand my nie keer nie.

  7. Aan jou bos gepermde hare uitgesleep… ek lag lekker vir jou. Jy is braaf, baie, ek sit liewer op ń bankie en hou die spul dop, heeltemal te bang deesdae vir beserings.

  8. Hester, ek bid dat jou energie en vreugde en vlymskerp menswees nog vir jou geliefdes en ons almal daagliks sal inspireer. Ek lag alte lekker vir jou, maar meeste van alles bewonder ek jou vir al die avonture en diep asemhaal lewe wat Hester verteenwoordig. “Another bite at the apple” van Neil Diamond is beslis jou lewenslied!

  9. Jy skryf so oulik, ek kon nie help om te lag nie

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Positief. Middelkind het so pas laat weet dat ek maar my siel moet voorberei – hy gaan die behoorlik uittrek met sy volgende kuier! 😕

  10. Dit het ek nou geniet….lekker geskryf!!! Hoe wilder hoe lekkerder….ek het eenkeer met ‘n gekraakte ribbebeen in die swembad geval. Dog ek dood…ribbebeen binne supertube gekraak toe dinge daarbinne te rof gegaan het. You go girl!!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Oef! Kameel, na hierdie mededeling van jou klim ek wragtag nooit weer op daai dêng nie.

      • Ek sal wat wil gee om nog al daardie wilde goed te doen….maar soos ek vir Scrapy gesê het na haar lelike val ons is nou soos porseleinpoppe…moet versigtig hanteer word. Dis net die gees hierbinne wat nie tot rus wil kom nie.

  11. Dit is genieten!

  12. Wha ha HA!! Sorrie… ek lag nie vir jou pyn nie… ek lag vir jou “chicken-skap”
    Tipies kinders… hulle vind gewoonlik daai beklemming what hulle ouers so lank sukkel om weg te steek! Middelkind… klink my hy skuld sy mammie ‘n ou drukkie of twintig! 😉

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek sal dit uit hom wurg wanneer hulle Juliemaand kom kuier!

      • Pasop vir daai vuilbek van hom… hy sal probeer om sy ma te beswadder! 😉
        Net so btw… sterkte met die gewurgery… 🙂

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ja, om mee te begin, sal ek op ‘n stoel moet staan om sy nek by te kom. Hierdie outjie is so 6’4″ / 6’5″. Ek sê eendag ewe vererg vir hom: “Ek gee jou sommer ‘n vet klap.” Hy sê: “Ma sal moet spring en opklap boontoe.”