My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

So stadig maar seker het die donker wolke begin lig

Sea Park Beach

Totdat PESKOM nou weer die kerse kom uitblaas het. Nou trek die wolke weer toe.

Ek weet dat die Towerinne die afgelope maand of wat wonder wat op aarde met my aangaan. Die Groot Bek is stil en my blog so kaal soos die Knersvlakte. Nee, daar is nie regtig iets “verkeerd” nie, maar niks is juis “reg” nie. Dis net … winter. En ek is nie ‘n wintermens nie.

Ek het, gemoedsgewys, maar ‘n redelike ontstuimige winter beleef. By ‘n gebrek aan Vitamine Dee en See verander ek mettertyd in ‘n Gifappeltjie. Soos julle weet. Dan raak my ore doof vir musiek en my oë verdof totdat ek geen kleure kan onderskei nie. 

Dan wil ek nie praat nie. Toe neem ek ‘n blogvakansie. Sorrie hoor!

 Ek vra nie baie nie. Mos. Net dat die son op my skyn. Dat die wind nie my ore laat pyn nie. Dat die koue nie my rugstring laat vries nie. Is dit nou sò moeilik om my gesond en gelukkig te hou? Nee, ek dink nie so nie. MAAR VERTEL DIT VIR DIE WEERBURO!

Met elke oggend wat verbygegaan het sonder dat ek my voete in die sand kon druk of my lyf in die waters van die Indiese Oseaan kon laat insak, het my siel net so effens kleiner gekrimp. Met elke Parkrun wat ek gemis het, het my onderlip dikker geraak. Met elke natuurbewaringsuitstappie wat ek nie kon bywoon nie, het my wange groter gepof. Wanneer ek snags in die bed gelê en luister het na die golwe wat klap op die strand, het ek my kussing stukkend gekou.

Die weer het nou ietwat verbeter, hoewel dit nog nie GOED is nie, en so elke nou en dan beleef ek die jubelende vreugde van ‘n uitstappie in die buitelug. Dan vlieg ons by die deur uit om ou bekende plekkies te besoek en nuwe vriende te ontdek. En natuurlik gaan die kameras saam.

Hierdie fotos is by Sea Parkstrand geneem, net so ‘n hanetree van ons huis af. Let op die wolke en die ontstuimige see, nè!

Hierdie outjies wat met hoogwater op die strand uitgespoel het, het ‘n paar gaste saaamgedra. Dis eers by nadere ondersoek wat ons gesien het hoe hulle nog beweeg. Ons kon hulle darem red deur hulle see-in te dra.

Sommige dae is dit ‘n bietjie warmer en ons kan die baadjies by die huis los. Dan hang die lug vol van die reuke van frangipani en jasmyn wat weelderig hier groei. Kyk net na die pragtige hibiscus-blomme wat ek in die bospaadjie op pad see toe opgetel het. Daar is verskillende kleure wat op die grond rondlê.

En soms sit ons in die son rond om met die bure te gesels. Dis nou mense-bure en voëlbure wat opstap na die huise toe daar van die rivier se kant af om by die etenstafel te kom aansit.

Die slegte nuus (ja, ek het daarvan ook) is noudat die weer verbeter het, PESKOM se manewales ernstig inbreuk maak op blog-ure. Ons kan wel strand toe gaan as die krag af is, maar dit beteken dat ons dubbeld so hard moet werk om in te haal wanneer die krag wel aan is, want met die hoeveelheid data wat ons gebruik, kan ons nie staat maak op selfoondata nie. 

Dan het Slim Hester mos ook gedurende die donker Middeleeue van die Suidkuswinter besluit om haarself besig te hou deur vir aanlynkursusse in te skryf. Twee. Wie doen dan nou net een kursus op ‘n slag? Dit was nou bedoel om te verhoed dat ek skreeuend gek word wanneer ek by die venster uitkyk en die wind waai en die son verdwyn moerlandspan toe en die Bolandse Perskereën val hier teen die kus.

Ek hoop julle verstaan nou hoekom ek wel van tyd tot tyd oor die internet beweeg, teen die spoed van weerlig, en nie altyd stilstaan om ‘n geselsie aan te knoop nie.

Julle weet nou wie om te bedank, nè? En nee, dis nie Boland Bank nie. 

Maar dit sal beter word. Promise.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

48 Comments

  1. Hier zijn het nu de donkere en te korte dagen.
    Maar bij jullie komt de warmte en het mooie weer.

    Ik wens jou veel plezier en zonneschijn.

    Winterse groet,

  2. Hoe lekker was dit nou om weer saam met jou see en sand te beleef, al is die son dalk minder!

  3. 🌻🌻🌻🌻

  4. Hester! Is dit jy? 😁😊🍷💃 Ons is bekommerd oor jou, ons is bang jy het in Waenhuiskrans se grot agtergebly!
    Van die kursusse salek graag meer wil hoor.

  5. Nee wat, hierdie is steeds die Hester wat ons ken; die een wat swaarkry as die weer nie wil lig nie. Jou fotos is pragtig, ek sal net moet onthou om goed vir bloublasies saam te bring! Ek reageer hiper allergies daarop, en dan kom die kleuterskool ook nog saam!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Die “blue buttons” (ook op die fotos) wat hierdie jaar so saambondel met die bloublasies, is glo veel erger. Ek het hulle darem nog nooit in groot hoeveelhede teëgekom nie.

  6. Dis moeilik om te dink daar is iewers winter as ek stik in die hitte, maar ek verstaan. Ons mis jou, sterkte daar, drukkies

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie. Ek weet vir ‘n feit ek gaan ook binnekort begin kla oor die drukkende hitte. Winter kan nie vir ewig aanhou nie. Ons kry nou aanhoudende donderstorms en die reën koel die lug vinnig af.

  7. Jy is terug, al wat saakmaak. Stuur maar jou einter vir my, ek is totaal ‘n winters baba

  8. Ja jong die weer is beslis omge-ellie! Hier is dit ook twee dae hetig en volgende sewe dae wind, reen en koue. Ek’s bly jy begin darem bietjie ontdooi. Dis nie lekker om so opgesluit te wees nie. Dan daardie kragonderbrekings sal my ook omkrap, veral as jy wil”studeer”. Ek is ook soos jy, een kursus is nie genoeg nie daar moet n tweede een en selfs n derde een wees. Ek voel vir jou ou vriendin.

  9. Hallllloooooo Hester, en vandag is dit weer sommer net koud aan julle se kant xx bly om ietsie van jou te sien.

  10. Sjoe, jou foto’s is so mooi Hester. Jou lewe daar by die see lyk so lekker rustig en salig.

    En ja, mens moet blogvakansies ook neem. Sommer net. Want mens kan.

    O ja, jou hond is pragtig <3

  11. Pragtige fotos van ‘n pragtige omgewing. Is dit jou hond? Hier by ons is die weer ook maar baie onstabiel.Van strand toe gaan kom daar nie veel nie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Nee, Hunter is ‘n strandloper. Sy baas het moed opgegee met hom en los hom nou maar dat hy tussen die vakansiegangers en vissermanne kuier soos wat hy wil, solank hy net huis toe kom in die aand. Ons is almal gek na hom.

  12. Pragtige fotos van ‘n pragtige omgewing. Hier by ons is die weer ook maar onstabiel en van strand toe gaan kom nie veel nie. Jou hond?

    • Die dubbele kommentaar is nie ‘n teken van falende fakulteite nie maar is te wyte aan WP se giere!

  13. Ek sien julle kry heeltyd slegte weer. Ons vergaan van droogte in die binneland, maar nouja! Ek is net bly jy is nog iewers. Jou foto’s is pragtig!

  14. Bly om jou weer te sien, tussen die pakkery en die werkery is ek ook maar skaars
    Julle is bevoorreg om die see te kan sien en hoor elke dag, niks so rustig

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, maar as jy nie jou voete in die water kan steek nie, is dit amper soos om ‘n roomys net buite bereik van ‘n klein handjie te hou. Dit terg maar!

  15. Wat naar te horen dat je het moeilijk hebt gehad. Hopelijk gaat het nu weer beter. Je hebt mooi foto,s geplaatst,

  16. Omg, look at you sat in your deck chair with big birds walking around the garden!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Yeah they really make a nuisance of themselves at times – especially meal times 😁 Everybody in the complex is feeding them and they are getting too fat and lazy to forage for their food. They are supposed to migrate to warmer climates when our winter sets in (May next year), but somehow I can’t see them waddling all the way to Asia. They may just decide to stay for the winter as well.

  17. drukkie <3 … hoop jy voel gou beter.

  18. Ai… my hart pomp custard vir jou… ek stort ‘n traan!
    Winter? Jy hoort ‘n maand of wat hier by ons te kom winter hou… dan sal alles net te mooi wees daar by julle. Ons was gister op die strand… LEKKER!! So lyk ons “beach attire” die tyd van die jaar…

    https://ouchmybackhurts.files.wordpress.com/2018/12/a1dsc_8548-689_.jpg

    Lekker kuier met die bure saam… wat voer julle daai langbekke? 😁🤣

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Nee, ek wil nie in daai kouegatplek bly nie. Ek sal dit nie oorleef nie, maar ek besoek ook die strand soms met ‘n sweetpak en reënbaadjie. Daai voëls eet polony, kaas, bacon en oorskietvleis van die tafel af. Sommige mense voer hulle pets’ mince. Ek gee ewe skynheilig elke dag vir hulle ‘n bak skoon water en brood in vleissous gedoop – my polony etc. bly in my yskas. Ek het nie geld vir sulke duur troeteldierkos nie.

      • Ja… skoon water is belangrik!
        Ja… Kalahari hier kom Hester… lekker warm daar!
        Mind you… ek sal my linker pinkie gee vir ‘n jaar of drie in die wille Kalahari!!

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Daai plek word ook koud in die nag. Ek en die buurman gesels nou die dag – albei van ons slaap in die dakkamers van ons rietdakhuise waar dit lekker warm is – ons ander helftes slaap in hulle eie kamers op die grondvloer, want anders kry hulle te warm. Hoe is dit dan dan die warm- en koudbloediges altyd met mekaar trou.

  19. 🤗🤗🤗🤗🤗. Dankie vir die deel van die pragtige foto’s Hester

  20. Lyk my PESKOM het al julle elektrone weggepak… jy blog nie meer nie!
    Kry vir julle een van daai opwen opwekkers… dan kan julle so nou en dan kontak maak met die buitewereld!
    Lekker somer hou… hier moer die wind en weer ons stukkend! Maar… dis pret! 😉

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      My woorde het soort van opgeraak hier aan die einde van die jaar en my fut is uit. My kop is met vakansie. Vrydag kom oudste seun en dan gaan ons regtig vakansie hou. Maar ek gaan darem vanmiddag ‘n storietjie vertel.

      • Lekker vakansie kop! Geniet… ek wag vir die storietjie… wat my herhinder, ek moet weer ‘n bietjie na Nellie loop soek… daai flerrie krap nog hier by my! 😉
        Lekker braai… en vat tog ‘n ou doppie saam met die ander… after all, dit is vakansie!! 🙂