My vreugdes en frustrasies

My eiers

‘n Rock band en groupies op die giggelbus

Die Towerinne se giggelgroen bus

Ons kuier hier in Pretoria is nou amper verby, maar ons gaan binnekort vertrek, “snik”, en ek het so lekker gekuier! Maar voordat ons waai daar na Limpopo toe, moes ons eers gou ‘n ander belangrike draai gaan ry.

Perdebytjie het laat weet dat nog ‘n blogger, Theo Herbots, binnekort by ons gaan aansluit. Hy gaan deel vorm van ons beskermers, ons eie paparazzi, ons fêns, ons groupies wat die giggelbus agtervolg met hulle eie bussie en ‘n paar Harleys.

Soos wat dit opgevoede Afrikaners betaam, het ons besluit om hierdie kuiergas uit België persoonlik te gaan verwelkom en in ons kudde toe te laat. Dis hoe ons ons almal, viets uitgevat, by die internasionale aankomssaal van O. R. Tambo te lande gekom het.

Daar staan ons toe almal in gelid en wag vir Theo in, met groot glimlagte … en musiekinstrumente wat inderhaas bymekaar geskraap is. Die nuutgestigte rock band, Plesierige Afrikaner Towerinne (Patties), het besluit om Theo met klawer en simbaal te verwelkom. Ons voorsanger, Toorts, staan daar in haar rooi katpak op platformskoene en wag met haar koordlose mikrofoon, gereed om die eerste note van We Will Rock You aan te hef. 

Daar stap hy deur die glasdeure in. Die Patties kyk, doen ‘n double take en kyk weer – dit lyk dan nou asof Theo sy eie entourage saamgebring het. Sommige van die gesigte lyk so half bekend, so asof ons hulle al op ander blogs ontmoet het. Toortsie se mond is oop, maar daar kom nie ‘n geluid uit nie; stom van verbasing.

Toe skielik klink die klanke van Sarie Marais op. Dis Theo en sy volgelinge wat die Towerinne herken het en vooraf hierdie volksliedjie ingeoefen het om ons te verras. Die Patties en die res van die Towerinne se geselskap laat nie op hulle wag nie en val ook in – daar staan Afrikaners en Europeërs en sing almal saam. Die ander mense in die aankomssaal staar ons oopmond aan.

Hester laat nie op haar wag nie en toe die laaste klanke van Sarie Marais wegsypel, toe klap sy daai tromme op die ritme van Out of Africa (“Listen to the rhythm of the distant drums”) en Toortsie stembande skiet los. Lekkervurig bly nie agter nie en wag net vir Toortsie se laaste note voordat sy die saxofoon laat huil met The Lion Sleeps Tonight (“In the jungle, the mighty jungle, the lion sleeps tonight”) en net daarna Pata Pata (“Saguquga sathi bega nantsi Pata Pata”).  En Toortsie sing!

Woestynkind skud die tamboeryne en daar uit die geweste van die Patties se volgelinge laat klink Vuurklip ‘n bekfluitjie op. Coetzee, Abrie en Lewies wat in diep basstemme saamdreun en voete stamp, laat die toeskouers en oorsese besoekers se nekke rek.

Dis toe, ja dis toe dat Camilla haar opwagting maak in haar rooi rok, blonde pruik en hoë stilettoes. En sy dans. Mense! Sy dans so dat elke man in daai gehoor begin boude wikkel asof sy net met hòm dans. Tannie Frannie en Silver kom te voorskyn uit die skare en hulle dans met één lyf. Trommeltjies het besluit om Lorenzo te leer van Afrikadanse en hy vat net hier en daar grond. 

Positief laat huil die kitaarsnare – sy het so wraggies daai kitaar oor haar metgesel se skouers gehaak en tokkel daai snare agter sy rug terwyl hulle dans! Scrapy spring daar tussen die towerinne uit met ‘n Maori whistling poi wat sy uit Nieu Zeeland saamgebring het en wys vir ons die weergawe van die poi spins wat die Maoris doen, op maat van die Afrikamusiek. Nou word dit ‘n Flashmob! 

Una, VirgoC en Padda vorm ‘n groepie agter die een mikrofoon en hulle ululeer met sulke hoë stemmetjies wat deurslaan op die hoogste note. Bondelsgedagtes pluk haar shofar uit en sy tower die suiwerste musiekklanke op wat Lekkervurig se saksofoonnote so elke nou en dan met ‘n paar oktawe lig.

Perdebytjie hardloop daar rond met ‘n kamera en neem fotos van alles. Toe sy weer ‘n keer daai lang lens onder Hester se neus indruk, kry sy ‘n hou met die tromstokkie op haar hand. Hester is besig met headbanging en haar haarstyl lyk verstommend baie soos een van die Beatles daar doer in die jare sestig.

Woordnoot en Seegogga het elkeen intussen ‘n leë asblik gegryp en die rondtes begin doen om bydraes in te samel vir die Patties rock band se “toer”. Jy sien net hoe reën die note in daai asblikke in. Slim vroue, want met al die nuwe bykomelinge, kan geld ‘n probleem word.

Teen hierdie tyd is alle aankomelinge in die aankomssaal besig om saam te neurie en hande te klap en die personeel van ACSA staan met hulle hande in hulle hare. Toe die laaste Tromslag van Shosholoza (“Shosholoza, Shosholoza Kulezo ntaba Stimela Sipum’e South Africa”) wegsterf, het die sekuriteit begin inbeweeg om die Towerinne te oorreed om die lughawegebou te verlaat. 

Ons het laatnag eers weer in Pretoria aangekom, hierdie keer met DRIE bussies, waarvan een groen is) en die drie Harleys. Hierdie toer ruk nou hand uit, maar te danke aan Seegogga en Woordnoot se inisiatief, lyk ons geldsake nou weer goed.

Nou het ons ‘n rock band aan boord, en hulle HET gerock, hoewel dit seker nou nie die soort rock was wat Lekkervurig in gedagte gehad het nie.

Next stop – LIMPOPO.


As jy nou nuut is hier rond en kliphard wonder wat aangaan, gaan kyk op die volgende InLinkz skakel: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

67 Comments

  1. Dit was feestelik, net soos die Patties kan. My bucket list oor saksofoon speel is metafisies vervul. Hester, dankie dat jy ons begeester om onaangeraakte talente voluit te leef. Psst, kan ons nie maar die parlement gaan wees nie? Die republiek van Tower…..

  2. Coetzee het in ‘n vorige post kommentaar gelewer deur te sê julle is besig om stadig handuit te ruk. Stadig? Daar word handuit geruk teen die spoed van giggelgroen-neonlig-in-mynskag -af…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis die lewensvreugde wat uitborrel en die gemetafiseerde Frangelico wat die inhibisies agterlaat. Dis hoekom ons van tyd tot tyd julle hulp moet inroep Abrie, om die remskoene weer vas te trek.

  3. Nie net Toortsie het gesing nie, ALMAL het gesing. Joe! Dit was lekker! Het julle die TV mense gesien? Ek dink ons is vanaand op die nuus, hoor!

  4. Lekker gaan ons hierdie naweek in!

  5. Toorts, wat het ons gesing…? Ek kan nie onthou nie… Het ek ooit die woorde geken?

  6. Aaa Hester, watter heerlike Vrydagaandvermaak!

  7. Ai Hester, ek het nie meer woorde nie! Die verbeeldingsvlugte van hierdie dames op die Broodbus, gaan my verstand te bowe. Ek het hierdie nou vreeslik geniet!

  8. Wat n verwelkoming! Dit was nou uit die boonste rakke. Nou voel Theo sommer tuis hier by ons. Ek het nog nooit so spontaan aan n singery en dansery deelgeneem nie. My voete juk nog steeds van die mamba wat ons gedans het. Die parelement storie klink nie reg nie. Ons moet nie die verkeerde indruk skep op die regering nie. Netnou belas hul ons om die geldjies wat ons in, vir eie gebruik te kry.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, praat. Ek het juis gister ‘n goeie sarsie SARS ingekry – ek soek nie nog nie.

      • Stem saam. Hester hoeveel woorde mag die beskrywing wees? Ek het hele dag gewerk aan my stuk en trek al oor die 2000 woorde. Dan is die fotos nog nie ingesit nie. Het laaste stuk reeds bietjie korter gemaak.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Net soos ‘n gewone blog Ineke – geen beperking nie. As jy voel dit word te lank en mense gaan hulleself moeg lees, gee dan die hoofbeskrywing in jou “amptelike” blog en dan kan jy later in die week mos nog ‘n blog byskryf.

        • Mooi man. My storie loop lekker. Daar is baie wat opgevolg kan word.

  9. Pehwwwww ,nous ek moeg van al die jive en sing. Longe lekker skoon gesing en stywe spiere los gedans. Ons gaan fiks word op die trippie. Hopelik kry ons kansie om op die bus te slaap….

  10. Janee asseblief! Gelukkig bestuur ek nie….

  11. Nou dat ek oor die skrik is van die ding wat hier verby my is teen ‘n onaardse spoed, hierdie is baie goed gedoen en geskryf Hester OR Tambo gaan nooit weer dieselfde wees nie

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Abrie, maar laat ek jou vertel, daai plek is in elk geval so lawaaierig, hulle het dalk nie eens agtergekom ons was daar nie.

  12. Ik luister naar geen andere muziek meer dan naar Zuid-Afrikaanse.
    Ik heb me nog nooit zo in mijn nopjes gevoeld
    Ik ben op You-Tube een hele afspeellijst aan het maken.
    Hier zijn er al enkele
    https://www.youtube.com/playlist?list=PLHPQwvR3CKyn-DQbSCCRMoGZC3EfiEsN6

  13. Dit het ek nou geniet 😁😁😁😁 Weet nie hoeveel keer ek op hierdie toer “liewe Moses” gaan sê nie…maar “liewe Moses…dit was nou vir jou ‘n verwelkoming van verwelkomings. Hester ek sing of speel niks nie nê? Patties sal nie lank beroemd bly as julle my laat deelneem nie. En dan het ek ‘n appeltjie met Camilla te skil!!!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Whahaha, Camilla is jou oor en as sy nie gaan dans nie, sal die band se vibes nie dieselfde wees nie – laat haar maar haar ding doen.

  14. Heng maar ek is jaloers op julle toer! Die kinders hou my besig hier by die huis en ek praat al my woorde op met die nuwe Potgooi.

    Julle moet dit geniet en stuur tog aandenkings vir my ook. 😁

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Het jy al van die potgooie beskikbaar gemaak of is dit nog work in progress?

      • Dit is nog ‘n work in progress. Ek is nog eers besig met die opnames. Dan kan ek dit net oplaai en klaar. 😁 Ek gaan dit so middel November aan iTunes submit en glo ek sal dan 1 Desember die eerste episode kan deel.

  15. Solank jy net saamlees, Sonellie!

  16. Ag so baie dankie Hester dat ek metafisies die kitaar so goed bespeel. In die regte lewe het ek 3 kitaarlesse bygebring, maar toe die perd sê dat ek my naels sny, was dit overskedovers.

    En ons kry al hoe meer siele by, wat my bly maak, siende dat ek die Milli Vanilli version van al die liedjies baie goed doen

  17. Dit was nou ń lekker lees Hester. Ek is so dankbaar jy het my liewer laat dans en dit nogal met onse Lorezo en nogal Afrika danse. Gelukkig het ek nou die aand met ons straatdansery in Pretoria ń paar lekker gumboot moves geleer.