My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Trafalgarstrand – ons stap ter wille van natuurbewaring

Walking on Trafalgar Beach, KwaZulu-Natal at low tide

Walking on Trafalgar Beach, KwaZulu-Natal at low tide

Ons stap graag in die natuur omdat dit goeie oefening en ‘n lekker tydverdryf is, maar soms lewer ons op dié manier ook ‘n bydrae tot die kostes en bewusmaking van natuurbewaring in ons omgewing. Natuurlik leer ons ook nuwe areas ken en sien dinge waarvan ons voorheen nie bewus was nie.

Ons was besig om rond te kyk op Facebook vir ‘n alternatiewe roete waar ons die Parkrun kon bywoon, toe ons aandag getrek is deur die advertensie van die Trafalgar Conservation Group se uitnodiging om aan ‘n fondsinsameling-staptog vir natuurbewaring deel te neem. R20 vir die stap en R30 vir ‘n hamburger per persoon vir die plesier om in ‘n lieflike omgewing te gaan rondloop – geen probleem nie!

Trafalgar is ‘n pragtige klein kusdorpie aan die Laer Suidkus en die Trafalgar Mariene Reservaat inkorporeer die Mpenjati Natuurreservaat waaroor ek voorheen reeds geskryf het. Die marienereservaat strek vanaf die hoogwatermerk op die strand tot een (1) seemyl binne-in die Indiese oseaan en beskerm 100 miljoen jaar oue fosiele in die gebied wat blootgestel word met laagwater, sowel as seewiere wat naby die strandgebied is, maar meesal onder water. Besoekers kan met ‘n lae laaggety die fossielbeddens besoek en fossiele van skulpvis, plantmateriaal en versteende hout in die rotsagtige riwwe bekyk.

Trafalgar is natuurlik een van ons Blue Flag strande wat die beskerming van haainette en lewensredders bied, asook toiletgeriewe en ‘n swembad, maar daar is geen winkels of sypaadjieverkopers nie, omdat die strand geleë is in ‘n natuurreservaat.

Ons het vroegoggend op die parkeerterrein van die strand bymekaargekom en daarvandaan deur die pragtige boomryke strate begin stap in die rigting van die pragtige Kingfisher Lakeside Retreat, waar die vriendelike bestuurspan ‘n waterpunt vir ons ingerig het.

Ons doelwit was om die Black Lake te besoek wat binne die gronde van die vakansie-uitspanplek in die pragtige groen inheemse Yengele Dune Forest te siene is, net langs die kuslyn. Dit is ‘n varswatermeer wat sy ontstaan het in die Katsedam in Lesotho, waarvandaan die water ondergronds vloei en tevoorskyn kom in hierdie inheemse woud. Daarvandaan syfer die water tussen die sandduine weg tot in die see.

Aan die seekant van die Kingfisher Lakeside Retreat het ons met ‘n netjiese paadjie, uitgelê met sandsakke, afgestap tot op die strand om ons terugtog aan te pak. Tot ons vreugde was dit laagwater, en ons kon tot by die rotsriwwe gaan. Die weer was effe deinserig en waar ek en Karen met die loop na die Black Lake toe heel voor in die koor was, het ek soveel tyd verspeel op die strand dat ons heel agter beland het – kyk net hoe verdwyn die res van die groep in die mis daar voor op die strand. Maar is dit nie ‘n pragtige gesig nie? Ek het natuurlik sopnat daar weggeloop, omdat ek altyd vergeet om die branders dop te hou en dan ‘n lekker nat verrassing kry.

Op pad terug huis toe het ons by die Bucks Farm Stall stilgehou waar ons altyd die wêreld se lekkerste gemmerkoekies koop. Ons het hierdie keer nie by MacBanana aangedoen vir die wêreld se lekkerste gemmierbier of by Port Edwardstrand vir die wêreld se lekkerste roomys nie, want ‘n mens mag nie al jou lekker op een dag opgebruik nie.

Ons het wel langs die pad stilgehou net so skuinsoor die Riverbend Crocodile Farm om te kyk na hierdie ou brug oor die Mbizanerivier wat nie meer in gebruik is nie. Selfs in sy vervalle toestand is dit nog steeds mooi. Die laaste foto is van die nuwe motorrybaan oor die rivier.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

18 Comments

  1. Sielkos vir jou verseker! Dit lyk lekker en dis mooi!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Wat doen jy daar in my spambox? Ja, ek het die dag behoorlik geniet veral omdat die weer ons taamlik vasgekeer hou op die oomblik. Ek gaan nog eendag ‘n boek skryf “My ge-sa-sa-sanik oor die weer”. My siel wil buite rondloop.

  2. Sjoe, dis ‘n pragtige wandelroete! Dankie vir die inligting. Mens weet nie altyd van al hierdie mooi plekke nie. Jou foto’s is ook pragtig, Hester.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Perdebytjie, ek is selfs soms verbaas wanneer ek ‘n nuwe strand op reservaat ontdek wat ek nog nie ken nie. Ek het gedink dat ek teen hierdie tyd al die aarde hier platgeloop het.

  3. Mensdom, die Suidkus toerisme buro moet jou gebruik om vir hulle bemarkings-materiaal te skryf. Julle maak ń nuwe wêreld vir mens oop so met jul wandel-ekskursies, Hester.

  4. Bly maar net ‘n pragtige wêreld. Met al die stap en mooi dink ek jy word al fikser en jonger 😊 Sal onthou van MacBanana se gemmerbier… my man se gunsteling.

  5. Lekker saam gestap so met jou vertel en fotos. Net jammer dit sal my nie fiks maak soos die ware Jacob nie.

  6. So baie plekke – so min tyd, en sooo vêr

  7. Lekker om so te stp vir die plesier en om die natuur te help!! 😉

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Heerlik. AJ ek wou The Old Man and the Fish gaan lees het, maar daardie program wil hê ek moet inteken en my hele pedigree verskaf voordat ek kan lees. Gaan hulle my toegooi met spam?

      • Maar jy het al daai storie gelees, hy’s deel van The Lucky Thirteen. Anyway, lyk my ‘n mens kan vir ‘n maand verniet inteken en om die waarheid te sê, ek het maande terug ingeteken om die waters te toets… die een storie gelaai, en vergeet van die hele ding. So, nee… daar was niks spam nie! Hulle het my in die week laat weet dat die storie aanvaar is en hom gepubliseer… maar, ek het ‘n paar koreksies gemaak en nou lyk dit vir my dit sal ‘n week of wat neem voor die storie weer verskyn.
        Ek wil nog stories hier laai… dis ‘n Indiese site… ek glo daar is beter kaanse daar as die westerse klomp!

  8. Pragtige natuurskoon. Die laeveld ook heelwat soortgelyke brue.

  9. Pragtige stap, ek hou die meeste van die strand-fotos.