My vreugdes en frustrasies

Lê-Jou-Eier

Kuier-safari – die paparazi is op die Towerinne se spoor

Die Towerinne se giggelgroen bus

Die langverwagte toer het nog skaars ‘n aanvang geneem en die paparazzi is klaar op ons spoor. Una het genoem dat Harties se plaaslike koerantjie glo betaal vir steelfotos en sy het so pas laat weet dat die foto hierbo van ons bus in die Damcourant verskyn het. Tsk. Die Kormorant bedoel ek – toe kry ek nog die koerant se naam ook verkeerd.

Ons weet ook vir ‘n feit dat daardie welbekende paparazzo, Abrie Joubert, ook in Harties was in die tydperk wat ons daar gekuier het. Dis nou net ‘n kwessie van tyd, dan weet die hele wêreld wie ons is en wat ons doen. Ek wonder of Abrie ons dalk dophou in die hoop dat Frannie een van daardie brode van haar saamgebring het op toer?

Dis nie net die foto wat my pla nie, dis die skindernuus wat daarmee saamgaan:

Hierdie groen bus, met ‘n lawaaierige klomp passassiers aan boord, se heel eerste stilhouplek was by die drankwinkel waar hulle die hele voorraad Frangelico likeur uitgekoop het. Die keurig geklede dames se name mag ons op hierdie stadium nie bekend maak nie, want soos die lesers bewus is, is daar nog steeds mense op hierdie dorp wat toutjies kan trek om hulle wandade te verdoesel.

Enniehoe, ek wou net sê, ons word dopgehou.


Dis wonderlik dat daar soveel entoesiasme is vir hierdie toer. Daar is nou al ‘n paar blogs oor die toer geskryf en die kommentare vloei. Die inligting en kommentare is kosbare juweeltjies wat ons graag bymekaar wil hou, daarom het ek die InLinkz skakel http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928 gestel sodat dit vandag om 12:00 reeds moet oopmaak. Sal die volgende bloggers asseblief hulle “vooraf”-blogs gaan aanheg:

Una – jou blog hierbo waarna ek verwys het

Bondelsgedagtes – Wat het my Besiel!!

Scrapy – Kuier Safarie Vooraf

Het ek iemand vergeet?

Onthou asseblief ook om julle “tussen-in” blogs aan te heg, dit wil sê die blogs wat geskryf word na plasing van die gasblogger se verslag van die kuier – alles wat spesifiek oor die Kuier-Safari toer handel.

 

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

100 Comments

  1. Het jy ook gehoor Baron Room het versterkings ingeroep uit Suid-Amrekia? Coetzee is in op die steelfoto ding. Pffft!

  2. Ek sou nog alles sluk, maar ‘lawaaierige’! Regtig! Het die persoon se woordeskat opgeraak? ☹️

  3. Dis wraggies ‘n mooie bus, hoor!

  4. Watwou, eerste by die drankwinkel gestop! Lank voor enige sulke stoppe is daar eers ñ paar keer by ‘smart openbare geriewe’ aangedoen! Sien, met VirgoC op die toerbus, moes ek ñ padkaart net daarvoor saamry. Toe kom ek agter Lekkervurig sit haar ore aan; dié se blasie is NOG kleiner. Indien Baron Room ons van die lughawe af gevolg het, was sy pad maar lank. En stadig. Het enige iemand bevestiging ontvang dat Coetzee ook in die land is?? Net so tussen ons, Frannie het ñ paar sulke pikante bierbroodjies gebak en ry dit saam…

  5. Coetzee skaar hom by die paparazzispan, maar hopelik gaan hy net wolke afneem daar oor die dam en omringende berge. Hy is glo gek oor wolke!

  6. Dit lyk heel oulik asof Bondels die bus bestuur en Una (hoofmeisie oor 100?) heel voor sit.
    Ja-nee shame, die drankwinkels gaan nooit genoeg voorraad kan inkry nie. Kry mens afslag vir grootmaat aankope?

  7. Dis die mooiste bus…oulik gedoen Hester. Dis vir my so lekker om laf te wees saam met mense wat ek nog nooit gesien het nie…dis wat blogs aan mens doen, jy kan jouself wees sonder oordeel.

  8. Veilige en plesierige rit, maar pasop vir daai man met die rok! (Frangelico!)

  9. Ja sowaar ek bestuur!!! Die oulikste, beste bus ini land….

  10. Kan nie glo dat daar sulke aantygings teen arme onskuldige ekke gemaak word, van agtervolging en dinge nie. Ek het maar ‘n grappie gemaak nou die dag omdat ek na julle verlang… Maar ek voel tog verplig om julle in te lig dat indien julle die paparazzi (Coetzee en so aan…) sou wou fnuik en ontwyk dit dalk wyser sou gewees het om nie die giggelste groen en maklikste opspoorbaarste vourtuig in die land the gebruik het. As ek nou ‘n paparazzo was (bloot by wyse van spreke natuurlik) sou hierdie gevaarte my nie fnuik inteendeel; dit sou die steelfoto in my ontluik…

  11. Hester hierdie giggel-groen bus met ons daarin is skreeusnaaks oulik. Ek laaik!!!!