My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Sondag – ‘n dag van warm son en warmer kerrie

Southport Beach, KwaZulu-Natal

Southport Beach, KwaZulu-Natal

Daar is twee dinge waarmee die Nels baie goed is: op die strand rondflenter en eet. Sondag is by uitstek die dag waarop almal hoop op lekker strandweer (hoekom? ons werk nie kantoorure nie, maar ons hou ook kliphard naweek). Want ons kan. Daarmee saam wil ons natuurlik ook die tradisionele “eet te veel en gaan slaap” ding doen.

Hierdie Sondag het ons vroegoggend die man by die strandrestaurant in Southport gaan parkeer, waar hy graag aan sy bier suie en luister na musiek terwyl elke vrou in die omtrek hulle ontferm oor die arme man wat so summier alleen gelaat word. Sjym.

Ek en Karen het gestap tot by Anerley se getypoel waar ons ‘n klompie dolfyne en walvisse vlak voor ons in die water sien speel het. Die video hieronder het Karen gemaak met ‘n Nikon Coolpix L840 wat nie daar doer diep in die see kan fokus nie. Ons was dus bly om ons gevinde vriende so naby te hê. Terwyl hulle al spelende in die rigting van Southport beweeg het, het ons saam met hulle teruggeloop, strandlangs.

 

Om die een of ander rede was die “swem verbode” vlaggies op en ons het weggebly uit die water. Ons vermoed dat die haainette laat sak is vir kleiner visse om nader aan die wal te swem. Daar was egter duikers wat baie bedrywig was en ons het so ‘n wyle vertoef om te kyk na die visse en krewe wat hulle uitgebring het wal toe.

Na al hierdie oefening het ons goedingestelde maaghorlosies aangekondig dat ons moet begin uitkyk vir iets om te eet. Die man, wat nooit sy mond aan vis sit wanneer ons dit by die huis gaarmaak nie, was opsluit lus vir ‘n lekker groot stuk vis. Ek en Karen was lus vir ‘n tuisgekookte maaltyd. Wat iemand anders gekook het natuurlik. WANT dis vandag die man se beurt om skottelgoed te was en ons het reeds ‘n vreeslike preek gekry oor die deurmekaar kombuis nadat hy die paar stukkies ontbytskottelgoed gewas het. Maar siende dat hy aangebied het om vir die ete te betaal, het ons niks teen sy planne gehad nie.

In Port Shepstone is daar ‘n lekker kuierplek teen die rivier met die naam van Spillers Wharf. Dis ‘n ou kragsentrale op die wal van die Umzimkhulurivier wat gerestoureer en ingerig is met oulike eetplekke, koffie- en snuisterywinkels, ‘n tweedehandse boekwinkel, ens. ‘n Heerlike plek waar jy oor die rivier kan sit en uitstaar terwyl jy eet, bo van die dek af, of onder by die sementtafeltjies op die rivierwal. Geesdriftige hengelaars kan selfs ‘n visstokkie daar in die water gooi en ‘n riviervissie uittrek terwyl hulle eet.

Spillers Wharf on the Umzimkhulu River

Spillers Wharf on the Umzimkhulu River

View over the Imzimkhulu River at Spillers Wharf

View over the Imzimkhulu River at Spillers Wharf

Toe ons uit die kar klim, sweef daardie heerlike kerriegeure van die Currie Cafè ons tegemoet en die man het vinnig van gedagte verander – op hierdie lekker warm dag gaan ons lekker warm kerrie eet.

[Net vir die rekord – by Spillers Wharf kry jy ook van die lekkerste vis te eet, vars en heerlik voorberei, maar soms moet die kerrie wen.]

Ons was voorheen (terwyl ons binnelanders was) nie juis kerrie-eters nie. Vandat ons hier in die Zulu Kingdom aangeland het, hang ons kerrielus knaend uit. Ons wat hier woon (ma, pa en dogter) en die twee seuns wat onderskeidelik in Kaapstad en Johannesburg woon, het skielik almal kerriechefs geword. Oor whatsapp word daar resepte uitgeruil, kerriemengsels en kruie / speserye aanbeveel, gestry oor die gehalte en smaak van rys, fotos gewys van maaltye wat tuis voorberei word … ons is nou almal “kenners” van hierdie dis.

Wanneer jy egter by ‘n plek soos die Curry Cafè beland, leer ons altyd iets nuuts en ons is gretige studente. Hierdie mense kook ‘n kerrie waaroor jy dae later nog praat, bedien dit in hoeveelhede wat jy sukkel om op te eet en laat jou ‘n prys betaal wat jou van oor tot oor laat lag. Kyk maar op die insetsel van die menu wat ek vergroot het op die foto hieronder en besluit self.

Mutton breyani

Mutton breyani

Chicken and mutton breyani

Chicken and mutton breyani

Curry mutton bunny chow

Curry mutton bunny chow

Saam met die breyani word ekstra souse en sambal bedien.

Die butter chicken curry hieronder word bedien met smeltsagte rotis. Ons het dit by ‘n vorige geleentheid geëet en het dit al talle male probeer nadoen by die huis. (Koop die mengsel by Woolworths). Dit is vingerleklekker chicken hierdie.

Butter chicken curry

Butter chicken curry

Wanneer jy klaar geëet het, bly daar net een ding oor om te doen. Nee, twee. Die eerste een is om by Milky Lane te stop en die kerrie af te spoel met roomys. Daarna … daarna ry jy huis toe, sluip suutjies met die trappe op kamer toe en gaan krul jouself op rondom ‘n katlyfie vir ‘n heerlike middagslapie.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

31 Comments

  1. Dis die lekker lewe! Oulik geskryf en nou is ek ook lus vir kerrie.

  2. Dit klink soos ‘n heerlike dag. Ek is baie lief vir kerrie.

  3. Jy laat ń mens se mond behoorlik water. Ek is van nog altyd af ń kerrie-liefhebber, seker my grootword dae in Durban se skuld. Manlief sit weer nie sy mond aan brandgoed nie. Ek kan nie wag vir ons Desember vakansie by die see nie, gaan sowaar kort-kort wegloop en vir my iewers brandkos gaan koop.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Maar kerrie moenie brand nie. Kerrie gee net die geur en as jy wil brandbek hê, gebruik jy ‘n ekstra sous of rissies in die sambal. My maag hou nie van kos wat byt nie, so ek is heeltemal aan Bertus se kant hier.

      • Ek gaan hom daar by julle kom aflaai, dan kyk jy of jy hom van daardie feit oortuig kan kry. Net die kerriereuk laat sy oë brand.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Haai Nenna, wat doen ‘n mens met so ‘n man en waar kom hulle aan hulle geite? Dit klink nou soos my seun wat nie beestong wil eet nie, want hy weet nie waar die koei gelek het nie. Maar hy eet braised oxtail dat die sous oor sy ken drup en ek weet waarin daai koei getrap het.

        • Hahahahaha!!! Deksekse man-geite!

  4. Lyk na n heerlike plekkie. Ooh julle dag was lekker.

  5. I adore curry especially lamb and they look delicious, and the photo of Spillers Wharf is like noting I’ve seen in this country, very African.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      The buildings, part of an old power station, were restored and now house various small eateries, coffee shops, a book exchange, etc. It was a clever way of putting to use buildings that would otherwise have gone to ruin (and all the old history with it).

  6. Oeg dit lyk net te lekker Hester!

  7. Klink heerlik, maar my lyf kla as kerrie té warm is. 😁

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Myne ook, maar ek het nounet vir Una vertel, hier rond word kerrie gemaak terwille van die geure en smaak. Dit moenie warm wees nie. Die branderigheid voeg jy by deur middel van die souse en sambal wat daarmee saam bedien word. Sommige mense voeg rissies by in hulle kerrie, ons verkies om die rissiesous apart te bedien.

  8. groen – jou lewe lees soos een laaaaannnnng somervakansie – maar jy mag elke oomblik daarvan geniet x

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Heng nee, ek wens elke dag was heerlike somer, maar dan sou ek totaal versleg het. Maar wanneer hierdie heerlike dae verbykom, geniet ek dit ten volle.

  9. Dit lyk en klink alte lekker, wens ek was daar

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Bewegende water kalmeer my altyd. Ek sal heeldag die see of rivier dophou as ek kan. Ek wil ook vloeibaar wees …

  10. Nou is ek honger!!! Wag tot ons weer Suidkus toe gaan… gaan daardie plek opsoek. Bly julle het ‘n lekker sonskyn dag gehad.

  11. Hoe lus is ek nou vir daardie mutton biryani

  12. Hester jy skryf nou, of eet nou, so na my en my man se monde. Ons is mal oor kerriekos. Na my Bali tyd in my lewe het Green curry die Natal kerrie verby gesteek. Lyk vreeslik lekker daar by julle.