My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

As die wind so waai | soos hy nou daar waai |

Aalwyne begin blom teen Sea Parkstrand

en hy waai my jas | in die taaibos vas |

dan sleep my dikbek op die grond. Dis horingdroog hier in ons geweste en ek verlang amper na die dae, net ‘n skrale paar maande gelede, toe ek gedink het ek gaan vrotpootjie kry van al die reën. Hierdie windjie het ons vanoggend net kans gegee om ‘n vinnige draai op ‘n sonnige strand te loop

[en is die fotos nie baldadig mooi nie?]

 

Dryfhout op Sea Parkstrand

Rotsplate blink in die son op Sea Parkstrand

voordat hy met mening opgesteek en die temperature op die teerpad laat neerplof het. Nou wieg die Natalse wilde piesangbome en die wildevy se blare warrel saam met stukkies van my siel hier onder op die teer tussen die huise. Ek sit en wag eintlik vir die tolbossies wat nou in die pad aangerol moet kom sodat ek my rollie kan uitpluk en iemand skiet. Gelukkig word ek weerhou van ‘n onbetaamlike gedrag deur die prag van die koraalbome met hulle helderrooi blomme daar agter die grasdakke van die naburige huisies.

Jaaaa, ek weet, mens mag nie teen die elemente murmereer nie, het my ouma Hannie altyd gepredik. Sy was so oortuig van die diepe sonde waarvoor ‘n mens gestraf kan word dat oupa Andries later die gewoonte aangeleer het om te praat van die “liewe oostewind wat waai”.

Ek het geen idee waar hierdie liewe vieslike koue wind nou weer vandaan kom nie – seker maar sneeu op die Drakensberge. Ek kyk nie meer nuus- en weerberigte nie, want dit maak my gemoed ontstuimig. Al wat ek weet is dat my stokkerige hare, jeukerige oë, droë vel en gevriesde tone alles getuig van my liggaam se onwilligheid om deel te wees van hierdie weer.

Namiddag skyn die son by die slaapkamervenster in en ek kompeteer met Ponsie vir ‘n kolletjie in die son. My onvriendelike klein katjie raak vinnig handgemeen en sy mag dalk minder as twee kilos weeg, maar sy het naels, wat beteken dat sy elke geveg wen.

Vroegaand word die gasverwarmers aangesteek en met ‘n bord stomende kos daarby, is die temperatuur darem leefbaar. Hopelik gaan die wind iewers in die nag weer lê sodat ons môre-oggend weer die pad kan vat, strand toe.

 

 

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

51 Comments

  1. Ons is al net so mismoedig – behalwe nou dat die Lekkerwinkel se drumpel deurgetrap word. Die koue wil nie beter nie. Al die plekke om ons spog al met lae 20-grade en son, ons Poloniekwane pieker nog by 17-grade. Blegh! Geniet die sonkolletjie, ek sal vanaand by die kaggel ‘n glasie op jou en beter weer klink!

  2. Ek moet vir jou ouma Hannie en oupa Andries glimlag! Die fotos is inderdaad mooi, Hester. Ons koue hier is ook ysig, iewers is daar defnitief sneeu. Hoop môre laat julle toe om te kan rondstap. Na die trekkery en uitpak gun almal jou ñ klomp genot.

  3. Dis winter en winter is koud en ek is nou moeg vir winter!Jou foto’s is pragtig, Hester.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie. Ek weet daar is sommige mense wat van winter hou, maar wanneer hulle dit hardop vertel, raak ek diep beswaard.

  4. Hier by ons is dit net so verskriklik droog en die wind waai dat dit bars.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Het julle darem iewers in die afgelope maande ordentlike reën gehad? Dit klink my julle is afgeskeep tot nou toe.

      • In Ladismith het ons ‘n bietjie gehad, maar dis al 2 jaar wat ons nie regtig reën kry daar nie. Riversdal key soms reën, maar mens kan duidelik sien waar die besproeiing nie loop nie. Ook daar knor dit maar. By Bredasdorp het ons ook een keer ‘n redelike reën gehad. Die graan kry swaar. Ons vertrou dit sal kom.

  5. Hester ek is jammer oor jou dilemma met die liewe wind en weer… maar ek geniet jou sêgoed vreeslik. Jy raak doep beswaard as ander sê hulle hou van winter 😁😁😁😁😁 Vanaand kan jy jou kortmou nagklere vir ‘n lekker winter onezee verruil.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek besit nie eens ‘n onezee nie en slaap deur die winter in kort jammies. Dit raak mos nie vreeslik koud in die nag nie. Dis die dae wat so droewig is.

      • Ek onthou daardie wind wat die bome so waai dat ek benoud word. Dit nog net daar by Shelly beach belewe.. en paar keer in die Kaap. Hoop jou dag is nie te droewig nie.

  6. dit was ‘n heerlike lees stuk en pragtige fotos wat maak dat ek sommer sal kom help uitpak….

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Die natuurskoon bly nog steeds pragtig, maak nie saak hoe die weer ons behandel nie. Maar hierdie was ‘n besondere mooi dag – kyk hoe kalm is die water 😊

  7. “Horingdroog”: wat ‘n lekker woord – so beskrywend! Don’t laugh: I’m sure you know what I mean 🙂

  8. Daai gedeelde sonkolletjie klink so lekker Hester.

    Jou foto’s is SO mooi!

  9. Hier by ons, ook ‘n trietsige, koue, renerige dag. Gelukkig, hoef ons nie buite te wees nie. Winter, is ook nie vir my nie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Janee kyk, en nog te meer so omdat ons nie juis ‘n somer gehad het die afgelope twee jaar nie. Ons weerpatrone raak definitief minder aantreklik teen ‘n groot spoed.

  10. (Praat van agter dik beskermde glas)- ons het ook bietjie wind, droog en warm en help regtig niks in die 45 grade nie😥. Om te sê ek smag na koue ( rede vir die glas) maak seker nie sin nie. Ek verstaan waar ek is en hoekom dit so is hier. Ek sien so uit na eintlike seisoene wanneer ek terugkom huistoe eendag, nie net “hot and satan’s b.tthole” as die enigste 2 soos hier nie. En rëen…..ooooooo, om met daai geluid en reuk wakker te word. Jou fotos is pragtig Hester🌻

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Jaaa, 45 grade, droog en baie sand het ek in my kinderjare laas beleef daar doer in Namakwaland. Ons het ook maar so nou en dan reën gesien en dan het ons sommer buite rondgehardloop in die nattigheid. Laat sak maar die venster 😊 ek sit nou lekker en droom oor verlore jare.

  11. Ai… jy het dit so rof! Klink my daai wind kom daar van die Kaap… dit het mos daar ook gesneew!

    En as die Koraalbome nou al blomme gooi? Is dit nie weereens aanduidings van die klimaats verwarming wat al die simpel siele oor saanik nie?

    Moenie worrie nie, hier by ons is dit ook droog, en warm en ons warm is kouer as julle koud en dis somer hier!

    Ek dink… dis tyd dat jy die kat uitskop en eerder vir jou ‘n ou doppie Oubies vat… lekkerrrrrrrr… vir siel en maagie!
    😂🥂👍🙃🍷😇

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Diekoraalbome is op tyd. Die aalwyne is ook uitgeblom en verskrompel van die wind en droogte. Die temperature lyk nie sleg op die weerkaart nie, maar die wind bring die aanvoelbare temperatuur af met ‘n hele paar grade. Oubies, ja – goed vir die maag en die siel, maar ai einta tog, die koppie wil dit nie lekker hanteer nie 😊

  12. Die liewe wind wat mens so uitmekaar wil jaag. Wellington(NZ) is nie verniet bekend vir sy winde nie. Hy waai vandag weer Noord wes. More spring hy om en kry ons n suidewind en al die koue van die Suidpool af. Dan is dit nog nat ook daarby. Ek hoor sus Tina kla oor hoe koud dit in Pietersburg is. Op n ander noot: ek het eerste affodil wat blom gesien gister! Hoe nou gemaak? Dis omtrent soos die Koraalboom wat nou al blom

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      O nee tog, ek het met die suidooster grootgeword en dit was genoeg om my lewenslank ‘n wind-vyand te maak. Hier by ons blom die koraalboom darem altyd in die winter, maar die affodille moes miskien gewag het vir lente?

      • Is ook weer waar van Koraalboom. Die weer is so veranderlik. Paar dae heerlik selfs warm vir winter en dan ryp dit weer met n yswind.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Eish, ek het al vergeet van die ryp en die yswinde wat ons daar in die Vrystaat en Vaal Driehoek leer ken het. Dis die soort koue wat jou rugmurg laat vries en jou onder die komberse hou. Hier kan ons darem die ergste koue ontduik deur net in die huis te bly, maar jimmel tog, ek het hier kom woon om buite te wees!

        • Hier word huise darem goed verwarm maar ek word vreeslik maklik benoud as alles so toe is. Dis maar hoekom ek gereeld met Trompie loop, net om vars lug te kry. O en ons het hier ook warm thermals soos hul dit noem wat van merinowol gemaak is. Ek jeuk my dood so ek dra dit nie. Kannie egte wol verdra nie.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek stem saam met jou daar – ek hou ook nie van so ‘n toe besigheid nie. My hele huis in Gauteng het under-tile/carpet heating gehad en na die eerste winter se gebruik het ek dit afgeskakel en nooit weer gebruik nie. Ek vermy ook wol soos die pes en hou nie daarvan om klere in lae bo-oor mekaar te dra nie. Ek moet maar liewer in ‘n warm wêrelddeel bly. Nou het ek tenminste iets om oor te kla as die temperature daal.

        • Ha ha, oulik man. Ek wou ook oorspronklik net oor die berg bly waar dit warmer is maar nou ja, ek het nie juis n se nie. Tog bly ek darem lekker. Vanoggend terug skooltoe en daar is klaar n paar wat hoes en proes. Hoop net die bugs klim nie weer in my nie.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek het hierdie jaar vir die eerste keer ‘n griepinspuiting gekry en tot dusver bly ek darem gesond. Ons hoop maar ons hou dit uit. Jy moet gesond bly daar tussen die kinderkieme.

        • Ek kry inspuiting elke jaar. Oor 65 kry dit gratis en jy kry n boodskap dat jy moet kom vir inspuiting. Hul proes en hoes nog steeds. Touch wood dat my gestel dit kan beveg.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ons kry 65+ kry ook die inspuiting gratis by die kliniek, maar jy moet gaan vra daarvoor. My mediese fonds betaal ook daarvoor en dan vir ‘n verdere inspuiting wat ons sommer die pneumonia booster noem – dit verhoed glo infeksie, bronchitis, whatever (my mediese kennis strek nie ver nie).

        • Sal nogal wil weet watter booster dit is. Dit kan my dalk help om nie so siek te word nie. Hierdie jaar was nou tweede jaar dat ek so siek was. My asmatiese bors kannie rerig die nattigheid in die winter vat nie. Probleem is dis n eiland en alle plekke is naby die see.

        • Dankie, gaan bietjie ondersoek instel.

  13. Een draak op het strand, gelukkig spuwt hij geen vuur. Hij is bijna levensecht. Schitterende foto,s.

  14. Warme groet uit Amsterdam.

  15. Mooi die vuurpijlen👍🏻

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dit is Eveline. Die vuurpyle het hierdie jaar vinnig uitgeblom en doodgeskroei in die wind, want dis ongewoon droog hier. Ons het nog geen reën gehad sedert Februarie nie.