My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

My Vrydagmiddag aifokkietog kak-en-kerm sessie

Berig in die South Coast Fever streekskoerant op 31 Mei 2018.

Ek probeer om oor die algemeen nie tè jammer te voel vir myself nie en om nie soveel te kla dat almal dalk later gatvol is vir my ge-kak-en-kerm nie. Ek probeer ook hard om my taal in toom te hou (ek is immers oud genoeg om van beter te weet, maar aifokkietog).

Heel bò aan my lys is die protesaksies van die UGU plaaslike munisipaliteit wat die gedeelte van die Suidkus, KZN, vanaf Hibberdene tot Port Edward nou weer lamlê. Dit word mos nou weer vakansietyd en dus is dit die beste tyd vir hierdie soort aksie wat sommige inwoners sabotasie noem (afpersing voeg ek ook in my gedagtes by), maar wat onse munisipale bestuurder volgens die koerantberig beskryf as ‘some “unauthorised interferences” involving certain valves being opened or closed when they were not supposed to be, thereby affecting the water supply to various areas in the region during the strike’. Vertaal: hulle draai die krane toe en laat die gemeenskap sonder water, vir dae aaneen, totdat daar toegee word aan hulle eise.

Kyk maar self wat sê die koerant en hulle lesers op Twitter@southcoastfever.

Dit beteken dat ons weer eens in lang rye moet staan om waterbottels op te vul vir bad, klere was en toilets spoel. Ek en my huis en al die diere wat daarin woon, drink al vir die laaste paar maande nie meer enige water wat deur die krane vloei (of afgelewer word in tenks nie) – ons koop ons daaglikse drinkwater / water wat in die kos gebruik word, by ‘n watersuiweringstasie. Met goeie rede – ek sal liewer nie fotos plaas van hoe ons water soms hier lyk nie …

Vandag was my man by die hospitaal vir sy sesmaandelikse ondersoek en om pille te kry. Daar is nie water by die hospitaal vir buitepasiënte se gebruik nie en jy moet jou eie saamneem. Terwyl hy daar was, het ek en my dogter uitgewyk na ‘n plek om by vriende te gaan bad en wasgoed te was. Hulle vertel ons dat hulle kleinseun bedags vyf liter water moet saamneem skool toe. Sommige skole stuur die kinders huis toe. Tien minute voor ons aankoms daar het hulle krag afgegaan en dis nou nog af. Ons is onverrigter sake huis toe.

Nog veel erger is die uitwerking van hierdie onwettige staking op besighede, fabrieke, hospitale, skole, oumense, siekes, kinders, mense sonder vervoer wat nie by die aangewese waterpunte kan kom nie.

Ek self het natuurlik baie water, genoeg om die hele Suidkus te voorsien. Ongelukkig is dit alles in my ore, agter my oordromme. Ek karring heen en weer dokter toe, oor-, neus en keel-spesialis toe vir behandeling, drink antibiotika en kortisoon, gooi oordruppels met ‘n alkoholbasis in my ore …! Ek bly gesuip. Dit lyk asof die enigste uitweg gaan wees om dreineringspypies (grommets) in my ore te laat sit. Ek sal Maandag hoor. Intussen praat ek òf te hard òf te sag, want dit voel vir my asof ek agter ‘n waterval staan en ek gil op almal om harder te praat, maar asseblief nie op my te gil nie.

So tussen alles deur het ek ‘n ander huis gevind en ons trek die einde van die maand. Ek moes al verlede maand getrek het het, maar het myself besig gehou deur huurkontrakte met belaglike klousules te lees, die foute uit te wys en dan voort te gaan om ‘n ànder, ander huis te soek. Hier is ‘n stukkie nuus wat ek hopelik by die regte ore tuisgebring het – nie almal is poepholle waar dit by sulke kontrakte kom nie, sommiges van ons ken die Consumer Protection Act. O, askies my taal. Uiteindelik het ek ‘n huis, die kontrak het ek self opgestel en albei partye is tevrede dat dit nou afgeteken is. Nou kan ons weer terugkeer Facebook toe om saam te kla oor die water-situasie.

Dankie dat julle na my kak-en-kerm geluister het (my seun sal dit bestempel as ‘n classic social media vent).

I came, I vented, I feel better. Heerlike naweek vir almal.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

24 Comments

  1. 🦋🌻🍷

  2. Dis heeltemal onaanvaarbaar wat aangaan! Nounet nuus gekyk hoe hulle die hospitaal bevark het. Ek kannie glo dat mens jou eie nes so kan bevuil nie. Sterkte met al die krisisse daar…terloops, jy mag maar k-en-kerm😃

  3. Ag genade! Dit is die goorste goor. Sonder krag kan mens nog bietjie oor die weg kom, maar om so te sukkel met water! Baie sterkte.

  4. In the UK we hear a great deal about the water shortage problems in South Africa and most notably Cape Town I remember a lady saying she hadn’t showered in years 🙁 …………… perhaps we take an interest because long hot spells over here also the over building of housing can create our own shortages!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Water shortages due to droughts we are used to, although, with better planning and maintenance of infrastructure this problem should have been addressed a long time ago. The problem that we have in this region has nothing to do with droughts. We have more than enough water resources – rivers full of it. This is sabotage of the water systems in order to support their illegal strikes and protest actions for their own gain. The workers are holding the community to ransom and the authorities are too lame to deal with the situation.

  5. Ek voel jammer vir julle… julle is nie alleen nie: dit is nou die derde jaar dat ons al ons water by ‘n watersuiweringstasie koop. Ons munisipaliteit het onlangs gewone HTH gebruik om die drinkwater ‘drinkbaar’ te maak … en toe niks nie. “Consumers are advised to hard boil their water before drinking” het die nuutste kennisgewing gelees – en ons betaal tog vir hierdie onsuiwer water!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek huiwer om te dink wat alles in ons water ronddryf. Daar is kort-kort sprake van rou riool vanaf rioolaanlegte wat in lagoons aanwesig is; dis baie naby geleë aan die munisipale wateraanlegte. Ons reservoirs is onbewaak en enigiemand kan enige skadelike middels daar ingooi, of daarin verdink, come to think of it, en ons sal nooit daarvan weet nie.

  6. Hier valt het water met bakken tegelijk uit de hemel.

    Even verderop vallen zelfs grote hagelstenen uit de lucht.

    Voor de een teveel voor de ander te weinig water ….

    Regenachtige groet,

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      In die Kaap reën dit nou mildelik en nou is daar die probleem dat geboue en paaie oorstroom word. Die stormwaterslote en ander infrastruktuur is nie in plek om te deel met baie reën nie; dit terwyl almal weet dat daar altyd oorstromings is na verbreking van ‘n groot droogte. Ons waterprobleme sal nie naasteby so erg wees as die infrastruktuur behoorlik uitgebrei en onderhou word om tred te hou met die bevolkingsaanwas nie. Dit is die tragiese werklikheid hier, Rob.

  7. Dis net verskriklik. In die Kaap het ons nie water nie omdat ons nie het nie, en in Natal het julle water, maar julle het ook nie. Sterkte.

  8. Jy het goei rede om te k&k, almal weet ek soos kind oor Kersfees om SA toe te kom. Om mense te sien, die land, jou taal, Afrika taal, dinge wat so uniek is van hier. Dit was en is ‘n skok oor hoe dinge agteruit gegaan het. Ek kan dit nog handle, maar om mense basiese behoeftes te ‘weier’ is verkeerd. Laat my wonder hoe lank dit gaan vat voor mense weet ‘two wrongs don’t make a right’…
    Hoop jou ore word gou gesort, dit is ‘n nare besigheid🌻

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie vir die simpatie – die beste salf vir seer ore! Ons gaan nou-nou weer hier om wasgoed te gaan was by vriende met water. My dogter sê dis darem een ding waarvoor al hierdie proteste sorg – jy word geforseer om kontak te hou met vriende en sosiaal te wees. Whahaha.

  9. Pure anargie, en dit is besig om ‘n gewilde tydverdryf te word.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, hulle is sommer leedvermakerig en onbeskof ook Lewies. As ons hulle voertuie sien rondbeweeg, gee ons pad na veiliger oorde.

  10. Hester, my oë is GROOT, maar jy het my gewaarsku. Ek hoop tog net die aaklige krises is uitgesorteer teen Desember. Want wat vang ons klomp Noord-Westers aan as ons vir twee weke sonder water sit op ñ vakansieoord!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, ek is nie heeltemal positief daaroor nie, dis hoekom ek jou beduie het om liewer aan die noordekant te probeer. Hierdie probleme gaan nou al aan vir die laaste drie jaar en die Suidkus raak al hoe meer vervalle. Die meeste vakansieoorde het darem hulle eie watertenks en goed, maar dis nie net die water wat ‘n probleem is nie.

  11. Ai Hester, ek skud net my kop!!!
    Is dit nie Menieres wat jy het nie? Slinger jy rond soos ‘n dronk mens. Lyk dit of jy onderwater na dinge kyk. Voel jou oor/ore oorvol en gee af en toe ‘n steekpyn? Ek wou hierdie in hoofletters skryf… maar bang jy dink ek skreeu op jou. Ernstig… ek hoop werklik jy kan hulp kry met jou oor en dat dit nie Menieres is nie. Nou gaan ek eers google oor jou grommets google. Sterkte met beide water en ore!!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Nee, ek dink hierdie is sinusprobleme Kameel. Ek het nog nooit dronk gevoel nie en dis net my een oor wat voel asof ek ‘n persoonlike watervalletjie daar het. Dit was nog altyd my “goeie” oor, die een wat ek gebruik het om telefone te antwoord, en dis wat my nou so irriteer, want nou hoor ek net die helfte van ‘n gesprek. Tog is daar niks verkeerd met my gehoor nie, want as ek platlê, trek die water weg van die oordrom af en ek kan perfek hoor.