My vreugdes en frustrasies

My eiers

Die agtergeblewende – dit wat nié in die koerant was nie

helicopter

Ek, die “per ongeluk agtergeblewene”, het al ure gelede vir Una ‘n SMS gestuur om te vra hoekom hulle my hier in die bankkluis agtergelaat het. Ek was besig om die spook se joernaal te lees en my aandag was nie by die spul misdadigers en hulle makgemaakte polisiemanne se manewales nie.  Toe ek weer sien is die hele ou spul hier weg en die polisie oefen fietstoertjies in die banksaal.

Hulle sou kastig omgedraai het om my te kom haal, maar hulle was nie soveel met my gepla nie, nee, hulle sit daar en toutrek oor die Latynse offisiertjie en betreur die feit dat hy ook nie op die lorrie gelaai is nie. Toe sien hulle kans ek moet die offisiertjie op die fiets laai en agter hulle aanry. Op die ou einde het hulle besluit dat ek maar self moet sien kom klaar, want dis te gevaarlik om om te draai. Dit is die laaste keer wat ek saam met hierdie spul ‘n misdaad pleeg!

Ek het maar vir Pablo gebel om hom te laat weet van my penarie en hy was so kwaad dat hy ‘n paar lelike woorde gesê het. Pablo is nie ‘n man wat sommer vloek nie. Toe sê hy: “Cookie”, (ja, hy noem my Cookie 😊), “you not worry. You wait. When dark I come for you”. Dus gaan sit ek toe maar in een van die gemaklike stoele daar in die Bali-banksaal en lees die joernaal verder, want ek sou nog ‘n paar uur moes wag.

Daai joernaal. Toe ek nou die hele ding deurgelees het, sien ek die joernaal behoort toe nooit aan Grootoupa Joubert of Paul Kruger nie, dis op die laaste bladsy afgeteken deur ene Koos Vannermerwe. Kon dalk ‘n skuilnaam ook gewees het. Wonder of Grootoupa en en die Pres dit namens Koos bewaar het en of hulle dit dalk by hom vasgelê het.

Maar mens! Dit gaan ook nie net oor oorlog en goue ponde nie; dit gaan merendeels oor oorlog en Sarie Marais en hulle kappit-yt daar in die mielielande by die groot doringboom, die hele joernaal deur. Hierdie is ‘n hygroman uit die boonste rakke. Koos beskryf in die grootste detail hoe om daardie voortrekker-rokkie met die baie onderrokkies en die borstrok van ‘n mooi meisie af te skil, so laag vir laag soos ‘n bruin ui. Net soos met ‘n ui, begin ‘n mens se oë eintlik traan met elke laag wat afkom, dis so mooi *snik*.

Nouja, toe is Koos saam met Grootoupa verban St Helena toe. Hy het daar ook maar verder geskryf aan die joernaal en sy groot hart uitgesnik ook Sarie Marais. Hy het onder meer ‘n pragtige lied vir haar gekomponeer. *Snik*, dis so mooi.

Nouja, toe dit nou so sterk skemer begin word het, het ek daai Latynse offisiertjie daar uit die banksaal gaan sleep om vir my die pad deur die tonnel te verlig tot by Toweropstal. Hy’s nie ‘n onaardige kind nie, dié Marco. Hy het die hele pad my hand vasgehou deur die tonnel en my styf vasgegryp toe die twee spoke skielik daar in die tonnel aan ons verskyn het. Hy is ‘n brawe offisiertjie; ek kon eintlik voel hoe bewe sy hele lyf van inspanning om nie die twee ongeskikte ou spoke te lyf te gaan nie.

Ek het eers gedink die twee ouens was kwaad oor die buit wat ons weggedra het, maar hulle wou net die joernaal terughê. *Fluister*: ek dink hulle lees dit saans vir mekaar voor as hulle nie kan slaap nie. Ek wou eintlik die joernaal saamgevat het om weer te gaan lees, maar ek kon nie die oumanne so teleurstel nie. Toe oorhandig ek dit maar en so met die wegstap het ek die deuntjie van Sarie Marie deur my tande gefluit, net om hulle te laat weet ek verstaan. Ek kon sweer ek het gesien hoe hulle trane van hulle kaal wangbene afvee.

Enniehoe, uiteindelik was ons uit die kelder en so met die uitstapslag in die stikdonkerte, skyn daar meteens ‘n hengse kollig op my en die offisiertjie wat nog steeds verbete aan my vasklou. Daar staan Pablo, Carlos wat breed glimlag met sy nuwe tande en die Nefie op ‘n ry, elkeen met ‘n masjiengeweer in die hand.

“Cookie”, bulder Pablo, “who dat man?” Watse man nou? O, die offisiertjie. Ek besef hier kom moeilikheid en Marco het ook ‘n fyn aanvoeling in dìe opsig, want nou klapper sy tande soos kastanjette. Maar hy is so braaf, hy laat my nie los nie; hy klou aan my soos ‘n slegte maseluitslag. Hy is die skild agter my rug. Ek kan nie vinnig genoeg aan ‘n ander verskoning dink nie en stel hom sommer voor as my nuwe lyfwag. “Anudder one?” sug Pablo en rol sy oë. “Get in helicopter!”

En daar gaat ons. Pablo vra uit oor hoekom ek alleen agtergebly het en waar die ander misdadigers dan is. Ek begin sommer van voor af jammer voel vir myself en vertel hom die hele storie van die agterblewene, met groot gesnik en baie handgebare. Hy luister mooi, maar frons skielik toe ek sê die ander misdadigers is in Pollmanskop.

“Huh”, vra hy, “where dey go?”

“Pollmanskop”, herhaal ek.

“Papà, dey go Papà beer farm”, vertaal Carlos opgewonde en met ‘n breë glimlag.

‘n Paar oomblikke se swanger stilte.

“Pilot”, sê Pablo baie saggies tussen sy saamgeknerste tande deur, “we change course”.

O alla gonnatjie. Pablo sal nie sommer die mense vergewe wat vir Cookie aan haar eie lot oorgelaat het nie. HKGK.

Ek lag skielik onbevange en uit volle bors. Nefie en Carlos weet nie waaroor die grappie gaan nie, maar hulle lag ook saam. Ek voel hoe ontspan Marco wat nog styf teen my sit en ek glimlag oor sy skouer vir Pablo.


Hierdie is die laaste hoofstuk van Deel 2 in hierdie uitdagingsreeks waarin die bloggers uitgedaag is om ‘n fiksie-vervolgverhaal te skryf:

  1. Deel een is beskikbaar òf by die chronologiese Inlinkz skakels na elke blogger se persoonlike webtuiste (Die Perfekte Misdaad) òf andersins kan die volledige samestelling in boekvorm (PDF, EPUB of MOBI) afgelaai word by hierdie skakel Die Perfekte Misdaad.
  2. Deel twee is nou beskikbaar slegs by InLinkz by hierdie skakel Die Voortvlugtiges en sal binnekort ook in boekvorm saamgevat word.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

257 Comments

  1. Dit het ek geweet. Ons het nie verniet van die begin af vermoed Hester is kop in een mus met daardie Kokaplante nie. En nou wil sy en die Suid-Amerikaanse gespuis ons kom masjiengeweer en die regte van als sy bedoel groot pupa se nalatenskap. Asof hy sou belangstel in die boere weergawe van die kama sutra. Sies!

  2. Paflou ek bedoel Pablo sal nog sy tande so kners dan verloor hy hulle soos Carlos. Runs in the family. Hulle masjiengewere is nie opgewasse teen Toortsie se nuwe Swartwoudkoek met WITBLITS in nie.

  3. Ek dink ons glip vinnig weg Kruinsig toe, Hester weet nie daarvan nie! Ons kan julle almal op die plaas gebruik, niemand sal onraad vermoed nie en my man sal tog te bly wees vir ‘n klomp pare ekstra hande.

  4. Comment by post author

    HesterLeyNel

    Nòu wil my rekenaar ‘n Windows update doen. Ek moet eers alle apps toemaak.

    • Interessant hoe Hester altyd ‘n manier vind om eenkant te staan. Vind julle dit nie vreemd nie? Mede-Towerinne? Julle wat almal moes help om die WERK te doen? Nou wildie rekenaar weer kamtig restart. Wat is volgende?

  5. Nogals “Cookie” né!
    Geweet daar is ‘n slang in die gras met hierdie Esco- tjoklit-bars wat so vir onse Hes gevoer is!

  6. Hester, ek het heeltemal verlore geraak in jou oorvertelling van hoe die aantreklike hunk op sy perd die rokkie van die ou meisietjie begin afskil…og, dis sò romanties…nogal lagie vir lagie. Ek is skoon aangedaan. Kan ek jou iewers ontmoet vir tee, ek moet net verder hoor…

    • Dis ‘n Voortrekkerhygroman…nie geweet daai ou mense se koppe het ook so gewerk nie!😳

      • Met hulle spul kinders was daar dalk ń paar dieptes betrokke.🙈🤣

        • Met so baie kinders was daar sweerlik weinigvtyd vir dieptes…🤣

        • Proes ek ook nou van die lag vir jou, Perdebytjie. Ek dink al daardie knopies en lyntjies en knippies wat als so bymekaar moes hou, het die oë laat traan tydens die afskil proses.

        • Hehe, en teen daardie tyd was almal al afgekoel!

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Dalk was dit juis deel van die opwarmingsproses. Aljander, aljander so deur die bos … ek sing vandag net voortrekkerliedjies.

        • Bwahahaa jimmel Hester jy is snaaks! Onthou om die onskuldige liedjie, Vanaand gaan die volkies koring sny, ook te sing. Die Kleurlinge lag hulle jare lank al slap vir die stoere Afrikaners wat die liedjie gekaap het en nie besef het van die seksuele konnotasie nie.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Nee! 😳 Wat vertel jy my nou? Dit was nog altyd een van my gunsteling FAK liedjies!

        • Luister mooi na die woorde… ek gee net een leidraad. Die koring is jong meisies. Hierdie ontboeseming het ek so ‘n paar jaar gelede raakgelees in ‘n onderhoud met ‘n Kleurlinghistorikus. Baie dinge het toe vir my duidelik geword.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          As my ou musiekonderwyseres en koorafrigter dit moes hoor! Gelukkig leef sy nie meer nie. Ek bedoel nou sal dit nie meer vir haar saak maak nie.

        • 😳🤣

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Die kinders het mekaar besig gehou. In elk geval, waar dink jy het die baie kinders vandaan gekom?

        • Dinge moes seker blitsig geskied…nie tyd vir uie afskil nie…lol!

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek wonder … Nee wag, laat ek nie wonder nie. Abrie noem my nou al klaar Hester Marais.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Sê ek ook.

      • Comment by post author

        HesterLeyNel

        Whaha, hulle sou ons dalk ‘n paar dinge kon geleer het. Onthou, daai dae was daar nie TV, restaurante, teaters, biblioteke of enige ander soort afleiding nie 😄

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ag Una, ‘n vrou wat romanse kan waardeer kan enige dag saam met my tee drink.

  7. Cookie, my voet!!! Marco is nie ‘n bangbroek nie, en ek glo vir geen oomblik hy het aan jou vasgeklou nie. Jou Pablo mag hom miskien met sy masjiengeweer in die helikopter gedwing het…. maar ek bang nie jou Pablo nie.

  8. Marco sit veilig by die polisiestasie met droomverlore oë en staar na Camilla se rooi stilletos. So sê die koerantberig!!! Hy het op ‘n manier uit Pablo en Hester se hande geglip… die hero van my 😊

    • Mens glo wat jy graag wil glo, liewe Kameel.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek dink nie so nie. Dis daardie outjie met die stywe broekie wat gewoonlik so stotter en bloos. Buitendien kan jy nie alles glo wat die koerante sê nie.

      • As daardie outjie met die kort broekie na my stilettos staar slaan ek hom met ‘n stiletto oor die kop wanneer ek daar aankom.

        • Daardie outjie met die kort broekie, het my die krieps gegee. Ek sal jou help om hom met ‘n stiletto te vermorsel!

        • O liewe nou sien ek die prentjie 😀😀😀 Ek en jy wat hom met stilettos bykom…. en hy al koetsend onder die houe. Nou het jy my lekker laat lag!!!

        • Ek is net bang daai stywe broekie bars oop as hy terugveg.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Dis darem nie ‘n mooi ding om aan so ‘n getroue fan te doen nie, Kameel. Skaam jou!

  9. Kameel jy moes op skool baie goed gedoen het in Afrikaans. Dit is duidellik dat jy tussen die lyne kan lees watter polisieman so staar. Maar dan klink dit mos vir my of Hester aspris onwaarhede verkondig om tweespalt te saai.

    • Seegogga het gesê dis die Latynse offisier Abrie. Hester is besig om te stook…. en ek gaan nie die pyp rook nie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Haha, Kameel lees net wat sy wil. En onthou dis nie ek wat die tweespalt gesaai het nie – dis jy wat die tweede helfte van jou span in ‘n bankkluis agtergelaat het.

      • Hester al wil dit voorkom asof jy nou my vyand geword het (nie van my kant af nie) gaan ek jou darem nie so in die gesig vat nie. Jy is bepaald nie so groot soos die helfte van die span nie!! En as jy dink jy is so belangrik soos die helfte van die span moet ek jou vra om weer ‘n skrywe van tannie Frannie te gaan lees wat daarop neerkom dat neerkom dat dit goed is as nederigheid en ouderdom hand in hand stap. Nie hand in hand met ‘n denkbeeldige Latynse offisier nie!

  10. En dit nadat ons haar probeer help om vir haar van die 4wiel motorfiets te vertel!

  11. Seegogga sal die situasie fyn dophou en al die sappige stukkies aan die koerant uitblaker as julle julle nie gedra nie.

  12. Nou toe nou, sulke ou spookmanne wat hul lus nie kan hou nie. Ek wonder ook hoe vinnig daardie skille geskil word. Ek vermoed mens het net knope en veters sien spat as die nood druk. Daardie baie kinders wys dat daar n spesiale manier moes wees.Ek sie nog n geveg kom tussen Hester en Camilla. Ek vermoed dit sal n hele paar Latynse danse kos om Marco die regte keuse te laat maak. Julle is darem n lekker klomp bymekaar. Ek mis nogal heelwat so ver van julle af. Gelukkig is dit vakansie Vrydag en kan ek rustig gaan sit en kou aan al die segoed.

  13. Puik verby – praat van ‘n cliffhanger!

    • Ek stem saam, Hester het ons boek fantasties afgesluit, maar tog ‘n deurtjie oopgehou met daardie laaste glimlag na Pablo, terwyl Marco steeds styf teen haar sit. Heelwat moontlikhede vir ‘n vervolg….

      • Comment by post author

        HesterLeyNel

        Dankie Bytjie, maar o liewe aarde, gaan die vriendskapsbande en die humeure dit hou?

        • Onderlinge bakleiery oor MANS is net so erg soos praatjies oor godsdiens en politiek. Dus dink ek ons roep liewer halt!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankkie Frannie!

  14. Perdebytjie, hoe gooi jy kole op die vuur, en wanneer dit vlamvat dink jy dis beter om halt te roep?

    • Dis nogal in my geaardheid om dinge op te klits en dan die pad te vat as dit te warm raak.😄👠👠 My tjorretjie se naam het nie verniet ‘n gedeelte in wat ” away” spel nie! 🚚

  15. Nee kyk ek sit nou maar hier eenkant en en kyk hoe my maats mekaar

  16. En hier gaat ons alweer. Baklei oor die mans, eet ‘n lekkernytjie (met skop of hops) en raak agterdogtig

    NS – Hester Marais, waar het jy tyd gevind om daai sexy latynse outjie vir sy naam te vra? Is jy seker dis nie die kortbroek-knaap wat nou jou lyfwag is nie?

  17. ….nee ek gaan liewer niks sê nie, behalwe hygend hert Towerinne en Abrie. Julle moet liewer room drink, julle is bra katterig. Dink ons moet die away en die lekker lorrie pak en waai voor ons loodpille gevoer word. Hestertjie het toe die finale plan.

  18. Kan je nog niet rustig je journaal lezen 😀

  19. Jinne, dubbeldik room vir Hester en Abrie. Moer mekaar, ek haat vrede.

  20. Nee, wag dis tyd dat die witblits praat – en Camilla! kliek hier! https://www.youtube.com/watch?v=IDMcWSYali8

  21. Die helikopter land en stofwolke sif oor die Towerinne. Abrie staan eenkant en skerm sy oë teen die sand. Hester en haar gevolg stap triomfantlik nader. Waarom het ek so nare kol op my maag. Ek sien hoe die polisie Adonis se oë soek na sy Camille. Is dit sweet of trane daar oor sy wange? Stilletjies bid ek dat Camille besef sy sal iets moet doen. Haar geliefde en vriende is te geintimideer deur die goudbeklaterde, in swart geklede spiertiere wat Hester se geselskap uitmaak. “Cookie, what you want to do?” Hester lag. ” Get the gold.”

    Sommer so, onthul Hester hoe perfek ons in haar strik getrap het. Ons was die gekke wat gasorg het dat alles gedoen word en sy heel uit die prentjie bly. So meesterskelmbrein.

    Skielik spoel die meesleurende musiek oor ons. Camille sans stilettoes, sans blonde pruik, dans super sensueel en al die manne staan oopmond. Getoor…..

    Word vervolg of nie.

    Baai for now.

  22. Gesorg, gesorg…flippen autocorrect😉

  23. Ek het geweet Camille sal dit regkryet haar dansery! Daie maane in swart is in n kring rondom haar- gemesmerise! Hester klap haar hande..” goud!Nou!” Hulle hoor haar nie. Soos gehipnotiseerders stap hulle al nader aan Camille. Abrie is nie links nie en gooi gou vir elkeen n dubbele shot witblits. Hulle gooi dit sonder om te dink in hulle keelgatte af, hulle oë stip op Camila. Hy gooi gou nog n dubbele . Die manne sluk dit gretig en begin betowerd om haar te dans. Die dans word wilder, meer sensueel. Hulle kom nie eers agter hoeveel shots hulle drink nie . En toe is dit verby. Een vir een begin hulle slinger. En verlep. En uiteindelik op die grond neersak. En in n diepe slaap val…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Whahaha, nou verander die wensdenkery in ‘n sprokie.

    • Camilla se bors dein op en af van uitputting. Nog nooit het sy met soveel oorgawe gedans nie. Sy steur haar min aan die manne in swart wat by haar voete lê. Sy sien hom eenkant staan, Marco met sy Latynse voorkoms en breë skouers. Hulle oë ontmoet, en daar is by haar geen twyfel meer nie – Hy het haar lief. Hy maak sy arms oop en gee ‘n treë vorentoe. Camilla wag nie langer nie; sy werp haar teen sy bors en voel sy sterk arms om haar vou. “Marco,” sug sy behaaglik. Marco lig haar gesig met sy voorvinger op en kyk diep in haar oë. “Ek het jou lief Camilla,” sê hy. ‘n Sagte glimlag vorm om Camilla se mondhoeke. “En ek vir jou,” sê sy saggies. Sy swart kop buig af en sy mond sluit warm oor hare. Die wêreld het gaan stilstaan.

  24. Nou moet ons net vir Hester bekeer en vir ons weer ‘n plekkie in haar hart kry….of voort vlug.

  25. Regkry met…. manne manne manne

  26. Hester kyk verslae na die patetiese hopies wat eens haar lyfwagte was. Sy

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      … lig haar wenkbrou en wonder presies hoeveel die voortvlugtiges gedrink het om sulke verbeeldingsvlugte te kan onderneem.

  27. Geleidelik dring dit to haar deur dat sy alleen is. Die vliegtuig se bemanning is onkapabel, en sy het haar ware vriende, die bloggers verraai. Arme Hester, sy voel

  28. …voel na haar bergiebek se hand. “Cookie, we have the money. Look your Towerinas are running away.” Sowaar, die spul hardloop dat die stof so staan. Abrie duik agter hops balies in. Lekkervurig gil vir al die ander om op die lekkerlorrie en perdeby se away te spring. Hester lag uit haar maag. “Let’s go. Die perfekte misdaad, al due draaie en boggerops, ten spyt.”

  29. woordnoot

    Ek het nou hierdie gelees en ek is siek…..ek het lanklaas so gelag! Die arme ontvangsmeneer oorkant by die tandarts het al benoud hier kom inloer want ek is alleen maar die gille weerklink die gang af!! Dit is briljant! Gaan asb aan

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie. Die bloggers is weer vreeslik spitsvondig in hulle kommentare. Hierdie is die laaste hoofstuk vir hierdie vervolgverhaal, want dit raak nou “hoe later, hoe kwater”. Ons sal weer een aanpak sodra die Voortvlugtiges herstel het.

  30. O hierdie was n fees. Het my sekfs inspireer om weer te blog. Hou seegogga dop.