My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Ek gly darem nou weer oor gelykpad, maar sjoe, ook net

Tuinslakkie op my venster

Die laaste week, veral oor die afgelope naweek, het ek gebokspring oor ‘n hobbelrige pad, maar dankie tog, nou gly ons weer voort op gelykpad, of seil oor kalme waters – kies maar self jou metafoor.

Die hele ding het begin toe my rekenaar, ongeveer sewe jaar oud maar ‘n getroue metgesel deur die jare, skielik alles op sy skerm in sulke psigedeliese neon-groen, -pienk en -pers begin vertoon het. My dogter voorspel al ‘n rukkie lank dat ek binnekort ‘n nuwe een sal moet aanskaf, want hierdie een hyg al na asem soos ‘n asma-lyer. Dit kan die gevolg wees van die seelug hier wat alles laat roes en die soutaanpaksels wat so taai soos gom raak, of dalk is dit die voortdurende rondkuiery tussen allerhande sagteware en webblaaie, of dalk sommer net ouderdom. ‘n Virus kan dit nie wees nie. Wat ookal, laat Vrydagmiddag kry ek toe ‘n disko-skouspel.

Paniek! Absolute paniek, want my hele lewe is vasgelê op hierdie rekenaar. Daar is wel back-ups in die kuiberruim vir alles, maar daar is altyd die kans dat iets verlore sal gaan. Dus, vroeg Saterdagoggend op die telefoon kontak ons die winkels, want so halsstarrig soos wat ek klou aan my ou klere, so lojaal is ek aan ‘n brand name en ek weet presies wat ek wil hê – moenie met my lol oor ‘n ander soort rekenaar of die grootte van die processor nie. Daar is een beskikbaar in Shelly Beach en ons gaan hom vroeg Saterdagoggend haal, saam met ‘n nuwe HDMI kabel, want my groot skerm is ook dieselfde gevorderde ouderdom. Alle toerusting verander mos met die tyd, net om seker te maak dat ons vroeër of later nuwes moet koop.

Toe begin die pret. Die rekenaar het net Windows 10 (geen ander programme nie) en om Windows af te laai, neem toe die res van Saterdag in beslag tot slaaptyd. Sondagoggend vroeg het ek die splinternuwe Microsoft Office 2016 wat ons inderhaas moes aankoop, begin aflaai, want jy kan nie die ou 2013 oordra nie. Teen Sondagmiddag was dit klaar. Die res van my “noodsaaklike” programme (my enorme biblioteek e-boeke, audioboeke en musiek) het nog ‘n dag inbeslag geneem. Daarna het die “nice to haves” gevolg en ek kon uiteindelik die nuwe rekenaar in gebruik neem.

Die groot grap is dat die oue intussen sy streke laat staan het en perfek werk – geen diskoligte nie. Al die moeite verniet, maar ek gaan hom maar laat nasien deur ‘n betroubare tegnikus noudat die nuwe een werk, want ‘n spaarwiel is altyd welkom.

Die goeie nuus en die rede waarom ek op gelykpad rondseil soos my slakkie, is dat die programme wat ek gebruik vir die blog en om ons boek op te laai, nou met die nuutste Microsoft sagteware werk. Ek het die eerste twee hoofstukke begin oplaai en selfs die emojis word met gemak uit die kuberruim gepluk om net so oorgedra te word – geen gesukkel soos met die vorige boek nie. Die sagteware werk seepglad en daar is selfs ‘n lekker paar nuutjies by.

Ek het natuurlik tussen alles deur heelwat van die geselsery en die kommentare op Die Voortvlugtiges gemis en nou geniet ek die oplaaiery vreeslik.  Ek sit en giggel oor die stories en die kommentare soos ‘n skoolmeisietjie wat haar eerste geliefde op die rugbyveld raakgesien het. Mense, ons het ‘n wenner hier beet! Die standaard is beslis hoër as die eerste een, die skryftalente het blitsvinnig ontwikkel en die verbeeldings-idees is aan die hardloop.

Ek gaan probeer om so gou as moontlik op te vang met die boek en die hoofstukke wat reeds geskryf is, maar ek dink ek het al vertel dat ek ook besig is om voor te berei vir die A toZ Blogging Challenge (26 posts vir April) en dis geen grap nie. Maak nie saak nie, doe zo voort! Julle doen goed en dis heerlik om te ontsnap van die werklikheid. Ek dink ook dat die kuber-vriendskappe dik gesmee word.

Ek dink iemand het genoem dat hulle statistieke op hulle blog die hoogte ingeskiet het. Ek wou nog vertel het dat, gedurende die plasing van Die Perfekte Misdaad se episodes, was daar ‘n gesamentlike totaal van 464 “clicks” deur na die blogs toe op InLinkz. Jy kry ‘n “click” elke keer wanneer iemand direk deur InLinkz inkom en dan jou blog gaan lees op jou eie webtuiste. Ek is seker dis net ‘n klein persentasie wanneer dit vergelyk word met die aantal persone wat deur die gewone WordPress Leser en al die ander soekmasjiene inkom, maar dit is ‘n goeie aanduiding dat mense die verloop van die verhaal chronologies volg! Onthou dus asseblief om die InLinkz skakel of die huidige paddatjie onderaan julle blogs by te voeg. 

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=769965

Misdadige groete.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

26 Comments

  1. Die foto van die slak is zo heerlijk mooi, teder en broos

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Joke. Die foto is eintlik onderstebo gedraai vir ‘n mooier effek 😄 – die donkerpienk gedeelte is die rooierige hout van die vensterraam. Daar is skerp fokus op die slakkie wat gereflekteer word in my slaapkamervenster.

  2. Sulke probleme met pc’s is gewoonlik net stof op die drives in die boks. As jy hom vir ‘n slag goed skoonblaas of suig, werk hulle meestal weer goed.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek dink ook dit kan die probleem wees poerdez, want ons is voortdurend besig om ons toerusting en kombuisimplemente te suig en skoon te maak, maar ek wil nie graag self met my laptop lol nie. My seun doen gewoonlik hierdie werkie vir ons, maar hy kom eers weer einde April, vandaar die paniek. Hier pak taai stof vinniger aan as wat jy kan voorbly.

  3. Net bly jy seil weer rustig voort! Gewoonlik hou ek van nuwe goed, maar ai, los my rekenaar en selfoon tog net uit.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek het hierdie week vir my man ‘n selfoon van R300 gaan koop – een met knoppies wat hy kan druk. Hy swaai sy stert soos ‘n bly hond en ek sit en kyk vir sy duur touch screen foon wat my seun vir hom gegee het. Haha, met sommige dinge moet jy net nie lol nie.

  4. Bly dat jy weer met ons is, Hester. Ek het al gedink Pablo het jou regtig ontvoer!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      I wish. Ons Noorweegse vriendin hou op die oomblik vakansie in Playa Blanca en haar fotos maak my groen van jaloesie.

  5. Hoof Towerin, seil voor, ons volg…

  6. Als een slak schuifel ik mee met digitale moderniteiten.

    Ach bleef elk apparaat en programma nu maar gewoon hetzelfde.

    Digitale conservatieve groet,

  7. Ek word sommer koud as ek dink my rekenaar moet oppak…. Bly dit is uitsorteer.

  8. En daar dog ek Pablo hou jou so besig dat jy skoon van ons vergeet het. Seil nou rustig voort en geniet jou nuwe rekenaar. Wonder nou of jou ou rekenaar nie lus was vir saam partie hou met die mense van Toweropstal nie… daarom die disco ligte 😀😀😀😀

  9. Bly daar was toe darem n lig in die tonnel en dat jy die anderkant bereik het sonder te veel te verloor(behalwe kosbare tyd)

  10. My statistieke het verseker die hoogtes ingeskiet. Dankie Hester vir jou paddatjie!

  11. En ek is bly dit gaan nou weer rustiger by jou.

  12. coetzee2014

    Hoop dat jy al jou Microsoft besonderhede het, want, met die eerste, sonder toestemming opgradering, gebeur dit maklik, dat hy vr jou gaan vertel, jy moet nou betaal, dan sluit hy oa word en die ander programme toe. Sterkte, daarmee en geniet hom.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie vir die waarskuwing. Ek bêre al die besonderhede van programme aangekoop, want ek weet uit ondervinding hoe maklik dinge skeefloop. Tot dusver is ek heel in my skik, hoewel ek nog nie veel veranderinge tussen die vorige weergawe en hierdie een gesien het nie.