My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke, Travel

Grannies hou ook vakansie by die see – Southbroomstrand

The Granny Pool - Southbroom

Gister was net een van daardie dae wat ‘n mens nie by die huis kon bly nie en ons het besluit om ‘n daglange mini-vakansie by die see te gaan geniet. Ons het ‘n vriendin gaan oplaai in Oslo Beach en teen die kus afgery in Port Edward se rigting. So halfpad tussen Margate en Port Edward het ons ‘n uitdraaipad gesien vir Southbroomstrand en op die ingewing van die oomblik besluit om te gaan kyk wat daar aangaan.

Dit was ‘n wyse besluit, want na ‘n paar minute se rondsnuffel het ons op ‘n absolute juweel afgekom – The Granny Pool. Ek het eers gelag vir die naam en oomblikke later na my asem gesnak oor die pragtige natuurskoon. Die Granny Pool is ‘n getypoel op ‘n pragtige klein strandjie wat toeganklik gemaak is vir die meer senior strandlopers onder ons.

Die toiletgeriewe, storte en loopvlakke is alles toeganklik vir rystoele en toegerus om veiligheid te verseker. Die loopvlakke waarmee jy teen die steilte afgaan na die strand toe, is behandel sodat persone wat loop of rystoele gebruik, nie gly nie. Daar word ook rystoele beskikbaar gestel vir diegene wat nie hulle eie stoele gebring het nie. Daarvandaan is dit ‘n klein entjie se loop oor die sand om in die getypoel te kom.

Die strand is nie toegerus met haainette nie, ook geen lewensredders nie – albei baie goeie redes om liewer in die veiligheid van die poel te swem. Die water is ongelooflik skoon en die omgewing baie netjies.

Hierdie granny gaan beslis weer ‘n draai daar maak.

Hoe sluit ‘n mens so ‘n dag af? Jy ry tot in Port Edward om die heerlikste draairoomys op die Suidkus te gaan eet by die strandkafee. Met die terugryslag stop jy by ‘n padstal om tuisgemaakte gemmerbier te koop, asook die heerlikste stokvis, russians en tjips by ‘n voorslag-viswinkel. Dan huis toe om met die klank van die see in jou ore, die feesmaal oop te sprei op die waspapier. Gewapen met ‘n bottel tamatiesous, eet ons sommer so met die vingers en geniet die kuier saam met goeie vriende.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

38 Comments

  1. Wee jy, om my nou so groen hier op ‘n baie blou Maandag te kom maak is nie reg nie.
    Ek dink my man lees dalk iewers sulke goed en dit is juis die rede waarom hy net wil pensioeneer.
    Jou blog maak my rerig lus om dit saam met hom te gaan doen…. My one and only…

  2. Vrek oulik. Jou Granny pool kan vir my luigeid ook werk

  3. Klink na ‘n fantastiese Sondag Hester!

  4. Stokvis, russians en tjips, plus draairoomys! Hierdie is defnitief die beste manier om ñ Sondag-vakansie mee af te sluit. Dis ñ pragtige Granny-pool, Hester.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, man, daar is sulke lekker weggesteekte plekkies daar waar daar heeldag lank niks gebeur nie. Ek het net vanoggend gesê dis tyd om ons tentpenne op te trek en verder teen die kus af te beweeg. Ek is soms ‘n bietjie lui om rond te ry – as ek nou ‘n man was, sou ek ook van my balkon af in die see wou piepie, haha 😄

  5. Ooh dit klink te lekker, ek is sommer groen van jalousie, daardie roomys en die see klink vir my net reg… dit is besonders mooi daar.

  6. Aha, ek voldoen aan die vereistes om daar te gaan ronddobber!

  7. Klink heerlik!

  8. Wonderlik! My ouma and oupa het in Southbroom gewoon en ons het elke tweede jaar daar gaan vakansie hou. Ek was vyf jaar oud toe ek daar vir die eerste keer gaan kuier het and onthou nog hoe ek en ‘n vriendin met die trein gery het vanaf Nelspruit tot by Port Shepstone na ons matriek geskryf het. Daardie tien dae op Southbroom se strand was ‘n wonderlike ervaring – dit lyk nou SO anders in jou fotos. Dankie vir die herinnering!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis ‘n pragtige omgewing. Die passassierstrein loop ongelukkig nie meer nie – ek sou so graag net een keer met die trein al langs die kuslyn af wou ry.

  9. Lekker man lekker! Ons het ook gister gevisentjips.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Wens ons kon dit meermale doen, maar my mense het mos ‘n jodium-allergie wat hulle laat krap as hulle te veel vis of vark eet sug niks bacon vir ontbyt of hamtoebroodjies nie.

  10. Port Edward het ‘n baie spesiale plek in my hart….om verskeie redes. Ons kinders het eers in Munster gebly, en ek moet sê ek verkies daardie stiller strande. Nou wonder ek net hoekom ons nooit ‘n draai by Southbroom gemaak het nie. Lyk asof die weer mooi saamgespeel het 😊

  11. Dit is nou vrek oulik!

  12. Granny pool kan jy dit oorvertel. Ek is beindruk met die netheid van die hele opset.

  13. Aai-jaai-jaai! Pragtige fotos. Lekker! Hierdie granny sal baie daarvan hou 😉

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Linda. Ek wil beslis weer daar gaan kuier, maar hierdie jaar is ons weerpatrone so deurmekaar – dit bly koud en winderig.

  14. Baie, baie lank gelede, ‘n vakansie, by die einste Southbroom, deurgebring. Waar is die dae?

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Die dae is te vinnig verby. Die Suidkus is nie meer dieselfde nie. Die natuur is nog asemrowend (daar waar dit skoongehou word), maar die infrastruktuur is vrot, letterlik en figuurlik. Dis hoekom ek altyd sê ek woon in die “bos”. Dis die afgeleë strande en natuur wat my (op die oomblik) nog hier hou – ek beskou dit as ‘n heerlike vakansie in sy vierde jaar 😄

  15. Dis skrywes soos joune wat my hart verbly dat daar nog mooi instand gehoude plekke is waar daar veilig geloop of gerol kan word. Dit laat my net weer besef, ondanks al die negatiewe is daar wonderlike positiewe goed hier in ons sonskynland.