My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

My voorneme vir 2018 – om skelpienk tekkies te dra

Ek het verlede jaar ‘n blog geskryf oor my nuwejaars-voorneme vir 2017 ( 2017: Ek gaan monumente oprig) oor kewers wat jou lewe vernietig en dit afgesluit met hierdie woorde:

Dit is my voorneme vir 2017 – wanneer die lewe my ‘n snotklap gee, gaan ek na hierdie liedjie luister en leer uit my eie foute. Ek gaan monumente oprig vir my kewers … net nadat ek hulle gatte goed verbrand het.

Windgat, nè? 2017 was nou nie juis wat ek ‘n mak jaar sou genoem het nie. As ek nou dink aan die Groot Trek wat ons gepleeg het (twee keer!), die maandelange oorlog met Helkom, die kursus wat ons gevolg het in ‘Hoe om te oorleef sonder water in ons krane’, die nimmer-eindigende reën en stormwinde, die gebrek aan vitamiene D en See, dan moet ek mos nou moerse baie monumente hê.

En ek het baie! En ek het nie eens nodig gehad om hulle self te bou nie. Hulle het sommer net so vanself ontstaan in my lewe en my gemoed hervorm om in te pas by die landskap.

Soos wat die jaar aangestap het, het ons aangepas by nuwe omstandighede. Berge het molshope geword. Die weer? Nouja, ek het tenminste geleer dat ek maar mag kla oor die weer sonder die vrees dat ‘n bliksemstraal my gaan bykom. Ek het ook geleer om die beste te maak van die slegte dae, al beteken dit dat jy in die middel van die sogenaamde somer nog met ‘n warm baadjie by die strand rondloop.

Weet jy wat help om die dag op te vrolik? ‘n Paar goedkoop, skelpienk tekkies waarmee jy ongeërg oor die klippe loop en soms in die water trap.

My enigste voorneme vir 2018 is om my pienk tekkies te dra as die lewe my frustreer.

My wense vir een en almal wat soms hier op my blog kuier, is om in 2018 ‘n paar skelpienk tekkies hê om aan te trek op daardie irriterende, onmoontlike dae.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

26 Comments

  1. Bly jy het 2017 oorleef en is nog hier om ons van jou tekkies te vertel. ‘n Tekkiepienk 2018 vir jou, met kilometers se lekker stap!!!

  2. Bly julle het 2017 oorleef. Baie sterkte vir 2018, veral vir die gehospitaliseerde, en mag daardie paar pienk tekkies, net die ding doen.

  3. Mooi! Sulke pienk tekkies sal elke vaal dag opvrolik. Voorspoedige 2018. Moenie wag vir vaal dae vir daardie pienkes nie, dra hulle sommer baie dae.

  4. Oe, ek onthou daardie strand…maar nie die naam nie… Hier by ons is dit verskrrriklik warm. Voorspoedige nuwejaar!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Uvongo Beach. As jy Port Shepstone en Shelly Beach verbyry op pad suid (na Margate toe) kry jy eers St. Michaels on Sea en dan Uvongo. Hier by ons is dit reën en wind, maar môre gaan die son skyn 😄 Lieflike nuwejaar vir jou ook.

  5. Ek hou van jou positiewe gees!

  6. Anuscka

    Mooie tekkies! Goed voornemen! Happy 2018 Hester!

  7. Inderdaad help dit. Ek het rooies…

  8. Mag jy berge versit met daai skelpienk tekkies van jou en nog hope mooi blogs aan jou honger aanhangers kom gee – dankie vir die mooi, wat jy veral in my lewe in 2017 kom plant het – ek sal dit altyd koester as die mooi van iemand wat ek “ken” maar ook nie rerig “ken” nie – maar wat beslis my hartklop kom verstaan het. Jy is kosbaar, skelpienk tekkies die works xxx

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Wat ‘n dierbare boodskap van ‘n dierbare mens. Baie dankie vir die mooi woorde. Jy is die mooiste mens, van binne en van buite. Ek vertrou (weet!) dat jy en jou kinders, en veral jou kleine hartskind, oukei sal wees in 2018. Kyk na jouself.

  9. Genade, ek is bietie agter met die lees. My 3de Januarie 2018 lê al amper op sy rug. Jou pienk tekkies laat my nou onthou van my pienkes wat ek verlede winter gekoop het. Ek het hul net eenmaal aangehad en eerste wat skoondogter sê: Het jy jou ma se pienk tekkies gesien?(dis wat sy vr my seun gesê het) Sy antwoord: Ag maaaa! Dit was ook die einde van my pienkes. Nie weer gedra nie. Sal hul maar moet begin dra om my gemoed hoog te hou. Pink of te not. hoop jy en jou familie het n pragtige 2018.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie vir die goeie wense en ‘n lekker 2018 vir jou ook. My kinders dink my tekkies is ‘cool’ 😄

      • Mmm, ja, dis goed. Ek het nounou toe ek tuis kom gekyk hoe lyk hulle. Hul het nog pers omrandings ook. Eintlik het ek hul gekoop omdatdit op n uitverkoping was en mediese tekkies is. Oooo dit reën n woeste bui en my kinders is nog op die pad huistoe.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Man, dra jou psychedelic tekkies – dis goed vir die gemoed. Hoop jou kinders kom veilig tuis!

        • Ek gaanbeslis. Kinders is tuis. Bea het laaste uur geskree van honger, hitte en moeg wees. Kinders grootmaak is nie so eenvoudig nie. Dis n sew uur se ry om weer tuis te kom. Hier is mos nie snelweë nie omdat dit te heuwelagtig is en hul mag ook net 100km p uur ry. Nou gaan ek rustig slaap met almal in hul nessies.

  10. Gaan groot gaan pienk!

  11. Woes Worcester Natalse kus! Ek herkou nog aan die pienk tekkies…